Kyk ook:
‘Ek is nie vals oor die Bybel’ | Rapport
13 November 2011
Johannes de Villiers
Ja, hy glo wel deesdae anders as die tradisionele geloof wat sy kerk bely, maar dit maak nie van hom ’n ateïs nie, sê Predikant E. Dit beteken beslis nie hy is vals wanneer hy op die preekstoel klim nie.
Sedert Rapport drie weke gelede berig het oor ’n nuwe boek, Hier staan ek …, waarin vyf predikante bieg hulle betwyfel hul kerk se tradisionele beskouing van die Bybel en die belydenisskrifte, het ’n storm om dié vyf se koppe losgebars.
Hoewel al vyf anoniem skryf, het hulle heelwat aandag getrek.
Sommige mense skryf hulle deel die vyf se vertwyfelings, terwyl ander meen hulle moet dadelik bedank.
Die boek het soveel aandag getrek dat dit binne twee weke ná sy verskyning reeds herdruk is.
Die afgelope week het Rapport een van die vyf predikante, in die boek slegs as Predikant E geïdentifiseer, opgespoor en uitgevra oor die kritiek.
“Daar is oor die jare ’n sterk rol vir predikante uitgewerk,” sê dié dominee, wat nou in sy middeljare is en in ’n middelgrootte-gemeente van een van die Gereformeerde susterskerke dien. “Daar is vir jou besluit hoe jy moet aantrek, optree en veral wat jy alles moet glo. Ek het vroeg al besluit ek wil nie.
“Ek sien baie ouer leraars wat ná jare in die bediening klaar en gaar is. Talle het al afgetree en is poot-uit. Hulle het later die eise op hulle as ’n droefgeestige, inperkende las begin beleef. Ek kon nie so wees nie.”
Uit die vyf predikante is hy die een wat nie juis oor sy vrae wroeg nie. Die ander beskryf hul bediening as ’n pyniging omdat hulle ’n front oor hul ware opvattings moet voorhou.
Predikant E meen hy voel nie leuenagtig nie. “Ek het dit met myself uitgeklaar. Ek glo álles wat in die Bybel staan, maar ek bedink dit net op ’n nuwe manier. Ek neem ook in ag hoe die Bybel ontstaan het en wat die invloed van die konteks daarop was. So, ek is hoegenaamd nié vals as ek op die preekstoel die Bybel verkondig nie.”
Hy meen die vyf predikante wat in die boek genoem word, is maar die oortjies van die seekoei.
“As jy kyk na die spektrum van die predikante, dan het jy ’n gemiddelde hoofstroomgeloof. Daar is baie ouens regs daarvan wat selfs konserwatief en selfs fundamentalisties is. Maar daar is ook ouens links daarvan wat krities is en kies om meer vrae te vra.
“Van dié ouens gaan so ver om hul geloof heeltemal te verloor. Dit is vir my jammer, want ateïsme hoef nie die eindpunt te wees nie.
“As jy aanhou soek, kan jy daar verby beweeg. My soektog het nie by ateïsme geëindig nie.”
In stedelike gemeentes is dit volgens hom dikwels makliker vir dominees om vraend te wees. As jy van die begin van jou bediening af jou gemeente help om oopkop te bly vir ander maniere van dink, kan hulle jou selfs aanvaar soos jy is.
Maar hy gaan nie in dié stadium sy naam bekend maak nie.
Daar is nog te veel druk van behoudende gemeentelede en kollegas wat hom vir ’n ketter sal skel as hulle sy ware sienings hoor.
Elke dominee glo maar op ’n unieke manier, vertel hy. “Elkeen loop ’n pad. Ek ook. Jy groei en verander die hele tyd. In daardie opsig is dominees maar nes alle ander gelowiges.”