Drie ander sinodes het glo nie die ‘moed’ om ook uit NG Kerk te tree

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Drie ander sinodes het glo nie die ‘moed’ om ook uit NG Kerk te tree | Netwerk24

Arisa Schamrel

29 Maart 2025

Minstens drie ander sinodes het dit glo ook oorweeg om van die NG Kerk weg te breek, maar het anders as dié van Namibië nie die “moed” gehad om dit deur te voer nie.

“Die voorstel om uit verband met die algemene sinode van die NG Kerk te tree, was reeds op die tafel op verskeie ander sinodes, soos die Oostelike sinode, Vrystaat en Goudland, maar tot dusver het slegs Namibië die moed gehad om so ’n besluit enduit deur te voer,” sê dr. Anton Knoetze, voorsitter van die dagbestuur van die Koinonia Sinodale Diensgroep (KSDG).

Die NG Kerk in Namibië het verlede week besluit om sy bande met die algemene sinode se moderamen te knip, ’n besluit wat Knoetze en Koinonia verwelkom.

“Ons besef dat dit primêr vir die NG Kerk Namibië gegaan het oor ’n ernstige gehoorsaamheid aan God se Woord,” skryf Knoetze in ’n brief aan die NG Kerk Namibië.

Die KSDG en verskeie ander behoudendes het die moderamen al daarvan beskuldig dat hy nie Skrifgetrou is nie en besig is met dwaalleer.

Twee uit die drie sinodes wat skeiding bespreek het, sê daar is besluit om eers deel van die algemene sinode te bly.

’n Voorstel om uit verband met die algemene sinode te tree, is volgens dr. Johan Botha van die Oostelike sinode op die sinode-vergadering in 2021 afgekeur en so ’n voorstel sal waarskynlik nie gou weer op die tafel kom nie.

Die Vrystaat-sinode sê die voorstel is in ’n gewone sitting in 2022 en twee buitengewone sittings in 2023 en 2024 bespreek, maar daar is telkens daarteen besluit.

“Ons het by verskeie geleenthede die afgelope drie jaar met verteenwoordigers van die algemene sinode se moderamen oor ons standpunte in gesprek getree en in 2023 ook ses beskrywingspunte aan die algemene sinode voorgelê wat in groot mate aanvaar is.

“Ons voer tans interne gesprekke met gemeentes en ringe.

“Waar navrae of meningsverskille bestaan, word na ’n welwillende, ordelike, konstruktiewe en vredevolle weg vir almal gestreef,” sê ds. Hannes du Plessis, skriba van die moderamen van die NG Kerk Vrystaat.

Die Goudland-sinode het nie op navrae gereageer nie.

Dr. Nioma Venter, algemene sekretaris van die algemene sinode, sê hulle is nie bewus van enige ander wat hulle ook aan die moderamen wil onttrek nie.

Volgens Venter was die moderamen, wat bestaan uit verteenwoordigers van elke sinode, in Februarie weer byeen waar verslag oor die sinodes se werking gedoen is.

“Die algemene ervaring regdeur is dat hoewel dit plek-plek broos is, sinodes plaaslik gefokus is en aktief besig is met hul roeping. Dit sluit in om in gesprek te wees met gemeentes wat ongemak ervaar.

“Met Namibië was dit ’n drie jaar lange proses en was die algemene sinode deeglik bewus van die moontlikheid dat hy die opsie sou kies (om weg te breek),” sê Venter.

Die kerk loop onder erge kritiek deur en die diepte van teologiese gesprekke kan verlore gaan, veral as dit “deur ego, persoonlike vendettas, bitterheid en welke verskuilde redes ook al aangedryf word”, sê sy.

“Daar word ’n strooipop gemaak van die algemene sinode en van die moderamen – om werklikhede en standpunte te verdraai of te oorvereenvoudig om die kerkverband in diskrediet te bring,” sê Venter.

Knoetze hou egter vol dit is deur die Kerk se eie toedoen dat baie lidmate vertroue verloor het.

“Ons het herhaaldelik gewaarsku dat ’n houding van selfregverdiging in plaas van doelgerigte aandag aan die ware probleem deur die algemene sinode en haar strukture net tot groter kerkskeurings kan lei.

“Gelukkig is die toekoms van die Kerk veilig in die Hand van die Here van die Kerk.”

– arisa.schamrel@24.com

Kommentaar

Daniel Louw

Nioma Venter sê: “Daar word ’n strooipop gemaak van die algemene sinode en van die moderamen – om werklikhede en standpunte te verdraai of te oorvereenvoudig om die kerkverband in diskrediet te bring”

Dit is ‘n totale vals aantyging. Kyk die volgende en besluit self of sy die waarheid praat:

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui