Drie Scenario’s vir die NG Kerk in 2030

Afgevaardigdes by die 2019 algemene sinode het saamgewerk om droomscenario’s vir die NG Kerk vir 2030 te ontwikkel. Hier volg die resultaat.

*******

Drie Scenario’s vir die NG Kerk in 2030

6 Oktober 2019

Die scenario’s wat ontwikkel is beskryf moontlike alternatiewe uitkomste, afhangende van hoe die kerk in die volgende dekade reageer op verwikkelinge in die konteks van Suid Afrika. Dit bestaan uit kort verhale wat in 2030 afspeel. Elke scenario verteenwoordig ‘n uiteenlopende stel keuses wat die kerk kan maak in terme van die “sleutel moontlikhede” soos aangedui in ‘n aanhangsel in hierdie dokument, en is gegrond in tendense wat deur die scenario navorsing geïdentifiseer is.

Doel en gebruik van die scenario’s

Die doel van die scenario’s is dus nie om voor te skryf hoe die toekoms van die kerk moet lyk nie, maar eerder om aan te dui dat dit moontlik so kan lyk. Die scenario’s is met ander woorde ‘n toerustingstuk vir gesprekvoering oor keuses en opsies vir die kerk, eerder as ‘n voorskriftelike plan.

Lees gerus die scenario’s met hierdie vraag in gedagte: “wat is die ideale toekomsdroom vir die kerk, gegewe die scenario’s?”

Scenario 1: Sprei jou vlerke, dis 2030

‘n Opskrif in Die Burger lees, “Prof. Hantie Plaatjie, algemene sekretaris van die NG Kerk, sê vrouebediening is die hoeksteun van ’n vernuwe evangelie van omgee”.

Dit is so berig na die NG Kerk deur die staatspresident gedurende die staatsrede bedank is vir die belangrike rol wat dit speel in die herstel van plaaslike gemeenskappe, en ondermeer die rol wat verskeie gemeentes speel in die bevordering van versoening oor rasse-grense.

In 2029 is die kerk hervernoem na die Nuwe Gemeenskapskerk van Suidelike Afrika (NG-SA)

Hierdie nuwe identiteit en uitgangspunt is oor ’n dekade deur die kerk ontwikkel as deel van die omvattende herstrukturering van die sinode-stelsel. ’n Besluit is geneem deur die algemene sinode 2019 om radikale vernuwing in die kerk te bewerkstellig.

Volgens dié besluit sou die kerk telkens nie suiwer volgens streek verdeel word nie, maar die institusionele raamwerk van die kerk sal voortaan as ’n “gemeenskap van gemeenskappe” verstaan word.

Die kerk moes hierdie herformulering inderhaas ontwikkel, om ruimte te skep vir die diversiteit van bedieningstyle en teologiese oortuigings wat kort na die draai van die eeu in die kerk posgevat het.

Alhoewel daar ongemaklikheid in sommige geledere was oor die oënskynlike afwatering van die kerk se teologie, het die oorhoofse meerderheid van gemeentes ingestem om kerkeenheid te beskerm deur ruimte te maak vir ’n verskeidenheid van perspektiewe, binne ’n algemene gemeenskap van verhoudinge.

In 2025 het ‘n groep invloedryke leraars ’n geskiedkundige deurbraak in die teologiese oriëntering van die kerk bewerkstellig, toe daar gedurende ’n interkerklike gebedsbyeenkoms op die gronde van die Paardekraal monument, besluit is dat ’n nuwe teologie vir ‘n nuwe era, gegrond in liefde, genade en aanvaarding, vertolk moet word.

So sou daar vanuit ’n vars lewenstroom van teologie, ’n vernuwende leierskapsvorming filosofie ontwikkel word, wat die klem van die kerk op sorg en onselfsugtige spiritualiteit plaas, eerder as om skrifgebondenheid te beklemtoon.

Toe ’n groep van gemeenteleiers uit die platteland hierdie inisiatief teenstaan, op grond van ’n egte besorgdheid oor die kerk se verlies aan lojaliteit aan die solas van die Reformasie, is daar besin dat ’n nuwe belydenis geskryf sal moet word, wat deur die drukgang van skrifkorrektheid sal moet gaan.

‘n Hoogtepunt op die kerk se kalender in 2030 is die jaarlikse musiekfees waarvolgens kore vanuit verskeie taal gemeenskappe, genooi word om deel te neem aan die skryf en opvoering van waardegebaseerde musiek tot lof van die Here. So het die kerk haar noemenswaardige nasionale netwerk, in diens gestel van ’n gees van uitreik deur aanbidding, en in die proses bande gesmee tussen voorheen-vervreemde gemeenskappe in dorpe en voorstede landswyd.

2025 sou die eerste jaar wees wat die opname van die NG-SA se, “Lof van Liefde” Suid Afrika se grootse verkoper ’n beide die kategorie Afrikaanse asook Gospel sou wees.

Tydens ‘n ekumenies samekoms gehou by die Desmond Tutu Sentrum vir Spiritualiteit aan die Universiteit van die Wes Kaap, het Prof. Plaatjie in n onderhoud aan die Kerkbode gesê, “die moedergemeente op Stellenbosch staan vandag as simbool van hoe die transformerende liefde van Christus oor grense van verdeeldheid kan vloei, en die wonde van die verlede kan gesond maak.”

Scenario 2: Staan Op, Staan Alleen, dis 2030

Die Fakulteit Teologie en Godsdiens aan die Universiteit van die Vrystaat sal voortaan bekend staan as die Fakulteit Kultuur en Geloofstelses. Die aankondiging is gemaak deur Prof. Thembi Mathlangu, die nuwe akademiese voorsitter vir die de-koloniale studie van antropologie, aan die universiteit.

Groot verwarring het in 2026 geheers toe die minister van hoër onderwys met ‘n beleid vorendag gekom het waarvolgens publieke universiteite grotendeels daarop gefokus sou word om tradisionele kulture te bevorder.

Ds. Van Aswegen, voormalige moderator van die sinode van die Vrystaat, het beweer dat dit maar net die begin van ‘n beweging onder politici is om publieke befondsing verder van blankes te weerhou.

Terwyl dit spanning in die geledere van die susterskerke veroorsaak het, het die Federation of South African Traditional and Tribal Custodians (FATTC), ‘n nuwe intergeloof liggaam, in ‘n persverklaring gesê, “ons verwelkom hierdie stap deur die minister… dit sal uiteindelik die tradisionele geloofstelsels van ons mense op gelyke voet plaas met die westerse teologie wat van buite op ons af geforseer is.”

By die NG Kerk se algemene sinode in 2029, is daar besluit dat die opleiding van kerkleiers in die toekoms deur middel van twee kanale sou plaasvind. Naamlik, dat teologiese opleiding deur middel van sogenaamde virtual of aanlyn opleiding, in vennootskap met gereformeerde netwerke in die buiteland sal plaasvind. Verder sal praktiese teologiese opleiding suiwer deur internskappe en in-diens-opleiding plaasvind.

So sou die kerk voortaan beide teologiese diepte asook praktiese vernuf onder jong leiers bewerkstellig.

Daar was gevolglik groot opwinding toe dit besluit is, dat swart en bruin leiers, wie reeds jare in posisies van verantwoordelikheid staan, maar nie voorheen die voordeel van formele teologiese opleiding kon geniet nie, op die wyse bevorder sou word tot volwaardige leraars. Dit het veral die kerk tot nuwe passie verkwik in terme van die roeping van die kerk op die Afrika kontinent.

In 2030 het ‘n groep met die naam, “Aksie vir Gedenking”, opspraak gemaak toe dit die verkoop van die kerkgeboue op Wellington, Dundee, Brits en Ermelo wou teenstaan op grond daarvan dat die geboue as monumente verklaar moet word. Dit was nadat verskeie geboue geplunder of gesloop is na die verkoop daarvan. Die inisiatief het telkens nie geslaag nie.

Die NG Kerk van 2030 is aansienlik kleiner as ‘n dekade terug, en word as ‘n kompakte gemeenskap van getroue mense beskryf.

Scenario 3: Staan vas tot 2030

Nuusflits, 11 Desember 2030: “Die godvresende mense van Suid Afrika sal nie terugstaan in die aangesig van nasionale verval nie.” So het Dr. Willie Human, voormalige NG Kerk dominee en nuwe rektor van Solidariteit Universiteit aan die geselsprogram Aktueel gesê. Dit is nadat die instansie ‘n nuwe reeks studie opsies bekend gestel het, wat fokus op die ontwikkeling van etiese leierskap vir plaaslike en publieke bestuur.

Dié inisiatief is deur Afriforum in samewerking met ‘n koalisie van kerke op die been gebring, nadat die regering in 2027 ‘n hofsaak in die grondwet hof verloor het, in verband met die saamsmelting van verskeie provinsies. Die beleid, geskoei daarop om plaaslike regering landswyd te vereenvoudig en te verbeter, is gekritiseer deur opposisie partye as ‘n agenda om die nasionale verkiesing in 2028 vir die ANC te verseker.

Plaaslike gemeenskapsleiers in veral Limpopo, die Noordwes en Noord Kaap, asook kerkleiers in die gebiede, het teenstand gebied teen die idee, en beklemtoon dat die vermindering van provinsies, die vryheid van gemeenskappe tot self-beskikking, sal beperk. Alhoewel die NG Kerk self betrokkenheid by die saak vermy het, is daar na aanleiding daarvan deur amptenare van die kerk besluit om verligting te help bring aan die onderliggende probleme soos werkloosheid en armoede wat menigte gemeenskappe laat swaarkry.

Hierdie besluit was in voeling met die oorweldigende ondersteuning vir ‘n “missionale spiritualiteit” in die kerk. ‘n Nuwe passie vir uitreik is byvoorbeeld onder jongmense in die kerk beleef toe die Nasionale Aksie vir Barmhartigheid en Ontwikkeling (NA-BO) vanuit ‘n vrywillige jeug aksie ontstaan het.

‘n Jong Ds. Juanita van Staden aan die Universiteit van Pretoria, wie se skripsie benoem is, Na ‘n Praktiese Teologie in ‘n Post-Kapitalistiese Eeu, het gevind dat daar ‘n noemenswaardige skuif onder Christen-sakeleiers aan die gang is. Volgens haar studie is dit bevind dat “betekenisvolle verandering aan mense se omgewing” vandag as “‘n vorm van opbrengs op kapitaal en vernuf beskou word”.

So ‘n skuif is ook duidelik sigbaar binne die kerk, deur byvoorbeeld ‘n beweging onder boere en sakeleiers, wat na verwys word as, “Bou Sy Nasie, Bou Sy Kerk”, waardeur daar in verskeie sektore sogenaamde sociale-entreneurskap beoefen word. As gevolg van hierdie beweging, word verskeie NG Kerk geboue weekliks beskikbaar gestel aan projekleiers vanuit die gemeenskap, wie bedieninge onder weeskinders, skoolverlaters en ander behoeftiges bestuur. So ontdek die kerk ‘n nuwe rol as ‘n netwerk van gemeenskapsentrums waar Christus as hoeksteen tot sosiale ontwikkeling dien.

Dr. Willie Human skryf in die Rapport, “daar is nie ‘n kortpad na vrede en voorspoed nie… volharding en moue oprol lê as grondslag vir ‘n waardige toekomsvisie.”

Aanhangsel: Sewe sleutel moontlikhede wat die toekoms van die NG Kerk kan bepaal

Inleiding

Die NG Kerk staan voor ’n kruispad. Belangrike besluite wat geneem sal word, in terme van die kerk se hantering van:

  • interne sake
  • identiteit en kultuur
  • leierskap en leraars
  • die kerk se institusionele vorm
  • teologiese oriëntering
  • publieke getuienis en roeping

binne die konteks van Suid Afrika in die dekade wat voorlê, sal die kerk op ’n koers plaas wat heel waarskynlik haar toekomstige lewensvatbaarheid en relevansie sal bepaal.

Elkeen van die tendense wat hieronder bespreek word, het belangrike moontlikhede tot gevolg en bring die kerk te staan voor verskeie keuses. Die keuses daag die kerk dus uit om biddend na te dink en daarop te reageer, met die wete dat die lewende Here self sy kerk in stand hou.

Tendense

1. Hantering van interne teologiese en kerk ordelike sake

Die NG Kerk se interne sake, en veral die hantering daarvan, het ’n gevoel van “angstigheid” en “moegheid” by sommige lidmate gelaat. Daar word spesifiek gevra of debatvoering oor byvoorbeeld teologiese verskille, geslag en seksuele oriëntering of diversiteit, relevant is vir die meerderheid van die kerk se lidmate is?

Dié sake het gelei tot klowe tussen verskeie groepe in die kerk, en het ook die kerk se publieke beeld skade aangedoen. Hierdie gebeure het sommige lidmate kwaad gemaak en laat bespiegel oor die besluite wat namens hulle geneem word. Sulke debatte word deur sommige lidmate as ’n luuksheid beskou, terwyl dit ten koste van die kerk se eenheid, welstand en algehele roeping plaasvind.

Moontlikheid 1: Sal die NG Kerk ’n proses en kapasiteit kan ontwikkel om die uiteenlopende standpunte en posisies van groepe binne die kerk te hanteer en te akkommodeer, terwyl dit terselfdertyd die kerk se eenheid behou en op haar roeping fokus? Hoe handhaaf die kerk die balans tussen aanbidding, die vreugde van die Evangelie, en die taak van onderskeiding?

2. Die “verlede”, identiteit en kultuur

Die NG Kerk se rol in die geskiedenis van Suid Afrika hang steeds vir sommige lidmate soos ’n skaduwee oor die kerk se huidige self verstaan. Dit beïnvloed die kerk se vrymoedigheid negatief. Vrae rondom die toekomstige demografie van die kerk, die gebruik van Afrikaans as die voertaal en die gevolglike voortbestaan van die kerk as “wit” / Westerse kerk, vorm ook deel van hoe die kerk die verlede met die toekoms versoen, en haar identiteit en roeping beskou.

Moontlikheid 2: Sal die NG Kerk ’n nuwe begrip en narratief oor haar verlede kan formuleer en daardeur haar identiteit herontdek, in ’n gestalte wat hoop bring in die Suid-Afrikaanse konteks? Wat is die rol van vergifnis en vryspraak in die proses, veral in die lig van die Gereformeerde tradisie?

3. Leraars en leierskap

‘n Sterk gevoel bestaan dat leiers in baie gevalle vasgevang is in ’n veeleisende rol van diens aan die gemeente, terwyl hulleself ondersteuning nodig het. Daar kan opwindende en positiewe stappe in die verband geneem word, soos die bemagtiging van jong predikante en vroue in leierskapposisies en dat ’n nuwe benadering tot leierskap vorming ontwikkel word.

Daardeur sou sogenaamde “kwesbare” of toeganklike leiers ontwikkel moet word, wat ook die sogenaamde “veeleisende kant van die bediening” verstaan en kan verwerk, en wat sterk netwerk-bouers is, terwyl die koste van die toekomstige leierskap model ondermeer in ag geneem word.

Moontlikheid 3: Sal die NG Kerk se huidige model en begrip van leierskap ruimte kan skep sodat die nodige vernuwing van die kerk bewerkstellig word, en hoe is die ontwikkeling van leierskap self, verwant aan die behoefte vir ’n breedvoerige verandering van die kerk?

4. Institusionele vorm

Die NG Kerk bevind dalende tendense, beide in terme van lidmaatgetalle asook finansiële bronne. Jonger mense kan binne die ruimte uitgesluit voel. In sommige gevalle ontwikkel daar ook ’n groter gaping tussen ryker en armer gemeentes. Dit vind plaas teen die agtergrond van ’n geskiedenis waarin die kerk “groot” en “sterk” was en dus ’n mate van outokratiese en burokratiese denke binne die kerk kon handhaaf.

Hierdie geskiedenis het ‘n bepaalde styl en institusionele vorm tot gevolg gehad, en beïnvloed op die beurt, die wyse waarop die kerk te werk gaan in verhoudinge tussen onder andere gemeentes, deur middel van die sinodes en met ander kerke en godsdiens netwerke, asook deur middel van die kanale van sosiale media en die digitale kultuur.

Moontlikheid 4: Sal die huidige institusionele vorm en werkswyse getransformeer kan word om die NG Kerk effektief in die toekoms te dien, en laat dit toe vir die vlakke van inklusiwiteit en aanpasbaarheid wat waarskynlik benodig sal word? Sal jongmense deel van die nuwe vorm kan wees?

5. Teologiese oriëntering

Terwyl daar steeds ’n sterk gevoel van gereformeerdheid en skrifgebondenheid binne die NG Kerk bestaan, is dit duidelik dat daar diversiteit bestaan oor wat dit in die praktyk beteken. Daarom word ’n betekenisvolle heroorweging benodig, oor hoe die NG Kerk haar teologiese tradisie moet herdefinieer. Dit wil sê, die teologiese grondslag van die kerk moet behou word om duidelike en vaste beginsels daar te stel, terwyl daar ook ’n behoefte aan ‘n innoverende en kontemporêre benadering tot teologiese verstaan ontwikkel word. Dit lei ook tot die vraag, “benodig die kerk selfs ’n nuwe eietydse belydenis?”

Moontlikheid 5: Sal die NG Kerk die behoefte vir ’n teologiese benadering wat beide konsekwent en aanpasbaar is, in ’n tyd van kontemporêre uitdagings kan ontwikkel? Kan dit gedoen word op ’n wyse wat verdieping en volharding te midde van diversiteit, eerder as ‘n gevoel van vervreemding onder lidmate veroorsaak, en sodoende as ‘n bate beskou word?

6. Publieke getuienis en roeping

Die voorafgaande dra by tot die NG Kerk se belewenis en bestuur van haar publieke getuienis en roeping.

Terwyl die kerk deur interne uitdagings uitgedaag word en daarmee bemoei is, fokus die kerk dus inwaarts, en sake in die wyer gemeenskap en konteks word sodoende sekondêr. Daarmee saam, in ’n ontmoedigende omgewing waar ’n houding van postinstitutionalisme en post-formalisme meer aantreklik word, ondermyn dit die roepings gerigtheid en passie van die kerk.

Die kerk se identiteit en roeping word as minder helder ervaar, terwyl daar ’n groeiende behoefte onder lidmate en in die samelewing is aan geloofwaardigheid. Dit daag die kerk uit om opnuut te soek na maniere om meer relevant te word in haar verhouding met en die sorg vir die gemeenskap.

Daar ontstaan sodoende ’n behoefte aan ’n herbesinning van die kerk se roeping, wat die herontdekking van geestelike verdieping komplementeer met ’n spiritualiteit wat ’n praktiese verskil in die wêreld om die kerk maak. So ’n roeping sou daarop gerig wees om die “pyn van die wêreld aan te spreek” deur byvoorbeeld die uitdagings van armoede, gemeenskapsontwikkeling, die algemene verval van moraliteit en korrupsie te konfronteer.

Moontlikheid 6: Sal die NG Kerk vanuit die onsekerheid en verandering in die konteks van die gemeenskappe waarin die kerk bestaan, ’n nuwe roeping ontdek wat onder andere tot ‘n betekenisvolle getuienis in die publieke ruimte lei, en daardeur geloofwaardig teenwoordig wees?

7. Konteks van nood en onsekerheid

Die nasionale konteks waarin die NG Kerk haar bevind kan as riskant en uitdagend beskryf word, met hoë vlakke van misdaad, armoede, werkloosheid en frustrasie in die gemeenskappe, bestaan die kerk as ’n sogenaamde “1ste wêreld kerk in ’n 3rde wêreld land”.

Terwyl sommige lidmate oortuig is dat die kerk gefokus behoort te wees op die “koms van die Koninkryk van God in SA”, deur haar roeping uit te leef in ’n vorm van missionaliteit, is ander lidmate besorg is oor hoe die kerk in die toekoms aan die behoeftes van haar eie lidmate kan voorsien.

Tendense dui daarop dat werkloosheid en identiteitspolitiek, te midde van groeiende individualisme en ongelykheid, sal toeneem en vererger tensy grootskaalse verandering plaasvind. Die onvermoë van die regering om effektiewe uitkomste in byvoorbeeld die onderwysstelsel te verseker, beteken ook dat groot gedeeltes van die land se mense onbemagtig sal bly. Die hoë vlakke van verstedeliking waarmee hierdie sosiale tendense gepaardgaan, tesame met ’n stagnerende ekonomie, sal waarskynlik tot groeiende populisme lei en die groei daarvan in die marges van die politieke spektrum vermeerder, wat ook meer ekstreme standpunte tot gevolg sal hê.

Dit beteken onder andere dat bekwame jongmense waarskynlik onseker sal bly voel oor hulle toekomsgeleenthede in Suid Afrika, veral as beleid onsekerheid oor byvoorbeeld grondhervorming voortduur.

Moontlikheid 7: Hoe sal die NG Kerk reageer sou die ekonomie, sosiale en politieke tendense verbeter, en daarteenoor, sou dit vererger? Hoe sal die kerk haar toekomstige rol in Suid Afrika, en dus in Afrika, bepaal? Wat is die implikasies daarvan op die verhouding van die kerk met die wêreldwye familie van NG Kerke?

Die voorafgaande tendense en onsekerhede het ‘n vormende effek op mekaar. Byvoorbeeld, sou die NG Kerk die nodige teologiese en leierskapsveranderinge ondergaan, maar nie institusioneel aanpas nie, is dit waarskynlik dat die algehele impak beperk sal wees. So ook, sou die kerk ‘n relevante roeping en nuwe identiteit formuleer in die konteks van Suid Afrika se toekoms, maar nie die nodige teologiese en leierskapsvorming ondergaan nie, sal die roeping heel waarskynlik onvervul bly.

Vanuit die scenario proses wat aandag gee aan hierdie tendense en moontlikhede, ontstaan die vrae nou:

1. In orde van belangrikheid, watter tendense of moontlikhede sal na u mening die grootste impak op die toekoms van die NG Kerk hê? (dui aan van 1-7)

2. Watter tendense of onsekerhede is na u mening die onsekerste, en watter minder onseker? (dui aan van 1-7)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui