Filosofie onder die dekmantel?

Filosofie onder die dekmantel?

(Van Beeld gekopieer)

2012-12-28 21:40

 

Charl-Pierre Naudé

 

Nou die aand kyk ek na ’n onderhoud met die wetenskaplike en self-erkende ateïs prof. Richard Dawkins op die skottel.

Wat my beïndruk het, was nie Dawkins nie, maar die onderhoudvoerder. 

Wat ’n vermaarde op-die-voete-denker; hy het Dawkins telkens teen die toue gehad.

Telkens oor een ding: Die grense van die wetenskap, wat wetenskap probeer beoordeel maar nié by magte is nie. 

Die hardste neut om te kraak is natuurlik die godsdiens. 

Terloops, as mens oor “wetenskap” praat soos Dawkins die begrip verstaan, praat jy oor die ban en die bestek van die bewyskunde (Dawkins se woord is evidence). 

Ek het die proffie skoon jammer gekry. Die slim Moslem-mannetjie wat die vrae gevra het, het die beroemde wetenskap­like hárde bene laat kou. 

In die 1960’s het die groot Nobelpryswenner-digter Octavio Paz dit betreur dat die letterkunde sy leidingsposisie aan die wetenskap moes afstaan.

Maar dit was asof Paz bygevoeg het: Tereg só, dit kan nie anders nie. Want letterkunde, selfs goeie letterkunde, “kan niks bewys nie”. En die wetenskap kán! 

Regtig?

Sedertdien het die prentjie ingrypend verander.

Die wetenskap sélf het in die “buitenste donkerte” van die bewyskunde inbeweeg, in sfere waar niks werklik bewys kan word nie, maar wel beredeneer kan word, vir jouself vóórgestel kan word, logies of rasioneel áángevoel kan word. 

Skielik lyk dit of die wetenskap – in sy verreikendste vorme (van die kwantumfisika byvoorbeeld) – veel meer met fiksie en poësie gemeen het as wat eers gedink is. 

Die leidende wetenskaplikes van ons tyd lyk skielik iets op ’n middernagtelike emo-Johannes van die Kruis wat breakdance op ’n inter-galaktiese skateboard op soek na sy flitslig. 

Hoor ek ’n leedvermakerige digter iewers sanik: “Mos gesê …”? 

En dis veral binne hierdie konteks – van ons tyd – dat ek nogal grinnik vir sommige “literatuurwetenskaplikes” te lande. 

Want dit is asof diegene vir ’n vale aan ’n Richard Dawkins se bewyskleedjie vasklou en boonop in ’n dissipline (die lettere) waarin dit nog altyd die minste van pas was om só te doen, terwyl die wetenskap sélf sy bewysskoentjies effens ontgroei het. 

En dan bid die spul nog skelmpies. Wat ’n grillerige allegaartjie! 

Daarmee wil ek nie sê die literatuurwetenskap is ongeldig nie. 

Dit kan ’n mens veel leer oor die fundamentele werkinge van letterkunde. 

Maar dit kan nie bewýs wát is uitstygend en wat nie. 

Dáárvoor gaan jy ander modusse van beoordeling ook moet betrek. 

Veral omdat goeie letterkunde so dikwels die “wetenskaplike reëls” uitdaag en ’n spel van Veronika-met-die-mantel daarmee speel, gaan dit veel makliker wees om sulke “bewysreëls” in swak of middelmatige letterkunde te eien. 

Dus loop “bewyskunde” in die letterkunde – en in die kunste – gevaar om middelmatige werke op te hemel as meesterstukke en om teen oogklappe vas te kyk as daar op ’n dag wel iets verbykom wat goed is.

Dis te verstane dat “wetenskap” so mosterd ná die maal ’n buitensporige aantrekkingskrag op Suid-Afrikaners uitoefen. 

Ons leef polities binne mites wat nooit enige toetsing ondergaan nie. 

Maar pas op dat die antwoord nie ook ’n slap riem is nie.

Anders gestel: ’n Wolframdraadjie kan nie die skoonheid van Kersliggies verklaar nie. 

Al staan jy op jou kop.

Naudé is ’n digter.

Kyk ook:

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui