‘Ernstige leemtes in werk oor Jesus’

Verklaring deur proff.:

  • Pieter de Villiers (Rhodes)
  • Jan van der Watt (Universiteit van Pretoria)
  • Fika van Rensburg (Potchefstroomse Universiteit), en
  • Hermie van Zyl (Vrystaatse Universiteit)

*******

‘Ernstige leemtes in werk oor Jesus’

Beeld, 8 April 2002

Neels Jackson

Terwyl die gedagte aan ‘n nuwe hervorming in kerklike kringe die afgelope tyd heelwat opspraak gewek het, is daar Nuwe-Testamentici wat meen daar is goeie akademiese redes waarom hulle nie hierby, by die werk van die Jesus-seminaar of by die navorsing oor die historiese Jesus betrokke wil raak nie.

In ’n gesamentlike verklaring het proff. Pieter de Villiers (Rhodes), Jan van der Watt (Universiteit van Pretoria), Fika van Rensburg (Potchefstroomse Universiteit) en Hermie van Zyl (Vrystaatse Universiteit) gesê hulle is al verskeie jare bewus van die werk van ’n klein groepie Nuwe-Testamentici in die Jesus-seminaar en hul werk oor die historiese Jesus.

Hulle het nogtans besluit daar is belangrike wetenskaplike redes waarom hulle nie by die navorsing van die seminaar betrokke wil raak nie, hoewel hulle nie die goeie reg op onafhanklike navorsing wil bevraagteken nie.

“Hoewel ons glo dat historiese ondersoek oor Jesus ’n rol te speel het in die interpretasie van Die Bybel, is ons oortuig dat daar ernstige leemtes in hul werk voorkom. Ons het veral voorbehoude oor hul opvatting van geskiedenis, hul verwaarlosing van die finale teks van die evangelies self, hul onderling botsende interpretasies van Jesus, hul hipotetiese en onbewysbare historiese rekonstruksies en die onoortuigende datering van buite-Bybelse bronne,” lui die verklaring.

“Ons bevraagteken die wyse waarop hulle belangrike historiese gegewens in hul ondersoek van die evangelies buite rekening laat. Dit sluit in nie net die ander onafhanklike skrywers van die Nuwe Testament nie (byvoorbeeld Paulus, Petrus en die Hebreërskrywer), maar ook gegewens van buite-Bybelse skrywers soos Josefus, Plinius en Tacitus. Hierdie gegewens bevraagteken hul negatiewe siening van die betroubaarheid van die evangelies.”

Die vier professors verwerp ook die manier waarop die Jesus-seminaar ’n skeefgetrekte beeld van die kerk voorhou asof die kerk lidmate in die duister wil hou en goeie wetenskaplike navorsing vrees.

Terwyl dit soms van sekere individue en groepe waar mag wees, en daar inderdaad tye is dat die kerk onverdraagsaam is teenoor wetenskaplike werk, is daar ook genoeg bewyse van die teendeel. Die kerk neem dikwels nuwe insigte van die wetenskap oor.

In Suid-Afrika het die navorsing en verset van Nuwe-Testamentici teen ‘n rassistiese en seksistiese lees van sekere Bybelse tekste byvoorbeeld bygedra tot fundamentele kritiek op die apartheidsbeleid en tot die toelating van vroue in die amp.

“Ons deel die kerklike aanvaarding van Die Bybel as unieke grondslag vir geloof in God en Jesus Christus. Ons glo dat daar oortuigende redes is waarom vroeg-Christelike kerke buite-Bybelse boeke soos die Evangelie van Petrus en Thomas nie wou aanvaar nie.

“In vergelyking met hierdie boeke met hul dikwels wilde fantaserende en legendariese materiaal staan die evangelies wit in hul soberheid en hul historiese sensitiwiteit.”

Al is Die Bybel nie ’n historiese handboek nie, aanvaar die vier dat die getuienisse van Bybel-skrywers tog ’n histories betroubare beeld van Jesus moontlik maak. Hulle is oortuig Die Bybel bied ’n voldoende grondslag om sinvol en met vertroue oor Jesus ha te dink.

“Die maniere waarop in die mediadebat spesifiek oor God en gebed gepraat is, stereotipeer die wetenskap en die kerk as instellings wat ‘n kruipende geloofshouding teenoor ’n God as ’n streng patriargale Vaderfiguur voorstaan. Die Nuwe Testament self bevat, na gelang van konteks, verskeie verrykende insigte oor God en gebed wat nie hierdie stereotipering reflekteer nie.

“Hierdie Bybelse en vakwetenskaplike sienings van God kan inderdaad skewe denke oor God en gebed, asook oor ander kontemporére sake korrigeer.

“Sulke vernuwende denke word egter wyd in die Nuwe-Testamentiese wetenskapvlakke bespreek en geniet ons ondersteuning: Dit sluit in nie-seksistiese Bybel-vertalings en taal vir God, asook byvoorbeeld nadenke oor intieme beelde van God en Jesus as Goeie Herder en Vriend soos in Joh 15:13-15.

“Ons verwerp dus die implikasie van die huidige debat dat die Jesus-seminaar tans dié bron van nuwe denke is of dat slegs buite-Bybelse bronne sulke denke moontlik maak.”

Die professors sê uitdruklik dat hulle nie ’n fundamentalistiese siening van Die Bybel onderskryf nie. Dit is juis een van die redes waarom hulle krities staan teenoor die Jesus-seminaar. Hulle is oortuig dat die werk van die seminaar wesenlik fundamentalisties van aard is omdat dit n historistiese benadering tot die Skrif kanoniseer en teologiese werksaamhede en uitsprake daaraan meet.

Hulle bevraagteken ook die uitsluitlike fokus van die seminaar op die navorsing van die historiese Jesus en die potensieel nadelige invloed van so ’n beperkte teologiese benadering op die verstaan van geloof. Dit suggereer byvoorbeeld ’n skewe beeld van geloof as prestasie omdat dit impliseer dat die vasstelling en aanbieding van sekere historiese feite geloofsekerheid of ’n geloofsgrondslag kan bied.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui