Kyk ook:
Die artikel hieronder deur Neels Jackson word geplaas ter wille van rekorddoeleindes.
**********
En balk in eie oog? | Netwerk24
Deur Neels Jackson
18 Julie 2021
Moet ’n mens vreeslik simpatie hê vir ’n dominee wat kritiek verduur omdat hy kwetsende goed oor ander sê, wonder Neels Jackson.
In die kerklike saak waarin dr. André Bartlett skuldig bevind is op een van vier aanklagte teen hom, is daar baie gemaak van die skade wat dr. Chris van Wyk vanweë Bartlett se woorde sou gely het.
Oor die vier klagte waarop Bartlett onskuldig bevind is, bevind die ondersoekliggaam dat dit vir die klaer, dr. Johann (Tokkie) Ernst, ’n oproep behoort te wees “om selfondersoek te doen, om homself voor God te verootmoedig met die versugting om die skade wat hy moontlik met sy klag vir Bartlett aangedoen het, reg te maak”.
Dit is egter die een klag, verdeel in ses subklagte, waarop Bartlett skuldig bevind is, wat meer aandag verdien.
Die saak spruit uit ’n inskrywing wat Van Wyk op sy Facebook (FB)-blad gemaak het ná ’n rubriek wat die moderator van die NG Kerk, ds. Nelis Janse van Rensburg, in September 2018 in Kerkbode geskryf het. Janse van Rensburg skryf onder meer dat hy “oortuig (is) dat seksuele oriëntasie ’n goeie gawe uit God se hand is wat ons met dankbaarheid mag ontvang en met sorg moet koester”.
In ’n ope brief aan Janse van Rensburg (wat hy op sy eie FB-blad geplaas het nadat ek as redakteur van Kerkbode geweier het om dit te publiseer) skryf Van Wyk: “Indien jy (Janse van Rensburg) steeds oortuig is daarvan dat seksuele oriëntasie ’n gawe van God is, sal jy pedofilie – seksuele aangetrokkenheid tot kinders – ook op soortgelyke wyse moet aanvaar. Pedofilie word tans as seksuele oriëntasie aanvaar deur sielkundiges.”
Die stelling dat sielkundiges pedofilie as ’n seksuele oriëntasie beskou, is onwaar (en een van die redes waarom ek nie sy brief in Kerkbode wou publiseer nie). Dít het die Sielkundevereniging van Suid-Afrika en die American Psychiatric Association (APA) by navraag bevestig. Natuurlik sou Van Wyk iewers sielkundiges kon vind wat wel meen pedofilie is ’n oriëntasie, maar hy sou nie sy argument op enkele uitsonderings kon bou nie, veral nie terwyl die beroepsliggame van sielkundiges presies die teenoorgestelde sê nie.
Belangrik in dié geval was dat Van Wyk (nadat die Sielkundevereniging van Suid-Afrika tot die debat toegetree het) geweier het om te erken dat hy verkeerd was, by sy onwaar stelling gebly en ’n drogredenasie daarop gebou het.
Dié drogredenasie – dat Janse van Rensburg se standpunt daartoe lei dat hy ook pedofilie sou moes aanvaar – is boonop ontsettend kwetsend teenoor gay mense. Soveel so dat dit kragtens die destydse stand van die reg in Suid-Afrika heel moontlik as haatspraak sou kwalifiseer (’n tweede rede waarom ek dit nie wou plaas nie)
Onthou dat dié uitspraak gevolg het nadat die joernalis, uitsaaier en latere Suid-Afrikaanse ambassadeur in Uganda Jon Qwelane skuldig bevind is aan haatspraak na aanleiding van ’n rubriek in Sunday Sun. Daarin het hy aangevoer as gay-huwelike aanvaar kan word, sal iemand kort voor lank eis dat hy toegelaat word om met ’n dier te trou. ’n Hof het bevind dat dit op haatspraak neerkom om so ’n verband tussen homoseksualiteit en bestialiteit te lê.
Dis in dié lig dat ’n mens Bartlett se reaksie moet beoordeel toe hy dae later aan Rapport gesê het: “Sy standpunt oor gay-wees en pedofilie kom neer op haatspraak. Hoekom word hy met handskoene gehanteer en waarom distansieer die kerk hom nie van sulke uitsprake nie? Iemand behoort hom aan te gee, maar dit lyk of niemand die moed het om teen hom op te staan nie.”
Hierdie uitspraak van Bartlett is in Ernst se aanklag in drie verdeel en as drie subklagte gehanteer. Op al drie is hy skuldig bevind dat hy die negende gebod oortree het en Van Wyk se reputasie geskend het.
Maar met die uitspraak teen Qwelane as die destyds geldende regspresedent, lyk dit of Bartlett se uitspraak heeltemal redelik was. Hy was in elk geval in goeie geselskap, want die Menseregtekommissie het ook geoordeel dat dit op haatspraak neerkom en het daarom die saak verder gevoer.
Die regsposisie het wel later verander. Qwelane het geslaag met ’n appèl en die gelykheidswet se definisie van haatspraak is geskrap. Die saak eindig egter nie daar nie, want die Menseregtekommissie het na die konstitusionele hof geappelleer en die uitspraak word steeds afgewag. In afwagting van dié uitspraak het die Menseregtekommissie sy eie saak teen Van Wyk se pedofilie-plasing voorlopig laat vaar.
Dié verwikkelings verander egter nie aan die feit dat die gelykheidswet se definisie nog gegeld het toe Bartlett met Rapport gepraat het nie.
Maar kom ons keer terug na Van Wyk se eie uitsprake oor ander. In sy ope brief aan Janse van Rensburg skryf hy ook: “Uiteindelik bring jou standpunt die Skrif en belydenisskrifte in gedrang.”
Dit is ’n baie ernstige aantyging (veral teen die moderator van die kerk), omdat dit neerkom op ’n klag van leerdwaling.
Dit was nie die eerste keer dat Van Wyk so ’n aantyging gemaak het nie.
Slegs ’n paar weke tevore het hy aan Kerkbode ’n brief gestuur waarin hy aanvoer dat ’n rubriek deur dr. Nadia Marais, ’n teologiedosent van Stellenbosch, direk ingaan teen die Dordtse Leerreëls, een van die belydenisskrifte van die kerk.
Ek het hom geantwoord dat dit ’n baie ernstige aantyging is wat neerkom op ’n klag van leerdwaling. As hy inderdaad oortuig is van sy saak behoort hy dit op te neem met die kuratorium, die kerklike liggaam wat toesig hou oor dosente. Kerkbode is nie die kanaal vir sulke klagtes nie.
Van Wyk se antwoord aan my was dat ek duidelik bevooroordeeld is teen hom. Soos met sy ope brief aan Janse van Rensburg het hy voortgegaan om sy skrywe oor Marais op sy eie FB-blad te plaas. Dit het die dagbestuur van die kuratorium genoop om in ’n verklaring dié verdagmakery te betreur en Marais se “verbintenis aan die gereformeerde leer” te herbevestig.
Oor Van Wyk se aksies op Facebook (veral dié wat op Janse van Rensburg gemik is), haal Rapport vir Bartlett soos volg aan: “Hy is besig met guerrilla-oorlogvoering . . . Hy doen niks ampteliks nie, maar saai verdeeldheid met inskrywings op sy persoonlike Facebook-blad. Hy ondermyn Janse van Rensburg en die res van die kerk se leierskap terwyl hy self deel is daarvan. Dit is pure verdagmakery.”
Hierdie aanhaling is ook verdeel en as drie subklagte gehanteer. Op al drie is Bartlett skuldig bevind aan ’n oortreding van die negende gebod en dat hy Van Wyk in oneer gebring het.
Die ondersoekliggaam sê dis moontlik dat Van Wyk Janse van Rensburg se leierskap ondermyn het, maar vind geen getuienis dat Van Wyk se bedoeling was om die res van die kerk se leierskap te ondermyn nie. Met ander woorde: Al het Van Wyk moontlik vir Janse van Rensburg ondermyn, word sy reputasie geskend deur te sê dat hy die res van die kerk se leierskap ook ondermyn het.
Van Wyk het hierdie aanklag teen Janse van Rensburg (soos ook die een teenoor Marais) op sosiale media gemaak terwyl die amptelike weg vir klagte teen leraars is om dit by die leraar se ring aanhangig te maak.
Bartlett was nie die enigste wat krities was oor Van Wyk se optrede nie.
Vanuit die moderatuur self is daar teenoor my opgemerk dat Van Wyk “ ’n alternatiewe leierskap” probeer daarstel. Een voorbeeld daarvan was dat hy gereël het dat hy en ses ander leiers van streeksinodes ’n teologies konserwatiewe konferensie in Amerika gaan bywoon het. Toe ek hom daarna vra, het hy verduidelik dat hy die leiers wil voorberei vir die situasie nadat die kerk se 2015-besluite oor gay-verhoudings herroep is. “Dis leierskap,” het hy aan my gesê.
Dat Van Wyk deur die hele loop van gebeure seergekry het, verstaan ek goed. Dit kan nie lekker wees om deur die land se Menseregtekommissie van haatspraak aangekla te word nie. Maar terwyl Ernst al die verantwoordelikheid vir Van Wyk se pyn op Bartlett se brood wil smeer, moet ’n mens vra wat Van Wyk se eie aandeel daarin was. Dis immers hy wat – ondanks my waarskuwing dat sy opmerking oor pedofilie op haatspraak kan neerkom – dit op sy FB-blad gaan plaas het. Aan al die ontsteltenis oor die pyn wat sy uitsprake gay mense aangedoen het, het hy hom nie gesteur nie. ’n Mens sou hoop dat hy die pyn sou raakhoor, dat hy sy kwetsende woorde sou terugtrek en verskoning vra vir die pyn wat hy (moontlik onbedoeld) veroorsaak het.
Ná alles bly die vraag by my: Waar lê die leuens nou eintlik? Daarmee saam bly dié gevoel: Die slegste ding van die hele sage is die manier waarop gay mense se pyn geïgnoreer word.
Neels Jackson is ’n voormalige redakteur van Kerkbode.