Die verlore seun is tuis

Kyk ook:

Die volgende artikel gee die geskiedenis van die NG Kerk se lidmaatskap tot die Wêreldraad van kerke (WRK).

Die artikel sluit egter positief af. Alhoewel die WRK waarskynlik baie goeie welsynswerk doen, is dit nie so seker wat die WRK se bydrae tot wêreldevangelisasie of die suiwer leer is nie.

Ek is glad nie oortuig dat dit die NGK gaan baat om lid te wees van die WRK nie. Daar is tans veel belangriker kwessies op die NGK se tafel, bv die homoseksuele kwessie (kyk Gay-besluit gestuit, maar kan NGK omdraai?).

*********

Die verlore seun is tuis

14 Jul 2016

Die Burger Oos

Die NG Kerk is op 27 Junie ná 55 jaar in Trondheim, Noorweë, weer as lid van die Wêreldraad van Kerke toegelaat. Nelis Janse van Rensburg en Gustav Claassen plaas dié hertoelating in historiese konteks en bespreek wat dit vir die NG Kerk beteken.

Dit was historiese en emosionele oomblikke toe die voorsitter van die sentrale komitee van die Wêreldraad van Kerke (WRK) aankondig dat die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) weer tot hierdie wêreldliggaam toegelaat word.

Die Kaapse en die Transvaalse sinode van die NGK was afsonderlik lede van die WRK sedert die ontstaan daarvan in 1948. Die skietdood van die 69 mense in Sharpeville op 21 Maart 1960 het egter ’n stryd om die siel van die destydse NGK ontketen.

Die WRK het in die lig van dié verwikkelinge in Sharpeville besluit om by die bespreking van die onreg betrokke te raak, en ’n beraad van sy lidkerke is van 14 tot 17 Desember 1960 in Cottesloe, Johannesburg, gehou. Al agt Suid-Afrikaanse lidkerke van die WRK, waaronder die NGK van Transvaal en die NGK in Suid-Afrika (Kaapland), was teenwoordig.

In dié konsultasie is baie sterk beding vir die insluiting van swart mense in die politieke bedeling in Suid-Afrika.

Uiteindelik is ’n verklaring uitgereik wat die inhoud en besluite van die konsultasie verwoord het. Onbillike diskriminasie teen swart mense in talle vorme is afgewys, en besluite is onder meer geneem oor werkreservering, grondbesit vir almal en stemreg vir die bruin bevolking.

Die NG afgevaardigdes se steun aan hierdie verklaring het ’n geweldige storm in die Kerk en in Afrikanergeledere ontketen.

In sy Nuwejaarstoespraak op 1 Januarie 1961 het dr. H.F. Verwoerd, die destydse eerste minister, ’n wig tussen die afgevaardigdes en die res van die Kerk ingedryf deur te sê dat hierdie kerklui nie die amptelike standpunt van die Kerk verteenwoordig nie.

Die Kerk was nou in ’n diep morele stryd gedompel, en die helder getuienis van die NGK oor God se geregtigheid vir alle mense het lank stil geword.

Die een ná die ander het die sinodes van die NGK die besluite van Cottesloe verwerp. Die Vrystaatse sinode se afwysing is gevolg deur dié van die Federale Raad van NG Kerke en die Natalse sinode. In April 1961 het die Transvaalse sinode besluit om uit die WRK te tree.

In November 1961 het ook die Kaapse sinode met ’n oorweldigende meerderheid besluit om die WRK te verlaat.

Al hierdie sinodes het sterk afkeurende besluite geneem ten aansien van die Cottesloe-verklaring.

Toe die algemene sinode van die NGK in Oktober 1962 tot stand gekom het, was lidmaatskap van die WRK nie eens op die agenda nie.

In die daaropvolgende jare het die WRK se amptelike veldtog teen rassisme en apartheid geweldig omstrede geraak toe die organisasie in 1970 besluit het om die bevrydingsbewegings finansieel te ondersteun.

Hiermee het die WRK ’n vyand van die Suid-Afrikaanse staat geword en het die propagandamasjien van destyds seker gemaak dat ten minste die meeste wit mense hierdie oortuiging deel.

Intussen het die WRK ook agter die politieke skerms gewoeker om stukrag te verleen aan die versetbeweging en veral om internasionale steun te werf vir sanksies en verset teen apartheid.

So was die skorsing uit die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke ’n harde hou vir die NGK.

Natuurlik was die getuienis en verset van ons susterskerke baie betekenisvol. Die NGK se eie teologiese en historiese familie was wêreldwyd verenig in sy verset teen die teologiese regverdiging van apartheid.

Toe die NG Sendingkerk in 1986 die Belydenis van Belhar aanvaar, het dit daarmee die waarheid van die Evangelie oor die aard van die Christelike kerklike lewe en die eise om versoening en geregtigheid in die Evangelie op ’n baie besondere manier in fokus gebring.

In die laat sewentiger- en vroeë tagtigerjare het die NGK begin om apartheid af te wys. In 1986 was sy bekering van sy dwaling oor apartheid reeds ver gevorder met die aanvaarding van die dokument Kerk en samelewing.

Só sterk was die afwysing van die apartheidsteologie toe dat die Afrikaanse Protestantse Kerk in 1987 van die NGK weggebreek het.

In 1990 is hierdie dokument verder verfyn. Toe pres. FW de Klerk in 1990 ’n nasionale kerkeberaad te Rustenburg hou, kon prof. Willie Jonker met vrymoedigheid in die openbaar die sonde en die dwaling van die NGK ten aansien van apartheid bely.

Sedert hierdie dramatiese jare het die NGK stadig maar seker weer deel van die ekumeniese organisasies geword.

Met die ondersteuning van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en sy lidkerke het die NGK weer sy profetiese stem begin vind.

In ekumeniese geledere word die NGK nooit verwyt oor sy apartheidsverlede nie. Telkens word daar eerder erkenning gegee aan die groot rol wat die Kerk speel in die verligting van die nood van die mense van Suid-Afrika.

Die NGK het inderdaad sedert die vroeë 1980’s ’n reuse-verskuiwing gemaak in sy diakonaat en omgee vir die mense van ons land. Die Kerk was maar te bewus daarvan dat dit alleen deur ’n diensknegrol te speel, ’n geloofwaardige getuienis van sy bekering kan lewer.

Daar is vandag nie meer NG gemeentes wat nie betrokke is by arm gemeenskappe en mense wat lyding ervaar nie. Die welsynsdienste van die NGK en die Verenigende Gereformeerde Kerk lewer jaarliks professionele dienste aan meer as ’n miljoen mense.

Voeg hierby die informele werk van gemeentes en lidmate en die hartgrondige verbintenis van die NGK tot die genesing van Suid-Afrika kan nouliks betwyfel word.

Die aanvaarding van die Belydenis van Belhar het egter vir baie die toetssteen geword van die NGK se bereidheid om met sy susterskerke te verenig.

Die vereniging van hierdie Kerke sal inderdaad grootliks bydra tot die geloofwaardigheid van die NGK se verklarings en getuienis oor die ware aard van die Kerk en sy verbintenis tot Afrika.

Die NGK het in die proses duur lesse geleer. Hy het geleer wat die skade en verlies is wanneer ’n mens jou teologie in isolasie bedryf.

Agterstande is opgebou ten aansien van die nuutste denke in die gereformeerde teologie en die Christelike teologie in die algemeen. Die apartheidsideologie het mense wysgemaak dat ons in Suid-Afrika eintlik alleen die waarheid het en in die sentrum van teologiese denke funksioneer.

Die kerklike wêreld is egter groot, en die ontwikkeling in die teologie het voortgegaan terwyl die NGK en ander Suid-Afrikaanse kerke met selfregverdiging besig was.

In Afrika is byvoorbeeld in lande soos Nigerië, Kenia en Ghana baie groot gereformeerde kerke met uitstekende teologiese fakulteite by wie die Suid-Afrikaanse kerke baie kan leer. Die NGK se lidmaatskap van die WRK lei ’n nuwe tyd van blootstelling en diensbaarheid in. Die WRK se omvangryke kundigheid en kapasiteit kom nou tot die Kerk se beskikking.

Die WRK se fokus en beleid het ook oor die jare baie verander. Vandag is sy fokus op regverdige vrede.

Trouens, een van die vlagskip-aksies van die WRK is sy program genaamd “Pelgrimstog van geregtigheid en vrede”. Alle kerke en kerklike strukture word in dié program meegeneem in talle aksies om die wêreld van konflik en pyn te genees. Die Kerk kan ook nou sy stem en sy gawes toevoeg tot hierdie uitnemende getuienis.

Die WRK se voorbeeld van beliggaamde versoening en eenheid kan beslis die kerklike gemeenskap in Suid-Afrika baat.

Die blydskap en die emosie waarmee die Suid-Afrikaanse lidkerke, die Afrikakerke en die sentrale komitee van die WRK die NGK terugontvang het, getuig van onder meer die afwagting oor die moontlikhede wat hiermee ontsluit is.

Die verlore seun is weer tuis.

Ds. Janse van Rensburg is voorsitter van die NGK se moderamen, en dr. Claassen is die algemene sekretaris.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui