Kyk ook:
- NG Kerk ‘gaan skeur’ (13 Desember 2020)
Die volgende artikel is geskryf in reaksie op NG Kerk ‘gaan skeur’ (13 Desember 2020).
********
Frits Gaum: Kerkskeuring, kerkherstel of kerkherskikking? | Kerkbode
Deur Frits Gaum
18 Desember 2020
Gerugte en berigte oor “kerkskeuring” is volop, ook (veral?) op die voorblaaie van Sondagkoerante. Daar word gesê dat kerkskeuring min of meer onafwendbaar is vanweë die sogenaamde “liberale” koers wat die Algemene Sinode van die NG Kerk ingeslaan het met sy besluit om ruimte te maak vir meer as een standpunt oor selfdegeslagverbintenisse. Sommige van die dolerendes wat treur oor die (baie ewewigtige) besluit van die sinode, meen blykbaar dat die kerk “herstel” moet word na die “oude paden” waar onreg teen mense gepleeg is – voorheen deur apartheid, deesdae deur, onder meer, homofobie met sy verskillende mombakkiese.
Lees ook: Kerkskeuring: 5 vrae aan Theo Danzfuss
Maar het diegene wat ’n herskikking van kerklike strukture bepleit – watter naam hulle ook al daarvoor gebruik – nie dalk ’n punt beet nie? Die sinodale struktuur van die NG Kerk soos ons dit nou ken (en soos dit sedert 1962 bestaan toe die Algemene Sinode tot stand gekom het) is ongetwyfeld onder druk. Dit lyk asof ’n weg gevind moet word wat aan die Algemene Sinode minder “gesag” toeken as wat nou die geval is, groter soepelheid in die kerkverband toelaat en sodoende dalk juis ’n meer aantreklike opsie word vir ’n wyer kring van gereformeerde kerke. Nie “kerkskeuring” nie, maar die aanvaarding van diversiteit in die kerk en daarmee saam die bevestiging van die eenheid in Jesus Christus wat alle verskille te bowe gaan.
Lees ook: VERSOENING: Om ’n dag op sy baadjie te takseer
Dalk is dit tyd om van die huidige Algemene Sinode af te sien en te dink aan ’n losser federale verband vir die NG Kerk.
“Federasie” is onder meer ’n term wat dui op samewerking tussen selfstandige verenigings in ’n vaste verband met ’n gemeenskaplike doel (HAT). Dit is ’n term wat vroeër in kerklike verband vir die NG Kerkfamilie gebruik is, maar dit is later laat vaar. Moontlik moet dit weer gebruik word om, enersyds, die selfstandigheid van die verskillende deelnemende (streek)sinodes te erken en, andersyds, die verband met die Algemene Sinode te handhaaf wat dan eerder die Federale Raad genoem kan word met omskrewe adviserende funksies.
Die verskillende streeksinodes en ringe en kerkrade sal binne so ’n gereformeerde raamwerk oor sommige etiese en teologiese sake van mekaar kan verskil – soos nou met Goudland-sinode oor selfdegeslagverbintenisse aan die gebeur is – sonder dat die federale verband en gemeenskaplike geloof daardeur bedreig hoef te word. Kerkrade, ringe en sinodes sal in so ’n bedeling meer vryheid hê om hulle eie besluite te neem in die lig van hulle eie omstandighede en oortuigings. Die grense tussen streeksinodes sal dowwer word – gemeentes en ringe wat in ander sinodale gebiede meer tuis voel (vanweë liturgiese of taal- of selfs dogmaties-etiese redes) sal daarheen kan oorskuif. Die taal wat in verskillende dele van die kerk gebruik word, sal nie oral dieselfde wees nie. En die inrigting van eredienste en liturgieë wat gebruik word, sal van gemeente tot gemeente verskil om aan plaaslike behoeftes te voldoen (soos nou al aan die gebeur is).
Lees ook: Moderator besweer gerugte van kerkskeuring, maar vrae bly talm
Die NG Kerk sal in so ’n bedeling nie oral dieselfde lyk nie. Maar in plaas van versplintering, kan die eenheid tog nog op verskillende maniere gehandhaaf word deur samewerking en samekomste. Die eenheid tussen gereformeerde kerke in Suid-Afrika kan juis groter vorm kry deurdat daar meer soepelheid en meer verdraagsaamheid sal kan wees. Die NG Kerkfamilie behoort nader aan mekaar te beweeg om in ’n minder rigiede federale verband te verenig. Dalk sal die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika ook deel van so ’n nuwe eenheid wil wees. En wie weet, miskien sal selfs die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (die “Doppers”), met hulle enger siening van byvoorbeeld die vrou in die amp, kans sien om deel te word van ’n losser verband waarin hulle hulle identiteit in ’n groot mate kan behou.
Wat die belydenisbasis van so ’n “nuwe” NG Kerk (met ’n ander naam?) betref, sal die moontlikheid van ’n eietydse belydenisskrif ernstig ondersoek moet word. Dit behoort in samewerking met ander gereformeerde kerke in Suid-Afrika te gebeur. Toegegee: Die energie vir so ’n nuwe belydenisskrif is deesdae min – veral omdat die NG Kerk ná al die jare nog nie daarin kon slaag om die Belydenis van Belhar deur die hele kerk as een van haar belydenisskrifte aanvaar te kry nie, en ’n poging ’n klompie jare gelede om die drie Formuliere van Eenheid in hedendaagse taal te herskryf, stilweg laat vaar is. Die vraag is wel of al die dele van ’n toekomstige federale verband almal dieselfde belydenisskrifte moet hê, en of daar nie ooreengekom sal kan word oor ’n aantal dokumente wat nie noodwendig in alle dele van die kerk die status van ’n belydenisskrif het nie.
Die Kerkorde van so ’n losser federale kerkverband behoort ook kort en soepel te wees, terwyl die verskillende streke toegelaat moet word om in ’n groter mate as tans hulle eie kerkordes te hê wat van mekaar kan verskil.
Lees ook: NG Kerk: Kampe ‘ken mekaar nie meer nie’
’n Losser federale verband behoort die NG Kerk in staat te stel om diversiteit in haar geledere te duld (dalk self te “vier” en te “omhels”?) sonder om die eenheid prys te gee. Eenheid in die kerk beteken immers nié eendersheid nie, maar is op stuk van sake ’n diep verbintenis aan Jesus die Here. Nie een van ons het alle wysheid in pag nie, daarom behoort daar groter diens, nederigheid en selfprysgawe onder ons te wees … en ruimte vir ons almal onder een kombers sonder om gedwing te word in een knellende keurslyf.
- Dr Frits Gaum is ’n voormalige redakteur van Kerkbode en was skriba van die Algemene Sinode.