Die ontstaan van die heelal

Kyk ook:

Die volgende artikel is oorspronklik geplaas in DIE KERKBLAD, Die Gereformeerde Kerk se nuusblad en is geskryf deur Prof. HG (Henk) Stoker van die Teologiese Skool en Fakulteit Teologie, NWU, Potchefstroom.

**********

Die ontstaan van die heelal

Prof. HG (Henk) Stoker (Teologiese Skool en Fakulteit Teologie, NWU, Potchefstroom)

Julie 2014

Op die voorblad van die April 2014-uitgawe van die tydskrif Scientific America staan die woorde “Cosmic Dawn” (kosmiese dagbreek) groot geskrywe. Anders as ’n eeu of wat gelede, het daar in die afgelope eeu ’n merkwaardige konsensus onder wetenskaplikes ontstaan dat die heelal ’n begin gehad het. Die vraag waarmee dan geworstel word, is hoe en waarom die heelal begin het.

Vir gelowiges is die beste verduideliking dat daar ’n Skepper-God is wat die heelal vir ’n doel ontwerp het. Ateïstiese denkers wil egter die bestaan en ontstaan van die heelal uit die materie van die heelal en die wette wat daar voor geld, verklaar.

Oerknal en inflasieteorie

Om nie met die idee van ’n Skepper-God te werk nie, het denkers die afgelope tyd selfs weer begin om die konsensus wat daar was dat die heelal ’n begin gehad het, te bevraagteken. Stephen Hawking (een van die bekendste teenstanders van die uitgangspunt dat God die wêreld geskep het) het die eerste helfte van sy lewe spandeer om met wiskundige modelle te probeer bewys dat die oerknal (“big bang”) en die gevolglike uitdying wiskundig beskryf kan word. Wetenskaplikes is dan ook in staat om ’n wiskundige model saam te stel om die uitmekaarspat van die heelal vanaf omtrent ’n mikrosekonde ná die oerknal te kan simuleer.

Die groot probleem is egter dat die beste fisiese en wiskundige teorieë (ook dié van Einstein) nie meer geldig is onder die omstandighede wat sou moes geld gedurende die eerste mikrosekonde nie. Die materie moes só dig saam gedruk gewees het dat die bekende fisiese wette nie vir die wiskundige beskrywing gebruik kan word nie. Hawking skryf: “The whole universe, and everything in it, was scrunched up into a single point of indefinite density. At this point, Einstein’s general theory of relativity would have broken down, so it cannot be used to predict in what manner the universe began. One is left with the origin of the universe apparently beyond the scope of science” (SW Hawking: A brief history of time, New York: Bantam Books, 1998).

Daarom het prof. Hawking die tweede helfte van sy akademiese werk gewy aan die daarstel van ’n wiskundige model om te bewys dat die oerknal nie plaasgevind het nie, want hy wou nie God as Skepper aanvaar nie. Volgens die model wat hy ontwerp het, het die heelal van altyd af in siklusse uitgesit, ingekrimp en dan weer uitgesit. Fisies sou lewe dan slegs moontlik wees tydens ’n langdurige uitsettingsiklus. ’n Spesifieke tyd vir die begin van die heelal kan dan nie bepaal word nie.

In effek het hy die soeke na die rede vir die ontstaan van die heelal nie hierdeur opgelos nie, maar net miljarde jare teruggeskuif. Tog beweer Hawking ten opsigte van sy nuwe model: “There would be no singularities at which the laws of science broke down, and no edge of space-time at which one would have to appeal to God or some new law to set the boundary conditions for space-time.”

In sy Februarie 2013-uitgawe stel Scientific American ’n lesing bekend onder die opskrif Cosmic Inflation: Making Universe(s) from Nothing! Die heelal word met ’n hoofletter gespel, wat klaarblyklik die goddelike skeppingskrag van die heelal wil uitbeeld. Die volgende word dan geskryf: “How was our expanding Universe created? We’ll look to cosmic inflation theory for answers and food for thought. Using the astonishing fact that the total mass/energy of the Universe is zero, and its implications, we can begin to understand how cosmic inflation both creates and launches our expanding Universe – out of nothing!”

Dit bly ook nie net by teoretiseer nie. Vandag word hier die inflasieteorie oorheers deur die soeke na elementêre boustene van materie, wat uitgaan van “supersimmetrie”, wat kernfisici in baie hoë energie-kernreaksies van die “groot hadronversneller” in Genève soek – iets waarvoor deelnemende lande miljarde dollars gee in ’n poging om die elementêre boustene te vind in die verwagting dat die vraag waar alles vandaan kom, beantwoord sal word.

Tog is daar met reg ’n bekommernis of selfs hierdie duur ondersoek ’n wetenskaplike antwoord oor die ontstaan van die heelal sal gee. Dit word gesien in die opskrif van die buiteblad van die nuutste Scientific American (Mei 2014), wat die krisis in die huidige soeke na die ontstaan van die heelal verwoord met: “A crisis in Physics? If super symmetry does not pan out, scientists need a new way to explain the universe.”

Alles uit niks

Dit is dus duidelik uit die nuutste wetenskaplike verwikkelinge dat daar hoegenaamd nie eenstemmigheid by wetenskaplikes bestaan oor die korrekte vertolking van fisiese waarnemings in die heelal en wat dit oor die ontstaan van die heelal impliseer nie. Die beste sogenaamde wetenskaplike modelle wat tans oorweeg word, is slegs net nog ’n menslike teorie wat na verwagting vorentoe weer sal verander. Christengelowiges moet nie te vinnig op hol raak met teorieë wat drasties van die skeppingsverhaal in die Bybel verskil nie.

Al word die eerste ontstaan van dit wat ons waarneem, hoe ver teruggeskuif, bly die vraag nog waar materie en energie en die wette wat daarvoor geld, vandaan kom. Dit help ook nie regtig om die definisie van “niks” te verdraai na massa of energie wat in balans is en dus volgens sekere beskrywings as “niks” geag word nie – terwyl dit duidelik iets is. Hierdie “niks” is nie niks nie en daarom kon daar iets mee plaasvind.

Selfs al sou ’n mens die “niks” as niks beskou, is die vraag hoe “niks” versteur kan word, kan ontplof of ontwikkel en uiteindelik ’n hele heelal kan skep. Die antwoord dat die proses deur natuurwette gestuur is, maak uiteindelik ook nie sin nie, want dit los nie die vraag op waar hierdie natuurwetmatighede vandaan kom as daar regtig “niks” is nie – wette wat presies uitgewerk is om ’n heelal met lewe en al moontlik te maak? In plaas van ’n wetenskaplike beskrywing van die ontstaan van die heelal lyk dit eerder of daar by ’n vreemde geloof uitgekom word dat niks deur middel van niks alles daargestel het!

’n Kerntema van die Christelike geloof is dat die heelal nie van altyd af bestaan het nie, maar dat God die wêreld uit “niks” gemaak het. Dit impliseer dat elke ding sy bestaan, identiteit en doel aan God te danke het. In die debat tussen die Christenapologeet William Lane Craig en Anthony Flew (toe ’n prominente ateïs) gebruik Craig in sy debat die wetenskaplik aanvaarde siening dat die heelal ’n ontstaan het. Hy doen dit soos volg:

  • Iets wat ’n begin het, het ’n oorsaak.
  • Die heelal het ’n begin.
  • Dus het die heelal ’n oorsaak.

Na dié debat en onder andere ook ’n debat met dr. Gary Habermas, het Anthony Flew van ateïsme wegbeweeg en selfs ’n boek daaroor gepubliseer met die titel There is a God: How The World’s Most Notorious Atheist Changed His Mind.

Verstaanbaarheid en doel

Dat God die oorsprong van die heelal is, verklaar vir ons waarom die heelal vir die mens verstaanbaar is en die ordelikheid vir hom/haar sigbaar is; waarom daar so ’n duidelike ooreenstemming is tussen die redelikheid wat die mens in hom/haar ervaar en die redelikheid wat hy/sy in die heelal waarneem; waarom die mens se wiskundige denke so ’n logiese manier bied om die heelal te verstaan. Van die begin af het God die mens as sy medewerker gestel. Hy het die diere na Adam gebring, wat hulle moes bestudeer en daarvolgens name moes gee. So kon die mens in die wonderlike skepping van God deel, dit saam met Hom geniet en Hom verheerlik.

Die sondige aard van die mens besoedel ons denke, maak dat ons dinge vanuit verkeerde paradigmas wil verklaar, maar neem nie ons kindskap voor God en die wonder dat ons denkend met sy skepping besig kan wees, weg nie. Die rasionele verstaanbaarheid van die skepping vir die mens is dan ook een van die hoofoorwegings wat denkers oor eeue by die gedagte uitgebring het dat die heelal self ’n produk van ’n baie intelligente Wese moet wees.

Vir God om God te wees, moet Hy self ewig en onverganklik wees en moet Hy die mag hê om die wêreld met sy materie, energie en veelkleurigheid uit niks te kan maak. “Skep” beteken dat God nie materie nodig het om ander materie te vorm, of energie nodig het om in ander vorms van energie oor te skakel nie. Skep beteken ook dat God potensialiteit in materie plaas. Daar is ’n doel, ’n bedoeling van die Here met alles. Sonder dat God van die begin af die potensiaal daarin geplaas het, sou geen klankgolwe of elektriese geleiding, beelduitsending, metale ensovoorts, moontlik gewees het nie.

Ons as mense kan die bedoelde potensialiteit wat in materie lê, ontdek en binne gestelde grense en wetmatigheid daarmee werk. Reeds in die eerste hoofstuk van die Bybel (Gen. 1:28) lees ons dat die opdrag wat God aan die mens gee, is om die aarde te bewoon en te bewerk. God het wette en konstantes daargestel wat die mens kan ontdek en ontsluit. So word ons as mense skeppendes in die skepping van ons Skepper – Hy wat hierdie heelal wat ons ken, uit niks gemaak het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui