Die volgende artikel het oorspronklik in Volksblad verskyn.
*********
Drie soorte besware teen Belhar-belydenis
Gert Coetzee
2002/04/19
DAAR is baie gedagtes in die Belhar-belydenis waarmee Christene nie anders kan as om saam te stem nie. Maar ’n noukeurige vergelyking tussen “ons” Drie Formuliere van Eenheid en Belhar, bring verskille aan die lig, het prof. Sybrand Strauss, hoof van die Universiteit van die Vrystaat se departement dogmatologie, in 1999 in “‘n teologiese beoordeling van die Belhar-belydenis” aan die Vrystaatse sinode van die NG Kerk gesê. Dié beoordeling se standpunte geld steeds die Vrystaatse NG Kerk. GERT COETZEE het dit na aanleiding van verlede week se oproep deur dr. Frits Gaum tot die NG Kerk se aanvaarding van die Belhar-belydenis verwerk.
DIE “onvoorwaardelike aanvaarding” van die Belhar-belydenis as “ononderhandelbare vereiste” vir die voortgang van die gesprek oor kerkeenheid en die uiteindelike totstandkoming van ’n moontlike verenigde kerk openbaar die Verenigende Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika (VGKSA) se diepste oortuiging.
Die Belhar-belydenis is vir die VGKSA nie net ’n kerklike beleidsdokument nie, maar word met die grootste moontlike erns as ’n egte beleidsdokument bedoel – iets waarby die kerk moet staan of val. Rondom die Belhar-belydenis sal die weë dus skei. Of ’n mens vereenselwig jou heelhartig daarmee, óf jy weier op beginselgronde om dit te steun. ’n Derde neutrale moontlikheid bestaan klaarblyklik nie, het Strauss sy destydse beoordeling ingelui.
Hy meld dan dat die sinode van die Vrystaatse NG Kerk vroeër besluit het dat hy in beginsel en onder sekere voorwaardes ten gunste is van die vorming van ’n nuwe kerkverband vir die hele familie van NG Kerke, wat in ’n verenigde algemene sinode kan saamkom.
“Daarby is egter uitdruklik gesê dat ‘die Drie Formuliere van Eenheid as belydenisgrondslag’ van die nuwe kerkverband moet dien. Pleks van Belhar, ‘onaanvaarbaar as vierde belydenisskrif’, kan die voorgestelde verenigde algemene sinode ‘desverkiesend ’n nuwe gemeenskaplike geloofsgetuienis’ opstel.”
Vervolgens het Strauss daarna verwys dat die algemene sinode van 1998:
- “op grond van kommentaar van lidmate en kerkvergaderings” tot die slotsom gekom het dat Belhar “nie op die oomblik as vierde belydenisskrif in die NG Kerk” aanbeveel kan word nie;
- ter wille van die eenheidsproses in die NG Kerkfamilie en “sy getuienis” egter besluit het om die wesenlike inhoud van Belhar te aanvaar. (Hierdie inhoud is deur sommige so uitgelê dat die sinode daarmee bedoel dat die temas van Belhar, naamlik kerkeenheid, versoening, geregtigheid en gehoorsaamheid, aanneemlik is.);
- egter nie bereid was om te sê dat hy hierdie wesenlike inhoud aanvaar omdat dit met die Bybel ooreenstem nie;
- oënskynlik teenstrydig hiermee wel besluit het dat Belhar “op sigself genome” nie met die Drie Formuliere van Eenheid in stryd is nie.
Luidens Strauss se beoordeling word “uiteraard” soms baie positief oor die Belhar-belydenis geoordeel, onder meer vanweë “sy eenvoud en doksologiese styl, akkurate en vloeiende woordgebruik, noue aansluiting by die Skrif en die tradisionele belydenisskrifte en so meer”.
Die eintlike vraag is hoe dit gebeur het dat dié belydenis, wat oorspronklik bedoel was om “nie valse struikelblokke” in die weg te lê en daardeur “valse verdeling” te veroorsaak en bevorder nie, “dog versoenend en verenigend” te wees, (toe) so ’n twisappel geword het.
Wat is die redes waarom geen ander kerklike vergadering (tot toé nog) bereid was om Belhar sonder meer te aanvaar nie – nóg die Gereformeerde Ekumeniese Raad, nóg enigeen van die 11 (streek-)sinodes in die NG Kerk, nóg die Reformed Church of Africa onder die Indiërs, nóg die sowat 100 gemeentes van die NG Kerk in Afrika in die Vrystaat en Noord-Kaap wat weier om deel te word van die nuwe Verenigende Gereformeerde Kerk?
Drie soorte besware – kontekstueel, formeel en inhoudelik – word teen die Belhar-belydenis ingebring. Die histories kontekstuele besware spruit uit die omstandighede waarin die Belhar-belydenis meer as 20 jaar gelede ontstaan het, het Strauss aangevoer.
In 1978 tydens die sogenaamde church struggle het die sinode van die destydse NG Sendingkerk sterk besluite oor apartheid geneem.
In Augustus 1982 het die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke in Ottawa gesê dat “apartheid” sonde en die morele en teologiese regverdiging daarvan “kettery” is. Dr. Allan Boesak was die voorsitter van dié vergadering.
In Oktober 1982 het die sinode van die NG Sendingkerk in Belhar, Kaapstad, besluit dat die “sekulêre evangelie van apartheid” die Christelike belydenis sodanig bedreig dat dit vir die kerk in Suid-Afrika ’n “status confessionis” (‘n staat van belydenis) meebring.
Omdat apartheid niks anders as “kettery” en “afgodery” is nie, is die kerk verplig om in só ’n situasie opnuut sy geloof te bely. As uiting aan dié behoefte is die Belhar-belydenis opgestel, wat die sinode in 1986 finaal goedgekeur het.
“Hoewel die term ‘apartheid’ nêrens in die belydenis voorkom nie, is dit duidelik presies waaroor dit gaan.”
Min kerkmense, indien enige, het Strauss gesê, sal apartheid wil verdedig. Maar “sonde”, “kettery” en “afgodery” was dit nie.
“Vir so ’n simplistiese beoordeling was die hele situasie eenvoudig te ingewikkeld.”
Ander vrae van Strauss oor Belhar se historiese konteks was:
Kon só ’n skuldbelydenis (van die algemene sinode van die NGK oor apartheid) sonder meer met ’n geloofsbelydenis vereenselwig word?
Word ’n politieke beleidskwessie dan nie verhef tot die vlak van die Christelike belydenis nie?
Word alle ondersteuners van apartheid as sondaars, ketters en afgodsdienaars uit die ryk van God uitgesluit, en alle teenstanders daarvan salig gespreek?
Moet alle ideologiese teologie – ’n apartheids- en ’n anti-apartheidsteologie – nie liewer verwerp word nie?
Leen die Belhar-belydenis hom nie te maklik tot politieke misbruik nie?
Strauss het “formele besware” aangehaal, wat gaan oor die vereistes waaraan ’n belydenisskrif, op gereformeerde standpunt, moet voldoen om op erkenning aanspraak te maak.
Eerstens moet ’n belydenis skrifgefundeerd wees . . . Só ’n status word nie verwerf deur bloot Bybeltekse aan te haal nie. Die grondlyne daarvan moet met die van die evangelie van Christus saamval.
Ook moet ’n belydenis omvattend die katolieke, algemene Christelike geloof bely, sonder om noodwendig volledig en uitvoerig te wees. Só gee die Apostoliese Geloofsbelydenis se 12 kort artikels die hele inhoud van die Christelike geloof “trinitaries-histories” weer. Gemeet aan dié vereiste, skiet die Belhar-belydenis beslis tekort. . . Dit reduseer die geloof selektief tot enkele aktuele temas soos kerkeenheid, versoening en geregtigheid. . . Dit is ook ’n ongeldige argument dat Belhar aanvullend tot die bestaande belydenisskrifte (Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus, Dordtse Leerreëls) is, want dit veronderstel dat die bestaande konfessies onvolledig én onvoldoende is.
