‘Die waarheid is bo alles’

*******

‘Die waarheid is bo alles’ | Kerkbode

Kerkbode

22 Augustus 2022

Johann Ernst van Centurion skryf: Groot dank aan prof Louis Jonker vir sy brief oor hoe die Bybel herbedink en hervertolk moet word: booshede in ’n Bybelse geskrif kan deur ons eie herinterpretasie tot boetedoening vir ’n nuwe tyd getransformeer word; soos die Christendom in die vroeë Christelike era die Jodendom herinterpreteer het, kan ons, om die “Woord van God lewendig en kragtig te maak”, die Jodendom (Ou Testament) en Christendom (Nuwe Testament) nou hervertolk om by ons omstandighede te pas; die Woord van God is nie opsigself lewend en kragtig nie – ons moet aan hierdie ou en verslete boek self nuwe lewe en krag gee; ons kan nie vashou aan ewige waarhede en onveranderlike interpretasies van die Bybel nie, want dit gaan loodreg in teen die dinamika van herinterpretasie van die Bybel – dus, wat in die Bybel geskryf staan, is en bly tydelik en voorwaardelik en kan deur ons verander word.

Nou verstaan ons ook hoe die progressiewe lyn loop van Deuteronomís – Kronís – Evangelís – Paulís – Du Plessís. In hierdie lyn is daar nie meer plek vir leerstellige en morele voorskrifte (norma normata) wat uit die Bybel self afgelei word nie (norma normans). Ons kan dus nie meer aanvaar, soos Artikel 7 van die NGB leer, dat die “heilige Skrif” die wil van God volkome bevat nie. Die wil van God is tydgebonde, veranderlik en verganklik aan ons oorgelewer en ons kan dit so verder vertolk en vertel. Al sê dié Artikel dat selfs die apostels nie iets anders mag leer as wat ons reeds deur die “heilige Skrif” geleer word nie, mag ons dit maar doen, want ons weet nou beter, sien verder en ervaar dinge anders.

Dr Fanie Cronje sê dit is ons wat verander en dit is ons kennis en omstandighede wat verander, en daarom verander die woord ook: “Ons sien soms verder en anders as ons voorgangers, want ons staan op hulle skouers.” Ons het nou so uitgestyg en oorskou alles, terwyl die leerstuk, wat in eie handtekening onderskryf is, sê dat geen geskrifte van mense of besluite en bepalinge van kerkvergaderinge met die “goddelike Skrif” en die “waarheid van God” gelykgestel mag word nie, want die waarheid is bo alles! Dit mag wees dat teoloë hoog uitstyg omdat hulle die voordeel het om op ander voor hulle se skouers te staan, maar dan kan ons nie die skouers van Hom vertrap nie op Wie die kruis swaar gerus het en voor Wie ons eerder die knie moet buig en in tong en taal moet erken: Jesus Christus is Here! Terwyl ons met ons geleerdheid altyd wil opklim om bó te wees, moet ons onsself liewer verneder en gehoorsaam wees.

Daarom, al sê die teoloë van ons tyd by wyse van hervertolking dat die huwelik ’n menslike instelling is, aanvaar ons wat aan die Woord van God getrou bly, dat volgens Jesus die Christelike huwelik tussen een man en een vrou ’n onveranderlike en onhervertolkbare en onverbreekbare instelling van God is en dat niks deur die mens of die kerk in die plek daarvan of daarnaas ingestel kan word nie. Ons onderwerp ons dus aan die vaste waarheid van bo daaroor.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui