Die opstanding en die lewe – ’n refleksie op die Teologiese Dag by die US

Die opstanding en die lewe – ’n refleksie op die Teologiese Dag by die US

31 Januarie 2011

(Gekopieer vanaf http://www.truthexposed.co.za/index.php?option=com_smf&Itemid=2&option=com_content&task=view&id=154&Itemid=15)

Ek het vanoggend die eerste helfte van die teologiese dag van die Universteit van Stellenbosch se Teologiese Fakulteit bygewoon.  Die tema van die dag was “Die opstanding en die lewe.”  Die twee sprekers wat die eerste helfte van die program behartig het, is Prof. Elna Mouton en Prof. Dirkie Smit.  Vanuit die lesings asook die besprekings daarna, is die indruk wat by my gelaat is, dat daar redelike klem gelê is op die opstanding, maar nie so veel op die lewe nie.

Vanuit een van die vrae wat aan Prof. Smit gestel is, het Prof. Smit baie neerhalend verwys na diegene in die kerk wat glo in die onsterflikheid van die siel.  Hy het vlugtig verwys daarna dat hy dit sien as ’n Griekse idee wat in die bybel ingekom het.  Een van die terme wat hy gebruik het wanneer hy verwys het na aspekte wat die kerk tradisioneel as bonatuurlik ervaar het, is “ongeloofwaardig.”  Die ander term wat Prof. Smit telkens gebruik het is “metafoor.”  As ek hom reg verstaan het, sien hy basies alle geloofsinhoude wat die Christelike kerk bely, as metafore.  Daar is vrae gevra wat te doen gehad het met die manier waarop die Christelike geloof ditself verantwoord t.o.v. ander gelowe (spesifiek Islam), asook ongelowiges en / of twyfelendes (vraag gestel deur Prof. Hendrik Bosman).

Ek wou self ook ’n opmerking / vraag rig aan Prof. Smit, maar daar was nie tyd vir nog ’n vraag nie.  Ek sou my bydrae min of meer soos volg bewoord het:

“In aansluiting met prof. Bosman se vraag, wat te doen het met die manier waarop die kerk in gesprek tree met mense wat buite die geloof staan, en die rol wat die opstanding speel in hierdie gesprek, wil ek ook vra: wat van die ander kant van die spektrum?  Wat van diegene wat alle geloofsinhoude nie as bloot metafore verstaan nie, en glo in die onsterflikheid van die siel?  Is dit nie ook ’n ander kant van die gesprek wat gevoer moet word in hierdie gesprek oor die opstanding nie?

Joh 11:25-27: ‘Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe;  (26)  en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?  (27)  Sy antwoord Hom: Ja, Here, ek glo dat U die Christus is, die Seun van God, wat in die wêreld sou kom.’ (eie aksente).

Tradisioneel het die kerk nog altyd die ewige lewe verstaan as ’n werklike ewige lewe waarin die mens se hele wese vir ewig voortlewe saam met Christus.  Hoe belangrik is ons verstaan van die ewige lewe vir ons verstaan van die opstanding, asook ons verantwoording van die opstanding en die ewige lewe teenoor die wêreld, siende dat die tema van die Teologiese dag ook te doen het (of veronderstel is om te doen te hê) met die ‘lewe’?”

Ek sou graag prof Smit se reaksie hierop wou hoor, asook die bespreking wat moontlik daaruit sou voortvloei, en is geïnteresseerd om te weet of daar ander bywoners was by die Teologiese Dag wat baie dieselfde soort vraag het.

Persoonlik is ek van volle oortuiging dat die ewige lewe, ’n onontbeerlike komponent is van die evangelie.  Prof. Smit het wel gesê dat die opstanding sentraal staan t.o.v. die ganse teologie, en dat die Christelike geloof se bastaansreg as’t ware gesetel is in die opstanding (om nou my eie woorde te gebruik – as ek hom reg verstaan).

My vraag is egter, as ons klem lê op die opstanding, hoe verantwoord ons onsself ten opstigte van die lewe, wat volgens Joh 11:25-27 ’n integraal verweef is met ons verstaan van Christus as opgestane Here?  Wanneer lewe bloot te doen het met sosiale geregtigheid, die opheffing van armes, inklusiwiteit, om reg te lewe in hierdie wêreld, maar nie ook met ’n werklike ewige lewe saam met Christus waarin ons hele wese saam met Hom voortlewe nie, is ons evangelie sonder die werklike, egte opstandingskrag.  Wanneer ons wedergeboorte (Joh 3:3-5) bloot verstaan as die verandering van ’n gesindheid, die skuif van ’n paradigma, of ’n nuwe ingesteldheid teenoor die wêreld, sonder die erkenning van die wederbarende krag van die Gees wat ons gees met sy Gees op ’n kennelike, werklike wyse in ons wese kom transformeer op so ’n manier dat ons nou deel in die ewige lewe, dan het ons evangelie slegs ’n evangelie vir sosiale geregtigheid geword sonder ewigheidswaarde.

Paulus maak ook ’n wesenlike verbinding tussen die opwekking van die dode, en die opstanding van Christus:

1 Kor 15:14-18 “En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof;  (15)  en dan word ons valse getuies van God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het, wat Hy nie opgewek het nie, ten minste as die dode nie opgewek word nie.  (16)  Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie;  (17)  en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes;  (18)  dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore.”

Om bloot die opwekking van die dode by implikasie as ’n soort metafoor vir ’n morele lewe hier op aarde te sien wat nie voortduur nadat ons fisies dood is nie:

1)    Hou nie rekening met die manier waarop die kerk dit oor die eeue heen verstaan het nie, en
2)    Hou na my mening ook nie voldoende rekening met die konteks waarin Paulus (soos hier in 1 Kor 15) daaroor praat nie:

Die aard van Christus se opwekking worg gekoppel aan die aard van die opstanding van Christus.  Die bybelse weergawe van Christus se opstanding is werklik en tasbaar.  Volgens 1 Kor 15:6 het Christus aan 500 mense tegelyk verskyn.  Christus se opstanding was nie bloot ’n metafoor nie, maar ’n werklike fisiese ontmoeting met die lewende God: in die persoon van Jesus Christus.  Die werklikheid, en die fisiese aard van Christus se opstanding is die grond waarop ons ons geloof bou.  Dit is die grond vir die hoop op die hiernamaals, en veral vir die hoop op die ewige lewe, waarby Christus die dode werklik sal opwek, sodat die gelowiges tot in ewigheid nie sal sterwe nie (soos Joh 11:26 sê).

Vir ’n meer uitgebreide bespreking oor die opstanding, en die fisiese aard daarvan, sien my bespreking: Is dit belangrik dat Christus letterlik fisies opgestaan het?

Wanneer ons dus die ewige lewe los maak van die opstanding, en van die evangelie, dan het ons inderdaad die uniekheid van die evangelie prysgegee, en kon Christenskap net sowel ’n morele filosofie gewees het wat alleen maar toepassing het op hierdie aardse lewe.   Dan raak die aanspraak op die opstanding as onderskeidende kenmerk van die Christelike geloof inderdaad sonder punt en sonder krag.

 

Philip du Toit

 

Bespreek dit hier .

 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui