Drie wyses: Waar is die hel?

Kyk ook:

Die drie “wyses”, Chris Jones, Jurie van den Heever en Louise du Toit het weer hulle siening gegee, hierdie keer oor die hel.

Die woorde “drie wyses” laat ’n mens dadelik dink aan Spreuke 9:10 : “Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig.”

Al drie hierdie “wyses” is van mening dat daar nie ’n hel bestaan nie. ’n Mens kan Jurie van den Heever en Louise du Toit nog verskoon: Jurie is ’n ateïs of hoogstens ’n agnos en Louise ’n politieke filosoof. Maar Chris Jones is ’n teoloog verbonde aan die NG Kerk.

Dit is skokkend dat hy wil beweer dat daar nie ’n hel is nie. So ’n siening maak die hele sendingopdrag tot niet.

Lesers word aangemoedig om Die Nuwe Testament oor redding te gaan lees en maar self te besluit wat die Bybel oor hierdie onderwerp sê.

**********

Drie wyses: Waar is die hel?

Sondag 07 Junie 2015 10:38

Die kunstenaar Nataniël het onlangs die tonge los gehad toe hy mense aangemoedig het om kerk toe te gaan deur te sê: “Jy gaan hel toe, gaan kerk toe.” Maar is daar ’n hel? vra ons drie wyses.

  1. Dr. Chris Jones
  2. Dr. Jurie van den Heever
  3. Prof. Louise du Toit

Die teoloog

Dis regtig moeilik om die gedagte dat massas mense vir ewig in die allerverskriklikste smarte sal deurbring, sinvol in verband met ’n God van liefde en genade te bring.

Daar is genoeg Bybelse gegewens om te kan sê dat daar nie ’n plek soos die hel is waarheen ongelowige mense gaan nie.

In die Ou Testament lees ons van die doderyk wat gesien is as ’n stikdonker land van doodse stilte. Sowel regverdiges as onregverdiges het hierheen gegaan.

Volgens die Nuwe Testament gaan goddeloses na die “hel” en gelowiges hemel toe. Die Nuwe Testament praat egter in metafore oor die hel waarvan die belangrikste is: vuur, brandende oond en diepste, buitenste duisternis.

Die woord “hel” het verwys na ’n dal buite Jerusalem. In die Ou Testamentiese tyd was daar onder meer kultusdiens verrig – dit het die slag en verbranding van kinders ingesluit. Later het hierdie dal die plek geword waar Jerusalem se onrein vullis en selfs misdadigers se lyke verbrand is. Hierdie vuur het onophoudelik gebrand/gesmeul, want daar was voortdurend goed gegooi wat moes uitbrand. Mense het later hierna verwys as ’n “ewige vuur”.

Jesus sluit aan by die Joodse teologie van sy tyd. Hierdie dal is vir Hom die beeld/metafoor van vernietiging en oordeel oor die goddelose. Volgens die Bybel gaan daar wel ’n oordeel wees, maar nie ’n ewige straf nie. Paulus verwys op net één plek (2 Tess. 1:9) na ’n “ewige verdoemenis” (wat sou dui op ewige straf), maar dis verkeerd vertaal. Hy het eintlik geskryf “ewige vernietiging”.

In die kerklewe en teologie van die eerste (en latere) eeue is hierdie beeld van ’n ewige vuur gestrek tot ’n letterlike hel waar God die ongelowiges sonder ophou sal straf. Só het dit in die leerstellinge/tradisie van die kerk ’n plek van ewige straf teenoor ewige lewe geword. – Dr. Chris Jones

Die paleontoloog

Die hel as fisieke eindbestemming vir sondaars beklee tradisioneel ’n prominente plek in ons kerkgeskiedenis. Die belofte van ewigdurende foltering in ’n vlammehel is immers ’n nuttige instrument om Christene se voete op die nou weg te hou.

Die Sumeriërs, Babiloniërs en Egiptenare het almal geglo ons gaan iewers elders heen ná ons aardse bestaan. In die Griekse en Hebreeuse tekste is daar egter nie so ’n plek soos die hel nie. Dit is in die Nuwe Testament ingeskryf en mense soos St. Augustinus, Thomas Aquinas en Dante het die konsep van ewigdurende foltering in ’n see van vlamme in ons gedagtewêreld gevestig.

Geologies maak die hel nie sin nie. Danksy die wetenskap verstaan ons die vormingsgeskiedenis, die samestelling en die funksionering van ons planeet redelik goed. Hiervolgens is dit duidelik dat daar nêrens plek vir die tradisionele hel bestaan nie.

Biologies kom die konsep hel ook nie die mas op nie. Met sterfte verval alle liggame tot die molekulêre vlak. Foltering maak gevolglik geen sin nie, want daar is niks wat pyn kan verduur nie. Siele kan ook nie gefolter word nie, aangesien dit wat ons “siel” noem in die ­Bybel bloot na iemand se persoonlikheid verwys.

Miskien moet ons ons persepsie van die hel van die ewige na die tydelike verskuif. Die alomteenwoordige probleem van lyding beteken dat miljoene mense die wêreld oor elk ’n persoonlike hel op aarde beleef. Dit is waarskynlik die hel waaraan die kerk meer aandag moet skenk.

Daarom is dit so verblydend dat Nelis Janse van Rensburg, nuutverkose moderator van die Wes- en Suid-Kaapse Sinode, in ’n onlangse radio-onderhoud ­verklaar het dat die kerk “nou totaal versoen is met wetenskaplike ontwikkeling”. Hopelik sal die eentonige bespiegeling oor ’n fiktiewe hel in die teologiese gesprek nou plek maak vir onderwerpe wat regtig saak maak. – Dr. Jurie van den Heever

Die filosoof

Plato (427-347 v.C.) redeneer in sy Die Republiek dat die regverdige mens ook die gelukkigste lewe lei. Behalwe daarvoor, is daar vir Plato ook ewigheids­redes om moreel te lewe, want ons siele is volgens hom onsterflik.

Hy vertel die fassinerende verhaal van Er wat ná tien dae uit die dood terugkeer en vertel dat die onsterflike siele ná die dood voor regters te staan kom. Die morele siele word in die lug op gestuur in ’n soort tonnel in, en die onregverdiges onder die grond in. Ander siele keer terug vanuit die tonnels. Er verneem toe elke siel bly ’n duisend jaar lank weg – tien keer so lank soos ’n aardse lewe.

Jy word dan in die “hemel” of “hel” in hierdie tydperk tienvoudig vergoed of gestraf vir wat jy in jou lewe gedoen het. Wat jy op aarde gedoen het, word hier aan jou gedoen. Hierna beweeg jy deur die Styx en vergeet jou ervarings, maar hopelik het die siel iets geleer in die proses, want hierna kies jy jou volgende aardse lewe.

Die godsdiensfilosoof Theo de Wit sê deur die eeue herhaal Westerse filosowe en ook die Christendom Plato se idee van die politieke nut van ’n burgery wat glo aan hemel en hel, met God as finale regter oor mense en volke. Dalk is slegs die ewige helse straf waartydens die siel ná die dood smag, ’n sterk genoeg dreigement om mense van moord te weerhou. Geloof in die hel neem tans drasties af onder Christene wêreldwyd.

Die filosoof Hannah Arendt vra tereg: Wat gebeur met die mens wanneer geloof in die hel verdwyn? Haar antwoord: Ons skep ’n aardse hel, ons word self God die onbegrensde en God die regter. Ons sekulariseer die hel deur konsentrasiekampe, atoombomme, terreur, ekologiese vernietiging, skreiende onreg en uiterste armoede. – Prof. Louise du Toit

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui