Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
Frits Gaum: NG Kerk en gays – uiteindelik oor die Rubicon? | Netwerk24
Frits Gaum
Saterdag 28 Oktober 2023
Waar staan die NG Kerk ná die afgelope Algemene Sinode oor die kwessie van gays? Frits Gaum bekyk die saak en skryf ook oor die pad wat hy en sy vrou met hul gay seun gestap het.
Daar het ’n doodse stilte oor die Algemene Sinode gedaal toe Cassie Carstens, destyds die gewilde skriba van die sinode, by die kateder gaan staan en begin vertel dat een van sy vier seuns gay is en dat hy nie anders kan as om vir hom lief te wees nie. As ons oor gay mense praat, moet ons onthou dat hulle in baie gevalle ook lidmate van ons gemeentes en deel van ons gesinne is, het hy gesê. En die hoop uitgespreek dat die sinode hom nie voor die onmoontlike keuse sal stel om tussen die aanvaarding van sy seun en lojaliteit teenoor sy kerk te moet kies nie. Die Ou-Testamentiese klipgooiers wat sy seun wil stenig, moet daarmee rekening hou dat hy voor sy kind sal gaan staan sodat die klippe hóm tref, nie sy seun nie, het hy bygevoeg.
Carstens se optrede by die Hartenbos-sinode in Oktober 2004 het ’n groot bydrae gelewer dat die sinode uiteindelik besluit het dat “alle mense, ongeag hul seksuele oriëntasie, op grond van hul geloof as volwaardige lidmate van die kerk aanvaar moet word.” Die sinode het verskoning gevra aan alle gays en hul families wat in die verlede seergemaak is deur die kerk se optrede, erken dat daar in die NG Kerk verskillende vertolkings van die Skrifgegewens oor homoseksualiteit bestaan en onderneem om die studie oor homoseksualiteit verder te voer.
Dit was in 2004. Dis nou amper 20 jaar later en Cassie Carstens is lankal oorlede. Maar sinodes worstel nog steeds om vir wyle Cassie te help om nie ’n keuse tussen sy kind en sy kerk te moet maak nie. Ook op die pasafgelope Algemene Sinode is daar ure gepraat oor “selfdegeslagverbintenisse” en daar was homofobiese stemme onder afgevaardigdes wat homoseksualiteit sonder omhaal van woorde as sonde verklaar het waarvan die lyers “genees” moet word.
Nee, nie almal het so gepraat nie. Daar was ook stemme wat vertel het dat homoseksualiteit as sodanig ’n 19de eeuse begrip is, dat selfdegeslagseks waarna die Bybel verwys, niks te doen het met selfdegeslagverbintenisse in liefde en trou nie, dat daar gay mense is wat beter gelowiges is as baie van ons . . .
Op die ou end het die sinode volstaan met sy besluit van 2019 wat ruimte bied vir kerkrade en predikante om, as hulle so kies, selfdegeslagverbintenisse te bevestig. So ’n bietjie binnensmonds, ja, maar darem.
’n Pelgrimspad
Maar laat ek eers my storie vertel. Dis amper soos Carstens s’n, maar ook ’n bietjie anders. Op ’n dag het my tweede seun aan my kantoordeur kom klop om met my ’n “formele” afspraak na te kom. Ek het by voorbaat geweet waaroor dit sou gaan. Sonder dat ons voorheen daaroor gepraat het, het ek geweet dat hy vir my wil kom sê dat hy gay is.
Wat toe ook gebeur het.
Hoe op aarde is dit dat ons nooit voorheen daaroor gepraat het nie? Eintlik het ek en Henda dit al vermoed – natuurlik, ja – maar dit was tog iets wat ons nie vas in die oë wou kyk nie. Volstruis-mentaliteit? Ek was boonop ’n dominee van die kerk wat steeds met ’n diep frons na homoseksualiteit gekyk het. Hoe sal die kerk reageer op die brokkie nuus dat die lid van die moderatuur se kind gay is?
Tot in daardie stadium het ek my as redakteur van die kerk se amptelike koerant, die Kerkbode, selde in die blad uitgelaat oor die gay-kwessie. Ek het egter wel ’n onvriendelike artikel oor gay-letterkunde geskryf waaroor die digter-letterkundige Joan Hambidge my erg kwalik geneem het. Ek het haar later jare in ’n artikel daarvoor om verskoning gevra. Ek het besef dat ek eers die saak in my eie gemoed moet uitmaak voordat ek ’n woord verder daaroor skryf of sê.
