‘Dominees se geldvrees belemmer kerkeenheid’

In die artikel hieronder beskuldig Dawid Kuyler die NG Kerk daarvan dat hulle die rede is dat die poging om die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk te verenig, misluk het. Ironies genoeg noem hy ’n paar dinge wat ’n mens laat vra: indien die verskille so groot is, hoekom moet die twee denominasies verenig?

Ek het kommentaar tussenin die artikel gemaak.

My kommentaar is ‘n week later bevestig in ‘n onderhoud wat Hanlie Retief met Nelis Janse van Rensburg gehad het – kyk Kruisverhoor: Elke gemeente bepaal sy kultuur (en salaris) (18 Des 2022)

*******

‘Dominees se geldvrees belemmer kerkeenheid’ | Netwerk24

Johan Eybers

Sondag, 11 Desember 2022

NG dominees wat bekommerd was oor hul salarisse en pensioen was een van die struikelblokke in die pad na kerkeenheid.

[Kommentaar: Gemeentes is verantwoordelik om hulle predikante te betaal. Daarom weet ek nie hoekom hierdie ’n bekommernis was nie.]

So sê dr. Dawid Kuyler, oudskriba van die algemene sinode van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK).

Kuyler blameer ook wit dominees van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) se “onvermoë en onwilligheid om die impak van apartheid op mense se lewe te verstaan” daarvoor dat kerkeenheid nie bereik is nie.

Die Kerkbode het Dinsdag ’n meningstuk van Kuyler geplaas waarin hy skryf hy is diep hartseer dat daar nie in sy geslag kerkeenheid bereik kon word nie. Hy het aan Rapport gesê hy het sy meningstuk vir die Kerkbode geskryf in die hoop dat dit sal help vir verdere dialoog en gesprek. “Jy moet baie keer sê wat in hou hart aangaan, want anders is jy dood en dan is dit verby.”

Kuyler skryf in sy meningstuk dat sy wit kollegas hom sien as ’n verraaier, omdat hy saam uit een mond met die VGK gepraat het.

Dit is vir hom ’n teleurstelling dat daar soveel geleenthede vir kerkeenheid deur hul vingers geglip het toe daar in die 1990’s ’n klomp swart leraars was wat in Afrikaans opgelei is en Afrikaans kon praat.

“Daai geslag het nou saam met my afgetree.”

Hy sê die jong geslag leraars wat uit die townships kom, praat net Engels.

“Jy sit ook met ’n klomp jong wit dominees vir wie kerkeenheid nie eintlik ’n kwessie is nie.

“Hulle was nie aandadig aan apartheid nie. Hulle is gebore nadat apartheid afgeskaf is. So hulle het nie daardie belewenis wat ek en ’n klomp ander ouer ouens gehad het nie, wat besef het wat alles verkeerd was en hoe ons dit moet regmaak.”

As die NGK die Belhar-belydenis destyds aanvaar het, was kerk­eenheid baie makliker, glo hy.

“Die NG Kerk was altyd bang hulle word oorgeneem. Swart mense wil nie wit kerke oorneem nie.

[Kommentaar: As dit waar is, dan stem ek saam dat dit nooit ’n bedreiging was nie.]

“As jy ten minste een ringstruktuur het, kry jy verslae uit verskillende gemeentes en kan jy mos hoor wat in die dorp aangaan aan die ander kant van die draad. En dan beplan jy saam vir almal. Jy beplan nie net vir een seksie van die gemeenskap nie.”

Wat nou gebeur, sê hy, is dat woonbuurte se demografie verander en die vraag ontstaan nou of iemand by die NG Kerk moet inskakel of al die pad na die VGK in die township moet ry.

[Kommentaar: Die tyd is lankal verby dat alle NG lidmate by die naaste NG gemeente inskakel. Daarom, selfs al het die NGK en VGK verenig sou dit dalk steeds gebeur het dat mense wat in die dorp woon na die township sou ry om daar kerk by te woon.]

“In sommige plekke het mense by die NG Kerk ingeskakel wat beteken dat die gemeentes van waar hulle kom van hul finansiële drakrag ontneem word.

“Baie van dié lidmate voel ook nie altyd so tuis nie, want ons het almal verskillende maniere van kerk hou.”

[Kommentaar: Ek kan nie sien hoe kerkhereniging hierdie probleem sou oplos nie. Kerkhereniging sal nie beteken dat alle gemeentes op dieselfde manier kerk hou nie.]

Hy sê dominees se salarisse sal ook nie van mekaar verskil nie as die kerk een geword het.

[Kommentaar: Predikante word nie deur die sinode betaal nie, maar deur gemeentes. Alhoewel daar salarisriglyne is, word die salaris van predikante deur die finansiële toestand van die gemeente bepaal. Indien die gemeente nie meer ’n predikant kan bekostig nie, moet die gemeente die predikant minder betaal, klaar kom sonder ’n predikant, of toemaak.]

“Jy sien, party dominees was juis bang daarvoor, want hulle het gepraat oor salarisse en pensioene. Dit gaan oor rand en sent, en hoe jy dit verdeel.”

Hy sê daar is steeds ryk, wit gemeentes in die NG Kerk met groot beleggings terwyl gemeentes in die VGK niks het nie. “Dit is mos nie Christelik nie.”

[Kommentaar: Daar is ook blanke gemeentes wat finansieel sukkel en baie van daardie gemeentes moes al toemaak weens finansiële redes.]

Sy voorstel is dat predikante uit hul gemaksones moet kom en aan die ander kant gaan woon en werk.

“Ek was die afgelope 15 jaar van my loopbaan ’n konsulent vir ’n klomp swart en bruin gemeentes wat nie ’n dominee kon bekostig nie.

