Kyk ook:
- Satanis by Tuks kap Ernst Roets oor ‘giftige rasteorie’ (30 Mrt 2025)
- UP stel hulle kurrikulum transformasie bekend (18 Aug 2021)
Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
Drukkersduiwel: Rapport soek sensasie met satanis-opskrif | Rapport
Christo Lombaard
Rapport, 6 April 2025
Die media is die wasbalie van die samelewing, maar soms maak hy meer vuil as skoon, skryf prof. Christo Lombaard.
Willem de Klerk, voormalige Rapport-redakteur en later professor in kommunikasiekunde aan die Universiteit van Johannesburg, waar ek ’n meestersgraad in die joernalistiek onder sy leiding geskryf het, het ’n paar interessante metafore oor die pers gehad.
Een daarvan was dat koerante die wasbalie van die samelewing is: Hulle vertel ons nie net wat aangaan nie, maar ook wat verkeerd gaan. En was, so, skoon.
In Suid-Afrika is die pers lank reeds een van die mees positiewe invloede tot ons behoud, in ’n land waar te veel te dikwels te verkeerd loop.
Vandaar ook dat sensasienuus in ’n koerant soos Rapport – wat nie goed pas binne die geel pers (oftewel platvloerse formaat van die joernalistiek) nie – soms meer op die voorgrond tree as wat ’n mens eintlik sou verwag. Ons bollemakiesieland vereis dit.
Kenmerkend van so ’n soort koerant is dat skok-opskrifte (of in vaktaal, die koppe van berigte) se doel word om lesers se aandag te trek: “Hiérvan wil ’n mens mos meer weet!”
Binne joernalistieke kringe, maar nie aldag daarbuite nie, is dit bekend dat ’n opskrif/kop dikwels nie deur die betrokke berigskrywer bepaal word nie.
Ek kan wel ’n opskrif aan my nuusitem gee, maar veral die subredakteur het die finale hand, waarvoor nuuswaardigheid, taalkuns of soms ’n lekker kwinkslag die deurslag gee.
Nuuswaardigheid is geen verhewe norm nie; dis waargenome gemeenskapsbelang en -belangstelling deur die ingeligte subredakteur, aan die hand van koerantbeleid, die spreekwoordelike neus vir nuus en, ewe positief, persoonlike voorkeure.
In ag genome die hoë druk wat die persbedryf kenmerk, is daar nie altyd die gerief van tyd om alte versigtig ’n opskrif te bedink nie.
Soms loop dinge daarom nie reg nie en so is daar voorbeelde uit die persgeskiedenis hoe opskrifte, óf humoristies óf misleidend, onbedoeld die inhoud van ’n berig verdraaid weergee.
Ek vermoed dis laasgenoemde wat in Johan Eybers se Netwerk24-berig, “Satanis by Tuks kap Ernst Roets oor ‘giftige rasteorie’ ”, gebeur het.
Die opskrif wek die eerste-oogopslag-indruk, maar hier het ons ’n duiwelaanbidder wat by die Universiteit van Pretoria werk. Die openingsin van die berig lei daardie indruk ’n stap verder: Hierdie satanis werk by die fakulteit teologie!
In ag genome die laaste paar jaar se onbeholpe verdagmakery, in sekere kringe, van hierdie fakulteit, kan ’n mens raai dat die onderliggende nuuswaardigheidsin hier iets kon wees soos: “Aha! Die plek waar dominees, nogal, opgelei word, het jou werklikwaar ’n duiwelaanbidder in diens!”
Hierdie onderliggende “maar-sien-jy-nou-net!”-nuuswaardigheidsinspeling word nie prontuit in die berig gestel nie, maar sterk geïmpliseer.
En sinspeling tel onder die kragtigste vorme van betekenisgewing: Dit skep ’n sentrale verstaanskonteks. Dit bepaal indrukke.
Natuurlik word dit effens later in die berig verduidelik dat amper-doktor Kapp ’n “navorsingsmedewerker” is van die departement godsdiensstudies.
Kapp was naamlik die laaste paar jaar ’n doktorale student in hierdie vakgebied, waarin alle nagraadse studente vanselfsprekend ’n “navorsingsmedewerker” is. Hoe dan anders? ’n Doktorale kandidaat is uiteraard ’n navorsingstudent.
Is amper-doktor Kapp (sy gradeplegtigheid vind later vanjaar plaas) egter ’n personeellid van die fakulteit teologie? Nee. Van die UP? Nee. Trek hy ’n UP-salaris? Nee. Gee hy klas aan die UP? Nee. Praat hy namens hierdie fakulteit en/of universiteit? Nee, nie in sy standpunt oor Ernst Roets of oor enige ander saak, geestelik of beestelik, nie.
Nou hoekom dan hierdie soort teendeel-insinuasies in die opskrif en die openingsfrase van die berig? Dalk maar een van daardie gevalle waar nuussin en berig-opskrif nie na wens was nie.
Die gevolg is ’n wanvoorstelling – soos wat dit ook gou en goed aangedui is op die “Tristán Kapp”-Facebook-blad. Bedoeld of per abuis dra die Eybers-berig die werklikheid darem regtig nie mooi regverdig oor nie.
Anders gestel: Die berig-opskrif en, deels, die inhoud, staan nie in die beste tradisie en praktyk van Rapport nie. Die gefabriseerde implikasie dat die joernalistieke wasbalie darem nou hier ’n nes aan’t skoonmaak is, is gewoon vals. En sulke werklikheidsverwringing berokken onverdiende skade – aan die reputasie en uitmuntende dienswerk wat sowel die UP as die fakulteit teologie lewer.
Hiervoor is myns insiens die UP en fakulteit ’n verskoning deur Netwerk24 aangewese.
A tot Z van gelowe word bekyk
Ter wille daarvan om moontlike aantygings te ondervang, dat bostaande dele van die inhoud van die Eybers-berig omseil, drie verdere sake:
• Die gesprek tussen menere Kapp en Roets is hul saak. Menings daaroor verskil binne die UP in den breë en onder die teoloë. Soos dit hoort. Persoonlik verwerp ek alle vorme van rassisme sterk. Daarom het ek ook waardering vir Solidariteit, oor hoe hy my as vakbondlid knap bygestaan het by ’n vorige werkgewer, waar ek weens my ras amper kwaad aangedoen is.
• In vele konfessionele fakulteite van teologie (die UP s’n is Gereformeerd in karakter en ekumenies in die uitlewing van hierdie grondig-Calvinistiese erfenis) word ander godsdienste bestudeer, al is die verre oorwig van die fakulteit se leerinhoude eksplisiet Christelik. Godsdiensstudies (soms genoem godsdienskunde, godsdienswetenskap of religiestudies, en soms geplaas binne die geesteswetenskappe-fakulteit) behels die studie van ander gelowe – van die A vir ateïsme tot die Z van zen. Waarom? Want dis ooglopend deel van ons menslike werklikheid. En aan ’n universiteit word elke aspek van ons werklikheid bestudeer. Só dien ons die kerk (nota bene), die wetenskap en die breë gemeenskap.
Intellektueel verwoord: Wat sal ons dan nou nie ondersoek nie?
Teologies verwoord: Wat val dan nou nie onder God se lig nie?
Veral binne so ’n departement, dus, vors ’n Christen byvoorbeeld die Khoi-San-gelowe na. Eweneens, ’n Boeddhis, ons as Christene. ’n Jood, die Jodedom en ’n Hindoe, die Hindoeïsme.
Dat, in dié geval, ’n satanis ’n eksplisiet Christelike fakulteit kon kies om ’n wetenskaplike studieprojek te onderneem, getuig boekdele van die volwasse gelowigheid binne so ’n fakulteit. En van juis ’n departement godsdiensstudies. Almal voel veilig hier vir navorsingsdoeleindes. Al weet almal goed dat ons gelowiges en kerkmense is. Is dit nie Jesus se gelykenis van die barmhartige Samaritaan, in huidige aksie, nie?
• Dat geloof, die Christendom of ’n fakulteit teologie in die nuus is, is geensins negatief nie. Suid-Afrika se bevolking is 85% (en groeiend) Christelik; 85% (en groeiend) van die wêreldbevolking hang ’n geloof aan. Dis meer mense as wat byvoorbeeld sport aanhang. Om nie oor hierdie geloofswerklikheid in die pers te berig nie, sou almal ’n onguns bewys.
As dinge verkeerd loop, wat sekerlik gebeur, is ek maar te dankbaar vir die pers. Dan werk die wasbalie.
Die wasbalie moet skoonmaak. Nie vuilsmeer nie.
• Vir lesers wat meer oor die tema wil weet of wat hulself as bedreigd beleef deur die bose, beveel ek graag hierdie boek aan: Satan ontbloot! ’n Bybelse perspektief op wie die duiwel werklik is, onder redaksie van Stephan Joubert en Jan van der Watt (1993, uitgegee deur CUM).
• Lombaard is professor en hoof van die departement praktiese teologie en sendingwetenskap in die fakulteit teologie aan die Universiteit van Pretoria. Sy doktorsgrade is in die kommunikasiekunde en in die teologie. Hy skryf hier in sy persoonlike hoedanigheid.
Kommentaar
xxx