Kyk ook:
Kyk kommentaar onderaan die artikel.
*******
Frits Gaum: ‘Dit is waarom ek nog in God glo’ | Netwerk24
Frits Gaum
20 Junie 2022
Loop daar op ’n goeie dag 1 000 mense sonder enige ongeluk oor Adderleystraat in Kaapstad, rapporteer die media niks daaroor nie. Loop daar op ’n minder goeie dag 1 000 mense oor Adderleystraat en twee word doodgery, is dit nuus vir die media.
Verkondig 1 000 dominees die evangelie getrou Sondag ná Sondag en behou die geloof, is dit nie nuus nie. Neem twee van hulle ná ’n leeftyd se verkondiging van die evangelie afskeid van die geloof – soos nou met Ben du Toit en Johan Retief – is dit groot nuus met onderhoude en foto’s en briewe en ontsteltenis. En ook wel toejuiging.
Só is dit. Niks daarmee verkeerd dat so iets nuuswaardig is nie. Solank ’n mens onthou daar is 998 ouens wat skotvry aan die oorkant van Adderleystraat uitkom.
Of is dit nie net twee dominees nie, maar dalk 20 of 200 wat kies om in die kas te bly en om Adderleystraat liefs te vermy?
Die borstrok van kerk en geloof
In Afrikaanse geledere het daar die afgelope twee, drie dekades ’n groot omwenteling plaasgevind. Politieke magsverlies het op alle terreine van die lewe ’n invloed gehad. Die ou sekerhede is daarmee heen en ’n nuwe gees het posgevat: by sommige pessimisme oor nagenoeg alles – politiek, ekonomie, die toekoms; by ander ’n soort vrypostige vrygeestigheid; by nog ’n groep ’n vrydenkendheid wat die verlede en die waardes wat toe gegeld het, afskryf en in die asdrom gooi. En ’n vierde groep wat probeer walgooi en uit die verlede wil vat wat goed is.
Dit is veral ook met die kerk en geloof die geval. Baie Afrikaanse mense het wat hulle beskou as die borstrok van kerk en godsdiens afgegooi. Hulle staan afsydig, sommige selfs vyandig, teenoor die kerk en glo eintlik nie meer in God nie.
Want daar is mos nie ’n God nie?
Hoe meer mense dit sê, en hoe meer gewese dominees dit beaam, hoe meer klink dit reg: Daar is nie ’n God nie.
Godsbehoefte ’n ‘primitiewe instink’
Dis ’n hele ry Afrikaanse intelligentsia wat meer of minder openlik nie meer in “die God van die Bybel” glo nie. In ’n boek waarvan George Claassen en ek die redakteurs was, laat Claassen self, Dave Pepler, Antjie Krog, Piet Croucamp en ander blyk dat die tradisionele siening oor God nie meer in hul lewe ’n plek het nie.
Croucamp sê onomwonde: “Die behoefte aan ’n god is ’n primitiewe instink waarvoor daar geen noodsaaklikheid meer is nie.”
Daar is egter ook Afrikaanse geleerdes wat anders dink. Wentzel van Huyssteen, internasionaal bekende voorloper in die gesprek tussen teologie en wetenskap wat onlangs oorlede is, skryf in dieselfde boek: “Geloof in God is vir my nie geloof in ’n fyn en stilisties geartikuleerde Godsleer nie, maar is ten diepste ’n gevoel van absolute afhanklikheid van God. Vir my sou geloof in God, die gevoel van absolute verbondenheid aan ’n Hoër Wese, nie sin kon maak sonder die waarheid van God se absolute teenwoordigheid in Jesus van Nasaret nie.”
Christina Landman, bekende teoloog verbonde aan Unisa, skryf: “God en ek kom al ’n lang pad saam, sedert my peuterjare. En God is nie maar my ‘imaginary friend’ nie. God en ek is saam. God is by my. En God laat ’n mens nie eens in die graf alleen nie.”
Om God te kan ‘bewys’
Hierdie sienings laat ’n mens wonder: Is daar dan nie objektiewe bewyse dat God bestaan of nie bestaan nie? Of moet ’n mens bloot op jou subjektiewe gevoel staatmaak om te glo dat daar ’n God is?
Deur die jare is talle pogings aangewend om God te “bewys”. In die Rooms-Katolieke Kerk se teologie word volledig ruimte gelaat vir ’n “natuurlike teologie” wat daarop neerkom dat ’n mens uit die bestaan van die werklikheid (die natuur) kan aflei dat daar ’n eerste oorsaak is, en dit is God.
In die Protestantse teologie is soms na ’n reeks sogenaamde Godsbewyse verwys: die “ontwerp-bewys”, die “kosmologiese bewys”, die “teleologiese bewys”, die “ontologiese bewys”, die “morele bewys”, die “etnologiese bewys” en die “geskiedkundige bewys”. Sommige van dié Godsbewyse is beter as ander, maar dit is onwaarskynlik dat hulle mense soos Claassen en Croucamp gelowig sal laat word. Maar hierdie Godsbewyse is nie daarom nutteloos nie. Dit het sekerlik bevestigende waarde vir mense wat reeds in God glo.
