Kyk ook:
Acra Theologica, 1996:2
EKSEGESE IS ‘N SPEL (SONDER REËLS?)
WS Prinsloo[1]
Exegesis is a game (without rules?)
In his article “Eksegese is ‘n spel” (“Exegesis is a game”), JH le Roux draws a caricature of the text immanent approach, is guilty of generalizations and employs an obsolete idea of the text immanent approach. With this misrepresentation he comes into conflict with the Gadamer approach – the approach which he himself advocates. He therefore violates the rules of the game which he has devised.
1. Inleidend
Professor JH le Roux het in ’n onlangse artikel (“Eksegese is ’n spel”, Le Roux 1996:41-54), wat bedoel is om deel van ’n huldigingsbundel vir professor MHO Kloppers te wees, die geleentheid ten baat geneem om “baie krities” te kyk na wat hy die “immanente” eksegetiese benadering noem. Hoewel hy my nie direk by die naam in die artikel noem nie – trouens, hy het geen direkte verwysing na enige verteenwoordiger van die sogenaamde “immanente” benadering nie en skiet deurgaans met ’n haelgeweer – voel ek my tog verplig om met kollega Le Roux in gesprek te tree naa aanleiding van sy artikel. Uit die verwysing in sy artikel (cf Le Roux 1996:42) blyk dit duidelik dat hy die Suid-Afrikaanse Bybelwetenskap in die algemeen en die Suid-Afrikaanse Ou-Testamentiese wetenskap in die besonder in die oog het. Buitendien is Le Roux ’n Ou-Testamentikus en hy skrywe ’n bydrae in ’n bundel ter ere van ’n Ou-Testamentikus. Niemand kan dus kwalik geneem word as die “baie krities” kyk van Le Roux op die Ou-Testamentiese wetenskap in Suid-Afrika van toepassing gemaak word nie. Op wie anders as die Suid-Afrikaanse Ou-Testamentiese teksimmanente eksegete kan die artikel van Le Roux tog gemik wees?
Terwyl Le Roux my in ’n vroeëre publikasie as een van die hoof verteenwoordigers van die teksimmanente benadering geïdentifiseer het deur my te beskryf as “Prinsloo, his students and others which followed an immanent approach” (Le Roux 1993:14), bied dit my nog meer rede om met hom in gesprek te tree. In die publikasie “A story of two ways. Thirty years of Old Testament scholarship in South Africa” (Le Roux 1993), het Le Roux die histories-kritiese metode en die teksimmanente metode as die “two ways” van die Ou-Testamentiese wetenskap in Suid-Afrika aangedui. Le Roux gee JA Loader die krediet daarvoor dat hy die immanente metode “accessible to Old Testament scholars” (Le Roux 1993:13) gemaak het, terwyl van my gesê word: “ … Prinsloo popularized it in the sense that the method was propagated aggressively to students (and to church members)”.
Hoewel Le Roux die heuningkwas kwistig gebruik het om sekere individue – waaronder ek ook tel – in “story” op te hemel, wil ek nogtans onderstreep dat Le Roux in (sy) “story” tog ook reeds houe teen die teksimmanente metode probeer inkry het. Hoewel hy dit waarskynlik as speelse houe sal probeer afmaak, beskryf hy die metode tog in sterk negatiewe terme as “the destruction of man by the heavy structures of text”. Die beoefenaars van die metode beskryf hy ietwat smalend as “text mechanics” (Le Roux 1993:352). Sy oordeel oor die metode bereik egter ’n crescendo wanneer hy sê dat “God has also become ‘structuralised'” (Le Roux 1993:353) deur die metode.
Loader het vroeër reeds in sy reaksie op Le Roux se “story” gepraat van Le Roux se “spot met Prinsloo” (Loader 1994:393). Kan Loader verkwalik word vir die opmerking wanneer Le Roux my bydrae tot die psalmnavorsing ietwat sarkasties tipeer as “Willem Prinsloo: Sing unto the Lord in a structured manner” (cf Le Roux 1993:277)? Loader merk op dat ten spyte van Le Roux se “amicable personality” en sy goedhartigheid daar tog iets onmiskenbaar skerp in sy “story” terug te vind is (Loader 1994:393).
Wanneer Le Roux egter steeds volhard met sy “speletjies” en ’n hele artikel daaraan wy om ’n karikatuur van ’n metode te maak en dan boonop ’n prentjie te teken wat twintig jaar gelede (moontlik) geldig kon gewees het dan kan ek, as ’n beoefenaar van die metode, nie anders as om ’n korrektief te probeer aanbring deur ook my kant van die “story te vertel nie.
As historikus het Le Roux sekerlik die reg om sy “story” te skryf en om “baie krities” na die wêreld om hom te kyk en om rekonstruksies en kritiese evaluerings van metodes en van teoloë se werk te maak. Dit is trouens die oorheersende kenmerk van Le Roux se publikasies van die afgelope paar jaar dat hy telkens die metode en die denkpatrone van ander mense gerekonstrueer en geanaliseer het[2] In die verlede het Le Roux soos volg gereageer wanneer mense op sy rekonstruksies gereageer het: “dit is my verhaal, my aksente, my interpretasie, my rekonstruksie … niemand het die reg om voor te skryf nie” (Le Roux 1995:86). Die ironie is egter dat Le Roux dit een van sy lewenstake maak en hom die reg voorhou om almal te dissekteer en te analiseer. As dit waar is wat Le Roux sê: “Daar is tog nie ’n ware of verkeerde uitleg nie en daarom val die klem op die spel met tekste” (Le Roux 1995:85), waarom maak hy dan sulke negatiewe uitsprake oor die teksimmanente benadering? ’n Verdere ironie is dat Le Roux self van die “korrekte benadering tot teksstudie” (Le Roux 1996:49) praat. Die “korrekte benadering” is natuurlik Le Roux se eie speelse benadering en dit staan teenoor die teksimmanente benadering. Waarom egter ’n karikatuur van dié metode maak as daar dan volgens Le Roux se uitgangspunt geen “verkeerde uitleg” is nie? Le Roux speel nie die spel volgens die reëls wat hy self gemaak het nie. Hy mag speel soos hy wil, maar niemand het die reg om hom voor te skryf nie. Hy het baie te sê oor ander metodes, by name oor die teksimmanente benadering, maar dit lyk of hy self nie voorgeskryf wil word nie.
In alle billikheid teenoor Le Roux moet vermeld word dat hy in sy artikel (Le Roux 1996:42) meld dat hy met ’n “Weberiaanse ideëelbeeld” werk en dat hy nie poog om ’n “presiese beskrywing van ons Bybelwetenskap” te maak nie. Volgens hom kan dit selfs “‘n totale oordrywing van ons situasie wees”. Wanneer ’n mens Le Roux se artikel egter begin lees, blyk dit gou dat hy nie met ’n beeld werk nie, maar dat hy met die Suid-Afrikaanse Bybelwetenskap werk. Hy werk nie met ’n “ideëelbeeld” nie, maar kyk “baie krities” na en is baie konkreet – natuurlik sonder om name te noem – in sy beskrywing van spesifieke kenmerke van die teksimmanente metode. Le Roux is eerder met ’n polemiek teen die teksimmanente metode besig en skuil agter Weber. Die retoriese funksie van Le Roux se betoog – dit is in elk geval hoe ek dit lees – is om ’n sekere metode en sekere mense by te kom.
Die feit dat le Roux “baie krities” kyk, is deel van die spel van die wetenskap en daarsonder kan die wetenskap nie bestaan nie. My stelling is egter dat Le Roux nie ’n “ideëelbeeld” skep nie, maar ’n karikatuur maak van die teksimmanente benadering en ’n strooipop oprig – natuurlik sal sy speelse antwoord wees dat dit sy strooipop is – net om die strooipop weer af te skiet. Die lees van tekste – tekste van kollegas en ook Bybelse tekste – mag wel ’n spel vir Le Roux wees, maar dit is nie kinderspeletjies nie. ’n Spel – selfs die mees elementere kinderspeletjie – word tog volgens reëls gespeel, Le Roux erken dit immers self. Om by Le Roux se eie “vulgere voorbeeld” (Le Roux 1996:48), naamlik rugby, te bly: Sonder reëls sou die spel nie gespeel kon word nie. Dit is juis omdat daar rugbyreëls is dat die spel internasionaal gespeel kan word.
In wat hier volg wil ek probeer aantoon dat Le Roux óf moedswillig is óf oningelig is oor die teksimmanente metode. Ek wil hom nie voorskryf watter een van die twee altematiewe op hom van toepassing is nie, want volgens sy eie spelreëls het ek nie ’n reg om aan hom voor te skryf nie. Dit is gevolglik ’n keuse wat hy self moet maak.
2. Le Roux se beskrywing van die teksimmanente benadering
Die volgende bespreking is gebaseer op Le Roux (1996:41·56) se artikel. Hier word dus nie weer direkte bladsyverwysings na die publikasie gemaak nie.
2.1 Le Roux is baie algemeen en vaag in sy beskrywing van die teksimmanente Benadering. Hy beskryf die benadering as tipies Suid-Afrikaans, maar noem geen name nie en gee geen voorbeelde van die teksimmanente benadering nie. Hy het ook geen direkte verwysing na die metode waarna hy “baie krities” kyk nie. Hy probeer ’n algemene definisie van die metode gee, maar gebruik ’n filosoof (Urmson) as verwysingsbron.
2.2 Le Roux bou sy eie sandkasteel van die teksimmanente benadering deur skerp en negatiewe opmerkings daaroor te maak. Oor die teksimmanente eksegeet sê hy: “hy manipuleer dan sy objek na goeddunke. Hy verding die teks tot ’n objek wat hy dissekteer”. Die teksimmanente eksegeet gryp hoogdrawend in die teks in, sê Le Roux. Le Roux noem die neiging van die teksimmanente metode om te manipuleer, ’n mankement. Ja, selfs ’n siekte. ’n Harde diagnose komende uit die pen van ’n “amicable personality” wat van eksegese as ’n spel praat. Ek sou graag wou hê dat Le Roux resente voorbeelde gee – al sou dit net een wees – van dié verdinging, dissektering en manipulering van tekste na goeddunke. Sover my kennis strek is daar geen aanhanger van die Suid-Afrikaanse teksimmanente benadering wat so arrogant en wetenskapsfilosofies so dom is wat voldoen aan Le Roux se beskrywing nie. Le Roux maak ’n onbillike en ongegronde waardeoordeel oor ’n metode waarvan hy al telkens blyke gegee het dat hy nie daarvan hou nie. Deel van die spel van die wetenskap is tog om by die basiese reëls te bly. Die reëls in hierdie geval is om ten minste te probeer luister en te probeer hoor wat die teksimmanente eksegeet sê.
Maar al sou alles wat Le Roux van die teksimmanente metode sê waar wees, wie is Le Roux per slot van sake om sulke waardeoordele oor my metode te maak? Hy is dan juis die een wat sê dat daar nie ’n verkeerde uitleg van tekste is nie en dat niemand die reg het om voor te skryf nie. Dit is presies wat hy in die artikel doen, naamlik om te probeer voorskryf hoe daar eintlik eksegese gedoen behoort te word al noem hy dit ’n spel. Terwyl hy die teksimmanente eksegete daarvan beskuldig dat hulle die Bybelteks dissekteer, doen hy presies dieselfde met die publikasies van teksimmanente eksegete.
2.3 Le Roux klink baie seker van sy saak as hy beweer: “Descartes se ideaal sou tot vandag toe die Bybelwetenskap beïnvloed”. Uit die konteks van sy beredenering sou dit nie onbillik wees om af te lei dat Le Roux eintlik hiermee die teksimmanente benadering bedoel nie. Le Roux bly egter in gebreke om te sê hoe die beïnvloeding sou plaasgevind het. Terwyl Le Roux die teksirnmanente benadering van ’n Canesiaanse sekerheid beskuldig, is hy net so seker van homself wanneer hy die teksimmanente metode beskryf. ls ons almal – dalk ook Le Roux? – nie maar op soek na sekerheid en vastigheid nie? ls sy definisie van eksegese as ’n spel nie ook maar ’n poging om sekerheid oor sy eie metode te kry nie? Wil Le Roux dalk ook vir ons sê of alles dan vloeibaar en onseker en relatief is? Bedoel hy werklik wat hy sê dat as ons met tekste besig is daar niks vas is nie? As dit die geval is, het ons mos nie eintlik ’n teks nodig nie, nie eers die Bybelse teks nie. ls daar iets soos betekenis in ’n teks of is daar totaal niks? ls die volle konsekwensie van Le Roux se standpunt nie dat daar eintlik nie iets soos die Ou Testament is nie?
2.4 Le Roux beskuldig die teksimmanente benadering ook van objektiwisme. Hy sê dat die teksimmanente eksegeet hom van allerlei vooroordele en subjektiewe gevoelens ontledig: “Hy moet die teks objektief benader en teen onbewuste voorveronderstellinge waak”. Verder beweer Le Roux dat die teksimmanente metode daarop aanspraak maak om ’n mens van voorveronderstellings te beskut. Wat hierdie aspek betref is Le Roux werklik moedswillig, want in ’n referaat wat ek in 1995 (cf Prinsloo 1995:1088-1113) by ’n internasionale kongres gelewer het, waarby hyself teenwoordig was en waarvan hy vooraf ’n kopie beskikbaar gehad het, het ek pertinent gesê: “Die idee dat daar so iets bestaan as ’n objektiewe lees van ’n teks … is tereg … as ’n illusie ontmasker” (Prinsloo 1995:1088). In my eie klasaantekeninge, waarmee Le Roux ook goed op hoogte is, het ek eweneens gesê: “Niemand kan egter daarop aanspraak maak dat sy metode volkome objektief is nie. Elkeen het sy voorveronderstelling waarmee hy na ’n teks gaan” (Prinsloo[sa]:1; cf ook Prinsloo 1988:205). Ek weet van geen verantwoordelike teksimmanente eksegeet in Suid-Afrika wat beweer dat hy objektief met ’n teks omgaan nie. Le Roux beskuldig egter almal daarvan.
Dit is weer eens ironies dat Le Roux die “korrekte benadering” tot teksstudie beskryf as een waarin die leser “skoon van homself vergeet”. Dit is in contradictio met Le Roux se eie opvatting dat ’n mens nie van jou eie voorveronderstellings ontslae kan raak nie. Hoe is dit moontlik om van jouself te vergeet by die lees van tekste? Om met ’n teks te speel beteken tog nie om van jouself te vergeet nie. Die leser van ’n teks bly tog ook subjek.
2.5 Le Roux beskuldig die groep van teksimmanente eksegete – weer eens, sonder om hulle duidelik te identifiseer – dat hulle ’n benadering, naamlik die teksimmanente metode, gekanoniseer het. Mag ek as die Lerouxaangestelde voorbok van die teksimmanente benadering nog ’n keer as spreekbuis van die beskuldigdes probeer optree: “Iemand wat daarop aanspraak maak dat hy dié metode het, maak hom dus skuldig aan akademiese snobisme. Daar is ’n verskeidenheid van eksegetiese metodes op die mark. Ons moet altyd die nodige akademiese beskeidenheid aan die dag lê sodat ons nie dink dat ons metode die enigste metode is nie” (Prinsloo [s a]:1). Elders (Prinsloo 1988:205) het ek dieselfde gedagte uitgespreek: “Die struktuuranalitiese metodes is natuurlik nie die alfa en die omega nie. Om dit te beweer sou aan stiksienigheid en akademiese snobisme grens”. Dit is egter presies waarvan Le Roux die teksimmanente eksegete beskuldig. Selfs iemand wat die lees van ’n teks as ’n spel beleef en wat van homself vergeet in die lees van ’n teks behoort tog hierdie uitspraak van my te kan verstaan. Aanvaar Le Roux nie die integriteit van teksimmanente eksegete nie of wil hy dit doelbewus nie aanvaar nie?
2.6 Le Roux gaan egter nog verder: Die teksimmanente metode het volgens hom tot hubris aanleiding gegee. Hy beskuldig die teksimmanente eksegete dat hulle meen dat hulle die enigste is wat met ’n teks kan werk. Die teksimmanente metode het volgens Le Roux die Bybelwetenskaplike establishment gereël en beheer. Die metode het ’n magsinstrument geword wat mense ingesluit en uitgesluit het. Wie nie die teksimmanente metode gebruik het nie, is uitgesluit. Dit is harde en veroordelende woorde, maar dit is weer eens baie vaag geformuleer. Na wie verwys Le Roux nou eintlik? Le Roux self is nie deel van die teksimmanente groep nie, maar is hy miskien iewers uitgesluit? Indien wel, waarvan is hy uitgesluit? Wie het hom uitgesluit? Is hy, om sy eie woorde te gebruik, ontmagtig? Word daar teen hom gediskrimineer omdat hy nie “his master’s voice” laat hoor nie? Word daar aan hom voorgesê watter eksegetiese metode hy vir studente moet voorhou? Op watter manier is hy uit die Bybelwetenskaplike establishment uitgesluit? Hee die keuse dan nie juis op hom, as nie-teksimmanente eksegeet, geval om die geskiedenis van die Ou- én Nuwe-Testamentiese wetenskap in Suid-Afrika te skryf nie?
2.7 Le Roux het dit teen ’n metode, die teksimmanente metode. Hy erken egter self dat ’n mens ’n metode moet hê, al is dit ’n speelse metode. Hy kies vir die Gadamerbenadering en dit is algemeen bekend dat hy homself ook aangetrokke tot die histories-kritiese benadering voel. Niemand neem hom daarvoor kwalik nie, maar wat maak sy metode beter as myne? Sy insinuasie dat die teksimmanente eksegete hulle op die onfeilbaarheid van hulle eie metode beroem, staan in direkte teenspraak met wat ek reeds in 1984 van my psalmstudie gesê het: “Dit is ’n eksegetiese verkenning en maak nie aanspraak op volmaaktheid nie” (Prinsloo 1984:3). Trouens, die woorde “eksegetiese verkenning” maak selfs deel van die subtitel van my boek uit. Wie het ooit van ’n onfeilbare metode gepraat? Om ’n metode te hê en om aanklank by ’n metode te vind en om te sê dat ’n metode vir jou en vir jou studeme werk en resultate lewer, beteken tog nie om die metode tot onfeilbaarheid te verhef nie. Dit is ook wetenskaplik onbillik van Le Roux om sy persepsie van die teksimmanente metode as onfeilbare kanon te konstateer.
Le Roux het met hierdie publikasie weer ’n Methodenstreit na vore bring. Ek is dus verkeerdelik onder die indruk dat die metodestryd deel van die Ou-Testamentiese wetenskap van die sewentigerjare en van die vroeë tagtigerjare was en dat ons hierdie fase van die soeke na die “enigste regte metode” ontgroei het.
Weer eens vind ek dat Le Roux in contractio met homself is. Daar is volgens hom nie so iets as ’n regte metode nie, maar volgens hom tog ook so iets as om “eg” oor die teks te praat mits jy Gadameriaans-speels daarmee omgaan. Wanneer ek Le Roux se teks “eg” probeer lees – en wie is hy om my kwalik te neem oor my manier van lees? – dan verstaan ek hom so dat hy meen dat die teksimmanente benadering “oneg” is teenoor sy (Le Roux se) egte spreke oor die teks.
2.8 Die teksimmanente metode moet volgens Le Roux as ‘t ware vir alle sondes van die verlede en die hede pa-staan: Die teksimmanente benadering het ’n probleemontduikende aanpak. Suid-Afrika het die “skerpkant” van die historiese kritiek gemis. Le Roux bly egter in gebreke om te sê presies wat hy daarmee bedoel, maar uit die konteks van sy betoog kan die afleiding wel gemaak word dat die teksimmanente metode grotendeels daarvoor verantwoordelik is. Dit word die teksimmanente metode ook ten laste gelê dat dit nie hartgrondig met die probleme van die Bybel geworstel het nie. Probleme in verband met die lang ontstaan van die Bybel en die geskiedenis daarvan gaan by die teksimmanente eksegete verby, sê Le Roux. Die teksimmanente eksegete is kollektief verantwoordelik vir al die sondes en almaJ word ongenuanseerd voor die Le Roux-Waarheidskommissie gedaag. Die teksimmanente eksegete is so naïef dat hulle die probleme nie eintlik raaksien nie. Dit klink volgens Le Roux so asof teksimmanente eksegete nog in ’n pre-kritiese fase leef en nog nooit van die bronnehipotese of Deuterojesaja gehoor bet nie. Om teksimmanente eksegete te beskuldig dat hulle probleemloos met tekste omgaan is gewoon onwaar. Hulle mag dalk nie met die probleme omgaan soos Wat Le Roux dit sou wou hê nie, maar as Le Roux werklik erns probeer maak met die publikasies van teksimmmanente eksegete sal hy agterkom dat die “skerpkant” van die Ou-Testamentiese wetenskap selfs nie vir teksimmanente eksegete onbekend is nie en dat hulle dit ernstig in berekening bring by die lees- en verstaansproses.
2.9 Een van Le Roux. se holruggeryde argumente, wat ad nuseam in die artikel herhaal word, is dat die teksimmanente benadering se konsentrasie op die finale teks ’n historiese bemoeienis onnodig maak. Volgens Le Roux is historiese vrae binne die teksbenadering of onnodig, of onmoontlik of iets wat tot ’n bepaalde stap in die eksegetiese metode beperk moet word. Dit mag wees dat teksimmanente eksegete nie histories werk soos wat Le Roux dit gedoen wil hê nie – terloops het Le Roux duidelik al vir ons gesê wat by presies met “histories” bedoel en is sy historiese aanpak die enigste regte historiese manier? – maar om te beweer dat teksimmanente eksegete die historiese vrae onnodig ag, is histories nie waar nie. In ’n artikel wat direk op die van Le Roux in dje Kloppersfeesbundel volg (cf Prinsloo 1996:57-67) en waarin dit juis oor die interpretasieprobleme van Jesaja 42 gaan, maak ek die volgende opmerking, “Ten einde die vrae te probeer beantwoord, is dit gevolglik nodig om eers kortliks te kyk binne watter historiese [my beklemtoning, WSP] en literere konteks die verse voorkom”. Voorbeelde waar historiese vrae ’n belangrike rol speel in my en ander eksegete wat Le Roux as my dissipels sou frame, is oorvloedig. Om te herhaal wat ek reeds gesê het: Die teksimmanente metode moet “nie as ’n akroniese of a-historiese lees gesien word nie. Die teks as sodanig is immers ‘n historiese gegewene en is die resultaat van ’n historiese proses …” (Prinsloo 1991:1).
2.10 Le Roux skep die indruk asof dit slegs sy speelse metode is wat kreatief en speels met ’n teks kan werk en waarin inisiatief in die leesproses ‘n rol speel. Die teksimmanente eksegete is volgens Le Roux vasgevang in ’n metode, in strukture. Die metode is matematies van aard. Dit is koud en klinies. Dit breek op en sit numeries-logies uiteen. Dit werk as ‘t ware soos ‘n masjien. Teksimmanente eksegete is vasgevang in eksegetiese stappe. Daarenteen bemeester Le Roux se korrekte Gadameriaanse benadering die kuns van speel. Om kreatiwiteit vir sy speelse aanpak te monopoliseer en om die teksimmanente metode so te beskryf soos wat Le Roux dit doen is egter ’n karikatuur, onbillik en ’n teken van hubris van sy kant af.
2.11 Om die spelmetafoor ’n bietjie verder te voer: In spel, soos wat Le Roux as spelkenner waarskynlik sal weet, speel uitdagings ’n groot rol. Ek daag Le Roux gevolglik uit om vir ons konkreet in ’n wetenskapiike publikasie, al is dit net by wyse van ’n tydskrifartikel, te wys hoe daar nou eintlik met ’n teks gespeel moet word. Le Roux was die laaste aantal jare geneig om veral as skeidsregter op te tree en om op die fluitjie vir ander te blaas. Kom speel saam en bewys dat die beste stuurman wel aan wal staan. Wat ookal gebeur, teksimmanente eksegete sal nie vir Le Roux kwalik neem oor wat hy doen nie, solank hy net die spel speel volgens die reëls wat hy self gemaak het.
3. Samevatting
Le Roux sou wel kon sê dat as die skoen my nie pas nie ek dit nie moet Aantrek nie. Vanwee sy vae formuleringe dwing hy my – wat deur homself as een van die leiers van die teksimmmanente benadering aangedui is – egter om die skoen aan te trek en dwing hy my tot reaksie. ‘n Spel het reëls en die reëls geld vir almal wat wil saamspeel. Om dus van die eksegesespel, soos Le Roux, te sê: “Alles beweeg maar net vry en ongehinderd”, is net te maklik. Dit maak van eksegese ’n eenmanspeletjie sonder reëls. Daar is tog so iets soos akademiese konvensies – selfs tussen eksegete wat verskillende metodes volg; selfs tussen eksegete wat uit verskillende kerklike tradisies kom of op verskillende vastelande woon. Om dit amper simplisties te stel: ’n Ou-Testamentikus moet tog Hebreeus ken of jy nou histories-krities, teksimmanent of selfs resepsie-esteties werk. Hoewel die outeurs van die Bybel vry en kreatief met die Hebreeuse taal omgaan; hoewel die taal uit verskillende tye kom en verskillende style en skrywersperspektiewe reflekteer, is daar tog ’n gemene faktor. Die leser van die Ou-Testament moet hom/haar gevolglik ook hieraan steur. Daar is reëls wat gehoorsaam moet word. Dit is ’n spel, maar ’n spel met reëls. Die goeie, selfs die briljante speler is dus gebonde aan die reëls. Binne die reëls van die spel is daar ruimte vir verskillende style en vir kreatiwiteit. Daar is binne die spel selfs verskillende posisies. Om weer eens Le Roux se “vulgêre voorbeeld” te gebruik: Daar is voor- en agterspelers. Mense wat hard in die skrum werk en vinnige spelers wat die punte aanteken. Alles is dus nie so vry en ongehinderd, so relatief soos wat Le Roux dit voorstel nie. Dit lyk vir my of Le Roux ’n individuele spel wil speel. ’n Spel waarvan hy self die reëls wil maak. Dit is natuurlik sy eie reg om dit te doen en om dit boonop te geniet. Die feit is egter dat die Ou-Testamentiese wetenskap ’n spansport is wat internasionaal beoefen word. Histories-kritiese en teksimmanente eksegese word selfs “in die buiteland gespeel. Mag ek aan kollega Le Roux vra – sonder dat daar van hom verwag word om onkrities te wees en om ’n naprater te wees – om die spelpatroon van ander mense met respek te behandel. Daardeur sal hy die spel van die eksegese positief dien. Le Roux se bydrae in die Kloppersfeesbundel is kontraproduktief, nie in die gees van die akademiese spel nie en dit strek homself ook nie tot eer nie.
Bibliografie
LOADER JA
- 1994. Die weg van die Here in die woestyn oftewel God se grootpad in die wildernis, Oor A Story of two Ways. Skrif en Kerk 15/2, 391-414.
LEROUX JH
- 1981. Uittog en Sinai. ’n Uiteensetting en kritiese bespreking van Gerbard von Rad. Ongepubliseerde DTh-proefskrif, Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria.
- 1993. A story of two ways. Thirty years of Old Testament scholarship in South Africa. Pretoria: Verba Vitae (Old Testament Essays SS 2.)
- 1994. God se brug na die mens: iets goddeliks of iets mensliks? Skrif en Kerk 15/1, 27-51.
- 1996. Eksegese is ’n spel. Acta Theologia 16/1, 41-56.
- 1996a. Andries van Aarde se Matteusinterpretasie. Hervormde Teologiese Studies 52(4), 653-670.
- 1996b. ’n Nuwe godsdiensgeskiedenis van Israel. Ned Geref Teologiese Tydskrif 37(4), 610-622.
PRINSLOO WS
- [s a]. Die metodiek van eksegese. Ongepubliseerde klasaantekeninge, Universiteit van Pretoria.
- 1984. Van kateder tot kansel. ’n Eksegetiese verkenning van enkele psalms. Pretoria: NGKB.
- 1988. Die histories-kritiese metode(s) in perspektief. Skrif en Kerk 9/2, 196-207.
- 1991. Die psalms leef! Halfway House: NGKB.
- 1995. Psalm 97: Alma! moet bly wees, want Jahwe is Koning. Hervormde Teologiese Studies, 51/4, 1088-1113.
- 1996. Die Here is soos ’n krygsman en hy skree soos ’n vrou in barensnood (Jes. 42:13,14). Acta Theologica 16/1, 57-67.
Voetnotas
[1] Prof. W. S. (Riempies) Prinsloo, Departement Ou Testament, Fakulteit Teologie. Universiteit van Pretoria.
[2] Bo en behalwe sy “story” (Le Roux 1993) het hy dit reeds in 1981 in sy proefskrif met Von Rad gedoen (Le Roux 1981); ook met Heyns (Le Roux 1994) en in die afgelope jaar met Van Aarde (Le Roux 1996a) en met Albertz (Le Roux 1996b).
Goed geantwoord, Prof. Prinsloo.
Dankie.