Durand haal klem van geloof óf evolusie

Weereens steun ’n prominente NG teoloog (André Bartlett) evolusie. Dit is baie opvallend dat evolusie en liberale teologie hand aan hand gaan (André Bartlett is openlik pro-homoseks).

Die volgende artikel het in Beeld verskyn. Kommentaar is in [blokhakies] hieronder.

**********

Durand haal klem van geloof óf evolusie

Sondag 11 Augustus 2013

Dié noodsaaklike gesprek oor geloof en wetenskap help hopelik om die wedersydse karikaturisering en verdagmakery te verminder, skryf André Bartlett .

Evolusie, wetenskap en geloof, Jaap Durand, BYBEL MEDIA, R170

In sekere kerklike en teologiese kringe word die kwessie van evolusie as ’n soort lakmoestoets vir Christelike regsinnigheid beskou. Slaag jy die toets (deur jou van enige sprake van evolusie te distansieer) word jy as Bybel-gehoorsaam en ortodoks beskou. Dop jy egter dié toets (deur evolusie op een of ander manier in jou denke te akkommodeer) word jy as liberaal en selfs as ongelowig getipeer. [Dit is ongelukkig so dat die aanvaarding van evolusie die deur oopmaak vir liberale teologie. André Bartlett bevraagteken openlik of homoseks sonde is. Evolusie is doodeenvoudig nie versoenbaar met die Bybel nie – Kyk Het God evolusie gebruik om te skep, is Genesis 1-11 in ballingskap geskryf en was die sondvloed werklik ’n globale vloed?.]

Hierteenoor is daar sekere ateïstiese wetenskaplikes van wie mens die indruk kry dat hulle – soos Durand dit stel – ’n soort sendingveldtog voer teen alles wat in die Christelike geloof bely word. Ook in hierdie “veldtog” speel die kwessie van evolusie ’n sleutelrol. [Dit is absoluut so. Evolusie is uitgedink om dinge te verklaar sonder God. Dit is onlogies dat Christene evolusie wil omarm en dan net byvoeg dat dit is hoe God geskep het.]

Jaap Durand betree hierdie mynveld tussen twee uiterstes met sy boek Evolusie, wetenskap en geloof met die spesifieke doel om die noodsaaklike gesprek tussen geloof en wetenskap op redelike wyse aan die orde te stel.

Die verrassende invalshoek van Durand se boek is dat hy die lewensverhaal van die Franse Jesuïet-monnik Teilhard Chardin gebruik om die evolusiedebat te betree.

De Chardin het juis in die eerste helfte van die 20e eeu gepoog om ’n sintese tussen die evolusieteorieë van sy tyd en die Christelike teologie te bewerkstellig.

Wat De Chardin ’n bruikbare gespreksgenoot maak, is die feit dat hy nie net ’n Christelike teoloog was nie, maar ook ’n wêreldkundige geoloog en paleontoloog. Hy was ’n oortuigde aanhanger van die evolusieleer, maar nie sonder om daarop aan te dring dat God self deurentyd in die spel kom nie. [Kyk Creation Compromises Questions & Answers.]

Durand wys daarop dat De Chardin se denke al beskryf is as ’n visioen. “Met die intuïtiewe verbeelding van ’n mistieke denker het hy dit gewaag om te spekuleer en die mense rondom hom uitgedaag om saam met hom weg te beweeg, en op soek te gaan na ’n sintese tussen wetenskap en geloof.”

Juis daarom, meen Durand, kan De Chardin ons help om antwoorde te vind op van die fundamentele vrae wat ons vandag nog vra.

Volgens De Chardin kan wetenskap en geloof nie as twee aparte lewensfere gesien word nie – pre- sies die gevaar wat in die evolusiedebat dreig. [Hierdie is interessant, want teïstiese evolusioniste redeneer gewoonlik dat ons dit juis moet doen – ons moet geloof en wetenskap skei. Die Bybel se doel is blykbaar om te sê dát God geskep het en die wetenskap sê kwansuis hóé God geskep het. Kyk Om geloof en wetenskap te skei.]

In navolging van De Chardin wil Durand na twee kante toe oortuig: Aan die een kant wil hy gelowiges laat besef dat hulle nie langer hul rug op die natuurlike wêreld kan draai nie; aan die ander kant wil hy materialistiese wetenskaplikes tot die insig laat kom dat hulle nie die belangrikheid van geloof en religieuse ervarings kan ontken nie.

Onder die opskrif “Die swerwende monnik” laat Durand die lewensverhaal van De Chardin oor 14 hoofstukke ontvou – van sy geboorte op 1 Mei 1881 in die Auvergne in die suide van Frankryk tot met sy dood op Paassondag 10 April 1955.

Sy opleiding as priester, sy ervarings in die loopgrawe van die Eerste Wêreldoorlog, die lang tye wat hy in die Ooste (veral China) deurgebring het, sy “ballingskap” (weer eens in China) tydens die Tweede Wêreldoorlog en dan ook sy laaste jare as “balling” in Amerika – ’n kader waarin die idees van hierdie geniale denker verstaan kan word. Verrassend om te ontdek is dat De Chardin bewus van Suid-Afrika geleef en gewerk het; hy het hom op die hoogte gehou van veral paleontologiese ontdekkings hier te lande.

Die ontwikkeling van sy denke – teologies én natuurwetenskaplik – word op boeiende, dog bevatlike wyse beskryf. Ook sy stryd met die amptelike strukture van die Rooms-Katolieke Kerk word belig.

Sy poging om evolusie en teologie in ’n soort sintese bymekaar uit te bring was volgens Durand “só gewaagd en só verreikend dat die kerk daarvoor teruggedeins het en . . . alles in die stryd gewerp het om die propagering van sy gedagtes stop te sit”.

Al was De Chardin in sy eie woorde verplig om in die skaduwee van ballingskap te werk, was hy enduit getrou aan die Jesuïete-orde, maar ook aan die Rooms-Katolieke Kerk en die pousdom.

Sy vroomheid, gegrond op die verheerlikte Christus, het hom volgens een van sy tydgenootlike biograwe enersyds ’n apostel gemaak wat sy lewe daaraan gewy het dat Christus ontdek en gedien moes word, en andersyds ’n apostel van evolusie wat die idee van kosmogenese (die ontstaan van die heelal deur ’n proses van ontwikkeling) deel van Christus wou maak.

Durand lewer inderdaad ’n betekenisvolle bydrae, nie net om die denke van De Chardin onder Afrikaanssprekendes bekend te stel nie, maar ook om die gevaar van ’n onverkwiklike stryd tussen kerk en wetenskap af te weer.

Dat hy homself, soos De Chardin, blootstel aan kritiek uit sowel meer konserwatiewe teologiese kringe as uit niegelowige wetenskaplike kringe, maak sy bydrae nie minder belangrik nie.

Hopelik gee die publikasie van hierdie boek ’n nuwe, positiewe stuwing aan die gesprek oor geloof en wetenskap en help dit ook om die wedersydse karikaturisering en verdagmakery in hierdie gesprek te verminder.

 – André Bartlett is hoof van die sentrum vir bedieningsontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui