Kyk ook: |
Dit is onaanvaarbaar dat mense wat in homoseksuele verhoudinge staan as gelowiges hanteer word.
1 Korintiërs 5 en 6 is hier van toepassing:
1 Korintiërs 5:11-13 : (11)Wat ek geskryf het, was dat julle nie moet omgaan met iemand wat homself ’n gelowige noem, maar wat onsedelik of geldgierig of ’n afgodsdienaar of kwaadprater of dronkaard of bedrieër is nie. Met so iemand moet julle nie eens saam eet nie. (12-13)Per slot van rekening is dit nie vir my om oor mense buite die gemeente te oordeel nie. God sal oor hulle oordeel. Maar julle moet oor julle eie mense oordeel: “Verwyder die slegte mens onder julle uit!”
1 Korintiërs 6:9-10 : (9)Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen (10)of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.
Die NG Kerk doop kinders van gelowige ouers. Volgens 1 Korintiërs 6 kan ons nie hierdie twee vroue as gelowiges sien nie. Vir meer hieroor, kyk Kan ons beweerde Christen gays veroordeel?.
Meer oor Fourie Rossouw: Kyk ook 50 rebelleer teen NGK se loerdery onder die laken. Hy het ook geprotesteer teen Dirkie van der Spuy se brief – kyk Menigte protesteer teen Dirkie se brief.
********
Doop van 2 vroue se kind help genees
(Beeld)
Deur Fourie Rossouw, Woensdag 15 Julie 2015 05:00
By die doopvont in die NG kerk Weltevredenpark in Roodepoort is die gemeente nóg gay nóg straight, skryf Fourie Rossouw.
Ons het al ’n ver pad gestap. Die mense van die kerk, meen ek. Met die kerk bedoel ek my kerk, die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika.
In 1843 het die NG gemeente van Tulbagh geskeur weens ’n stoere dominee se onversoenbaarheid oor die sakramente.
Die legende lui dat hy geweier het om die baba van ’n jong, ongetroude vrou te doop en dit het sekere gemeenteleiers rooi laat sien.
Daar is baie sulke hartseerverhale in die kerk en al het almal nie op kerkskeuring uitgeloop nie, het baie daarvan krake en skeure in die harte van goeie, gelowige mense veroorsaak.
Die 1970’s en ’80’s, toe ek ’n kind was, het sy pond vleis van my generasie geëis. Die land was daardie tyd natuurlik heelwat anders vir wit Afrikaanse kerkmense. Wat geloof betref, was jou hoofstroom-opsies heelwat minder, wat natuurlik die moontlikheid van verwerping vergroot het as jy die lewe linkser van die linker- regop paal benader het.
Adéle en Desmé is twee vriendinne van my wat laat in die 1980’s en vroeë ’90’s uit die kas gekom het.
Die pyn van verwerping en die soeke na aanvaarding wat hulle sedertdien (veral in die kerk) ervaar het, het tot onlangs toe nog baie vlak gelê.
My storie met hulle het ’n paar jaar gelede by ’n kerkding vlam gevat.
Ek was die dominee en hulle die skeptiese, wantrouige soekers wat die kerk weer ’n kans wou gee.
Ons eerste ontmoetings by die kerk was nie goed nie. Interessant genoeg, toe ek hulle ’n paar maande voor die kerkding leer ken het, elders in ’n vriend se woonkamer, was die emosies anders, heel heilsaam, sou ’n mens kon sê.
Tog by die kerk, waar patriargie in ons semantiek koning kraai, was daar net te veel bagasie en ook te veel aannames tussen ons drie.
Ek kan nie onthou wie voorgestel het dat ons eerder nie meer met mekaar oor God in die kerk praat nie, want dit het heeltyd in trane geëindig. Hulle het halfpad deur die kerkding laat weet dat hulle nie meer gaan kom nie, want hulle kry net te seer.
Vir my was hierdie nadraai ’n laagtepunt in my pogings om die Jesus-verhaal op ’n vars, nuwe manier by mense te bring wat eintlik al tou opgegooi het. Opnuut is ek herinner dat die kerk waarvan ek deel is ’n deksels ingewikkelde gemeenskap is wat oor die vermoë beskik om mense baie seer te maak. Ons dra saam aan die las “straight Christene” en “gay Christene”.
“Hoekom wil julle jul dogtertjie doop in ’n kerk wat julle seergemaak het? ”
Ná daardie ontmoeting het ek kontak met hulle twee verloor.
Ons het mekaar eenkeer in ’n koffiewinkel raakgeloop.
Ongemaklik, met my koffie in die hand, het ek praatjies gemaak.
Deur die wingerd gehoor dat hulle nou getroud is.
Ek het amper te hard probeer om my goedkeuring te wys, gehoop hulle sal sien dat ons mekaar destyds verkeerd verstaan het.
Ek wou hulle wys dat ons NG dominees nie almal dieselfde is nie, dat nie alle kerkmense dink om gay te wees is verkeerd nie.
Maar wat kan ’n mens nou in ’n koffiewinkel aan ’n gebreekte verhouding doen? Hoeveel koppies koffie sou ons daai oggend moes drink om in vrede daar weg te stap?
En toe, uit die bloute, amper ’n jaar later, het ’n gesamentlike vriend van ons my gebel.
“Hoe voel jy oor die doop van ’n baba van twee gay ouers?” het hy oor die foon gevra.
“Soos ek voel oor die doop van ’n baba van straight ouers, by die doopvont is ons nóg gay nóg straight”.
“Goed so, want hulle gaan jou bel.”
’n Paar dae later sit ons toe in hul mooi huis waar hulle naatloos ’n doodgewone voorstedelike lewe leef.
Ons het koffie gedrink en gesmul aan Nutty Crust-koekies in hul sonnige woonkamer met hul pragtige babadogter, Helen, op my skoot.
Ek wou nog namens die kerk (en myself) jammer sê, toe begin ons huil, snot en doopwater.
“Hoekom wil julle jul dogtertjie doop in ’n kerk wat julle al soveel keer seergemaak het?” vra ek toe ons tot bedaring kom.
“Dalk is ons te sentimenteel, maar ons lewens is gevorm deur die kerk en ons wil hê ons dogter moet deel daaraan hê.
“Sy moet weet sy kom van iewers af en al is daardie plek ook vol pynlike herinneringe, was ons pad met die kerk darem nie net sleg nie.”
Om terug te kom na my openingsgedagte: ons het wragtig al ’n ver pad gestap sedert daardie kerkskeuring in Tulbagh.
Die kerkraad van my gemeente het nadat ek hul aansoekbrief voorgelees het onomwonde ja gesê.
Een persoon het selfs gevra dat ons notuleer dat ons gemeente nooit in die toekoms sal diskrimineer teen enige mens wat die sakramente van die kerk betref nie.
Daardie Sondag het ons Helen toe gedoop, saam met nog sewe babas. Oumas en selfs oupas se oë was vol trane, die hele klomp aangeraak deur die genadesimboliek van die doop.
Ek, die liturg, is al strompelend deur die manlike metafore van God.
Hier en daar het ek probeer om oor God as ’n moeder te praat, ’n vrou wat versorg, wat ons met water was soos ’n ma haar kind.
Toe ek my e-pos die Maandag gespanne oopmaak, was daar tot my verbasing geen kritiese vraag oor die sogenaamde gay-debat nie.
Dalk het die geboorte van ’n kind, soos destyds, die genade van versoening vir ons gemeente gebring.
Ek skryf hierdie woorde nie ligtelik nie. Ek is deeglik bewus daarvan dat ons nog ver moet stap op die reis na ’n meer liefdevolle, genadiger kerk, maar vandag wil ek graag noem dat al is sy baie van die tyd ’n beneukte ou tannie, is die kerk my moeder en dat sy eintlik ’n baie sagte hart het.
- Ds. Rossouw is predikant van die NG gemeente Weltevredenpark, Roodepoort.