Frits Gaum: Wie die kerk skeur, skeur ook die Hoof van die kerk

Kyk ook artikels voortspruitend onderaan.

*******

Frits Gaum: Wie die kerk skeur, skeur ook die Hoof van die kerk | Netwerk24

Frits Gaum

Sondag, 21 Augustus 2022

Die NG Kerk se dolerendes – ongelukkig oor die kerk se besluite oor die toelating van gay predikante en die voltrekking van gay-huwelike – behoort baie goed na te dink waarmee hulle besig is.

Dat hulle treur oor sommige besluite van die Algemene Sinode waarmee hulle nie saamstem nie, is goed en wel. Deur die jare was daar baie mense wat oor kerklike besluite getreur het:

Oor die aanvanklike ondersteuning én latere verwerping van apartheid (en ’n kleinerige skeuring met die stigting van die Afrikaanse Protestantse Kerk). Oor die vrou as diaken en ouderling en – verbeel jou! – as predikant op die preekstoel.

Daar is mense wat jare lank gepleit het dat die vrou tot dié ampte toegelaat moet word, en hulle vasgeloop het teen kerklike besluite. Maar hulle het nie die kerk geskeur nie. Ook die kindernagmaal was ’n tameletjie, maar op die ou end stry min mense nog daaroor. Of – onthou jy? – die “stryd” oor die beker of kelkies by die nagmaal, of hoede vir vroue, of manelle vir kerkraadslede of ’n toga vir die dominee. Daarsonder kon hy (dit was altyd ’n hy) nie in die sinode ’n spreekbeurt kry nie.

Daar was baie kerkstryde – van die vroeë kerkdae af toe daar hewig geargumenteer is oor die vraag of nie-Jode wat Christene word, ook besny moes word (Hand. 15). Meermale het die strydvrae – wat nou soms belaglik lyk, maar destyds die bloed laat kook het – tot kleiner of groter skeurings gelei, en buitekerk-mense het lekker gelag vir die spektakel.

Aaklige dinge is in die “regte wêreld” aan die gebeur – oorlog en doodslag en onreg – maar die kerk baklei oor hoede en manelle.

Maar dit het nie altyd oor klein sakies gegaan nie. Soms was en is ernstige, diep sake ter sprake. Soos in die vroeë kerk oor die Drie-eenheid, of in ons tyd oor onreg teen sommige mense – teen swart of wit mense, of vroue, of gay mense.

Ongelukkig laat die kerk soms toe dat die “wêreld” die voortou neem en onreg uitwys. Dan kom die kerk agterna om uiteindelik brom-brom toe te gee dat die evangelie van Jesus Christus in werklikheid téén onreg teen wie ook al is en dat onreg dus nooit deur die kerk vergoeilik mag word nie.

Op die oomblik is daar in die NG Kerk – ook in ander kerke wêreldwyd – verskil van mening of mense van dieselfde geslag in ’n lewensverbintenis mag tree.

Natuurlik is dit ’n saak waaroor daar ernstig nagedink moet word en gesoek moet word na wat die Bybel – wat die Here – daaroor te sê het.

Presies dit het die NG Kerk gedoen. Jare lank. En uiteindelik, ná sowat drie dekades, aanvaar dat daar oor hierdie saak nie eenstemmigheid is nie, en dat ruimte vir meer as een standpunt gegee moet word. Met ander woorde, jy word nie gedwing om die een of ander siening te huldig nie, daar is geen gewetensdwang nie. Gelowiges met verskillende menings word naas mekaar in dieselfde kerk geduld met die veronderstelling dat hulle mekaar met respek en liefde sal behandel.

In die praktyk werk dit nie so uit nie. Vir sommige mense is dit te dik vir ’n daalder om te aanvaar dat daar ook ánder menings oor hierdie kwessie kan wees en hulle wil opsluit uit die kerkverband tree en dus die verbintenis met gelowiges wat anders as hulle dink, opsê. Maar nou bedink party van hulle allerlei planne om, al is dit op ’n afstand, tog aan die NG Kerk te bly behoort en dus nie die eiendomme, ensovoorts wat met lidmaatskap gepaard gaan, prys te gee nie.

Dis om te skeur, maar voor te gee dat dit nie skeuring is nie.

Die ooreenkoms van 1962 wat daartoe gelei het dat die (wit) NG Kerk in een algemene sinodale verband verenig is, laat die afsonderlike provinsiale (streek-)sinodes toe om, met baie goeie redes en met behoud van kerklike eiendomme, ensovoorts, weer uit die verband te tree sonder om daarmee ook uit die breër NG Kerk as sodanig te tree.

Dit geld sinodes, nie gemeentes of ringe nie, en dit het in die 60 jaar sedert 1962 nog nooit gebeur nie. Die eenheid waarvoor destyds jare lank gewerk is, is as te belangrik beskou om te verbreek. Inteendeel, daar was ook ernstige pogings om een verband met die ander NG Familiekerke (soos die Verenigende Gereformeerde Kerk) te bewerkstellig, tot dusver sonder sukses. Die “Sinode van Versoening” het in 1994 waarskynlik die naaste daaraan gekom.

Nou dreig skeuring van die een of ander aard weer in die NG Kerk, en daar is ook planne om ’n afsonderlike streeksinode vir “behoudendes” te stig – los van die Algemene Sinode, maar op ’n veilige afstand nog altyd “deel” van die NG Kerk! (Stel jou die stryery onder die “behoudendes” voor as hulle eers in een kamp is: Is apartheid ooit sonde, hoort vroue in die kerkraadsbanke, en mag kinders nagmaal gebruik. . .?)

Ek dink nie dis die pad om te loop nie. Ek glo ons moet oor sommige dinge in ons geloof ruimte maak vir diverse sieninge, terwyl ons die eenheid-in-een-verband steeds behou. Met één groot uitsondering: Jesus Christus. Geloof in Hom as die Here van die kerk en die daaruit voortvloeiende liefde vir God en liefde vir die naaste, is ononderhandelbaar. Sonder Hom en God se liefde stort die kerk in duie.

Maar kerkskeuring – of ’n mombakkies vir kerkskeuring – tussen gelowiges moet vermy word.

Op die oomblik praat die “behoudendes” baie negatief oor die NG Kerk wat dan ’n “ruim kerk” sou probeer wees wat vir een en almal wil plek inruim. Dit is inderdaad so dat die NG Kerk ’n sagter aanslag as vroeër het toe daar met groot sekerheid gesê is wat “reg” en wat “verkeerd” is. Die kerk het geleer dat daar groter ruimte vir verskillende sieninge moet wees, want die Bybel is nie oor alles klinkklaar helder nie. Die kerk het anderhalfeeu gelede aanvaar dat slawerny in orde is (die Bybel sê oënskynlik niks daarteen nie), en eers later ingesien dat slawerny in werklikheid téén ’n kernboodskap van die Bybel – liefde vir die naaste – ingaan. In ’n stadium het die kerk allerlei redes aangevoer waarom “menseregte” eintlik blote humanisme is en min goeds daaroor te sê gehad. Totdat besef is dat die gebod oor naasteliefde in werklikheid niks anders is as ’n pleitroep vir menseregte nie . . . Jy moet jou naaste so liefhê as wat jy jouself het en hom en haar dus gun en gee wat jy vir jouself vra.

Die woordestryd in die NG Kerk sal waarskynlik lei tot die een of ander hergroepering. Maar die hergroepering moenie opnuut mure tussen ons bou nie. Ons moet baie meer verdraagsaam teenoor mekaar wees en meer ruimte vir mekaar gun. Ek het nie die volle waarheid beet nie, jy ook nie. Maar ons albei glo in Jesus Christus wat die brug span tussen God en mens en mens en mens. Om brûe af te breek, is om téén die Brugbouer stelling in te neem.

Op die ou end gaan dit om geloof in die Here Jesus Christus. Alle sienings is ondergeskik aan ’n mens se verhouding met Hom. Wie die kerk (verder) skeur, skeur die Hoof van die kerk (verder).

  • Dr. Frits Gaum is ’n voormalige skriba van die Algemene Sinode.

Artikels voortspruitend

3 thoughts on “Frits Gaum: Wie die kerk skeur, skeur ook die Hoof van die kerk”

  1. Wonderlik hoe Frits randsake saam met kernsake in die pot gooi en dan verbaas is dat daar woelinge in die kerk is. Die feit dat tans aanvaar word wat voorheen as taboe beskou is, beteken nie noodwendig dit is reg nie.

    Om uit die verband met die AS te tree is nie kerkskeur nie – die AS is nie die kerk nie.

    Kerkskeurders is die wat nie getrou is aan God se Woord nie.

  2. Groot dankie Willem ….Fritz soos die engelse man seg >> “”thrashing about to seek the truth , being disobedient , and self righteous. hy self is n subtiele gesant van satan , nou wil hy sy volgelinge met rokkies , paai en support . Partykeer warm , koud blaas , Hy is die GROOTSTE KERK SKEURER IN SA . het geen respek vir die hoenner nie …. omdat hy respekteer glad nie die eenvoudige ja en nee inni Bybel nie .

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui