Kyk ook:
Doleansie is wanneer ’n gemeente verklaar dat hy homself in ’n staat van rou bevind weens die onskriftuurlike besluite wat hulle kerkdenominasie geneem het.
Die eerste stap van doleansie sal wees om as tydelike maatreël die gemeente se naam te verander deur die woord “dolerend” agteraan by te voeg.
Sommige gemeentes hou ook hulle sinodale bydraes terug.
In die ergste geval kan gemeentes ook besluit om weg te bly van ringsittings, streekssinodes en/of algemene sinodes.
Lidmate kan ook doleer wanneer daar sterk verskille ontstaan tussen die predikant van die gemeente en die lidmate.
Doleansie: vrae en antwoorde
* Wat is die praktiese implikasie van doleansie?
Gemeentes wat doleer voeg gewoonlik die woord “dolerend” tydelik agter hulle gemeente se naam. Dus, die gemeente se naam verander van byvoorbeeld “Spitsdakkerk” na “Spitsdakkerk dolerend”.
Meer as die helfte van gemeentes wat doleer het hulle finansiële bydraes gestaak uit protes omdat hulle voel dat hulle nie finansieel kan bydra tot die groter kerk indien die kerk nie suiwer is nie.
Oor die algemeen woon dolerende gemeentes steeds ringsittings, streeksinodes en die algemene sinode by, juis om nog daar ’n verskil te probeer maak. Sodra ’n mens wegbreek van hierdie strukture, dan verminder die kans dat jy die kerk sal omdraai en dan is die volgende stap om amptelik te skeur.
* Wat is die betekenis van doleansie?
Om te doleer is amper dieselfde as om jou naam by ’n petisielys te voeg. Dit is bloot om te wys dat jy jouself saam met ander behoudendes skaar en saam met hulle ’n pad wil stap. Dit verander niks aan die alledaagse stand van sake in die gemeente nie.
* Is doleansie kerkskeuring of ’n stap nader aan kerkskeuring?
Doleansie is nie kerkskeuring nie, maar geskiedenis het gewys dat wanneer ’n denominasie so ver weggedwaal het dat gemeentes begin protes aanteken, dan is omdraai nie baie waarskynlik nie.
* Hoe doleer ’n gemeente?
Dit is dood eenvoudig ’n kerkraadsbesluit. Die hele gemeente hoef nie daaroor te stem nie. Dit word natuurlik baie sterk voorgestel dat die gemeente goed ingelig word hieroor en ook gereeld op hoogte gehou word van die stand van sake.
Bylaag A: Wat beteken dit vir ’n gemeente om te doleer?
Dank aan Chris Saayman wat die volgende stuk geskryf het:
Wat beteken dit vir ’n gemeente om te doleer?
Chris Saayman
1. Die begrip kom uit die Nederlandse kerkgeskiedenis en beteken om te treur. ’n Beweging van dolerende gemeentes word genoem ’n doleansie, wat ’n drukgroep binne ’n kerkverband vorm.
2. ’n Dolerende gemeente is dus ’n treurende gemeente wat treur oor ’n kerk wat die pad van die Woord byster geraak het. Dolerende gemeentes skei nie (onmiddelik) af nie, maar laat die kerkverband duidelik weet en besef dat hulle treurend sal bly totdat daar bekering by die kerk kom en ’n terugkeer na die Woord plaasvind.
3. Prakties sou dit die volgende beteken:
3.a ’n Kerkraad kan besluit om te doleer sonder om die gemeente vooraf daaroor te raadpleeg – slegs met ’n helfte-plus-een stem.
3.b Die gemeente se naam word (tydelik) verander na (byvoorbeeld) “Tafelberg Gemeente (Dolerend)”. So word die naam op alle korrespondensie, nuusbriewe ens aangedui. Dit is tydelik, want die doel van dolering is om weer op te hou doleer! Niemand wil oneindiglik treur nie! Mits daar bekering by die kerkverband sigbaar word.
3.c Die kerkraad gee hiervan kennis aan die Ring en Streeksinode. Die kerkverband neem daarvan kennis dat die gemeente treurend sal bly totdat daar bekering plaasgevind het
3.d Sekere duidelike aksiestappe kan die proses vergesel om die erns daarvan duidelik te maak soos byvoorbeeld 1) die (gedeeltelike) opskorting van betrokkenheid by die Ring, Sinode, VBO ens. 2) opskorting van ’n % van sinodale aanslag. Iemand wat treur deel nie straf uit nie, maar kan ook nie soos voorheen binne ’n verhouding optree nie.
4. Wanneer die getal dolerende gemeentes vermeerder word dit ’n beweging wat doleansie genoem word en hierdie gemeentes sou kon begin skakel en korrespondeer. Dit sou byvoorbeeld kon lei tot die vorming van ’n modaliteit – wat in die destydse Hervormde Kerk in Nederland bekend was as die Gereformeerde Bond. So ’n Bond sou sekere onderlinge afsprake kon reel soos byvoorbeeld om slegs predikante uit eie geledere te beroep, sekere kategesemateriaal te gebruik, ’n bepaalde liturgie te volg, gereelde vergaderings en samekomste te hou ensovoorts.
5. Die moontlikhede en vrug van ’n Doleansie is ondenkbaar. Dit kan nie vooraf beplan word nie, maar ontwikkel soos die Hoof van die Kerk lei.
6. Wanneer daar bekering by die kerkverband plaasvind en ’n daadwerklike terugkeer na die Skrif en belydenis sigbaar word, word die dolering opgeskort en die Doleansie getermineer. Want die hele oogmerk van so ’n reformatoriese aksieplan is juis dat die kerkverband weer die knie voor die Hoof van die kerk sal buig. Daar word dus gedoleer met die doel om op te hou doleer! Die doel is bekering, genesing, herstel – in kort: ’n terugkeer na die Skrif – want dit is wat reformasie beteken. Kerke van die reformasie hou aan om te reformeer = terug te keer na die Skrif alleen.