Kyk ook:
****************
Die ongemak groei | Volksblad
Volksblad, Dinsdag 7 November 2006
deur Dolf Britz
IN die amptelike voorlegging van die NG Kerk aan die regering oor die voorgestelde nuwe huwelikswet, sien ’n mens dit dadelik raak.
Daar is geen verwysing na, of ’n aanhaling uit die Bybel nie.
Selfs oor Christus word niks gesê nie. Hierdie goed deurdagte stuk, logies en beredeneerd opgestel, gaan trouens nie oor wat die Bybel oor die huwelik sê nie.
Die NG Kerk vra daarin dat die regering die bestaande en ou wetgewing uit 1961 oor die huwelik in pas moet bring met die vereistes van ons Grondwet.
In die voorlegging plaas hierdie kerk haarself selfs op hoë morele grond deur die regering daaraan te herinner dat die bestaande wette eintlik nog stam uit die apartheidsverlede.
Op die keper beskou, is dit die manier waarop die NG Kerk vorentoe beur om in die nuwe Suid-Afrika weer op die voorpunt te kom ten einde in die samelewing ’n verskil te maak.
Met die Grondwet in die hand, tree sy in vir die hele nasie, vir almal.
Presies hier hang haar onderrok uit.
Hierdie keuse is die soort keuse wat ’n volkskerk graag maak.
’n Volkskerk dien van huis uit die belange van die hele volk.
In ons konteks het dit natuurlik irrelevant geword om die belange van ’n spesifieke volk (byvoorbeeld die Afrikaner) te dien.
Die NG Kerk het egter nie die begrip en werkwyse van ’n volkskerk prysgegee nie.
Dit sien ’n mens darem te duidelik in haar voorlegging en in die betekenisvolle keuse om niks aan die regering te rep oor wat die Bybel of Christus oor die huwelik sê nie.
Die oomblik vra van haar iets anders: Om ter wille van ons nasie, ter wille van reg en geregtigheid aan almal, en ook aan alle godsdienste, die Grondwet te handhaaf.
Dit is wat ons nasie nou nodig het. Deur op hierdie manier die belange van die nasie te dien, wys die NG Kerk dus eintlik hoe sy in die nuwe demokratiese bestel haar rol sien en ook in die openbaar wil speel.
Sy kies haar woorde keurig en professioneel gepas:
Dit is bedoel om verrassend en vars te wees en staan in die teken dat sy nou nuut dink oor sake.
Toegegee, daar het ’n groot skuif in die NG Kerk gekom.
In die verlede het sy met groot oortuiging vir die belange van die Afrikanervolk ingetree.
Nou tree sy selfs met groter stelligheid in vir die belange van die nasie.
Die skuif loop langs die lyn van ’n volkskerk af tot by ’n nasiekerk.
Die nasie kom net in die plek van die volk.
Dit is hoe sy gesig wen by die nasie.
Ten diepste is dit die rede waarom sy nie van reformasie hou nie.
’n Nasiekerk (nes ’n volkskerk) duld nie reformasie nie.
Sy hou nie van mense wat uit pas is nie.
Die reformator Lourens Erasmus was een van hulle.
Man alleen het hy reguit. helder, nugter, objektief daarvoor gepleit dat die NG Kerk ’n gereformeerde kerk moet wees.
Die skuif wat moes kom, moes in die omgekeerde rigting wees: weg van die volk en die nasie af na die kerk van Christus toe.
Sy aandrang het hom die bediening in die NG Kerk gekos.
Die saak is egter nog op die tafel.
Daar is net te veel lidmate wat onrustig raak. Trouens met elke omstrede besluit, elke standpunt, elke voorlegging, elke nuusverklaring en elke teruggekrabbel en verduideliking van die NG Kerk, groei die ongemak.
Dit is asof die skuif wat gekom het van volkskerk tot nasiekerk, teen ’n onsigbare weerstand bly stoot.
Dit is daardie onrus wat in jong mense uitslaan en waaroor hulle spontaan praat.
Wat opduik in gesprekke waar dominees nie by is nie.
Waaroor predikante mekaar bel as lidmate nie hoor nie.
Wat verwoord word in briewe aan koerante. Ja, wat ver weg van die belangrike kerklike vergadertafels, orals in verskillende kaggels brand. Waar kom dit vandaan?
Dit kan tog niks anders wees nie as die wekroep van die Gees: terug na die Skrif alleen. Teen die stroom op.
Terug na ’n gereformeerde kerk, wat in Christus vry is, vry van nasiekerk-besluite, vry van ’n kerklike hiërargie met ’n topbestuur wat alleen seggenskap het, vry van bindende voorleggings, vry van kerklike lojaliteit en gehoorsaamheid.
Vry om kerk te wees soos wat die Bybel dit vir ons gee en waar die stem van die goeie Herder altyd en oral deurslaggewend is.
- Prof. Britz is verbonde aan die departement ekklesiologie, fakulteit teologie, Universiteit van die Vrystaat.