Ek en Henda het ure daaroor gepraat, hier en daar en oral gaan kers opsteek, by ’n groep ouers met gay kinders aangesluit, ek het saam met my seun ’n reeks besoeke aan ’n pastorale sielkundige afgelê, boeke gelees, die Bybel gelees, gebid. Baie. Want dit was nie vir ons ’n eenvoudige, maklike saak nie. Dit was iets waarmee ons moes vrede maak – en toe eers nadat ons besef het ons vorige oppervlakkige siening van die saak glad nie meer van toepassing is nie. Ons kon die feit dat ons seun gay is, nie daar en dan en kant en klaar “omhels” nie . . . maar ons kon en wou hóm steeds omhels, en het toe al hoe meer besef dat, as ons hóm omhels, omhels ons alles wat en wie hy is – vanselfsprekend ook sy gay-wees, want dit is wie hy is!
Algaande het die oortuiging gegroei: om homoseksueel te wees, is net so “normaal” as om heteroseksueel te wees. Dis ’n “natuurlike” variant van menslike seksualiteit. En terwyl promiskuïteit sonde is, is dit beslis nie sonde om in liefde en trou in ’n lewensverbintenis met iemand van jou eie geslag te wees wat by jou pas nie. Inteendeel: dit is goed en reg, dis hoe die Here in wie ek glo, jou en julle gemaak het!
En onthou: die einste Paulus wat negatief oor (promiskue) selfdegeslagseks praat, is ook die Paulus wat in Romeine 13:10 skryf: “Die liefde doen die naaste geen kwaad nie, daarom is die liefde die vervulling van die wet”. Kortom: as jy nie vir jou gay naaste gun wat jy vir jouself toeëien nie – soos ’n lewenslange verbintenis met iemand wat jy liefhet – dan doen jy hom of haar kwaad aan en oortree jy die gebod van die liefde.
Dit was vir my ’n pelgrimspad om by dié punt uit te kom.
Diskriminasie
En ek het op verskillende maniere – met beswaarskrifte, ope briewe, versoeke vir gesprek – probeer om saam te loop met die kerk waarvan ek ’n lojale (hoewel kritiese) lidmaat wil wees. Toe die kerk op vorige besluite teruggekrabbel het, het ek selfs saam met ander die kerk hof toe geneem. Ook nie sonder meer en maklik-maklik nie, maar omdat die kerk verseg het om in te sien dat die kerk (nes met apartheid!) besig is om onregverdig teen gay lidmate te diskrimineer. Die hof het in ons guns beslis en die hofuitspraak het sekerlik ’n rol gespeel in die jongste besluit van die Algemene Sinode dat “besluitneming oor selfdegeslagverbintenisse binne die raamwerk van ons Kerkorde en die Grondwet en regstelsels van ons onderskeie lande (moet) geskied . . . Daarin word die beginsels van nie-diskriminasie, die waardigheid van alle mense en die vryheid van geloofsoortuiging en assosiasie beskerm”.
Is die NG Kerk met die 2023-besluit nou behoorlik óór die Rubicon van selfdegeslagverhoudings . . . of het die kerk op stuk van sake teruggesak in die modderige waters van onsekerheid?
Ek dink nie die kerk is terug in die modderige waters nie, maar met vlieënde vaandels oor dié Rubicon? Nee. Volgens woordvoerders het die sinode met die 2023-besluit en die handhawing van die 2019-besluit nou ruimte geskep vir meer as een standpunt oor selfdegeslagverbintenisse en hulle maak aanspraak op “groter duidelikheid” deur die jongste besluite. Die “ruimte” bestaan egter al sedert 2015 en die onduidelikheid oor “prinsipiële” en “proses-“ besluite van die 2019-sinode is myns insiens nog nie opgeklaar nie. Gaan daar nou van sinodale kant ’n formulier vir die bevestiging van gay verbintenisse opgestel word (soos in 2019 besluit is) of gaan dit weer onuitgevoer bly? Wat ook teleurstellend is, is dat daar in die jongste besluit tereg mooi dinge oor die ideale huwelik tussen een man en een vrou gesê word, maar ongelukkig geswyg word oor soortgelyke mooi dinge in ideale selfdegeslagverbintenisse “in liefde en trou”.
Nog ’n hofsaak? Ek glo nie, hoewel die jongste besluite ongetwyfeld op hersiening geneem sou kon word. Maar ’n mens hoop dat die nuwe leierskorps van die NG Kerk daadwerklik uitvoering sal gee aan die positiewe aspekte van 2019 en 2023 se besluite en nie sal terugsak in die modderige water van ontkenning, dubbelsinnigheid en onsekerheid nie.
Dis hoogtyd dat ons hierdie Rubicon finaal oorsteek: met respek en begrip vir verskillende sieninge, maar nie lamgelê daardeur nie.
• Dr. Gaum is ’n teoloog, skrywer en voormalige redakteur van die Kerkbode. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
Kommentaar
xxx