Diversiteitsforum van kerk ontstel
Deur Dr.T.C.Breitenbach
Maart 2011
Daar is onrusbarende tekens dat alles in die NG Kerk nie pluis is nie. In ’n artikel, “Diversiteit? – ’n gevallestudie” (25.02.2011), skryf Philip du Toit in Truth Exposed oor diversiteitsforums (df’s). Volgens hom word die begrip “diversiteit” tans wêreldwyd gehoor, komende vanuit die “postmoderne denke, waarin grense vervaag tussen rasse, kulture en belangegroepe (bv. kerkgroepe of geloofsgroepe)”, en met groot beklemtoning van geloofsverdraagsaamheid en -integrasie.
“Inklusiwiteit” is ’n kernbegrip van postmoderne denkgroepe wat “diversiteit vier”, wat meebring dat grense tussen reg en verkeerd, tussen waar en onwaar, en tussen sonde en dit wat nie sonde is nie, vervaag.
Onder postmodernistiese invloed kom df’s ook onder kerkgroepe voor wat die diversiteit onder die verskillende kerkgroepe wil “vier”. Laasgenoemde “viering” behels om oor dogmatiese grense met andersdenkendes, en selfs skeptici, gesprek te voer. Du Toit vra: “Kan ’n Christelike diversiteitsforum werklik grensloos wees dat dit enige diverse geloofsiening kan akkommodeer, of is daar bepaalde ononderhandelbare grense van die Christelike geloof wat ons nie in so ’n forum kan prysgee nie?”
Ook die NG Kerk het ’n eie df, en so het Du Toit sy “grens”-vraag aan dié forum getoets. Oor waar dié kerk se df sy grense trek , kon hy “nie ’n definitiewe antwoord kry nie”. In ’n opvolgvraag wou Du Toit van die NGK-df weet “hoe ’n Christelike diversiteitsforum sy Christelike identiteit formuleer (want dit) kan tog nie so oop en grensloos wees dat dit enige denkbare ideologie akkommodeer, veral waar dit lynreg in stryd is met die Skrif en die Christelike belydenis nie.” Ook hieromtrent kon hy “nie ’n definitiewe antwoord kry nie.”
Die ontstellende gevolgtrekking waartoe Du Toit in sy ondersoek kom, is dat die NGK-df afstuur op die “prysgawe van die unieke identiteit van die Christelike geloof.”