Evangelies-Gereformeerde kerk

*******

Die volgende is ‘n lys van die belangrike leerstellinge van die Evangelies-Gereformeerde kerk:

Inhoud: Doop, Eskatologie, Vrou in die amp, Alkohol, Geloofsbelydenisse, Bybelvertaling

Doop

Kinderdoop (doop kinders van gelowige ouers)

Eskatologie

Chiliasme, dispensasionalisme: die wegraping gaan plaasvind voor die sewe jaar van verdrukking.

Vrou in die amp

Word nie toegelaat nie.

Alkohol

Strenger siening oor alkohol – geen alkohol tydens nagmaal.

Geloofsbelydenisse

Onderskryf die Drie Formuliere van Eenheid (NGB, HK en DL).

Die Apostoliese geloofsbelydenis skep die indruk dat Jesus tussen Sy dood en opstanding, na die hel toe was en daar verder swaar gekry het:

(4)wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het; (5)wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;

Die EGK gebruik nie hierdie woorde nie, maar die woorde volgens Efesiërs 4:9 (AFR53): Maar dít: Hy het opgevaar — wat beteken dit anders as dat Hy ook eers neergedaal het in die onderste dele van die aarde?

Hulle maak dus ‘n duidelike skeiding tussen die hel en die doderyk (“hades“).

Bybelvertaling

Afrikaanse 1953

********

Kyk ook “Leerstellings” hieronder.

Bylaag A: Bely en Beleef, Vlak 3

Die volgende kom uit Bely en Beleef, Vlak 3 – leerboek vir katkisante van die Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika, les 11, bladsy 43-48:

Die ontstaan en geestelike doelwitte van die E.G. Kerk spruit uit slegs een beweegrede: Om God te verheerlik en sy koninkryk uit te brei. Om hierdie doel te kan verwesenlik, verg voortgesette toewy- ding aan die Here, die eerbiediging en verkondiging van ‘n funda- mentele evangeliese leerstelling, kritiese selfondersoek en waak- saamheid teen die verval en dwalinge van ons tyd.

1. Ontstaansgeskiedenis

Die Evangelies-Gereformeerde Kerk het sy ontstaan op 21 April 1944 in Natal gehad. Die Kerk is na ‘n spontane reaksie deur 44 kerkraadslede van die N.G. Kerk op gereformeerde grondslag gestig. By die stigtingsvergadering het dr. D.J. de Vos die leiding geneem. Hy is as die eerste predikant van die Kerk beroep. Die naam waaronder die Kerk gestig is, is Die Nuwe Protestantse Kerk in Afrika.

Die stigting van die Evangelies-Gereformeerde Kerk was nie die resultaat van ‘n leerstellige stryd nie, maar het oor die leerstellige suiwerheid van die Kerk gegaan. Die Kerk het dit vir homself ten doel gestel om ‘n sterk evangeliese karakter te hé en hierdie boodskap op ‘n lewenskragtige wyse uit te dra. Daar bestaan gemeentes in al die belangrike streke van die Republiek van Suid-Afrika, en die Kerk is steeds besig om uit te brei.

2. Naamsverandering

Soos reeds genoem, is die E.G. Kerk onder die naam van Die Nuwe Protestantse Kerk in Afrika gestig. Die beweegrede hiervoor was die ideaal om die Protestantse beginsels te beskerm en met nuwe ywer te verkondig en uit te leef. Hoë geestelike standaarde moes verseker word, sodat daar voortdurend op ‘n oortuigende wyse standpunt teen sonde, dooie formalisme, vervalsing van die waarheid en geestelike afvalligheid ingeneem kan word — sake waarteen die Kerkhervormers ook geprotesteer het.

Met die verloop van tyd het dit egter duidelik geword dat die naam Die Nuwe Protestantse Kerk nie in die beste belang van die Kerk was nie, en selfs probleme veroorsaak het. Die twee belangrikste redes waarom die gevoel ten gunste van ‘n naamsverandering posgevat het, was die volgende:

  • Die naam Die Nuwe Protestantse Kerk het nie die werklike wese en karakter van die Kerk uitgedra nie.
  • Daar was ‘n assosiasie en verwarring met Pinksterkerke in die land, terwyl die Kerk baie duidelik in die stroom van die gereformeerde kerke is.

Op die sinode van Augustus 1986 is die naam van die Kerk na die Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika verander. Die Kerk hou niks teen die Pinksterkerke nie en wil nie sê dat ons Kerk beter is nie, maar beslis anders. Ons is evangelies en gereformeerd in belydenis en aanbidding.

3. Grondslag

Die E.G. Kerk is op die onfeilbare Woord van God gefundeer. Die leer wat die Kerk op grond van die Bybel bely, is evangelies en gereformeerd. Die Evangeliese Belydenis is deur die E.G.K.-sinode vasgestel, terwyl die Gereformeerde Belydenis, in soverre as wat dit met die Bybel ooreenstem, ook aanvaar is. Die Gereformeerde Belydenis is op die Dordrecht-sinode van 1618-1619 aanvaar, en sluit die 37 artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Vyf Dordtse Leerreëls in.

