Kyk ook:
- Johan van der Merwe: Namibië: verleentheid of geleentheid? (24 Mrt 2025)
- Namibië se ultimatum aan die NG Kerk (20 Mrt 2022)
*******
Brief: Die rede vir NGKN se uittrede uit AS
Deur Kerkbode
24 Maart 2025
Düring Cornelius van Kleinmond skryf: Dis belangrik dat die ware rede vir die NGKN se uittrede uit die Algemen Sinode (AS) nie nou in wollerigheid verdoesel moet word deur kommentatore op openbare media nie.
Die NGKN het die tugweg soos in Matt. 18 uitgespel is, met die Algemene Sinode Moderamen (ASM) geloop soos besluit is op die Maart 2022 sinodesitting in Windhoek. Hierdie weg is gekies omdat die Algemene Sinode afgedwaal het van die Gereformeerde belydenis en Skrifgesag, wat daartoe gelei het dat dit wat die Bybel sonde noem, in sommige AS-besluite ontsondig word, soos dit bv sigbaar word in die AS se besluite oor selfdegeslagverhoudings.
KYK OOK: Uiteenlopende reaksie: NG Kerk in Nam maak bande los met Algemene Sinode
Die NGKN se 2022 Sinode het gemeen dat ’n “Matt-18 Jesus-pad” van langer as twee jaar, die AS ruim geleentheid tot berou en bekering sou gee. Die NGKN se dokumente oor Skrifgesag en Selfdegeslagverhoudings is vir hierdie doel op die gesprekstafel met die ASM geplaas. Omdat daar, na voltooiing van die hele tughandeling, egter geen berou en bekering by die ASM rondom die sake op die tafel gevind is nie, laat die Matt-18-pad die NGKN met geen ander keuse as om die band met die AS los te maak nie, hoe hartseer dit ookal is. Na luid van Matt 18 sal die NGKN sekerlik voortgaan om te bid dat die Here die AS van sy sonde mag oortuig.
LEES OOK: NG Kerk Namibië tree ná jarelange proses uit verband met NG Kerk se Algemene Sinode
Dis tog die eenvoudige waarheid oor Namibië se uittrede. Die helder getuienis hiervan is krities belangrik vir Namibië se lidmate, maar veral belangrik vir duisende lidmate in die RSA wat steeds nie weet wat lê aan die wortel van Namibië se uittrede nie, lidmate wat steeds in goeie trou dien met die gerustheid dat hul kerkleiding die Woord steeds eerste stel soos dit vir dekades altyd gedoen is.
Die krag van Namibië se getuienis om ter wille van die eer van Christus en die Waarheid in Gods Woord as enigste rigsnoer vir ons lewe, uit te tree, moet nou sterker as ooit beklemtoon word. Dit mag vir duisende lidmate in SA die noodsaaklike wekroep wees om bewus te word van die moeras van sondige wêreldkompromie waarin hul hulself mag bevind.