Kyk ook:
Elsabé Brits was die wetenskaprubriekskrywer vir Netwerk24. Haar laaste artikel (hieronder) wy sy daaraan toe om evolusie te promoveer.
Evolusie is egter ’n uiters kontroversiële onderwerp en eintlik nie eers ware, herhaalbare, waarneembare, wetenskap nie. Marc Kirschner, voorsitter van die Departement van Systeembiologie, Harvard Mediese Skool, het die volgende oor evolusie gesê:
“In fact, over the last 100 years, almost all of biology has proceeded independent of evolution, except evolutionary biology itself. Molecular biology, biochemistry, physiology, have not taken evolution into account at all.”
Vir nog aanhalings, kyk Aanhalings – Evolusie dra nie by tot wetenskap.
Of die debat oor evolusie in Rapport die afgelope tyd ’n rol gespeel het, weet ’n mens nie, maar is evolusie werklik vir haar die hoogtepunt van haar loopbaan as wetenskaprubriekskrywer? Hoekom nie skryf oor die werklike wetenskaplike deurbrake die afgelope 10 jaar nie?
Of is sy maar net bloot ’n aktivis vir evolusie, soos artikels deur haar uitwys:
- Is die beriggewing in Die Burger oor kwessies aan die snypunt van die wetenskap objektief?
- Asteroïed los merk so groot soos see op Jupiter (23 Julie 09)
- Jean Oosthuizen en ander oor “Lewenslank selibaat al opsie vir gay Matie” (4 Des 2011)
Verdere kommentaar verskyn in blokhakies in die artikel.
***********
Dís wat my aangryp van die wetenskap | Netwerk24
Deur Elsabé Brits (937 woorde)
29 Augustus 2020
Waaroor skryf ’n mens wanneer dit jou laaste wetenskaprubriek vir Netwerk24 is? Jy sit dae lank en tob, skryf, herskryf soos ’n mens doen en skrap die woorde.
Miskien eerder dan oor dit wat my aangryp, laat wonder en seker op ’n manier lief maak vir wetenskap.
In sy laaste onderhoud voor sy dood in 1996 het Carl Sagan gesê: “Science is more than a body of knowledge. It’s a way of thinking, a way of sceptically interrogating the universe with a fine understanding of human fallibility.”
Wetenskap bring orde en rasionaliteit in ’n wêreld wat ’n warboel van wanorde is. Dit is kennis wat jou uiteindelik bemagtig en bekwaam, en alles nie net met ’n nuwe bril laat sien nie, maar ook met verskillende lense.
Uiteindelik word jy gedwing om te twyfel en te dink. Mettertyd verander jy, besef jy woorde is nie in klip gekap nie, en ja, ons reëls is mensgemaak deur die einste onvolmaakte mens wat homself as die “kroon van die skepping ag”. Die mens wat eintlik maar net ’n klein rosyntjie in ’n groot brood is.
[Interessant dat sy Bybelse terme gebruik: “… woorde is nie in klip gekap nie” (Eks 31:18) en “kroon van die skepping” (Ps 8)]
Die heelal is een groot sisteem en daarbinne is ons, op ’n kolletjie. Gevorm en ontwikkel deur evolusie aan die hand van die meganisme van natuurlike seleksie.
[Om meer spesifiek te wees: evolusie staan nie net op een pilaar nie, maar op twee pilare: (1) mutasies en (2) natuurlike seleksie. Dit is juis die mutasiepilaar wat verkrummel en evolusie in duie laat stort.]
Alles is ook nie perfek nie, daar is oral foute. In ons, in diere en plante. [En hierdie foute is ’n reuse probleem vir evolusioniste – kyk Wat is genetiese entropie?] Maar alles op land en in die see, die atmosfeer en magnetisme van die aarde, die swaartekrag kan verduidelik word aan die hand van wetenskap.
Net soos ons die plankton nodig het om te leef, en die wye diep oseane, so het ons die krieke, paddas en jakkalse nodig. Dít is die mens se grootste fout – dat hy dink hy is belangriker as ander lewe op aarde.
Die juiste aarde wat 4,5 miljard jaar oud is en waaruit ons ontstaan het. Dink aan die atome – hulle is so klein dat 5 triljoen op ’n naald se punt kan pas – wat hier is. Die meeste is al hier vir miljarde jare, en hulle is ook deel van jou. Mense en ander materie wat reeds vergaan het, se atome is deel van jou.
Ons is ook letterlik sterstof, afkomstig van talle supernovas wat die elemente geskep het wat in ons liggame en elders voorkom. Dit het miljarde jare gelede vervorm. Net soos die diamant aan jou vinger en die miljoene jare oue fossielbrandstof wat gebruik word in jou motor, en die elektrisiteit wat afkomstig van steenkoollae.
[In hierdie paragraaf noem sy drie dinge wat probleme vir evolusie is. Kyk Exploding stars point to a young universe, Diamonds: a creationist’s best friend en How were the earth’s coal beds formed? How is coal a problem for belief in long ages?.]
Die son wat aan ons lewe gee, brand deur soveel energie per sekonde – dit is gelyk aan ’n miljoen olifante. Die groot sonvlamme wat hy soms uitskiet, het genoeg energie om die hele VSA vir 100 000 jaar van energie te voorsien. Dit is ’n fenomenale, massiewe gasbal waarin waterstof en ’n bietjie helium voorkom.
[Hierdie is natuurlik ’n reuse probleem vir materialisme – kyk Waar kom al die nuttige energie vandaan?]
Indien jy die 3,2 miljoen basispare van die mens se genoom sou probeer tik, teen 60 “woorde” per minuut, vir agt uur per dag, sal dit 50 jaar neem om te voltooi. Wanneer dié kode uitgedruk word en elke letter is 1 mm van mekaar, strek dit 3 000 km ver. Dit is jy.
[Nog ’n reuse probleem vir materialiste. Waar kom daardie inligting vandaan?]
Elke keer wanneer ’n sel (buiten rooibloedselle) verdeel, word die kode herhaal. In elke lewende organisme, waarvan die letters net anders gerangskik, en meer of minder is. Die replikasie is binne dié reuse-konteks baie akkuraat. Die meeste selle in die liggaam is minder as ’n maand oud, buiten dié in die lewer en brein, wat ouer is.
Net in een uit elke 100 000 triljoen selverdelings kom daar ’n mutasie wat dan tot kanker lei.
Wat ’n fassinerende proses wat stuk-stuk deur genetici ontrafel word. Die bloudruk vir lewe op aarde, geskryf in ’n chemiese kode.
Soms voel dit egter asof ’n mens in ’n era leef waar die wetenskap onder skoot kom, of kritiese denke doodgedruk word. Dis net meer subtiel as tydens die Inkwisisie ná die Renaissance, want boeke word nie meer soveel gebrand nie, hulle word net nie meer gelees nie.
Dalk was dit nog altyd so, maar dit is asof feite, en die juiste navorsing wat ons nie net aan die lewe hou nie, maar regstreeks en onregstreeks die ekonomie aan die lewe hou, traksie verloor teenoor fiksie of platvloerse vermaak. Alles van ons bestaan is deurtrek van die wetenskap – sou jy dit probeer verwyder uit jou lewe – as jy daarteen gekant is, sal dit baie moeilik wees. Jy kan nie gerieflikheidshalwe pynpille en X-strale kies, maar dink die aarde is jonk en die minerale wat daaruit kom en wat jy gebruik in jou selfoon het wonderbaarlik binne 6 000 jaar net iewers “ontstaan” nie.
[Weer die ou ongeldige argument as jy nie die verskil tussen operasionele en historiese wetenskap wil aanvaar nie.]
Wat kommerwekkend is, is dat al hoe meer politici en selfs staatslui geheel en al onkundig is oor wetenskap. Hul standpunte oor entstowwe, klimaat, evolusie, en navorsing oor die algemeen is óf bloot verkeerd óf hulle is antagonisties teenoor wetenskap. Die effek wentel dan af.
Die gevolge is dat nuus oor wetenskap, insluitend ’n pandemie, deur gebrekkige bronne op sosiale media versprei. Van sangers tot TV-sterre en presidente maak hoogs onwetenskaplike uitlatings. Dit is hoe mense begin dink het die koronavirus is net “nog ’n griepvirus”.
Maar midde dit is daar ’n politieke beweging – ’n teen-intellektuele houding. Kennis en onderrig is nie meer goed nie. Kuns, kultuur, letterkunde en wetenskap word verwerp as onprakties en tydmors. Ook nogal geldmors.
Dié soort denke minag die mensdom en al die beskawings voor ons se ganse geskiedenis. Alles wat gedoen en vermag is. Al wat ons oor het van die mense voor ons, is wat hulle geskryf het, wat hulle gebou het en wat hulle ontdek het.
En dít is ons storie. Sela.