Kyk ook:
*******
Ek is tuis in die Kerk se Skrifbeskouing, sê teoloog | Volksblad
Volksblad, 21 Jun 2007
Prof Johan Janse van Rensburg
TYDENS die Algemene Sinode het ek my kommer uitgespreek dat ons ten opsigte van die Skrifbeskouing mekaar verloor. In een van die verslae tydens die Algemene Sinode word daar byvoorbeeld onderskei tussen die Bybel as ’n bundel geskrifte en die Woord van God. In hierdie benadering is die Bybel dus nie die Woord van God nie, maar kan dit die Woord van God word. Só ’n beskouing voer ons terug na die aktualistiese inspirasieteorie van Karl Barth.
Die gereformeerde tradisie het egter konstant met ’n organiese inspirasieteorie gewerk, wat van die standpunt uitgaan dat die Gees mense gedryf (geinspireer) het om te spreek en te skryf (NGB art. 3). Hierin is die menslike en goddelike karakter van die Skrif intiem verweef. Mense, met ’n eie karakter, styl en taalgebruik, is met be- houd van hulle menslike identiteit deur die Gees gelei om te skryf.
Dit is bekend dat prof. Fanie Snyman, (Nee, só werk ons nie met die Bybel nie 19/6/07) wat nou ook tot die gesprek toegetree het, nie die organiese inspirasieteorie, wat ’n inherente deel van die gereformeerde teologie is (Calvyn, Bavinck, ens.) onderskryf nie en dat hy ook ’n alternatiewe teorie aan die studente voorhou. Dit is dus nie vreemd dat hy van my sou verskil nie. Wat egter vreemd is, is dat hy wil voorgee dat hy nader aan Calvyn staan as ek. By Calvyn is die eenheid tussen Woord en Gees, waarna ek so dikwels verwys, So radikaal dat hy in sy Institusie (1/9/2-3) na die Heilige Gees as die outeur van die Skrif verwys. Woord en Gees is tot ’n eenheid verweef en die gesag van die Woord word deur die Gees verleen. Hoe kan my kollega sugereer dat ek van hierdie standpunt van ‘Calvyn afwyk as dit juis en presies dit is ‘waarvoor ek nog die hele tyd pleit?
My Skrifbeskouing is dus nie alleen in ooreenstemming met Calvyn se Skrifbeskouing en gebruik van die Skrif nie, maar ek vind my ook tuis in die Skrifbeskouing van my kerk soos dit in die standpunt van die Algemene Sinodes van 1986, 2002 en 2004 uitgedruk is. In 1986 het die kerk gewaarsku teen diegene wat met “ ‘n vooropgesette wysgerige hermeneutiek die Skrif aan die verstaansmoontlikhede van die moderne mens wil onderwerp. Dikwels is die vertrekpunt van die wysgerige hermeneutiek positivisties en ignoreer dit die gesag wat die Skrif ook oor ons voorveronderstellings het”. In 2002 het die Sinode daarop gewys “dat die Bybel nie ‘n bron van foutlose natuurwetenskaplike en historiese informasie is nie” en dat teoloë lank reeds hierdie beginsel erken sonder dat die inspirasie van die Skrif daardeur in die gedrang gebring word.
Hieroor het die gereformeerde teoloog Herman Bavinck uitvoerig in sy Gereformeerde Dogmatiek geskryf. Hy wys daarop dat die Bybel nie ’n wetenskaplike boek in enger sin is nie. Bybelskrywers se verwysing na die opkoms en stilstaan van die son, na die niere as die setel van menslike emosies en na die hart as die bron van menslike denke (ons sou daarby kon voeg die aarde wat op pilare staan), beteken nie dat die Skrif onbetroubaar is nie. “Want die Heilige Skrif besig die taal van die daaglikse ervaring, wat altyd waar is en bly” (vertaal uit Nederlands).
My aanhaling, dat die Bybel nie ’n wetenskaplike handboek is nie, is dus volledig gemotiveerd, terwyl my onderskeid tussen wêreldbeeld en etiese beginsels vir leer en lewe deur Bavinck se aanhaling bevestig word. In dié verband vereenselwig ek my met prof. Johan Heyns wat in sy dogmatiek oor die Skrif skryf dat die Bybelskrywers nie stomme feite weergee nie, maar kerugmatiese feite, dit wil sê: “Dat elke Bybelskrywer die historiese stof waarmee hy werk, wél uit sy eie bepaalde perspektief bekyk, maar steeds met die skopiese konsentrasie as doelwit.” Daarom is die geskiedenis wat die Bybelskrywers aanbied, nie histories-chronologies-geordende geskiedenis nie, maar episodies en fragmentaries, skryf Heyns. So kom die individualiteit en menslikheid van elke Bybelskrywer tot openbaring sonder dat die sentrale boodskap wat die Gees wal kommunikeer, daardeur die in gedrang om.
Ek stem dus nie met prof. Snyman saam dat my standpunt ’n skeiding tussen die menslike karakter en die werk van die Gees veronderstel nie of dat dit Die Bybel in ’n Goddelike en menslike afdeling verskeur nie. As dit waar sou wees, sou die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 3 ook van sê ‘n digotomie beskuldig moet word. Die alternatief is eenvoudig om die Goddelike of menslike karakter van die Skrif totaal te ontken en dit kan tog nie!
Van die Nederlandse Geloofsbelydenis gepraat. Calvyn het ’n konsepbelydenis vir die Franse gereformeerde kerke opgestel wat feitlik in die Gallicana (1559) oorgeneem is. Dit het weer woordeliks gestalte in die NGB (1561) gekry. Die artikels oor die Skrif in die NGB en die Gallicana moet direk na Calvyn teruggevoer word. Daarin word sy Skrifbeskouing dus verwoord.
Maar terug by prof. Snyman se verwysing na Calvyn. Teenoor my Skrifbeskouing wys hy ’n beter weg aan, die weg van Calvyn. Dit verteenwoordig “’n interpretasie van Bybeltekste in hulle literêre en historiese kontekste om vandaar teologiese en etiese gevolgtrekkings te maak”. Eerstens sou ek wou vra: Waar het Calvyn dit gesê? Tweedens wys ek daarop dat kollega Snyman, wat met my wetenskaplike metodes en my gehegtheid aan die Skrif’ goed vertroud is, van beter behoort te weet as om te suggereer dat ek nie met die litirére, histories en grammatikale konteks erns maak nie. In my debatte met hom by die fakulteit het ek dit oor en oor beklemtoon, my studente in die homiletiek hoor! dit tot vervelens toe en in my nuwe boek oor prediking uit die Ou Testament, wat DV binnekort verskyn, is dit een van die hoofaksente.
In ’n onlangse Kerkbode het ek gevra dat ons deur wetenskaplike eksegese oortuig wil word dat die tekste in die Bybel oor homoseksualiteit op ’n ander manier verstaan moet word. Ek ontken dus dat my Skrifbeskouing onwetenskaplik is. Intussen is dit ironies dat Calvyn, wat prof. Snyman as bondgenoot vir sy Skrifbeskouing wil gebruik, in sy kommentaar op Romeine 1 baie duidelik homoseksualiteit as sonde beskou. Sou prof. Snyman ook hierin Calvyn se Skrifgebruik wou navolg? Ek beweer met stelligheid dat my Skrifbeskouing veel nader aan Calvyn staan as sy Skrifbeskouing.
Ek was werklik verbaas om die reaksie op my laaste artikel te lees. Soveel venyn het ek nie verwag nie. So iets moet vir lesers ’n toenemende bron van irritasie word.
Daarom onderneem ek om my aan die debat te onttrek. wetende dat daar diegene sal wees wat dit as “weghardloop”, oorgawe en “nie weet wat om te sê nie”, sal beskryf. Dit is nie meer vir my belangrik wat mense dink nie. My saak is met die Here en sy kerk.
Dit is dieselfde Skrifbeskouing wat die Algemene Sinode daartoe gelei het om die huwelik tussen man en vrou as die enigste geldige verbintenis te beskou en homoseksuele huwelike, homoseksuele verbintenisse en alle vorme van promiskuiteit af te wys.
@ Prof. Van Rensburg is hoof van praktiese teologie in die fakulteit teologie aan die Universiteit van die Vrystaat.