Kyk ook: |
In die artikel “Die vraag is hóé God teenwoordig is” beweer ds Marius Schoombie dat indien mens nie evolusie wil glo nie, dan maak ons ’n fout oor wie God is. Hy sê:
“Wanneer ons dít wat wetenskaplikes vir ons leer oor die kosmos nie ernstig opneem nie, maak ons foute oor wie God is. Dan skep ons vir God na ons beeld.”
James Maré sê in die artikel “Wetenskap en Bybel” onderaan dat presies die teenoorgestelde waar is.
Marius maak ’n fout. Evolusie is duidelik nie versoenbaar met die Bybel nie. Om in evolusie te glo is om ’n eenvoudige verstaan van Genesis 1-11 te verwerp. Vir meer hieroor, kyk Het God evolusie gebruik om te skep, is Genesis 1-11 in ballingskap geskryf en was die sondvloed werklik ’n globale vloed? .
Verdere kommentaar volg tussen die teks in [rooibruin blokhakies].
************
Die vraag is hóé God teenwoordig is
9 April 2018 | Marius Schoombie | Jong Stemme
In die 13de eeu het Thomas Aquinas die opmerking gemaak dat die ontsaglike diversiteit en pluriformiteit van die skepping God beter verteenwoordig as enige skepsel alleen. Die skepping verteenwoordig God.
Ek lees ook Job 12, waar God vir Job sê: “Miskien moet jy die diere vra om jou te leer, die voëls daarbo om jou te vertel, of praat met die aarde dat dit jou leer en met die visse in die see dat hulle dit vir jou sê. Wie van hulle weet nie almaI dat die hand van die Here alles gemaak het nie?”
Soos wat ons na enige kunswerk kan kyk en die wese van die kunstenaar daarin kan raaksien, kyk ons na die skepping en sien die wese van die Skepper. Die ganse skepping getuig van God. En terwyl ek David Attenborough se Planet Earth en The Blue Planet dokumentêre kyk, beleef ek die evangelie dat God werklik goed geskep het. Hoe langer en hoe dieper ek die kunswerk bestudeer, hoe duideliker sien ek die Kunstenaar daaragter. En ek besef dat as ek werklik vir God wil ken, ek die wetenskap ernstig moet opneem. [Ek wonder of Marius al te doen gekry het met die verskil tussen operasionele en historiese wetenskap? Kyk Operasionele vs historiese wetenskap.]
Die afgelope tyd dwaal my gedagtes herhaaldelik na nog ’n aanhaling wat aan Aquinas toegeskryf word: “‘n Fout oor die skepping sal lei tot ’n fout oor God.” Wanneer ons dít wat wetenskaplikes vir ons leer oor die kosmos nie ernstig opneem nie, maak ons foute oor wie God is. Dan skep ons vir God na ons beeld.
Wanneer ek die vestigiale tekens van evolusionêre ontwikkeling aan my eie lyf miskyk, tekens soos die van die palmaris longus en die klein spiertjies wat my ore so effens kan beweeg, verstaan ek nie wat ek bedoel wanneer ek bely “ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde” nie. [Vestigiale of oorblyfsel organe is, om die minste te sê, ’n mite. Kyk Badly designed arguments—‘vestigial organs’ revisited. Dit is jammer dat ’n predikant hierdie evolusie-argumente so maklik soos soetkoek opeet en dit nie eers krities evalueer nie.]
Om die skepping ernstig op te neem, is egter nie ’n ligte saak nie. Dit beteken dat die goeie saam met die slegte aanvaar word. Dat dieselfde prosesse van tektoniese beweging wat lewe op aarde moontlik maak ook dodelike tsoenami’s en aardbewings veroorsaak. Hoe is God betrokke by hierdie prosesse? Hoe is God betrokke in ’n wêreld waar die fondament van alle materie kans en onsekerheid is, soos Heisenberg uitgewys het? [Hierdie is een van die wesenlike probleme van evolusie – as God ’n God van liefde is, waar kom dood en swaarkry vandaan. Hierdie vraag kan slegs bevredigend beantwoord word indien die sondeval erken word. Kyk Death and Suffering Questions and Answers en Aanhalings – Is evolusie en die Bybel versoenbaar?]
Hoe meer ek worstel met hierdie vrae, hoe dieper vind ek myself geborge in die misterie van wie God is. Die vraag “hoe is God betrokke?” is vir my belangrik. Die vraag is nie “is God betrokke?” nie. In die woorde van die Psalmskrywer vra ek ook: ‘Waar sal ek vlug om u teenwoordigheid te ontkom?” God is ten volle teenwoordig in sy skepping. Die vraag waarmee ek sal aanhou worstel en waarin ek meer en meer van God ontdek, is: “Hoe?”
- Ds Marius Schoombie is predikant van die NG gemeente Suidkus in KwaZulu-Natal.
7 Mei 2018 | James Maré | Briewe
James Mare skryf:
‘n Mens kan seker nie ds Marius Schoombie (“Die vraag hoe God teenwoordig is”, Kerkbode, 16 Maart 2018) kwalik neem as hy die stellings maak wat hy in sy artikel maak as ’n mens in gedagte hou wat die nuwe gedagtelyn binne die NG Kerk is nie.
Die stellings wat hy maak is nogal skrikwekkend as ons dit beskou in die lig van die teologie van so 40+ jaar gelede toe die Bybel nog beskou was as die onfeilbare Woord van God en nie as “mensewoorde oor God” nie. Wat ’n fenomenale omwenteling het daardie (toe modernistiese) beskouing nie veroorsaak nie!
Ek wil graag reageer op die volgende stellings wat hy maak:
a) “En ek besef dat as ek werklik vir God wil ken, ek die wetenskap ernstig moet opneem.”
Die “wetenskap” wat hy hier na verwys, is nie die empiriese wetenskap nie, maar die sg “historiese” en evolusionistiese “wetenskappe” – wat hoofsaaklik op filosofiese beredenerings neerkom wat primêr daarop gemik is om God uit die scenario te laat.
b) “‘n Fout oor die skepping sal lei tot ’n fout oor God. Wanneer ons dit wat wetenskaplikes vir ons leer oor die kosmos, nie ernstig opneem nie, maak ons foute oor wie God is. Dan skep ons vir God na ons beeld.”
Hierdie stelling is baie sterk, en die ironie van die saak is dat die eintlike betekenis van sy stelling 100% korrek is as ons nie aanvaar dat die Bybel die onfeilbare Woord van God is en dat God wel die aarde geskep het soos Hy dit in Genesis vir ons beskryf nie.
Die kern van sy probleem is egter dat indien jy aanvaar dat die “moderne wetenskap” die Bybel verkeerd bewys het en dat die oerknal die skepper was en nie God nie, dan skep jy verseker vir jou ’n god na jou beeld in stede daarvan dat jy toelaat dat die God van die Bybel Homself ten volle aan jou openbaar in sy Woord. Dan het jy geen antwoord op die vraag “Waarom moes Jesus aan die Kruis sterf om ons te red as God nie in staat was om in die eerste plek ’n wêreld wat volmaak en sonder dood, pyn en lyd ing was, te skep nie?”
As ons dan eers na miljoene jare van dood, pyn en lyding deur middel van evolusie toevallig op die toneel verskyn het, watter reg het God dan om aanspraak te maak op ons lewens en toewyding aan Hom?
Ek vertrou dat ds Schoombie aan my Skriftuurlik sal verduidelik watter pilare die “wetenskap” bied om die Bybel se weergawe te kelder.