Kyk ook:
Die volgende is ‘n gedeeltelike aanhaling uit die video “Weskaap Sinode NG Kerk“, deur Ferdie Mulder, 18 Desember 2022:
(8:33) Willie Jonker skryf die volgende voor die totstandkoming van die Algemene Sinode in 1962:
Willie Jonker (Die Kerkbode, 25 November 1959)
Sodra die moderator gekies word vir ‘n termyn en nie net vir die duur van die vergadering nie, kom daar tog onteenseglik mag in die hande van so ‘n persoon, en die feit dat die moderator ’n soort van offisiële posisie in die kerk na geheel verkry, versterk daardie mag. Die gevolg is dat die moderator naderhand, of hy wil of nie, gesien word as ’n soort hoof van die kerk, wat die bevoegdheid besit om namens die kerk in sy geheel te kan praat … moreel het hierdie broeders dan meer mag in hul hande as wat enige mens in die Kerk van die Here behoort te hê. Goddank dat hulle dit nie misbruik nie, maar die moontlikheid dat dit kan gebeur is tog nie net denkbeeldig nie.
Willie Jonker (Die Kerkbode, 21 Maart 1961)
’n Sinode mag nooit gelykgestel word met die hoofbestuur van ‘n vereniging wat per meerderheidsbesluit ‘die wil van die lede van die vereniging’ tot uitdrukking moet laat kom nie. Allermins is ’n sinode vergelykbaar met ’n soort parlementêre byeenkoms waar op “demokratiese” vlak die wil van die volk deur middel van hulle afgevaardigdes tot gelding gebring moet word. Nee, want dit mag op ’n sinode juis nooit gaan om ‘die wil van die lede’ nie, maar uitsluitend om één ding: die wil van God … ’n sinode hou op om ‘sinode’ te wees en word sommer ’n gewone, menslike vergadering, as nie die Woord van God nie, maar die wil van die lede daar die deurslag gee.
’n Sinode moet veral versigtig wees om nie oor die Heilige Gees te seëvier nie … ‘n mens [besef] met hoeveel biddende huiwering ’n sinodale saal betree moet word, kinderlik gewillig om God meer gehoorsaam te wees as alle mense tesame, om onsself te kruisig en die Heilige Gees te eer deur Hom toe te laat om Sy Saak te laat seëvier. Dan is dit werklik ‘sinode’.
(12:30) Prof Bennie Keet word in 1916 predikant in Graaff-Reinet en preek in Afrikaans in plaas van Hollands. Daar word ‘n klag teen hom ingedien en die saak word verwys na die (Kaapse) sinode. Bennie Keet besef egter dat dit onkerkordelik is: Die plaaslike gemeente is volwaardig kerk en moet self hieroor kan besluit.
Toe Keet in 1919 egter by die sinode kom, ervaar hy dat die kerk in sy bestuur aan ‘n klomp “voormanne” uitgelewer was en dat hy as jong man nie juis veel invloed gehad het nie. Aan die gesag van die plaaslike gemeente is daar nie veel gestalte gegee nie. Hy praat van ‘n “sinodekrasie”.
In 1925 skryf hy die dokument “Na honderd jaar – De regeringsvorm van de Nederduitsch Gereformeerde Kerk aan de gereformeerde beginselen getoetsd”
Dit handel oor die plaaslike gemeente en hoe dit binne ‘n gereformeerde kerk moet funksioneer.
“Sowel uit die Skrif as uit die geskiedenis is dit onteenseglik dat die plaaslike kerk ‘n volledige, selfstandige kerk is, wat vir sy bestaan nie afhanklik is van enige algemene instelling wat eers die bestaansreg aan hom sou verleen nie. Laasgenoemde is die Romeinse siening …”
“Hier moet benadruk word dat die kerk soos sy haarself in die plaaslike instelling manifesteer, geen algemene instelling nodig het vir sy bestaan nie; waar dit as ‘n plaaslike kerk optree, is dit ‘n volledige kerk, en al was daar net een so ‘n kerk sou dit steeds die institusionele manifestasie van die onsigbare liggaam van Christus wees. Ontkenning van hierdie feit lei tot wonderlike konsekwensies. Dan sou die Reformasie van die 16de eeu ‘n fout gewees het; dan moet ons as gehoorsame kinders terugkeer na die moederkerk van Rome. Die plaaslike kerk kan uit verband tree sonder dat sy ophou om kerk te wees. So ‘n optrede kan verkeerd wees, dit kan sondig wees. Om skeuring te saai in die kerk van Christus is nooit ‘n ligtelike saak nie; tog moet die reg van ‘n gemeente om te onttrek sonder twyfel toegestaan word.
Voetnota: Dit is eers wanneer ons oortuig is dat die kerk waaraan ons behoort vals is dat ons ook verplig is om daaruit te onttrek; nie vir enige afwyking van ‘n geringe aard nie.
Willie Jonker (Die Kerkbode, 2 Desember 1959)
Die meerdere vergaderinge het hul bestaan slegs te danke aan die feit dat ’n aantal plaaslike gemeentes vrywilliglik hul afgevaardigdes daarheen stuur om oor sake van algemene belang te beraadslaag. Die grondbeginsel van die gereformeerde kerkreg is dat Jesus Christus alleen die Koning en Hoof van sy Kerk is. En dat Hy self in die Kerk regeer, sodat alle reélings wat ons in verband met die order in die Kerk maak, steeds daarop bereken moet wees om hierdie Christus-heerskappy te eer. Daarom, het ons in die vorige artikel gesé, mag daar geen mense-heerskappy in die Kerk geduld word nie. En daarom dit wil ons nou graag daaraan toevoeg is dit van soveel belang om die selfstandigheid van die plaaslike gemeente onaangetas te handhaaf.
…die gereformeerde stelsel van kerkregering, wat uitgaan van die heerskappy van Christus en daaruit die selfstandigheid van die plaaslike gemeente en die mondigheid van elke lid van die gemeente aflei, is wars van alle klerikalisme of predikante-heerskappy, is ook wars van alle heerskappy van die Sinode of die Ring oor die plaaslike gemeente.