‘n Derde belangrike kenmerk van ’n Bybels verantwoordbare belydenis is dat dit universeel die geopenbaarde Christelike waarheid, soos dit alle tye en omstandighede geld, moet uitspreek. Die erkende belydenisse voldoen hieraan. . . Die Belhar-belydenis egter word so sterk deur die politieke en maatskaplike situasie van destyds gestempel dat dit tien jaar later reeds outyds geklink het . . . Van die omstandighede is beslis nie meer op die nuwe Suid-Afrika van na 1994 van toepassing nie. Wanneer ’n belydenis te sterk op ’n bepaalde situasie afgestem is, verloor dit gou sy aktualiteit. Daarteenoor bly die algemene waarheid van die Christelike geloof altyd aktueel.
“Miskien was dit juis omdat die Belhar-belydenis nie aan die formele vereistes vir ’n gereformeerde belydenis voldoen nie, dat ander kerke en vergaderings dit nog nie wou erken nie.”
Oor inhoudelike besware, het hy gesê, wys ’n noukeurige vergelyking tussen die Drie Formuliere en Belhar dat die aksente anders lê.”Omdat Belhar opsigtelik deur die kontemporêre teologie beïnvloed is, is daar rakende eenheid, versoening en geregtigheid deurgaans ’n sterk horisontale tendens aanwesig, met verwaarlosing van die vertikale dimensie. As aangevoer word dat die vertikale veronderstel word, is dit juis dié soort argument wat baie laat sê Belhar kom uit die destydse bevrydingsteologie.”
Strauss se slotsom was dat dit “onverantwoordelik” sou wees om Belhar gewoon te verwerp.
“As ons besware enigsins water hou, is dit minstens ons Christelike plig om dit aan ons broers en susters in die VGK voor te hou en hulle op te roep om, ter wille van die eenheid van die kerk in die waarheid van die Woord, hul Belhar-belydenis te laat vaar en na die Drie Formuliere van Eenheid terug te keer.
“Terselfdertyd mag ons ook nie op ’n konserwatistiese wyse net by bestaande belydenisse bly staan nie. Daar is immers altyd ’n gevaar van gemaklike konfessionalisme. Derhalwe is die besluit van die Vrystaatse sinode die moeite werd vir oorweging. Dit mag wees dat die Here ons juis in dié tyd en in dié land roep om opnuut die Christelike geloof vir veranderde omstandighede uit te spreek en te bely. Die ideaal van ’n eie Confessio Africana spreek ’n mens aan.
“Maar kan Belhar nie juis as ’n brug funksioneer wat ons moet oorsteek na die toekoms van gereformeerde kerk wees in Suid-Afrika nie? Nee. ‘Die NG Kerk het sy reis met apartheid voltooi. Hy het dié albatros eens en vir altyd van sy nek afgegooi’. (Reis met apartheid). Nou moet die kerk doelgerig opgebou word om tot eer van God diensbaar in die koninkryk te wees.”
Etlike jare gelede het daar n stemming in die NG kerk plaas gevind wat nooit bekend gemaak is nie oor die Belhar belydenis. Toendertyd tyd het die oorgrote meerderheid van lidmate daarteen besluit maar daar is toe ondemokraties besluit om die uitslag stil te hou.
Nou ja mense is nie onder kalkoene uitgebroei nie en so het talle die rug op die NG kerk gedraai en of na ander kerke gegaan of net dolerend geraak soos ek.
Brouwerk en knoeiwerk ter wille van politieke gedienstigheid werk nie ongeag watter teologiese sousie jy daaroor probeer gooi.
Hoekom aanvaar ons dit nie? Die smet van Boesak, veroordeelde misdadiger hang daaroor saam met erge politieke invloede.