Kyk ook: |
Die volgende nuusbrief is in in Junie 2000 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.
Alle persone se name is verwyder vir die web weergawe.
*****************
Wanneer mens doodgaan beteken dit dat mens oorgaan van die tydelike na die ewige. Niemand wil seker regtig doodgaan nie, want dit is so ’n ingrypende gebeurtenis in ons lewens. Daar is egter twee redes waarom die kinders van die Here nie vir hierdie oorgang in ons lewens hoef bang te wees nie.
1. Jesus het verskeie kere hierdie brug tussen die hemel en die aarde oorgesteek.
Jesus het uit die hemel gekom en Hy is as ’n gewone mens op die aarde gebore. Hy het aan die kruis gesterwe en toe Hy sy laaste asem uitgeblaas het, het Hy hemel toe gegaan, na sy Vader toe. Op die derde dag het Hy egter teruggekom aarde toe, toe Hy uit die dode opgestaan het. Oor ’n tydperk van 40 dae het Hy periodiek aan sy dissipels verskyn en dan weer verdwyn. In hierdie tyd het Hy baie kere die brug tussen die hemel en die aarde oorgesteek. Eers met sy hemelvaart het Jesus opgehou om aan die mense te verskyn. Jesus maak dit vir óns net so maklik om die brug van die aarde na die hemel toe oor te steek as wat Hy dit gedoen het.
2. Daar is kinders van die Here wat vertel hoedat hulle ook oor daardie brug geloop het en teruggekom het.
Dit is nou ’n jaar gelede dat xxx, een van ons lidmate ernstig siek was. Sy het in die tyd ’n besondere ervaring gehad. Haar moeder, xxx, het dit in ’n sin met haar gedeel en sy vertel ons daarvan:
———-
Dit is Woensdagmiddag 9 Junie 1999. Ons kind is baie, baie siek. Die spesialis sê sy het ’n geruptuurde aneurisme – in gewone taal – bloeding op die brein. Die dokters sê dit is kritieke dae. Ons waak in skofte by haar bed want die dae is lank! Om en by drieuur dié Woensdagmiddag skyn die son helder by haar venster in. Ek sien dit pla haar en ek trek die gordyne toe. Ek sit en brei want dit verlig die spanning en hou my besig. Sy lê op haar rug –nogal rustig, dink ek by myself. Skielik hoor ek haar saggies lag!! Ek kyk na haar en sien dat sy haar kop op en af knik, verskeie kere. Dan sê sy: “Ja, Here” en knik weer haar kop. “Dankie, Here”, en knik haar kop weer. Ek sien my kind glimlag en die vrede en geluk straal uit haar uit. Ek sit, byna lam, want iets gebeur met haar en ek voel of ek op heilige grond is!
Na ’n rukkie maak sy haar oë oop en sê: “Mamma, die HERE was hier by my. Hy het met my gepraat”.
Ek is byna te bang om te praat maar op my vraag: “Wat het Hy gesê?” antwoord sy dadelik. “Hy het gesê ek moet geduldig wees. Hy gaan my gesond maak maar as ek hier uitkom moet ek vir almal gaan vertel wat Hy met my gedoen het.” Sy maak haar oë toe en slaap rustig verder.
Later die middag ry ek huis toe. Ek weet nie of ek met iemand daaroor moet praat nie. Eers baie later dié aand vertel ek my man daarvan. Nog later bel ek ons predikant-skoonseun en vertel hom hiervan. Sonder aarseling is hy seker dat die HERE met xxx gepraat het! Maar voeg by: “Ma moenie verbaas wees as sy nie kan onthou wat met haar gebeur het nie.”
Die aandskof behoort aan haar man, xxx.
Donderdagoggend breek my waakskof aan. Sy slaap en ek brei, maar my gedagtes is gedurig besig met dit wat gister gebeur het.
Sy word wakker en die eerste woorde wat sy sê is: “Mamma, iets eienaardigs het gister met my gebeur. Ek weet die gordyne was toe maar hier was ’n helder lig in die kamer. Ek het gevoel ek wil agter die wonderlike lig aanstap maar ek het geweet as ek begin aanstap gaan ek nooit weer terugkom nie. Ek weet nou wat die HERE bedoel het toe Hy gesê het dat hy die dood oorwin het want ’n mens gaan nie dood nie – nee, jy stap net aan! Jou liggaam bly agter maar jy stap net aan! Ek is nie meer bang vir die dood nie want ’n mens is nooit, maar nooit, alleen nie. Eintlik is dit wonderlik vir ’n gelowige om “dood” te gaan!” En toe: “Maar weet mamma, die HERE het met my gepraat maar ek kan nie onthou wat Hy gesê het nie! Toe ek haar vertel wat Hy gesê het, onthou sy dit dadelik.
“Ja. Nou onthou ek. Dit is presies wat Hy gesê het.”
Geen wonder dat sy gedurende die volgende 22 dae wat sy moes wag vir die operasie, telkens net geprewel het: “Ek moet geduldig wees ….”
Die res is geskiedenis. Ons kind het volkome herstel!
Dankie, HERE, dat ek dáár was. U genade is vir ons genoeg.”
———-
Seënwense vir julle almal.
Ds Jan Louw