Daar is ’n spreekwoord wat sê: “Die pad na die hel is geplavei met edele voornemens.” Lees gerus hierdie artikel en oordeel dan of u daarmee saamstem.
Die saad vir die hedendaagse ekumenisme is reeds aan die einde van die 19de eeu gesaai. Daar was gedurende daardie tyd ’n toenemende begeerte om eenheid tussen die verskillende godsdienste te vestig en sodoende ’n aardse utopia te skep. Organisasies wat deur die Vrymesselaars geïnspireer was het hulle beywer om die fondamente te lê vir die 20ste eeu, want hulle het gehoop dat hul voorbereidende werk met die ingang van die 20ste eeu, die begin van ’n nuwe wêreldorde sou inlui.
Teen hierdie agtergrond het godsdienstige leiers vanoor die hele wêreld in 1893 in Chicago bymekaar gekom vir die eerste Parlement van Wêreld Godsdienste. Hindus, Moslems, Budhiste. Rooms Katolieke, Protestante en verskeie ander godsdienste het vir sewentien dae saam gebid en gedebateer oor onderlinge samewerking.
In die daaropvolgende dekades was die wêreld deur twee wêreldoorloë geskud wat mense in vrees laat lewe het. Dit was die ideale geleentheid om organisasies wat “vrede” onder volke, nasies, kultuurgroepe en godsdienste moes bevorder te stig. So het die Verenigde Nasies (VN) in 1948 tot stand gekom. Die Verenigde Nasies het net na sy tot standkoming, aan geheime organisasies ’n fokuspunt gegee waarmee godsdienstige leiers beïnvloed kon word om nouer met mekaar saam te werk. Hierdie poging van die VN het uiteindelik gelei tot die stigting van die WRK (Wêreldraad van Kerke) in 1948.
Die nuutgestigde WRK was sterk onder die invloed van die Vrymesselaars en is grootliks deur organisasies soos die Rockefeller Foundation befonds. Vanaf die WRK se eerste vergadering in Amsterdam was dit duidelik dat hulle ’n godsdienstige klimaat wou skep wat bevorderlik sou wees vir die skepping van ’n nuwe wêreldorde. Die 21ste sitting van die “Ekumeniese Raad” in Oktober 1962, beter bekend as “Vatican II”, kan met reg beskou word as ’n waterskeiding in die geskiedenis van die WRK. “Vatican II” het die weg gebaan vir die aanvaarding van ’n verenigde wêreldgodsdiens. Basil Pennington, ’n prominente Katolieke priester en outeur van “Vatican II”, het homself as volg hieroor uitgelaat: “We’ve only just begun. The Council urge all Christians to act positively to preserve and even promote all that is good in other religions: Hinduism, Buddhism and other religions.” Sy uitspraak het daartoe gelei dat die Sekretariaat vir wêreldgodsdienste tot stand gekom het. Die “vader van die droom van ’n verenigde wêreld godsdiens, Robert Muller, het homself as volg oor ’n verenigde wêreld godsdiens uitgespreek, “If (Let wel hy sê nie “when” nie), Christ came back to earth, his first visit would be to the United Nations to see if his dream of human oneness and brotherhood had come true.”
Pous Johannes Paulus II het die aanbeveling van die Ekumeniese Raad ’n stap verder geneem en in 1986 ’n intergeloof beraad in Assisi gereël en sodoende ekumenisme in ’n intergeloof aksie verander.
In September 1993 het die Parlement vir Wêreldgodsdienste weer vergader om die eerste byeenkoms van die Parlement, 100 jaar tevore, te herdenk. Behalwe die gewone afgevaardigdes is dit ook bygewoon deur Voodoo priesters, Rastafariërs, hooggeplaaste Vrymesselaars, hekse, towenaars, waarsêers, son aanbidders, verskeie okkultiese organisasies, slang besweerders en (kyk net hierna), Luciferane (maw sataniste).
Sekerlik die mees insiggewende gebeurtenis tydens hierdie sitting van die “Parlement” was die byeenkoms van ’n binnekring van godsdienstige leiers. Hierdie invloedryke groep het Robert Muller, Adjunk Sekretaris Generaal van die VN ingesluit. Hulle het konsensus bereik oor hoe mense teenoor mekaar behoort op te tree. ‘n Verklaring, “The Global Ethic”, wat deur Dr Muller se vriend, die Katolieke teoloog, Dr Hans Kung opgestel is en deur die binnekring aangeneem is, bevestig die interafhanklikheid van alle godsdienste. Hulle aanbeveling was dat dit deur alle godsdienste aanvaar moet word en dat dit onherroeplike en onvoorwaardelike norme beskryf wat toepaslik sal wees op alle fasette van die lewe; Familie, samelewing, rasse, volke en godsdiens.
In sy boek, Global responsibility: In search of a new World Ethic, stel Dr Kung dit ondubbelsinnig dat deelname aan hierdie nuwe etiek (godsdiens) nie opsioneel sal wees nie en dat enige vorm van konserwatisme in die kerk verwerp moet word.
Wat hierdie mense vergeet is dat God al klaar in die Bybel ’n stel “Global Ethics” gegee het as deel van sy skeppingsorde. Sy etiek vir die lewe word in sy geïnspireerde Woord vir ons gegee en sy Gees sal ons lei in die verstaan en toepassing daarvan. Ongelukkig, soos dit duidelik geopenbaar word in die besluite van die Parlement van wêreldgodsdienste, is die mens meer genoë om sy eie stel reëls op te stel wat sy eie begeertes en behoeftes bevredig eerder as om te buig voor God se gesag en heerskappy.