Kyk ook: |
Die volgende artikel het oorspronlik in Rapport verskyn.
***********
Emosies in NG Kerk hoog oor doop
2011-08-07 00:13
Die doopsinode.
Só verwys sommige NG predikante reeds na dié kerkverband se algemene sinode wat in Oktober plaasvind. Dit blyk dat die emosionele vraag of die kerk ’n vorm van grootdoop moet toelaat, een van die vernaamste besprekingspunte kan word.
Die moontlikheid van ’n “bekeringsdoop” – ’n tweede doop wat nie die verbondsdoop van kinders sal vervang nie, maar wel op versoek van reeds gedoopte volwassenes aan hulle bedien kan word – is al op vorige sinodes bespreek, maar ’n groep teoloë hoop nou dat hulle die kerk kan oortuig om dit toe te laat.
“Dit sal ’n jammerte wees as dit weer na ’n kommissie terugverwys word vir nog vier jaar se ondersoek,” sê prof. Adrio König, een van die dryfvere agter die veldtog vir ’n bekeringsdoop.
Rapport het verlede week berig ’n groep predikante van die oostelike sinode het ’n amptelike proses begin om die algemene sinode vir ’n geldige bekeringsdoop te vra.
Ook die sinode Wes- en Suid-Kaapland het aan die algemene sinode ’n brief gestuur om te sê hoewel hulle die bestaande verbondsdoop erken, moet die vraag bespreek word of lidmate “by wyse van uitsondering spesiale verlof” gegee kan word om bo en behalwe hul verbondsdoop ’n bekeringsdoop te ondergaan.
Kritici van die bekeringsdoop meen dit tas die wese van die Gereformeerde geloof aan, ingevolge waarvan die doop ’n simbool van God se genade is wat onverdiend aan mense geskenk word en waarvoor mense nie kan vra nie.
König verskil. “Dit lê in die wese van ’n Gereformeerde teologie om die bekeringsdoop toe te laat. Dis nie ’n herhaling van die Christelike doop wat in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees bedien word (die verbondsdoop) nie.
“Dit is eerder ’n manier waarop mense met ’n diep geestelike ervaring op hul vroeëre Christelike doop kan antwoord.”
Volgens König, wat pas ’n boek oor die doopkwessie, Leef uit jou doop, gepubliseer het, is daar reeds talle NG-gelowiges wat hulself laat grootdoop by kerke buite die kerkverband, waar die volwasse doop as ’n plaasvervanger vir die kinderdoop gesien word.
’n Bekeringsdoop daarenteen sal mense se behoefte aan ’n tweede doop vervul sonder dat dit die Gereformeerde verbondsdoop van kinders sal ondermyn.
König het heelwat kontak gehad met lidmate en predikante wat besluit het hul kinderdoop is ongeldig en dat hulle oorgedoop wil word. “Daarmee het ek ’n probleem. Ek sal nie ’n bekeringsdoop bedien aan iemand wat nie eerstens bevestig het hy erken die geldigheid van die verbondsdoop wat hy as kind ondergaan het nie.”
Een van die skeptici oor die bekeringsdoop is dr. Andries Kritzinger, predikant van die gemeente Orkney.
Die Gereformeerde tradisie ken geen verskil tussen ’n verbondsdoop en ’n bekeringsdoop nie, sê hy.
Die Gereformeerde doop word eenmalig bedien, verkieslik aan kinders, want “die sakramente soos die doop gaan oor wat God vir ons doen, nie oor wat ons kies om te doen nie”.
Die doop is ’n inlywing in die gemeenskap van Jesus se kerk eerder as ’n individuele belydenis van geloof.
“Die gepaste manier om daarop te antwoord is om op praktiese en etiese maniere die gemeenskap van Christus in die wêreld uit te leef.”
Dr. Braam Hanekom, moderator van die sinode Wes- en Suid-Kaapland, sê hulle het besluit om die saak na die algemene sinode te neem, want “ons het agtergekom dat ’n groeiende aantal toegewyde lidmate dit op die tafel wil sit. Ons wil nie die belydenisskrifte wysig nie, maar ons wil met deernis na dié lidmate luister.”