“Dan ry ek deur die dorp waar daar wit NG Kerk-dominees is wat nie betrokke is in die swart woonbuurte nie. Dan het ek baie keer vir myself gedink, as daai wit dominee net ’n bietjie huis­besoek daar gaan doen en gesprekke gaan hê met die lidmate gaan dit sy hele persepsie van die Suid-Afrikaanse bevolking verander.

“Want as jy in ’n wit gemeente is, dink jy in terme van wit mense en hul begrip van die werklikheid.

“As jy in ’n swart gemeente kom, dan sien jy daar is ’n ander werklikheid ook en dit daag jou dan as dominee uit om te vra, kan dit so aangaan? Kan ek nie ’n verskil maak nie?

“So hoe kry jy geregtigheid? Jy moet tog wys jy is lief vir ander mense, dat hulle ook God se mense is en jy mededeelsaam is en jou gawes en talente met hulle deel. Anders is dit maar ’n klinkende simbaal.”

Hy het min hoop dat eenheid ’n werklikheid sal word. “Ek dink die NG Kerk-ouens is moeg. Hulle is in ’n stryd om oorlewing. So ek weet nie hoeveel energie daar is vir eenheid nie.”

2 thoughts on “‘Dominees se geldvrees belemmer kerkeenheid’”

  1. “Die Sinode van die voormalige NG Sendingkerk (NGSK) in Suid-Afrika het reeds in 1982 met die aanvaarding van die Belydenis van Belhar as ’n konsep die onderstaande begeleidende brief goedgekeur om altyd daarmee saam te lees. Daarin verduidelik hulle hoekom hulle die belydenis geformuleer het.
    1. Ons is daarvan bewus dat daar in die lewe van die kerk oomblikke kan ontstaan van soveel erns dat die kerk die noodsaak kan voel om opnuut sy geloof te bely in die lig van ’n spesifieke situasie. Ons is daarvan bewus dat so ’n daad van belydenis nie ligtelik gedoen word nie, maar slegs as geoordeel word dat die hart van die evangelie self op die spel staan en bedreig word. Na ons oordeel verg die kerklike en politieke situasie binne ons land en veral binne die NGK-familie tans so ’n beslissing. Ons doen hierdie belydenis dus nie as ’n teologiese gespreksbydrae of as ’n nuwe samevatting van al ons geloofsgoedere nie, maar as ’n kreet uit die hart, as ’n dwang wat ons opgelê is om die evangelie ontwil in die lig van die oomblik waarin ons staan. Ons bely saam met vele ons skuld daarin dat ons nie altyd duidelik genoeg hieroor getuig het nie en gevolglik mede-verantwoordelik is daarvoor dat wat as sonde ervaar en bely is of as sonde ervaar en bely moes word, mettertyd gegroei het tot vanselfsprekendhede en Skrifvreemde ideologieë en dat die indruk by vele geskep is asof die evangelie nie waarlik op die spel was nie. Ons spreek hierdie belydenis uit, omdat ons oordeel dat allerlei teologiese argumente daartoe bygedra het om aspekte van die waarheid so eensydig te beklemtoon dat dit in die leuen verander het.
    2. Ons is daarvan bewus dat die enigste gesag agter so ’n belydenis en die enigste grond waarop dit uitgespreek kan word die Heilige Skrifte as die Woord van God is. Volkome bewus van die waagstuk verbonde aan so ’n daad, oordeel ons tog dat ons geen ander keuse het nie. Ons is boonop daarvan bewus dat geen ander motiewe of oortuigings, hoe geldig hulle ook al mag wees, ons die reg veroorloof tot ’n daad van belydenis nie. Dit moet ’n kerklike handeling wees ter wille van die suiwerheid en die geloofwaardigheid van die kerk en sy boodskap alleen. Sover dit moontlik is voor die mense verklaar ons hiermee dat ons enigste dryfveer geleë is in ons vrees dat die waarheid en krag van die evangelie self bedreig word in hierdie situasie. Ons wil geen groepsbelang dien, partyskappe bevorder, teologieë bevorder of bymotiewe verwesenlik nie. Terselfdertyd weet ons dat ons diepste bedoelinge slegs na ware beoordeel kan word deur Hom voor wie alles oop en bloot is. Ons spreek hierdie belydenis nie uit vanaf sy troon en uit die hoogte nie, maar voor sy troon en voor die mense. Ons pleit daarom dat hierdie belydenis nie misbruik sal word deur enigiemand met allerlei bymotiewe nie en dat dit ook nie vanuit sulke motiewe teëgestaan sal word nie. Ons begeerte is om geen valse struikelblokke in die weg te lê nie, maar om heen te wys na die egte struikelblok, die rots Jesus Christus.”
    Lees asseblief die laaste reels van paragraaf 2 van die dekbrief wat Belhar vergesel het. Ek het dit opgeneem met predikers en sinodale verteenwoordigers van die NG kerk. Een het my ingelig dat ek dit verkeerd interpreteer, waneer ek uitgewys het dat ek bykans 40 jaar wette en verklarings interpreteer en uitgele het en selfs eksamens geskryf het daaroor, was ek ingelig dat die skrywers van Belhar en van die dekbrief verkeerdelik uit die Bybel aangehaal het. Nie een van die NGK verteenwoordigers wou die brief opneem of bespreek in enige van hulle vergaderings nie. Ek het ook nooit skriftelike terugvoer ontvang om my vertolking verkeerd te bewys nie,

  2. Ek het geen probleem met kerkeenheid nie, maar vandat ons vereenigend besig is,is ons gemeente belief en kaal gestroop.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui