‘Dís hoe Dopperkerke ’n verskil maak en wil maak’

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

‘Dís hoe Dopperkerke ’n verskil maak en wil maak’ | Netwerk24

06 Januarie 2023

Erika de Beer

Ná ’n groot daling in hul lidmaattal is groei hoog op die agenda van die Gereformeerde Kerke se komende algemene sinode. En die laaste woord is ook nog lank nie oor die vrou in die amp gespreek nie, berig Erika de Beer.

Elke drie jaar, in Januarie, nog voor studente van heinde en ver kom, wemel dit van vreemde nommerplate in Potchefstroom. Dit gebeur weer van einde vandeesmaand.

Weens die Covid-19-pandemie het vyf jaar egter verloop sedert die laaste algemene sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA).

Covid-19 het veel meer as die sinode geraak. Gemeentes het dominees en lidmate daardeur aan die dood afgestaan. Verskeie ander net nie teruggekom nadat die kerkdeure weer oopgemaak het nie.

Tog twyfel ds. Charl van Rooy, ’n leraar van die Gereformeerde kerk Randburg, nie in die GKSA se voortbestaan nie. “Ons probeer eerlik soek na wat die Bybel sê en dít gaan ons laat oorleef.”

Sonder megafoon of eie beuel

Van Rooy was ook voorsitter van die GKSA se deputate: effektiewe sinode. Dié studiegroep is in 2018 aangewys om te kyk hoe die sinode beter en meer kostedoeltreffend kan werk.

Een van die resultate van hul werk is dat die lengte van die sitting, waarvoor afgevaardigdes vroeër 10 tot 12 dae in Potchefstroom deurgebring het, nou omtrent gehalveer is. Dit duur van 30 Januarie tot 4 Februarie.

“Dan gaan ons agterna in streeksinodes sake verder hanteer wat nie vreeslik van aangesig-tot-aangesig of ’n emosionele debat sou vereis nie.”

Daar word soms gevra hoekom die GKSA nie uitsprake oor byvoorbeeld groot kwessies in die land maak soos sommige ander kerkverbande nie.

Maar in die GKSA is die sinode en die moderamen wat daarvoor verkies word nie ’n oppergesag wat namens die gemeentes praat nie, sê Van Rooy.

Toe ’n regeringsamptenaar in PW Botha se tyd as staatspresident vir dr. Pieter Bingle van die Kaapstad-gemeente gevra het wat die hoof van die GKSA se standpunt oor bonusobligasies is, was sy antwoord: “Al hoof wat ons het, is Jesus Christus in die hemel.”

Die voorsitter, ondervoorsitters en skribas in die moderamen behou dié ampte net solank die sinode duur, sê Van Rooy. “Ons het nie ’n permanente moderator of struktuur wat namens die kerk praat nie.

“ ’n Sinode of ’n kerklike vergadering leef voort in sy besluite wat hy geneem het.”

Die gemeentes is ook nie takke van die GKSA nie, maar selfstandige kerke.

“Ons is ’n selfstandige vergestalting van die liggaam van Christus plaaslik. As iemand vra wat doen die GKSA, dan sê ons: ‘Gaan kyk wat doen die plaaslike kerk.’ ”

Die kerke doen baie, maar hang dit nie aan die groot klok nie, sê Van Rooy.

Van hoede tot homoseksualiteit

Al is die kerke selfstandig, is hulle nie onafhanklik nie.

“Dit beteken dat ons in ’n kerkverband saamgebind word oor bepaalde sake.”

Die Kerkorde, wat die riglyne vir die regering van die kerk verskaf, bepaal kwessies wat op ’n mindere vergadering – soos van ’n klassis (’n groep gemeentes) of ’n streeksinode (’n groep klassisse) – afgehandel kan word, moet dáár gehanteer word.

As ’n lidmaat egter beswaar het teen ’n besluit wat sy gemeente geneem het, kan hy by die klassis, die streeksinode of eindelik die algemene sinode daarteen appelleer.

Die algemene sinode besin ook oor sake wat al die kerke saam raak.

“Dan sê ons: Kom ons laat al die kerke dan saam ’n studie doen daaroor en dat die kerke dan saam ’n besluit neem daaroor.”

In die 1980’s, byvoorbeeld, het die sinode besin oor of vroue hoede in die kerk moet dra, soos ’n letterlike vertolking van die Bybel sê. “Dit was so kultuurhistories bepaald en sosiohistories bepaald dat dit nooit ’n beginsel kan wees nie. Dit was, soos ons in teologiese taal sê, deskriptief en nie preskriptief nie. Dit was maar ’n beskrywing van hoe daardie mense geleef het, maar dis nie ’n voorskrif nie.”

Die sinode van 2003 het besluit die Gereformeerde Kerke neem sterk standpunt in teen alle vorme van buite-egtelike en homoseksuele omgang.

“Persone met homoseksuele neigings moet soos alle ander mense met die nodige pastorale bewoënheid hanteer en toegerus word om ook ten opsigte van hul seksuele lewe getrou aan God se Woord te lewe.”

Die Kerkorde bepaal as ’n mens nie met ’n sinodebesluit saamstem nie, mag jy daarteen beswaar aanteken. “Jy kan altyd die kerklike besluit omkeer as mense kan oortuig en kan bewys uit die Bybel dat mens dit ook anders kan sien,” sê Van Rooy.

Die olifant in die sinodesaal

Die 280 afgevaardigdes na die algemene sinode (20 dominees en 20 ouderlinge van elk van die sewe streeksinodes) verteenwoordig nie hul gemeentes nie.

“Ek kom as ’n dienaar van Christus om saam met ander kerke op grond van die Skrif te sê hoe ons dink die Here sê ons moet wees.”

Al 280 afgevaardigdes is mans.

In 2009 het afgevaardigdes by die algemene sinode teen vroue in die amp gestem – volgens Van Rooy met ’n baie klein meerderheid.

“In 2009 was daar twee stelle eksegeses of Skrifverklarings oor die vrou in die amp. Die een het gesê: Dit het inderdaad in die Bybelse tyd so gebeur, maar dit was dan deskriptief en nie preskriptief nie, en dit was geldig binne die sosiohistoriese konteks van daardie tyd. En daarom moet ons dit vandag anders sien.

“Die ander stel eksegese het gesê: Nee, die Bybel sê vroue moet swyg in die erediens.”

Daar was ’n voorstel dat die sinode moet besluit op grond van die Skrif mag vroue nie dominees en ouderlinge wees nie. (Die algemene sinode het in 2003 besluit gemeentes kan self besluit of hulle vrouediakens aanwys.)

“En toe sê ons wat anders dink: ‘Ons kan nie sê op grond van die Skrif nie, want ons verskil.’ Toe het hulle dit verander na ‘in die lig van die rapporte op die tafel het die meerderheid van mense vir die bepaalde eksegese gestem’.

“Ek is so hartseer daaroor. Ek is so oortuig ons doen vroue ’n onreg aan om op grond van geslag vroue uit ampte te sny.”

Sekere Pretoriase gemeentes asook die Gereformeerde kerk Krugersdorp het intussen wel vroue-ouderlinge aangewys. Op grond daarvan is Krugersdorp uit die klassis Wes-Rand gesit. Dié gemeente het intussen by die klassis Groter Johannesburg aangesluit.

Die streeksinode Pretoria het ook die gemeentes daarin wat vroue in die amp het, sittingsreg by die algemene sinode geweier.

“Hulle het gesê: ‘Julle hou julle nie by sinodebesluite nie, so julle het eintlik daardeur die band met die Gereformeerde Kerke verbreek.’

Daar is ’n hele paar beswaarskrifte teen dié besluit wat voor die algemene sinode gaan dien.

Ds. Cassie Aucamp, emeritus leraar, sê die groot vraag waaroor die sinode moet oordeel, is: Is die kwessie van die vrou in die amp ’n saak wat die belydenis van die kerk en dus die band van eenheid met die kerke in gedrang bring?

“Die sinode sal dus rigting moet aandui van hoe kerke (gemeentes) wat hieroor binne en buite die besluite oor vrou in die amp optree, met mekaar in een kerkverband is moet saamleef.”

Van Rooy meen die kerke wat teen die vrou in die amp gekant is, is in die minderheid. As al die gemeentes sitting in die algemene sinode gehad het – wat hy sê met ’n digitale sitting moontlik is – “het ons lankal vroue in die amp gehad”.

Droë takkies breek maklik

“Al die gemeentes” is nou sowat 300. Daar is nou minder as 60 000 Gereformeerde lidmate teenoor byna 100 000 tien jaar gelede.

[Kommentaar: Dus is dit nie net die NG Kerk wat lidmate verloor nie. Kyk Arnold Griesel: Is welwillende uitkoms moontlik met spanning tussen lidmate wat anders glo? (2 Des 2022).]

In die ergste geval verloor mense hul geloof.

Van Rooy meen dis dikwels daaraan te wyte dat mense God se betrokkenheid by die wêreld verkeerd verstaan.

“Ons het vir baie lank met hierdie ding gewerk van God sit agter alles, Hy beskik alles, asof Hy ook die bose beskik.

“Dis die ontnugtering van dié ouens: Hulle het grootgeword met die teologie van dit is God wat al hierdie slegte goed laat gebeur, en dan sê mense: ‘Maar ek wil nie in so ’n god glo nie.’

“Ek stem vir geen oomblik daarmee saam dat God die een is wat Covid gestuur het of wat ’n oorlog of een of ander ellende laat gebeur nie. Hy is dan die Herskepper, die Verlosser.”

[Kommentaar: ‘n Mens wonder wat presies met “Herskepper” bedoel word.]

Die 1983-vertaling van Matteus 10:29 lui: “Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie.

In die 2020-vertaling is dit net “sonder julle Vader”.

Van Rooy sê: “Matteus 10 sê glad nie die mossies sal nie val sonder die wil van God nie. Daar staan hulle sal nooit val sonder God nie, bedoelende mossies val. Ek en jy val ook, maar dis nie Sy wil nie, Hy is teenwoordig as ons val.”

[Kommentaar: Kyk ook Om vertroosting te vind in die dood van ’n geliefde.]

Veral ná Covid sukkel Randburg en ander gemeentes om hul lidmate weer almal betrokke te kry, sê Van Rooy.

“Ons sal skrik as ons agterkom dat waarskynlik ’n goeie derde net weg is. Maar my waarneming is droë takkies breek maklik. Hulle is maar altyd so af en toe daar, sommer maar bietjie uit gewoonte, hulle het darem die Here nodig, en toe hulle nou deur die Covid agterkom ‘eintlik is ons orraait, eintlik survive ons sonder die Here’, toe breek die droë takkie af.”

Van Rooy sê hy mis lojale Gereformeerdes, dié wat ongeag verskille bly en probeer saamwerk om dit beter te maak.

“Die neiging is as ’n ou nie hou van wat hy sien nie, dan loop hy. Hy stap gewoon uit die kerk uit.”

Baie mense is in die gees van die postmoderniteit, wat sê: Ek dink soos ek wil, niemand sal vir my sê wat moet ek dink of doen nie.

“So iemand verbind hom tot niks nie, hy wil bedien word, hy is soos ’n ou wat by ’n karnaval van stalletjie na stalletjie loop.”

Van Rooy sê dis vir hom erg as mense na kerke gaan om vermaak te word.

“Daar het iets van ’n selfsugtige smagting na entertainment gekom in plaas daarvan om te sê ek is hier om die Here te dien. Die meeste kerkmense wil die Here in óns diens hê.

“Hy moet my vermaak, dit moet vir my lekker wees, Hy moet my lewe laat uitwerk, terwyl dit eintlik die omgekeerde is. Ons moet sê: Ek is in diens van Sy koninkryk. Dan maak ons die hele wêreld beter, nie net my ou wêreldjie nie.”

Hy is nie in die vermaakbedryf nie, dis nie sy werk om met die sterre in dié bedryf met die beste klanktoerusting mee te ding nie en hy gaan dit nie doen nie, sê Van Rooy. “My werk is om die Bybel te preek. Dis al wat ek wil doen.”

Wat die jeug betref, het prof. Gert Breed, afgetrede dosent van die Teologiese Skool Potchefstroom, uitgewys wêreldwye navorsing toon kerke wat hul kinders behou, is dié wat eerlik is met die evangelie, wat doen wat hulle preek en waar die kinders voel daar word ook met hulle in die erediens gepraat.

“Geen navorsing het nog getoon dat entertainment mense blywend behou nie,” sê Van Rooy.

Maar kerke moet ook hand in eie boesem steek: “Ek dink persoonlik ons kerke vergeet die konteks van die 21ste eeu waarbinne hulle leef. Ons vergeet dat ons mense van vandag ander vrae vra en ons antwoord baie keer in ons plaaslike kerke vrae wat mense nie eers meer vra nie. Ek dink ons het so bietjie ons konteks verloor.”

Die GKSA is nie volmaak nie en ook nie onfeilbaar nie, maar: “Ons probeer eerlik soek na wat die Bybel sê en dit gaan ons laat oorleef.”

Van Rooy streef drie e’s in sy bediening na: “Ons moet die Bybel eerlik preek. Eietyds – ek wil my konteks aanspreek. En wil die Bybel eenvoudig in mense se lewe met hulle laat praat.

“ ’n Gemeente moet sy lidmate toerus om ín die wêreld ’n verskil te gaan maak. Óns is die kerk. En daar waar ek en jy werk, daar maak ons ’n verskil. Dís hoe die Christendom in Suid-Afrika gaan wen.”

  • De Beer is ’n redaksielid van Netwerk24.

Kommentaar

Daniel Louw

Hierdie artikel gee ‘n kykie na die struktuur wat die Gereformeerde kerk volg.

Die NG Kerk se struktuur verskil slegs in een opsig:

  • NGK: In die NG Kerk behou die algemene sinodale moderamen (ASM) (wat die moderator insluit) hulle ampte tot die volgende algemene sinode. Die moderator maak soms uitsprake namens die NG Kerk.
  • GK: Die voorsitter, ondervoorsitters en skribas in die moderamen behou dié ampte net solank die sinode duur. Daar is nie ’n permanente moderator of struktuur wat namens die Gereformeerde kerk praat nie.

Dit mag dalk voorkom of Gereformeerde gemeentes meer onafhanklik funksioneer, maar ek twyfel of dit waar is. Die artikel sê baie duidelik dat die kerkverband saamgebind word oor bepaalde sake wat tydens die algemene sinode bepaal word.

Die GKSA het tydens hulle sinodes besluit dat Gereformeerde Kerke sterk standpunt inneem teen alle vorme van buite-egtelike en homoseksuele omgang. Hulle het ook besluit dat vroue nie in die amp toegelaat word nie. Sou gemeentes afwyk van sinodebesluite, word hulle uit die denominasie gesit:

“Julle hou julle nie by sinodebesluite nie, so julle het eintlik daardeur die band met die Gereformeerde Kerke verbreek.”

Dit is ook wat met Gereformeerde kerk Krugersdorp gebeur het toe hulle besluit het om vroue as ouderlinge aan te stel.

Die artikel sê: “Die gemeentes is ook nie takke van die GKSA nie, maar selfstandige kerke.”

As alles hierbo in ag geneem word, twyfel ek of dit waar is.

1 thought on “‘Dís hoe Dopperkerke ’n verskil maak en wil maak’”

  1. Graag wil ek Daniel se eerste kommentaar oor die kerkregering in die Gereformeerde Kerke ondersteun. Die sinode (klassis, streeksinode, of nasionale sinode) is meerdere vergaderings, nie hoëre (hogere klink te geleerd) vergaderings nie. In die GKSA is die hoogste kerkgesag na Christus die kerkraad, nie die hierargie van die sinode en moderatuur nie. So wat is dan die gesag van die gereformeerde sinode? As meerdere vergaderings na bestudering van die Skrif oor ‘n saak saamstem, dan is dit bindend vir die kerkverband, met ander woorde al die gemeentes wat aan die besluit deelgeneem het. Sou sekere gemeentes nie daarmee saamstem nie, is die plig op die gemeente wat verskil om die teendeel uit Skrif en belydenis te bewys aan die meerderheid. Sodoende regeer die sinode nie, maar wel die Skrif, wat van God kom. In wêreldse terme kan ons dus dink dat dit die “platste” aardse struktuur moontlik is, met Christus wat die hoof (Grieks kefale) is en wat sy kerk deur die kerkraad bestuur. Daarom ken die GKSA ook nie ‘n hoofouderling nie, en is die predikant onderworpe aan die ouderlinge. So met die tweede argument van Daniel kan ek nie saamstem nie. Miskien is dit goed om weer te besin oor die Sinode van Dordrecht (1618 en 1619) se kerkorde.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui