Dubois du Toit gesels met Nelus Niemandt oor missiologie

 Dubois du Toit het die volgende onderhoud met Nelus Niemandt gevoer.

Dit was na aanleiding van Nelus se aanbieding by ‘n konferensie van Akademia:

Nelus Niemandt het homself reeds in die verlede baie duidelik bewys as ‘n postmodernis (kyk Nelus Niemandt). Daarom het ek met ‘n kritieke oor geluister wat hy gesê het in hierdie onderhoud.

Omdat ‘n mens sy agtergrond ken, was daar ‘n paar dinge wat sy liberale teologie weer bevestig het.

Ek het ‘n paar dele uit die onderhoud getranskribeer en kommentaar gelewer.

*******

14:09 Wat is die verskil tussen missionaal en missionêr?

Missionêr: sendingbeweging van 19de eeu. Sending vanuit ‘n posisie van mag. Ons vat Jesus na Afrika.

Missionaal: Deelname van God se sending. God is alreeds daar werksaam.

27:00 Watter kerklike verandering wil missionale teologie bewerk? Inhoud/verpakking

30:24 Dubois: Die verandering waarvan die Wêreldraad van Kerke praat is ‘n verandering in die verpakking van die Evangelie. Dit is soseer ‘n verandering van die inhoud en interpretasie van die inhoud nie.

Nelus: Dit is ‘n goeie punt, maar teologie was nog nooit staties nie. Dit is wat dit so fantasies maak. Hoe meer ek my verdiep in teologie, hoe lekkerder is dit, want ek kom agter daar is net nuwe insigte wat oopgaan. Ons hoef nie ons teologie vas te vries by Calvyn in die 16de eeu nie. Ons is verby dit. Maar ons vat dit saam vorentoe.

[Kommentaar: Hierdie stelling laat rooi vlae opgaan. Natuurlik kry mens nuwe insigte soos ‘n mens die Bybel bestudeer, maar liberale teologie het gewys dat hierdie nuwe insigte soms buite die Bybel strek.]

32:45 Dubois: Argument oor konstantes and veranderlikes. Prof het tydens die konferensie gesê dat ‘n ding nie oewerloos is nie – daar is ‘n raamwerk waarin hierdie dinge plaasvind.

33:00 Nelus: Dit is die hart van my vakgebied. Daar is baie boeke oor hierdie onderwerp: “Constants in context”. Afrikateoloë moet sin maak van die boodskap wat nou hier aangekom het [deur sendingwerk]. Hulle sal sê: Hierdie God van wie julle praat, ons het hom nie heeltemal geken soos wat julle ons vertel nie, maar ons het hom geken. Maar noudat julle vir ons die volle storie vertel, nou kan ons dit omhels, maar op ‘n manier wat uniek en eie is in Afrika. So word dit ‘n inheemse, lewende teologie. Dus is daar konstantes en konteksualiteit.

[Kommentaar: Het mense wat nog nooit van God gehoor het nie, werklik God geken?

Romeine 2:14-16 praat van heidene wat die wet nakom wat “bewys dat die eise van die wet in hulle harte geskrywe staan”. Wat gebeur met hierdie mense as hulle sou sterf? Paulus sê: “Dit sal aan die lig kom op die dag wanneer God … die mense sal oordeel…”

Paulus sê egter ook in Romeine 10:14: “En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie?”

Ons kan nie sê dat Afrikane God geken het omdat hulle god(e) ooreenkomste met die God van die Bybel het nie.]

36:21 Hoe bepaal missioloë die veranderlikes en die konstantes?

Eerste: Ons is ‘n belydeniskerk, dus die belydenisskrifte (alhoewel die belydenisskrifte nie ewige waarhede is nie).

39:05: Tweede: Jy staan nie op jou eie nie. Jy moet jouself onderwerp om die waarheid te soek saam met ander gelowiges.

39:29 Wat is missionale hermeneutiek?

40:10 Nelus: Een van die grondbeginsels van missionale hermeneutiek is om te verstaan dat die Bybel nie geskryf is soos geskrifte van ander godsdienste as ‘n soort van ‘n boek wat uit die hemel uit geval het nie, maar dat dit ‘n geskenk van God aan die kerk is wat iets verwoord van die reaksie van mense wat onder die indruk van God se genade en vreugde van verlossing gekom het.

Toe die mondelinge tradisie aanhou en aanhou oorvertel word weet ons mos nou dat na die Christus gebeure, 30 en 40 en 60 en 100 jaar later het mense in die vroeë kerk dit op verskillende maniere te boek gestel en het ons nou die kanon gekry wat ons nou as ons gesagvolle Bybel aanvaar.

[Kommentaar: 60 en 100 jaar later? Al vier die evangelies is hoogs waarskynlik voor 70 nC geskryf, wat minder as 40 jaar is na die gebeure. Nie een van die Evangelies vertel iets van die tempel wat in 70 nC vernietig is nie. Handeling is baie duidelik deur Lukas geskryf amper as ‘n dagboek. Al die briewe en  Openbaring is vanselfsprekend geskryf deur die outeurs self. Kyk Wanneer is die Nuwe Testament geskryf?]

42:30 Die sleutel van missionale hermeutiek is Jesus Christus.

43:12 Ons lees dus die Bybel as ‘n boek of geskrifte wat vir ons iets wil vertel. Dit is die storie van versoening in Jesus Christus. Dit is nie net ‘n gedateerde historiese dokument wat ingebed is in die kultuur en wêreldgeskiedenis van 2000 jaar terug nie. Daar is ‘n missionale intensie in dit.

44:14 Kennis oor God van buite myself of van binne myself?

Charles Taylor: Geloof is nie net iets wat in ons koppe leef nie, maar ook in ons harte.

Missionale spiritualiteit waardeer die inkarnasie [Jesus, wat God is, wat mens geword het], die aardse en alledaagse. Buitengewoon bewus dat die liefdevolle God ons gewone lewe omhels. Spiritualiteit van die alledaagse.

Een van die groot invloede van missionale teologie is Karl Barth. God het homself aan ons geopenbaar.

48:20 Dubois: Waar is die lokus tussen Goddelike en menslike kennis? Waar ‘n onderskeid gemaak word tussen kerk as institusie en kerk as sending, staan sending eerste en institusie in diens van sending. Tussen die teologie van bo en teologie van onder, staan die teologie van bo altyd eerste eerste. Dit is sodat die konteks nie weghardloop van die teologie nie.

Nelus: Mens hoef dit ook nie net teenoor mekaar te staan nie. Mens kan dit ook vanuit missiodeidenke sê dat God reeds teenwoordig is. Dat die Skrif ons ‘n lens of ‘n bril gee om te eien dat God werk. Ek is bietjie versigting vir ‘n radikale natuur-genade-onderskeid. Goeie gereformeerdes is mos nou juis mense wat sê dat God in elke duimbreedte van die wêreld alreeds aan die werk is. En dit behoort alles aan sy koninkryk. Die gids wat ons lei, die bril wat ons opsit is die Woord van die Here.

50:21 Sending as potplant-aflewer of saad saai? Is elke konteks goeie grond?

Nelus: Die hele wêreld is die teater waarin God werk.

53:00 Nelus: Hoe voorkom jy sinkretisme?

Nelus: Jy sal altyd weer terugkom na die konstante. Daar is iets unieks aan die Evangelie. Ons is nie skaam om onbevange die goeie nuus van Jesus Christus te gaan verduidelik nie.

1:00:15 As ons saamstem hoekom is daar vasgelooptheid?

Dubois: As die kerk ‘n kontrakkulturele taak het, hoekom is daar so ‘n onoorkombare vasgelooptheid in die kerk?

Nelus: Ons moet sag wees met mekaar. Dit is nie so nuut nie. Daar is oor die 150 dinge waaroor Christene verskil. Dit is dieselfde Christene wat in dieselfde Jesus glo. Party verskil oor die besnydenis en ander oor klein of groot doop en vroue of nie vroue [vroue in die amp], of baard dra of hoed dra, en so gaan die lys aan tot in ad infinito. En dan kry jy mense wat oor die goeters wat eintlik op die rand is, ‘n sentrale punt van die geloof maak en kerke skeur.

[Kommentaar: Hierdie argument is ‘n voorbeeld van aas en omskakel: Nelus noem ‘n lys van randkwessies waaroor Christene met mekaar verskil en daarmee wil hy die indruk gee dat alle verskille op dieselfde vlak is.]

Jou vraag herinner ons daaroor dat ons moet nederig word oor die plek van waar ons kom. Mens het gesprek nodig, want gesprek bring openheid, begrip, verruim en help om mekaar te vind. Niemand is vry van die impak wat kultuur op jou het nie, maar as ons in veilige ruimtes met mekaar praat dan kry mens dit nogal reg om die kulturele redes en evangeliese redes uitmekaar uit te hou. Die een ding wat baie kompleks is, is etiese kwessies en dit is dwarsdeur die Bybel.

[Kommentaar: Dit sou baie interessant wees as Nelus voorbeelde kon gee van kulturele redes en evangeliese redes. Sou byvoorbeeld voorvaderaanbidding of saamwoon of homoseksualiteit as ‘n kulturele rede gesien word?]

1:19:41 Hoe voorkom ons relativering deur subjektivisme?

Nelus: Hoe begin jy die storie van Jesus daar (in Japan) te vertel? Die enigste manier om dit te doen is om te aanvaar dat die Here Sy wysheid en liefde, juis ook die mense van Japan en in die omgewing en alles wat daar gebeur, verskriklik liefhet. Dat God hulle nie versaak het nie, maar dat Hy deur eeue en millenia al daar werk en dat die Heilige Gees in daardie omstandighede, konteks en kultuur ook aan die werk is op ‘n manier, wat ons sou kon sê… baie keer word die Engelse woord “wisdom” gebruik, wysheid. Dit wat maak dat lewe kan floreer. Dit wat menswaardigheid en respekvolheid en integriteit en deernis met menswees bring. Daarby kan jy aansluiting vind. Dit is jou punt van aansluiting,  en omvangryker storie.

1:24:45 Hoe belangrik is definisies in ons verstaan van God en die geloof?

Nelus: Vir my is definisies nie meer belangrik nie, maar verhoudings. Die belangrikste ding wat my lewe definieer is my verhouding met God.

Dubois: As prof sê “God” en die verhoudings wat daaruit voortvloei, dan moet prof tog ‘n spesifieke idee hê van wat prof bedoel met God. Dit is mos nie iets wat relatief onbelangrik is nie.

Nelus: Maar my idee van wie God is, is ook gevorm deur wie ek is en deur my kultuur. As ek met iemand wat in die Namibwoestyn grootgeword het, praat oor God is dit nie presies soos ek nie, maar dit is dieselfde God waarna ons altwee verwys.

[Kommentaar: En as ‘n mens met iemand in Iran (Moslems) of Indië (Hindoes) of Tibet (Boeddhiste) gaan praat? Verwys ons almal ook maar na dieselfde God?]

1:32:54 Dubois: Dit moet moontlik wees om vir iemand te kan sê hulle fouteer in terme van hulle Godsbegrip. Ons het ‘n standaard wat God aan ons geopenbaar het. Ek kan nie sê God is Allah nie, want dit sou fouteer in my Godsbegrip.

Nelus: Weet jy wat jou gaan help … dan moet jy nou ‘n sendeling word en dan sien ons hoe die Here dan met jou werk daar. Gaan “try” dit.

[Kommentaar: Let daarop dat Nelus nie by Dubois aansluit dat die Drie-enige God van die Bybel nie dieselfde as Allah is nie.]

Dubois: Ek dink nie ek is geroep vir dit nie. 🙂

Nelus: Nouja, dit is die punt né, want dit is ons grondhouding om sendeling te wees. So, daar gaan by jou groei kom, maar dit is OK. Bêre hierdie gesprek. Maak ‘n snit oor hierdie deel van die gesprek. In my eie lewe moes ek ook maar afstand doen van my eie willigheid om sekere goeters op maniere vas te hou. Die groot verrassing vir my was telkens dat anderkant dit is dit ‘n goeie genadige, liefdevolle God. Ek ek hoef nooit die hart van my geloof prys te gegee het om te ontdek daar is meer aan God as wat ek ooit gedink het nie. Ook meer as my definisies.

[Kommentaar: Definisies is nie vir Nelus belangrik nie. In hierdie konteks verwys definisies na die identiteit, natuur en karakter van God. Dit ís so dat ons idee van God soms gevorm word deur ons omstandighede: ‘n kind wie se pa ‘n tiran is, het soms ook die persepsie dat God soos sy/haar pa is – ook ‘n tiran. Dit is egter ons as Christene se taak om mense die regte definisie van God te gee. As definisies nie vir Nelus belangrik is nie dan spreek dit boekdele.]

1:34:10 As gereformeerde teologie reeds besorgd is oor allerdaagse lewe, waarom dan missionale teologie?

1:35:50 Nelus: Ons het nie die reformasie voltrek nie. Dit sal baie mense vir jou sê. Ons het in ampsbegrip en in ‘n groot klomp goeters nog eintlik vasgehou aan erfenisse wat nie nodig was nie.

[Kommentaar: Dit sou interessant gewees het om voorbeelde te kon hoor.]

1:37:08 Is missionale teologie as ekumeniese teologie nie kompromis teologie nie?

Dubois: Hoe sou prof gereformeerdes met missionale teologie evangeliseer?

Nelus: ‘n Mens hoef nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui