Kyk ook:
- Só werk die anatomie van ’n kerkskeuring (Neels Jackson, 25 Feb 2024)
- Oor die 600 bladsye se gravamina wat nooit hanteer is nie (Daniel Louw)
- ’n Saak vir kerkskeuring
*******
Ek was daar, Neels: Só is griewe van tafel gevee | Rapport
24 Maart 2024
Ds. Helgard Janse van Rensburg, George, skryf:
Neels Jackson se artikel “Só werk die anatomie van ’n kerkskeuring” (25.02) bevat verskeie wanvoorstellings, onder meer weens die oorvereenvoudiging van “kerkskeurings” in die geskiedenis en swak eksegese oor die huwelik as instelling van God soos Hý dit bedoel het – en nie soos die in-sonde-gevalle mens dit verwring het nie. Ook die skewe beeld wat van behoudendes geskets word, vereis regstelling.
Ek fokus slegs op enkele van sy misleidende stellings.
Volgens Jackson kon die beswaardes “ondanks stortvloede van besware en dokumente” nie die Algemene Sinode oortuig nie.
“Beswaardes” (lidmate, ampsdraers en kerkvergaderings) het méér as 20 jaar op allerlei weë teen teologiese dwalinge geprotesteer. Sedert 2015 is dit op kerkordelike wyse opgevolg met meer as 1 500 bladsye beswaarskrifte en beskrywingspunte gerig aan die Algemene Sinode van 2016, 2019 en 2023. Die teologiese inhoud daarvan is egter nooit deur die Algemene Sinode in vergaderings ordelik en behoorlik aan die hand van die Woord en die gereformeerde belydenisskrifte getoets nie. Inteendeel, dit is totaal oorskadu deur ure lange debatte en emosionele manipulering. Ons wat daar was, het eerstehands beleef hoe die besware prakties van die tafel gevee is.
Volgens Jackson het “ ’n groot groep NG predikante se geduld met dié soort wanvoorstellings opgeraak”, verwysende na die sowat 50 persone wat ’n gesamentlike verklaring, gerig teen die behoudendes, onderteken het. Later verwys hy na “ ’n handvol gemeentes, minder as 1% van die NG Kerk . . .” wat reeds bande met die Algemene Sinode opgeskort het.
Ironies beskryf hy dus sowat 50 predikante as ’n “groot groep”, maar die getal gemeentes (tans meer as tien en die getal groei) wat bande opgeskort het, neerhalend as ’n “handvol”. Dié gemeentes verteenwoordig reeds ’n paar duisend lidmate. Hou ook in gedagte dat daar sowat 100 gemeentes is wat amptelik verklaar het dat hulle doleer (treur) oor die koers wat die Algemene Sinode ingeslaan het. Dit is meer as die getal gemeentes in die sinodes van Noord-Kaapland, KwaZulu-Natal, Namibië en die Oostelike Sinode afsonderlik. Hou ook in gedagte dat die Goudland Sinode ’n geskil verklaar het met die Algemene Sinode en dat die Vrystaatse Sinode tans soek na ’n welwillende weg om uit die vasgelooptheid te kom.
Nóg die Koinonia Netwerk nóg die Kairos Sinode wou of wil die NG Kerk laat skeur, soos wat Jackson beweer. Hulle beywer hulle vir reformasie terug na die Bybel as Woord van God en die gereformeerde belydenisskrifte. As die Algemene Sinode en vrysinnige ampsdraers maar net die opregte pleidooie ter harte wou neem, sou Koinonia geen rede meer hê om stappe te begin of selfs voort te bestaan nie.