Op die ou end is dit egter net God self wat ’n mens kan laat glo dat daar ’n God is. Meer nog, dat daar ’n God is wat omgee. En God doen dit! God laat mense glo. En dan glo mense ten spyte van duisend teenargumente. Maar jy is nie in die proses ’n passiewe party nie. God gee aan jou die geskenk van geloof, maar jy moet jou hande oop hou, bereid en gereed wees om die geskenk te ontvang. Jy moet dit wíl ontvang. As jy weier om die geskenk te ontvang, jou rug draai op die Skenker, sal jy ook nie die geskenk-van-geloof ontvang nie.
‘Hoekom laat God dít toe?’
Mense glo ook omdat hulle – met al die respek wat hulle het vir die wetenskap en dié se prestasies – nie dink dat die empiriese wetenskap ooit die allerantwoord op ons diepste vrae na ons oorsprong en die sin van ons bestaan kan gee nie.
Vir my bly die uiteindelike vraag ook hoe ’n Godlose oerbegin daarin sou kon slaag om uit niks, heeltemal, absoluut niks, iéts te maak. Om uit ’n totale niksheid iets, al is dit net ’n minuskule kolletjie, te voorskyn te laat kom. Dit kan tog nie wees nie dat “niks” in die oerbegin self besluit het om “iets” te word met die potensiaal om tot ’n heelal te ontwikkel? Dis ’n tameletjie daai.
Ek glo in God, want ek glo net God, wat in ’n ander orde, ’n ewigheidsorde, is, kan uit niks iets te voorskyn laat kom. Maar dié God in wie ek glo . . . is Hy/Sy ’n almagtige God wat ’n heelal uit niks kan laat groei, en tog ook ’n magtelose God is wat ’n onskuldige kindjie onder sy pa se bakkie laat sterf sonder om te kan keer dat dit gebeur?
Dis een van die moeilike vrae wat Du Toit en Retief in hul boeke stel. Want hoe rym al die goed wat in ons klipharde werklikheid gebeur met ’n almagtige, liefdevolle God?
Moenie probeer om dit te laat rym nie. Jy sal dit nooit regkry nie. Maar dalk maak dit sin om te aanvaar dat die almagtige God wat die heelal evolusionêr oor triljoene “jare” tot stand laat kom het, uiteindelik die mens uit ’n lang ry nie-menslike voorgeslagte op die toneel laat verskyn het met ’n vonk van God sélf in hom/haar. ’n Mens wat skeppend kan dink, na sin in die werklikheid kan soek, “geskape is na die beeld van God”. [Kommentaar: Kyk Evolusie en Bybel onversoenbaar.]
Daar is wel hoop
Toe God die mens na God se beeld gemaak het, het God iets van God self prysgegee en dit na die mens oorgedra. Die mens kon nou, soos God, “reg” kies of “verkeerd” kies. Die almagtige God het die mens méér gemaak as ’n pion op ’n skaakbord. In ’n sin het God toegelaat dat die mens ’n mededinger van God word – met opstand teen God, die “bose”, wat in die mens broei. (“Ek is in jou / gevleg, gerank / soos ’n wortel in / in die donker bank…” – N.P. van Wyk Louw.) En daarom maak die mens dikwels keuses wat lynreg teen God se wil ingaan, maar God laat dit toe – en treur daaroor.
Toe bou die treurende God ’n brug na die mens toe. Jesus. ’n Teken van ’n God wat treur oor die boosheid wat vastrapplek in die skepping gekry het, maar ook ’n teken dat daar ’n beter toekoms wag.
Kyk, as hierdie lewe die somtotaal van alles is – met al die goeie dinge wat gebeur, maar ook die hope ellendes en onreg, moord en doodslag – is ons eintlik vasgevang in ’n aaklige wurggreep sonder hoop. Maar die evangelie van Jesus Christus gee hoop.
Aan Retief dus dié boodskap: Dit is regtig goeie nuus oor ’n God wat bestaan en ’n God wat omgee.
Daarom glo ek nog: in God, in Jesus. Waar op aarde (of buite die aarde) sal ek anders rus vir my siel kan vind?
* Gaum en Claassen is die redakteurs van die boek God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles (Tafelberg). Skrywers se menings is hul eie en weerspieël nie dié van Netwerk24 nie.
Kommentaar
Dit is baie interessant om Frits Gaum klip hard te sien veg vir die bestaan van God in aggenome dat hy universalistiese neigings het. Hy is immers aangehaal waar hy gesê het:
“Ek het ’n baie goeie antwoord by hom gekry (Desmond Tutu) . . . hy het gesê dis nie die enigste pad nie, maar dis ’n unieke pad na God.”
As daar meer as een pad na die hemel is, kan ateïsme nie ook so ’n pad wees nie? Waarom dan so ’n sterk standpunt oor die bestaan van God hê?