Die belydenisskrifte van die evangelies-gereformeerde leer word nie aan die Woord van God gelykgestel nie (kyk Art. 7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis). Die Kerk aanvaar ten alle tye die uitspraak van die Woord van God bó die belydenisskrifte. In alle verskille tussen genoemde gereformeerde belydenisskrifte en die Evangeliese Belydenis, aanvaar die Kerk laasgenoemde.

4. Leerstellings

Die volgende leerstellings word deur die kerk onderskryf:

  • Die Bybel is die ewige en onfeilbare Woord van God, en is woordeliks geinspireer.
  • God is enig in Wese en tóg onderskeie in drie Persone, nl. Vader, Seun en Heilige Gees.
  • Jesus is die ewige en enige Seun van God wat die enigste Middelaar tussen God en die mens is.
  • Ons glo aan die Godheid van Jesus Christus, sy maagdelike geboorte, sy versoenende kruisdood, sy triomfantelike opstanding uit die dood, en sy verhoging en verheerliking aan die regterhand van God in die hoogte.
  • Die mens is van nature in ‘n gevalle en verlore toestand. Sy totale verdorwenheid en onvermoë tot geestelike deugde maak wedergeboorte noodsaaklik om die koninkryk van God te kan beërf.
  • Die sondaar kan slegs deur genade redding uit sy verlore toestand verkry, deur geloof in die plaasvervangende dood en vergote bloed van Jesus Christus, ons Heer en opgestane Heiland en Verlosser.
  • ‘n Persoon moet Jesus Christus bewustelik deur bekering en belydenis van sonde as sy persoonlike Verlosser en Saligmaker vind, waarna God die daad van wedergeboorte in sy siel laat plaasvind sodat hy hemel toe kan gaan. Wedergeboorte is ‘n bewustelike ondervinding in die lewe, wanneer God die mens nuut maak en op die pad van heiligmaking plaas. Die Heilige Gees gee aan sê ‘n persoon die sekerheid van saligheid (Rom 8:16).
  • Ons glo aan die persoonlike wederkoms van Jesus Christus, wat voor die duisendjarige vrederyk in twee fases sal geskied. By die eerste fase wat in lug sal geskied, kom Hy sy kinders haal. By die tweede fase kom hy tot op die aarde om saam met sy heiliges te regeer.
  • Die ware kerk as die liggaam van Christus is die onsigbare kerk wat net uit wedergeborenes bestaan. Alleenlik persone wat ‘n duidelike getuienis kan aflé dat hulle weergebore is, mag by die plaaslike gemeente gevoeg word.
  • Christus se groot sendingopdrag aan sy kerk, nl: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom” (Mark 16:15), moet deur plaaslike én wêreldwye evangelisasiewerk gehoorsaam word.
  • Jesus Christus, wat aan die regterhand van God die Vader is en nou vir ons voorspraak doen, is die enigste Hoof van die Kerk.
  • Ons glo aan die opstanding van die verlostes tot die ewige lewe en vreugde in die hemel, en die opstanding van die verlorenes tot die ewige straf in die poel van vuur.
  • Ons glo aan die vervulling met die Heilige Gees vir die kind van God, wat hom tot ‘n heilige oorwinningslewe in staat stel, asook in die verpligting om vir God te getuig en siele vir Christus te wen, m.a.w. die beoefening van die amp van die gelowige.

5. Houding teenoor ander kerke en bewegings

Die Evangelies-Gereformeerde Kerk reik ‘n hand van vriendskap en welwillendheid na élke Christus-belydende kerk uit, veral m.b.t. aksies vir die uitbreiding van die koninkryk van God.

Die Kerk distansieer hom geheel en al van die Wêreldraad van Kerke en sy geaffilieerde liggame soos die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, of enige instansie wat die politieke bevrydingsteologie voorstaan. Die intergeloofsbeweging, soos vergestalt in die Wêreldkonferensie oor Godsdiens en Vrede, word ook verwerp omdat dit die Christelike godsdiens met die nie-Christelike godsdienste assosieer.

6. Boodskap

Tereg kan saam met die apostel Paulus gesê word: “…want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde” (1 Kor 2:2). Die kruisboodskap wat deur die Kerk uitgedra word, sluit in:

  • Die verlossing en redding van verlore sondaars (Ef 1:7), asook die feit dat ‘n mens in hierdie lewe sekerheid van saligheid kan kry (1 Joh 5:13).
  • Hartsreiniging en vervulling met die Heilige Gees, m.a.w. die boodskap van heiligmaking (1 Thess 4:3,7).
  • Die persoonlike wederkoms van Jesus Christus voor die duisendjarige vrederyk (1 Thess 4:15-16).
  • Die genesing van fisiese krankheid, aangesien dit ook by die versoeningswerk van Jesus ingesiuit is en vandag nog vir die genesing van siektes werksaam is (Jes 53:5; 1 Pet 2:24).

7. Voorwaardes vir lidmaatskap

Die E.G. Kerk handhaaf die vereiste van die Woord van God m.b.t. lidmaatskap: “En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is” (Hand 2:47). Alle persone wat dus die getuienis het dat hulle Jesus Christus as Saligmaker en Verlosser ken, kan om lidmaatskap aansoek doen. Só ‘n persoon moet die belydenis hé dat hy of sy deur die Heilige Gees tot só ‘n stap gelei is.

Jongmense ondergaan grondige kategetiese onderrig. Diegene wat hierdie onderrig suksesvol voltooi het, en die getuienis het dat hulle die Here Jesus as hulle persoonlike Saligmaker ken, kan ná verloop van tyd om lidmaatskap aansoek doen.

8. Vorm van aanbidding

Twee eredienste word elke Sondag gehou. Ten tye van die oggenddiens word ‘n ritus gevolg wat onder andere insluit: Die voorlees van die samevatting van die wet soos deur Christus weergegee, asook die twaalf artikels van die algemene Christelike geloof. By hierdie diens word uit die Psaim- ‘en Gesangeboek gesing. Daar word gewaak dat die ritus nie in ‘n dooie vorm verval nie.

Die aanddiens neem die vorm van ‘n evangeliese boodskap aan wat aan die verlore mensdom gerig word. Sodoende word daar spesiale aandag aan die behoeftes van persone gegee wat na sekerhied van Saligheid soek. By hierdie diens word uit die Halleluja-bundel gesing.

Die EG Kerk beskou dit as uiters belangrik om lidmate geestelik op te voed en op te bou in die allerheiligste geloof, asook om die soekende siel te help om by Christus uit te kom.

9. Ander aktiwiteite

Woensdagaande word in die hele Kerk gemeentebidure gehou. Spesiale tye van gebed word ook onderling in gemeentes gereël. Aktiewe jeugverenigings bestaan in die meeste gemeentes. Goed georganiseerde Sondagskole bestaan, waar kinders grondig uit die Woord van God onderrig word, slegs deur persone wat ‘n lewende getuienis het dat hulle Christus as persoonlike Verlosser ken. Die susters word deur middel van ‘n Christelike Vrouevereniging aktief by gemeenteli- ke aktiwiteite betrek. Van tyd tot tyd word ook evangelisasieveldtogte in gemeentes gehou. Verder word konferensies en jeugkampe met die oog op die geestelike verdieping van gelowiges gereël. Só word gepoog om aan die geestelike behoeftes van alle lidmate te voldoen.

10. Sakramentsbediening

Die heilige doop word deur besprinkeling aan die kinders van gelowige ouers bedien. Aan ongedoopte volwassenes word die doop na die aflegging van die belydenis van geloof bedien. Die sakrament van die heilige Avondmaal word aan kinders van God wat die vrymoedigheid daartoe het, bedien. Die Nagmaal word nie as die tafel van die Kerk beskou nie, maar as ‘n voorreg waaraan alle bloedgewastes deel mag hé.

11. Beheerstruktuur

Die kerklike opsig en bestuur is op die Dordse kerkordening gegrond, en vind in drie bestuursliggame gestalte, nl. die kerkraad, ring en sinode. Die drie ampte, nl. leraar, ouderling en diaken, word in die kerkorde erken m.b.t. die besondere bediening wat hulle moet vervul. Alleen manspersone met ‘n persoonlike getuienis van wedergeboorte, en wat leer en wandel ooreenkomstig die eise van die Skrif, mag in hierdie ampte dien. Voordat hulle in hul ampte bevestig word, moet die nodige goedkeuring eers van die gemeente verkry word.

12. Sendingwerk

Die Kerk onderneem ook sendingaksies onder verskillende volkere in Suider-Afrika. Sendingwerk word van evangelisasiewerk onderskei deurdat dit benewens die verkondiging van die evangelie in ‘n wyer verband na die behoeftes en opheffing van die ontvangende gemeenskap kyk, en sover moontlik daarin probeer voorsien. Mense uit heidense kulture het baie meer leiding, onderrig en hulp nodig om as Christene hulle weg deur die lewe te vind. Hulle moet dus deurlopend bearbei word, en nie slegs deur spesiale dienste nou en dan nie.

1 thought on “Evangelies-Gereformeerde kerk”

  1. //persoonlike wederkoms van Jesus Christus, wat voor die duisendjarige vrederyk in twee fases sal geskied. By die eerste fase wat in lug sal geskied, kom Hy sy kinders haal. By die tweede fase kom hy tot op die aarde om saam met sy heiliges te regeer.//

    Waar kom hulle aan die ‘twee fases’?
    Die wederkoms is een gebeurtenis. Dis nie een van die produkte waar jy eers vir die produk betaal soos geadverteer en dan vir die naverkopediens moet betaal tot die produk werk (nie soos geadverteer nie).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui