Kyk ook:
- Wie is Nelus Niemandt?
- Wie is Jan Louw?
- Kerkbode traag om oor Hoëveld Sinode te berig (19 April 2012)
- Sinode Hoëveld luister na besware maar gaan dit iewers kom? (Oktober 2012)
- Wie val wie aan (April 2012)
Die byeenkoms waarvan gepraat word in hierdie artikel het toe in Oktober 2012 gebeur. Kyk Sinode Hoëveld luister na besware maar gaan dit iewers kom?.
*******
Dwaalleer: Aanval op moderator ‘pynlikste’ | Beeld
Deur Neels Jackson in Beeld
19 April 2012
Prof. Nelus Niemandt, moderator van die algemene sinode van die die NG Kerk, het ’n persoonlike aanval op hom gister bestempel as die pynlikste oomblik wat hy die afgelope 30 jaar op sinodesittings beleef het.
Dit het gekom in ’n debat van die kerk se Hoëveld-sinode oor lidmate se kommer oor beweerde dwaalleer in openbare uitsprake van die kerk se teoloë.
Niemandt het onder meer verwys na ’n video wat in die kerk versprei is waarvan die inhoud volgens hom as leuens ontbloot is [kyk Nuwe Strominge in die Teologie, deur Sarel van der Merwe].
Hy het verwys na verskeie kerklik prosesse wat daarop dui dat daar nie rede tot kommer is oor die teologie van veral die teologie-fakulteit aan die Universiteit van pretoria nie. Dit sluit in:
Tugondersoeke teen dosente, appélsake, ondersoeke deur die kuratorium wat toesig hou oor teologiese opleiding, en ’n gesprek met die ring van Soutpansberg, wat ’n vroeëre vertrouensbreuk met die fakultiet opgehef het nadat hulle hul kommer met dosente bespreek het.
Al dié prosesse het gelei tot bevindings dat daar nie dwaalleer is nie.
Niemandt het gesê mense wat nie al dié bevindings wil aanvaar nie, “blaf teen die verkeerde boom” as hulle weer ’n leerondersoek wil laat doen.
Ds Jan Louw van Secunda het gesê ondanks alles wat Niemandt gesê het, bly daar ’n gevoel van ongelukkigheid. Hy het Niemandt daarvan beskuldig dat hy daartoe bydra.
Ds Louis Scheepers van die gemeente Strubenvale in Springs het ook volgehou daar is dwaalleer in die kerk. Hy het Niemandt verwys dat hy nie duidelike antwoorde oor sy geloof wil gee nie.
[Kommentaar: Om meer spesifiek te wees: Louis Scheepers het gesê dat toe hy ’n teologiese student by Tukkies was, Nelus gesê het dat Christene en die Moslems dieselfde God aanbid en ook dat Nelus hom nie wou antwoord toe hy hom gevra het of Jesus werklik opgestaan het nie.]
Niemandt het die sinode verseker van sy persoonlike geloof in Jesus Christus en dat hy die kerklike belydenisskrifte onderskryf.
Die sinode het kennis geneem van lidmate se kommer en besluit ’n paneel van leraars en ouderlinge moet waar moontlik gaan luister na lidmate wat hul kommer oor dwaalleer onder die kerk se aandag wil bring [dit sluit in (1) Sarel van der Merwe oor sy DVD, Nuwe strominge in die Teologie, (2) Skrywers van die boek Die Trojaanse Perd in die NG Kerk, (3) Adrio König oor sy boek, Die evangelie is op die spel en (4) Ferdie Mulder oor sy boek, Opgestaan.].
Voor die einde vanjaar moet ’n ope byeenkoms ook gereël word om die saak te bespreek.