Die Skrif en die teologie van vrome verwondering … ten koste van vaste waarheid

Die volgende artikel is geskryf na aanleiding van die legitimasiediens op 29 Maart 2021 waarin ds Melanie Thirion na God verwys het in die vroulike geslag (54m47s).

Legitimasie, 29 MAART 2021, 18:30

Tydens dieselfde geleentheid het dr Jana van den Munckhof ’n gebed doen in die woorde van Rosa Smit: “Heilige prisma…” (1h18m)

Vir meer hieroor kyk Opsomming: God is vrou, “Heilige prisma” tydens legitimasiediens op 29 Maart 2021.

*****

Die Skrif en die teologie van vrome verwondering … ten koste van vaste waarheid

Deur Pieter Prinsloo

14 April 2021

(hierdie skrywe is ongelukkig drie A4 bladsye, maar ek ag dit nodig om hierdie saak sinvol te belig)

‘n NG leraar ontketen onlangs ’n storm met die filosofies-spekulatiewe suggestie dat elkeen self kan besluit of God manlik of vroulik is. Haar presiese woorde lei as volg: “Dat God drie-enig HAAR verbond bevestig – of HOM – hoe ook al jy dit sien…”

Ek vra my af: Waarom verkies hierdie leraar om in verwysing na God te praat van “HAAR verbond”? Waarom verkies hierdie leraar om hierdie Skrifvreemde term as haar éérste keuse te gebruik wanneer sy oor God praat? Met ander woorde waarom verkies sy haar eie beeld van God, eerder as om bloot die Skrif – sonder poging tot kontrovers – na te spreek? Waarom sou sy so ’n filosofies-spekulatiewe stelling maak wat hoorders onnodig dwing om op platvloerse, banale wyse na te dink oor God? Dit tref dus dat hierdie leraar se taal en woordkeuse spreek van ’n ongemak met die taal en openbaringsvorme aangaande God wat in die Skrif na vore kom; die metafore van die spitsvondige eie ek – eerder as die Skrif – kom immers na vore in haar opmerking waarmee sy filosofies-spekulatiewe nadenke oor God as’t ware stimuleer. My gevolgtrekking is dat hierdie leraar se kort stelling waarskynlik simptomaties is van ’n dieperliggende siekte wat reg gediagnoseer moet word en wat bloot tekenend is van ’n sekere teologiese denkstroom binne die NGK.

Nou is dit wel so dat die Bybel oor die onsigbare God – wat Gees is – praat in taal wat mense kan begryp; natuurlik openbaar God Homself in die Bybel veral deur metafore en beelde van destydse mense – daarom is God in die Bybel ’n Herder, Held, Rots, Lig … maar ook die Een wat SOOS ’n Moeder sorg vir Sy kinders (Jes 66). Daar sou natuurlik baie geskryf kon word oor die feit dat ons God as Vader leer ken in die Woord, asook die feit dat Jesus as Man gebore is. Ek wil egter in hierdie skrywe die onderliggende siekte diagnoseer wat aanleiding gee tot sulke filosofiese gedagtevlugte – daardie siekte wat aanleiding gee daartoe dat leraars gemaklik is om sulke Skrifvreemde, filosofiese vraagtekens te skep en te laat hang oor God. Om die wortel van die probleem te herken, moet die fokus daarom eintlik val op die leraar se skynbare vrome afsluitingswoorde wat ruimte wil skep vir “hoe ook al jy dit sien” (nadat sy eers skok met die skep van ’n filosofiese vraagteken oor God). “Hoe ook al jy dit sien” is simptomatiese woorde van hierdie teologiese denkstroom in die NGK wat ’n ernstige probleem het met die idee dat daar vaste waarhede oor God in die Skrif geleer word. Juis agter die vriendelike woorde “hoe ook al jy dit sien” skuil daarom die suggestie aan hoorders dat dit aanvaarbaar is om dit wat in die verlede as vaste waarhede oor God bely was, vaarwel toe te roep. Kom ek verduidelik – VROOMHEID VIR HIERDIE GROEP: In hierdie kringe in die NGK is daar ’n vreemde konsep van ware vroomheid. In hierdie groep is daar ’n opstand teen dit wat in die Kerk as vaste waarhede bely moet word; so byvoorbeeld is hierdie denkstroom in opstand daarteen dat daar in die verlede (en vandag steeds) die vaste waarheid geleer word dat God die huwelik tussen een man en een vrou ingestel het; In hierdie kringe is daar ook ’n opstand en wrewel teen die konsep dat daar vaste waarhede oor God en Sy Koninkrykswil bely kan word. Die maatstaf vir vroomheid volgens hierdie groep is ’n lewe van verwondering voor God sonder dat jy vaste waarhede oor Hom/Haar moet glo – dit gaan oor die aanvaarding van “hoe ook al jy dit sien”. Die belydenis van vaste waarhede ten koste van ander se godsdienstige idees is vir hierdie groep kru, konfronterend en daarom onvanpas. Kortom: Wie vaste waarhede bely is nie vroom nie want jy is arrogant, meerderwaardig en konfronterend sodra jy vaste waarhede bely. Vroomheid is om onkunde en nie-weet-nie te bely, want dan gee jy nie aanstoot nie. Vroomheid is om saam met ander mense te erken dat ons maar soekend in die duisternis is en nie regtig weet nie, maar ons almal is ook saam in verwondering voor ’n onbekende god. Weereens: Vroomheid is om dus ruimte te gee vir elkeen om te glo “hoe ook al jy dit sien”. Hierdie groep vind dit daarom vroom en lofwaardig om te bely dat daar geen vaste geopenbaarde waarhede is nie. Hierdie groep streef daarom daarna dat mense ’n vroomheid sal uitleef waar nie “fanaties” opgestaan moet word vir vaste waarhede nie, en hulle sou dit selfs vreemd en onvanpas vind dat iemand bereid sou wees om te sterf vir vaste waarhede oor God. Dit is vir hulle die hoogste doel om mense te begelei tot die “vrome ” belydenis dat hulle NIE vaste kennis van God het NIE en dat daar daarom ruimte moet wees vir elkeen om te glo “hoe ook al jy dit sien”. Vroomheid vereis daarom dat opgestaan sal word teen meerderwaardige en kru mense wat vaste waarhede bely en ander mense daarmee “seermaak” – “kru” vaste waarhede soos: mense wat Jesus verwerp as die Verlosser is onder God se oordeel.

SKRIFOMGANG: Baie belangrik – Daarom streef hierdie groep daarna om juis op so ’n wyse met die Skrif om te gaan dat dit hulle hoorders met meer vrae as antwoorde oor God en die Skrif laat, byvoorbeeld: “Kan ons nie ook maar na God verwys as vroulik nie?” Die hele uitgangspunt van hierdie groepering is dus om mense te begelei tot ’n belydenis van onkunde oor ’n onsigbare, onkenbare God en weg te lei van die idee dat daar vaste geopenbaarde waarhede oor God is waarvoor ek bereid moet wees om te sterf. Die doel is dus om mense te begelei tot ’n teologie van twyfel as ’n “verhewe vorm van vroomheid” omdat dit dan kwansuis wys op beskeidenheid en nederigheid in jou verwondering voor ’n onkenbare God. Vanuit die Skrif sal hulle doelbewus en eensydig fokus op gedeeltes wat suggereer dat God gans anders is, en wegbly van gedeeltes wat vaste waarhede beklemtoon. Vir hierdie groep is vrome beskeidenheid om te leer dat selfs die Bybel ons eintlik nie kan help met antwoorde en ware kennis van God nie. Vir talle binne hierdie groep (nie almal nie) is die Bybel daarom ook maar net die resultaat van primitiewe mense se ervaringe van God, eerder as wat die Bybel deur die Gees geïnspireer is en waarin God Homself openbaar op ’n wyse waarin ons vaste waarhede oor Hom kan ken. Gevolglik is daar nie ware kennis van God nie, en uiteindelik is al wat van godsdienstiges vereis word die “verhewe vroomheid” van ongedefinieerde, maar bewonderende eerbied vir ’n onkenbare God. Daar is nie vaste waarhede nie, net spekulatiewe bewondering. Elkeen tas maar rond en “hoe jy dit ook al sien” is die wagwoord vir ’n vrome lewe. In hierdie teologie gaan dit as’t ware oor die terugkeer na ’n konsep dat vroomheid sigbaar word in ’n tevredenheid om ’n diepe godsdienstige mens te wees wat ’n onbekende God vereer sonder om vaste waarhede oor hierdie God te wil verkondig en waarin andersdenkende mense nie gekonfronteer moet word met oproepe dat hulle hulle moet bekeer tot vaste waarhede aangaande God nie. Maar wat leer die Skrif?

Paulus ontmoet juis in Athene ’n klomp mense wat ernstig godsdienstig was en ’n beeld opgerig het om ’n onbekende God te vereer. Let op: Hulle is ernstig godsdienstig en doodtevrede met hulle vroomheid om ’n onbekende God wat nie geken kan word nie te vereer. Dit is uiters belangrik dat ons gaan kyk hoe Paulus sou reageer op hierdie vreemde vroomheid; Sou Paulus hulle laat met hulle tevredenheid om in onkundige verwondering ’n onbekende God te vereer sonder kennis en soos elk dit ook al goed vind om hom te vereer? Nee, kom ons gaan lees sy reaksie vanaf Hand 17: 22 – “Paulus gaan toe in die middel van die Areópagus staan en sê: Atheners, ek sien dat julle in elke opsig baie godsdienstig is. Want terwyl ek rondgegaan en julle heiligdomme aanskou het, het ek ook ’n altaar gevind waarop geskrywe is: Aan ’n onbekende God. Hom dan wat julle vereer sonder om Hom te ken, verkondig ek aan julle.” Paulus verkondig hierna vaste waarhede oor hierdie God. Hy gaan byvoorbeeld voort en vertel aan hulle dat die tyd van onkunde nou verby is en dat hulle hulle moet bekeer tot die geopenbaarde waarheid van Christus. Paulus sluit uiteindelik sy preek af met die woorde: “30 God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, 31 omdat Hy ’n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ’n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek.” Paulus se vroomheid behels dat hy hierdie klomp Atheners, wat so tevrede was met hulle “vrome” verering van ’n onbekende god, konfronteer met vaste waarhede en ’n oproep tot bekering. Hulle bars dan uit van die lag toe hulle hoor dat hierdie mal fanatikus hulle oproep tot bekering uit hulle tevredenheid met hulle onkunde, en dat hy hulle boonop in arrogantheid oproep om die vaste waarheid te glo wat hy verkondig; hy verkondig aan hulle die ondenkbare idee dat God die wêreld deur hierdie EEN wat Hy aangestel het sal oordeel, en dat God aan almal SEKERHEID gegee het aangaande hierdie Een deur Hom uit die dood op te wek. Hulle was tevrede met hulle teologie van onkunde en hulle godsdienstige verering van ’n onbekende god en sou spot met hierdie dwase konsep (sien ook 1 Kor 1:17-24) van vaste waarheid aangaande ’n Man wat deur God opgewek is uit die dood deur wie Hy die wêreld sal oordeel.

Paulus sou later ook die jong Timotheus herinner dat die dag kom dat Jesus Christus sal verskyn om die lewende en die dode te oordeel en dat Timotheus te make sal kry met mense wat in opstand sal kom teen die idee van ’n vaste, gesonde leer (en sou verkies om enige leer wat hulle behoeftes bevredig te verwelkom). Dit is veelseggend om mooi te kyk wat Paulus aan Timotheus skryf in 2 Tim 4: “EK besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by Sy verskyning en Sy koninkryk: verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.”

Die Bybel leer op talle plekke hoe gelowiges sou sterf vir die vaste waarhede van die geloof. Die Bybel leer op talle plekke hoe gelowiges in konflik sou kom met valse leraars wat hierdie vaste waarhede sou wou ondermyn deur hulle filosofiese en wêreldse idees. Die konsep dat dit vroom is om verwonderende onkunde te bely oor God, eerder as om dissipels te maak wat vasstaan in die waarheid van die gesonde leer, is vreemd aan die Skrif. Die konsep om met die Skrif om te gaan deur meer vrae as antwoorde by mense te skep sodat hulle kan kom tot die belydenis van onkunde (is God manlik of vroulik?) kan beslis nie beskou word as eerbiedige Skrifomgang nie. Pasop vir diegene wat jou wil begelei tot ’n Skrifvreemde belydenis dat ons vroom is deur nie vaste waarhede te bely nie; pasop vir diegene wat jou wil laat glo dat die Bybel ons laat met meer vrae as antwoorde oor God. Natuurlik is daar verborgenhede wat ons eers op die nuwe aarde sal ken, maar in die Woord en uitendelik in Christus het God Homself duidelik kom openbaar sodat ons Hom kan ken en reg vereer volgens die beginsels van Sy Koninkryk. Die Bybel ken nie ’n konsep van vroomheid waar mense aangemoedig moet word om ruimte te skep vir andere sodat elkeen kan glo “hoe ook al jy dit sien” nie. Ware vroomheid is om die Skrif eerbiedig te verklaar en sodoende te groei in die kennis van die waarheid. Ware vroomheid vereis dat ons die geopenbaarde waarheid aangaande die Koninkryk van God sal verkondig en sondaars sal oproep tot geloof en bekering. Ware vroomheid is verwondering oor God wat veranker is in die vaste waarheid van God se Woord. Filosofiese verwondering oor ’n onbekende god wat voortvloei uit die mens se spitsvondige eie gedagtes is niks anders as afgodery en beeldaanbidding nie.

Gaan lees maar 1 Kor 15:1-6, Gal 1:6-9, Rom 16:17 en 18, Johannes 17, Judas vers 3 – 4 en tallose ander gedeeltes wat die klem laat val op ’n evangelie met vaste geopenbaarde waarhede waarin christene moet vasstaan en mense moet oproep tot bekering en geloof in hierdie vaste leer. Iemand wat filosofies en vriendelik kan opmerk “dat God drie-enig HAAR verbond bevestig – of HOM – hoe ook al jy dit sien…” sal ook graag vir jou ruimte wil skep dat jy self kan besluit of jy regtig wil glo dat God mens geword het uit ’n maagd, gekruisig is, gesterf het en opgestaan het uit die dood. Trouens hulle sal jou nie tot bekering wil roep as jy anders glo nie, want die wagwoord van ware vroomheid is vir hulle die nie-konfronterende beskeidenheid om vir jou ruimte te gee “hoe ook al jy dit sien”. Hierdie groepering in die NGK wil mense subtiel aanmoedig om vry te kom van vaste waarhede en aan te beweeg na die die vryheid van eie metafore oor God … en dus eiesinnige beeldediens.

1 thought on “Die Skrif en die teologie van vrome verwondering … ten koste van vaste waarheid”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui