Kyk ook:
Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
‘Dis tyd om soos rentmeesters te dink,’ hoor kerkleiers oor geldsake wat ASM bemoedig | Kerkbode
Deur Le Roux Schoeman / 26 Februarie 2025
Ná die bemoedigende prentjie wat ouditeurs op 25 Februarie in Gauteng van die NG Kerk se geldsake geskets het, het die Stellenbosse teoloog dr Frederick Marais die vergadering se verbeelding vanaf die balansstate na die samelewing gedraai: “Is (die sterk finansiële posisie) ’n netjiese begrafnis of ’n launching pad vir ’n nuwe fase?” wou hy weet.
“Ek wil ’n oproep doen, ons is deur ’n klomp skokke: Covid, interne stryd in die kerk … dit het ons baie seergemaak en dit het ons geld gekos, maar wat ek hier hoor, is dat dit gestabiliseer het en nou is dit ons werk om soos rentmeesters te dink, en te sê hoekom gee die Here vir ons hierdie platform? Hoe gaan die Here ons gebruik om die koninkryk met alles wat ons het, te bevorder?” volgens Marais, deesdae direkteur van die Sentrum vir Innovasie by Hugenote Kollege.
Marais se opmerkings het gekom in reaksie op ’n omvattende voorlegging oor die kerkverband se finansies op die eerste dag van die vergadering van die Algemene Sinode Moderamen (ASM) by ’n konferensiesentrum naby die OR Tambo-lughawe. Die voorlegging het ’n bydrae deur ’n onafhanklike ouditeurspan ingesluit en toon ’n organisasie wat ruim opbrengs uit beleggings het, ondanks die afname in inkomste vanuit drie van die tien streeksinodes (Vrystaat, Noordelike en Hoëveld). “Ten spyte van die globale ekonomiese onsekerhede het die waarde van die beleggingsportefeulje van R111 922 440 toegeneem tot R121 782 644,” luidens die ASM Dagbestuur se verslag oor die finansiële jaarstate vir die jaar geëindig einde Februarie 2024.
Die afname in bydraes deur van die NG Kerk se samestellende sinodes veroorsaak wel dat kerkleiers swaarder op inkomste vanuit die beleggings steun, maar dit is nie net ’n geval van spaar-spaar-spaar nie, het ds Petrus Botha, die voorsitter van die Algemene Taakspan Fondse en Beleggings (ATFB), in reaksie op Marais verduidelik. “Ons is beslis nie net besig om ’n mooi graffie te grawe nie.” Hy het as voorbeeld verwys na die begroting by die ASM se “fokusareas” wat van R1,4 m na R2,2 m toegeneem het in die jongste begroting. “So, ons begroot R800 000 meer vir daar waar ons moet wees (dit sluit volgens die begroting werksaamhede soos jeug, eredienste, brugbediening en ander in).”
Soos in die verlede berig, val die beduidende donasie deur die miljardêr-sakeman dr Patrice Motsepe weereens op in die NG Kerk se begroting. Via die Motsepe Foundation is meer as R1 m deur die uitvoerende voorsitter van African Rainbow Minerals geskenk.
’n Paar van die meer as 40 afgevaardigdes wat hierdie saamtrek bywoon, het dank uitgespreek vir die nalatenskap wat ’n vorige generasie gelos het met oordeelkundige belegging. “’n Mens hoor dikwels klagtes oor geld, maar sulke inligting gee feite oor genade van ons voorvaders,” het een laat hoor.
Ds Jan Lubbe, voorsitter van die vergadering, het gesê die feit dat die NG Kerk ’n ongekwalifiseerde oudit kan kry, sê baie. “Kollegas, hier is ’n getuienis wat ons moet dra na buite toe.”
- Die vergadering duur tot Donderdag en fokus op ’n verskeidenheid sake, onder meer op die Belydenis van Nicea en die viering van die 1 700 jaar sedert die ontstaan daarvan in 325.
- Ds Johannes Maritz het tydens ’n vinnige rondomtalie-hoe-gaan-dinge-in-jou-streek-sessie vroeër die dag as afgevaardigde van die NG Kerk in Namibië gesê dit is besonders om die vergadering by te woon. Die NG Kerk in Namibië is die kleinste sinode in die kerkverband en raak al kleiner, het Maritz met kommer rapporteer. Hulle trek by 11 800 lidmate in 43 gemeentes, met ’n afwaartse kurwe. Dié streeksinode hou volgende maand vergadering en sal hulle verband met die NG Kerk se Algemene Sinode bespreek.
Kommentaar
Daniel Louw
Daar was al sprake onder behoudendes dat die NG Kerk nie dolerendes wil laat gaan nie omdat hulle dolerendes se geld nodig het nie.
Die artikel sê: “…afname in inkomste vanuit drie van die tien streeksinodes (Vrystaat, Noordelike en Hoëveld)”
Dus was daar ‘n toename in inkomste in al die ander streeksinodes.
Nee wat, dit gaan lyk my goed met die NG Kerk se finansies.
As Namibië beplan om artikel 37 uit te voer (kyk Namibiërs wil die pad vat oor NG Sinode hom ‘nie bekeer’), wonder ‘n mens hoekom Johannes Maritz nog die vergadering bygewoon het.