“Dit esse die John”

Kyk ook:

Die volgende nuusbrief is in April 2004 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.

**************

Ons het nou net mooi ons borde kos gereed vir middagete en daar gaan die voordeurklokkie af. Amor sê dit is een van jou “customers”. Ek gaan na die voordeur toe en praat deur die interkom: “Hallo”, sê ek. Dan word Amor se voorspelling bewaarheid: “Dit esse die John”.

John is ’n bedelaar met wie ek die die afgelope jaar of wat by my hek te doene gehad het. Hy het aanvanklik op die plaas gebly, maar die eienaars het die plaas verkoop en John en sy gesin het dorp toe (Embalenhle) toe getrek. Hy het altyd maar met ’n hartseer storie by my aangekom en ek het hom met een en ander probeer help. Ek het hom op ’n stadium ’n kwas en verf gegee en hy het al wat nodig en onnodig is by die hμis geverf, soos die braaier en die tuinstoele en die wasgoedpale.

Aan die begin van 2003 is John se een kind dood. Hy wou vir sy kind ’n begrafnis gee, maar het nie geld gehad om groente vir die begrafnis te koop nie. Ek het probeer help dat John ’n behoorlike begrafnis vir sy kind kon gee. John se vrou was ook siek en sy het net sieker geword. John was met sy hande in die hare, want hy was werkloos en moes omsien na sy terminale siek vrou en nog twee kinders en dit was winter. Hy het sy vrou met die bus teruggestuur Oos-Kaap toe waar sy vandaan gekom het, maar die familie het haar na ’n tyd teruggestuur.

Op ’n Donderdagmiddag om 14:00 het John weer daar by my aangekom en gesê sy vrou is nou dood. Sy is uit die Evander hospitaal oorgeplaas na ’n lykshuis in Embalenhle. Hy het niks en hy moet sy vrou begrawe en hy weet nie hoe nie. Ek is toe op die tefefoon om die drade te probeer optel. “Kan ’n mens wat nie ’n kis kan bekostig nie, in ’n kombers begrawe word?”, wou ek weet. “Nee, dit is teen die wet. Net die Moslems het vergunning om dit te doen.” So word ek vertel. Die goedkoopste kis by AVBOB kos amper R600. Die lykshuis in Emba vra meer as ’n R1000 vir ’n kis en dan vra hulle nog R150, “stoorkoste” vir die liggaam. Goed AVBOB is die antwoord, maar daar is eers ’n doodsertifikaat van die hospitaal nodig.

Ek en John is toe na Evander hospitaal toe. Daar is ’n vriendelike verpleegste wat my bland vel respekteer en tussen al die ongevalle deur aan my kom aandag gee. Daar is egter ’n probleem. John se vrou het nooit is ID gehad nie. Haar naam is net Diamond. Daar moet eers ’n “affidavit” by die polisiekantoor gekry word om te verklaar dat Diamond, regtig John se oorlede vrou is. By Evander moet ons probeer verduidelik wat ons wil hê. Hulle ken nie hierdie soort “affidavit” nie, maar as ek dikteer sal hulle skryf.

Nou is die kantoor by die hospitaal al toe en ons ry maar terug Secunda toe na AVBOB se kantoor toe. Die man by AVBOB is baie hulpvaardig en hy sal John die volgende dag, Vrydag, help. Ek verduidelik vir John: “John, more moet jy vroeg op jou flets klim. Sorg dat jy 8:00 by die hospitaal in Evander is met die ‘affidavit’. Kry die doodsertifikaat en dan moet jy reguit na AVBOB toe kom in Secunda. Die man hier sal vir jou die kis gee. Jy kan jou fiets op AVBOB se bakkie laai. Hy sal jou help om jou vrou begrawe te kry. Hy sal jou na die lykshuis in Embalenhle toe vat om die liggaam op te tel. Dan sal hy jou na die munisipaliteit toe vat om ’n gat te koop by die begraafplaas en dan sal hy jou nog by jou huis ook aflaai. Saterdag kan jy dan jou vrou begrawe. Jy moet die Here dankie sê. Alles val nou mooi in plek!”

Saterdag kom John uitasem en in trane by my aan. Alles het verkeerd geloop! Hulle het die Vrydag eers 11 :00 aan hom aandag gegee by die hospitaal. Toe was die affidavit nie aanvaarbaar nie. Hy moes na Binnelandse Sake toe gaan om sy vrou wat dood is sonder ’n ID, te kan begrawe. Toe alles klaar is, was dit al 5:00. Hy het darem al vir die gat betaal, maar hy het nog nie ’n kis of die liggaam nie.

Die storie raak te lank. Diamond is uiteindelik darem begrawe. My huismense sê ek is ’n swarte se droom, maar wat kan ek maak? Wat verwag die Here van my? John sê: Hy is al amper dertig en hy het nog nooit ’n vaste werk gehad nie. My seun is terug van Londen en van Amerika af. Hy het nie een dag gebrek gehad nie. Die Here het vir hom gesorg daar ver waar ek nie kon help nie. Hoe kan ek maak of ek die nood van my medemens nie raaksien nie?

In Februarie vanjaar is nog ’n kind van John dood. Ek het maar weer probeer help. Hoekom is John die uitverkorene dat hy so baie hulp by my kry? Daar is mos duisende ander in Embalenhle wat deur soortgelyke omstandighede en dalk erger gaan? Ek weet nie hoekom is John die uitverkorene nie. Al wat ek weet is dat ek ook die Here se uitverkorene is. As ek voor Hom kom staan en sê: “Here dit is Jan hier”, dan vra Hy nie vrae nie. Hy help elke keer en stuur my nooit onverrigter sake weg nie.

As die voordeurklokkie lui en ek hoor: “Dit esse die John”, dan sê ek maar: “Wag ’n bietjie, laat ek net klaar eet”.

Jan Louw

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui