Die volgende nuusbrief is in Oktober 2003 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.
**************
Ek gesels die ander dag met ’n swart vrou uit Embalenhle. Ek vra haar: “Hoe gaan dit?” Sy sê: “Dit gaan goed. Ek was gister by die kerk gewees.” Ek vra toe: “Is dit vir jou lekker by die kerk?” Sy sê toe: “Lekker, lekker!” Ek vra haar toe aan watter kerk sy behoort. Sy sê toe dis die Dutch Reformed Church in Embalenhle. Die leraar daar is ds Manasse Thoahlane. Ek ken hom en ek weet hy is maar ’n doodgewone Ieraar van die kerk.
Ek het by myself gedink: Wat is dit wat maak dat ’n mens sê die kerk is: “Lekker, lekker.” Hoe gebeur dit? Ek het aan ’n paar dinge gedink:
- Dit is die teenwoordigheid van Christus wat maak dat die kerk vir mens lekker is. Dit is nie in die eerste plek mense wat dit doen nie. Jesus het mos gesê: Waar twee of drie in my Naam bymekaar is, daar is ek in julle midde. Christus wat uit die dood uit opgestaan het is by ons in die kerk teenwoordig. Dit is waarvoor ons kan uitkyk. As ons al die moeite doen om ’n erediens in te rig en Jesus is nie daar nie is alles tevergeefs. Dan sal daar geen vreugde wees nie. By Christus is blydskap. In Joh 17: 13 bid Jesus vir sy dissipels dat hulle “my blydskap in al sy volheid in hulle kan hê.” Ek glo die swart vrou van wie ek gepraat het, het die teenwoordigheid van Christus by die kerk ervaar en in sy blydskap gedeel. Daarom het sy gesê, dit was “lekker, lekker”.
- Die kerk is lekker omdat dit die huisgesin van God is. Paulus praat in 1 Tim 3: 15 van die gemeente as die huisgesin van God. My eerste gemeente was in Zimbabwe. Ek en Amor was nog jonk getroud toe ek daarheen beroep is. Ons was omtrent 800 km van ons ouerhuise en ons familie af. Telefoonoproepe was duur. Ons het vir mekaar briewe geskryf in daardie jare. Dit was oorlogjare. Mugabe was toe nog êrens in die bos vanwaar hy opgetree het as die aanvoerder van die terroriste-oorlog. Ons het daar geleer wat die waarde van ons familie in Christus Is. Daar was tannie Ester Walker, die kassier van die gemeente. Sy het as ’n onderwyseres na die destydse Rhodesië gekom en is met ’n Engelsman getroud, wat aan, die Vrymesselary behoort het en saans sy whisky bottel oopgemaak het. Tannie Es het straf gerook, maar almal het haar gerespekteer en haar liefgehad. As daar nie ’n orrelis was nie het sy die orrel in die kerk gespeel. Haar werk as kassier was haar liefdesdiens aan die Here. Sy het ons jong egpaar onder haar vlerk geneem en gereeld uitgenooi vir ete. Sy het soms ons kinders opgepas en na ons hond gekyk as ons weggegaan het. Ons dink nog steeds met tere herinneringe aan haar. So daar was ook baie ander oom en tannies en vriende in die gemeente by wie ons oorgeslaap het omdat ek ver moes reis na die preekpunte. Hulle het vir ons familie geword. Hulle was ons pa’s en ma’s en broers en susters. Dit was lekker.
- Ons het natuurlik ook ’n verantwoordelikheid. Jou ingesteldheid teenoor die kerk moet reg wees. Daar meet by jou ’n gesindheid van nederigheid wees. Ons moet kan aanvaar daar is in die kerk gewone mense met foute. Jy moet mense liefhê en kan vergewe as jy wil hê dit moet vir jou “lekker” wees by die kerk. As jy die kerk soos sommige mense sien as ’n plek vol skynheiliges sal jy nie geseën kan word nie. Jy moet nederig genoeg wees om in die kerk geleer te word deur gewone mense wat in die Naam van God optree om jou te onderrig. Jy het ook ’n verantwoordelikheid om te bid vir ons samekomste. Die mense wat voor die eredienste in die bovertrek saamkom om te bid doen ’n belangrike werk. Ons moet bid dat die Here ons sal vereer met sy teenwoordigheid. Ons het ook ’n verantwoordelikheid om soos tannie Es Walker ’n suster of ’n broer te wees vir ons medegelowiges. Ons moet in mekaar belangstel by die eredienste, mekaar groet en mekaar besoek. Dis wonderlik dat daar mense is wat ook saamkom by selgroepe en Bybelstudie byeenkomste. So word ons God se huisgesin en word ons werklik broers en susters vir mekaar. So word die kerk ’n “lekker” plek, ’n plek waar mens graag wil wees.
Die hoogtepunte van ons byeenkomste in die dae wat kom is:
- 18 Oktober – Belydenis van Geloof
- 20 Oktober – Nagmaal
- 26-28 Oktober – Evangelisasie Reeks
- 23 November – Kerssangdiens
Bid vir hierdie geleenthede en ondersteun dit metjou teenwoordigheid.
Moenie die siekes vergeet nie. Dink aan James de Jager wat steeds behandel word vir longkanker. Dit gaan goed met hom onder sy omstandighede. Dit gaan goed met Dries Pienaar na sy breinoperasie, maar hy kan nog nie lees en skryf nie. Dit beteken dat hy nog nie sy beroep kon hervat nie. Bid vir sy herstel. Hans Nel is oorlede. Dink aan sy vrou Nakkie wat ’n groot werk doen vir die wyk in Villa Wisteria.
Jan Louw