Dominee: ‘Sê dit reguit. Dit is kerkskeuring!’

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Dominee: ‘Sê dit reguit. Dit is kerkskeuring!’ | Rapport

Hanlie Retief

Sondag, 30 Maart 2025

Ds. Zack Pienaar , predikant in sinodale diens by die NG Kerk in Namibië (NGKN), het sy naam laat aanteken as een van die predikante wat nié deel is van die besluit om weg te breek van die algemene sinodale moderamen (ASM) nie.

Ná ses dekades staan die NGK in Namibië (NGKN) alleen? Ek is hartseer, gebroke, teleurgesteld. Dis iets wat ek nooit gedink het ooit in die NG Kerk sal gebeur nie. Alhoewel die debat al ’n hele klomp jare aankom, het ek nooit gedink dit sal hierop uitloop nie. Dit maak nie saak watter mooi woorde wie gebruik om alles wat plaasgevind het, te beskryf nie: Hierdie is ’n kerkskeuring.

Die gemoedere loop hoog? Dis baie intens, mense verwerp mekaar, daar is soveel agterdog. Ek kom oorspronklik van ’n kerk wat die bekende Belydenis van Belhar onderteken het. Een van die artikels in dié belydenis gaan oor kerkeenheid. Ek het nou by die sinodesitting vir hulle gesê daai belydenis keer my. Ek wil nie deel wees van enige aksie wat die kerk verskeur nie. Die gereformeerde kerktradisies bied genoeg geleentheid vir mense om onder een dak te wees en tog ook te verskil. Gaan kyk na die geskiedenis. Die samekoms van die NG Sendingkerk en NG Kerk in Afrika het met bloed en vyandskap gepaardgegaan. Kom ons probeer dinge eerder uitsorteer.

Die NGK in Namibië het reeds 12 gemeentes sonder ’n leraar. Gaan die wegbreek lei tot ’n verdere versplintering? Ek vermoed so. Ons is afhanklik van predikante uit Suid-Afrika en gaan voortaan sukkel om predikante van daar te kry. Ons het ons eie opleidingsentrum, die Namibia Evangelical Theological Seminary. Die predikante se opleiding is egter nie dieselfde, ’n ses-jaar-opleiding, nie. Dit sal seker ’n ander kategorie predikante wees, en dit gaan moeilik gaan.

Die kruks van jul wegbreek wentel om die 2019- algemene sinode se besluit oor selfdegeslagverhoudings? Dis waar alles begin het. Die mense sê nou ons verstaan die Skrif verskillend hieroor. Daar word gesê ons praat nie oor homoseksualiteit nie, maar oor Skrifgesag. Die groep wat weggebreek het, voel die universiteite in Suid-Afrika gee nie meer suiwer opleiding nie, en dat hulle oor sekere kwessies op ’n dwaalweg is. Daar is ook ’n stryd teen teologiese opleiding in Suid-Afrika.

Selfdegeslagverbintenisse is in elk geval onwettig in Namibië? Presies.

Hoe gaan die NGK in Namibië gemeentes met ’n meer liberale siening hanteer? Ek dink nie daar is al ’n plan hoe hulle dit gaan hanteer nie. Die span wat die besluit geneem het, is baie onvoorbereid vir al die uitdagings. Hier is gemeentes wat geëtiketteer word as liberaal – wat gaan hulle met die gemeentes maak en die paar predikante wat teen die wegbreek gestem het?

Sal nuwe predikante uit Suid-Afrika moet aandui hulle deel die NG Kerk in Namibië se denkrigting? Die tweederdemeerderheid wat vir die wegbreek gestem het, het besluit dat die predikante wat hierheen wil kom, aan sekere vereistes voldoen. Dink jouself in: Dis alreeds ’n kwessie met werkpermitte, nou moet jy boonop aan nóg vereistes voldoen.

Wat is die finansiële implikasies? Eiendom, regte? Daar is ’n groep wat sê nee, hulle gaan dit nie verloor nie. Maar die ou kerkordelike siening was as daar ’n wegbreekgroep is, behoort alle eiendomme aan die groep wat agterbly.

Dinge kan selfs in ’n hofstryd eindig? Ek dink dis te vroeg om te sê. Die debat in die sinode het darem in ’n goeie stemming plaasgevind.

Gaan die ASM julle steeds ondersteun met jul welsyndienste? Een van die waansinnige goed wat hulle nou sê, is dat hulle nou weer in onderhandeling gaan met die ASM. Dis nou amper soos ’n man wat sy vrou skei maar dan vra hy net ná die egskeiding of hy weer kan kom kuier. Die onderhandelinge moet van vooraf begin, soos om waarnemerstatus by die ASM te kry. Die ASM het soveel bedieninge, ondersteuning en bronne wat die kerk net kan versterk. Dié besluit het alles beëindig. Dis ’n groot verlies.

Praat die NGK in Namibië met gemeentes, ringe of sinodes in Suid-Afrika oor samewerking? Dis my eie mening, en ek bespiegel dalk, maar ek dink daar is ’n denkrigting om aan te sluit met ooreenstemmende sinodes in Suid-Afrika. Daar was ’n groeteboodskap van die Noord-Kaap-sinode by die sinodesitting, en intussen ook ’n boodskap van die Koinonia-groep in Suid-Afrika.

Voorspel dié ’n groter skeuring in die NG Kerk? Gewis. Die skeuring is eintlik al klaar daar.

• Ds. Zack Pienaar was ’n predikant van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika. Hy is tien jaar gelede na Namibië beroep en was die eerste predikant van kleur wat voltyds aangestel is deur die NG Kerk.

hretief@rapport.co.za

 

Kommentaar

xxx

1 thought on “Dominee: ‘Sê dit reguit. Dit is kerkskeuring!’”

  1. Die WOORDE-spel van menige NG leraar, is weereens duidelik ook hier, eerder as om met GOD en Sy woorde in die binnekamer te gaan, en sy Gees te vra om te spreek tot sy eie hart. Die NG in Namibie het die regte ding gedoen. Mens SKEUR beslis van satansinvloede af weg NA GOD SE HART toe. Die leraar het die kat aan die stert beet, en die kat, is die duiwel se kat, en hy byt nie, maar lieg, steel, moor. Die BYBEL is baie duidelik oor satan se bose hart.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui