‘Gee genoeg geleentheid dat lidmate kan rou’

*******

‘Gee genoeg geleentheid dat lidmate kan rou’ | Kerkbode

3 Junie 2022, Kerkbode Aktueel, Briewe

Ds Dubois du Toit van Kestell skryf:

Baie dankie vir die oop gesprek deur geleerde kollegas wat verheldering gebring het saam met teregwysing vir my onkunde ten opsigte van die prosesse waaruit A.3.3.Taakspan Kerkverband se verslag van 2019 se Algemene Sinode ontstaan het, omdat ek eers in 2021 bewus geraak het van die verslag.

Die brief was ’n poging om die verslag vanuit my perspektief soos ek dit verstaan het, bekend te maak, omdat ek besef het dat baie leraars, asook die wye kerkpubliek ook nie van die verslag se inhoud bewus was nie.

As ’n saak van so ’n radikale omvang se detail onbekend sou bly tot nader aan 2030, kan daar mos ’n groot ontploffing van ontevredenheid wees by leraars en lidmate as hulle nie tydig ingelig is van die gevolge en realiteite van hierdie droomscenario 2030 nie. Detail sal baie dringend gekommunikeer moet word na die hele NG Kerk vir insette.

LEES OOK: ‘NG Kerk staan binne belydenis’ – Nelis Janse van Rensburg

Die verslag beveel radikale veranderinge aan vir die NG Kerk op pad na Droomscenario 2030 en verder, wat groot implikasies het indien ’n alternatiewe, ekumenies inklusiewe, relevante, vloeibare kerkgroepering saamgebind in “Een Liggaam van Reformatoriese Geloofsgemeenskappe” met ’n eie belydenisgrondslag gaan realiseer. Om dit reg te kry moet die 500 jaar oue, soliede, eksklusiewe, nie-relevante, gereformeerde en partriargale kerk se identiteit afgebreek en getransformeer word, met ander woorde die denominasionele strukture moet ontbind word.

Daar sal mooi nagedink en gekonsulteer moet word oor sake rakende ’n nuwe ekumeniese liggaam soos byvoorbeeld watter taal inklusief gaan wees, hoe eiendomme en bates tot welsyn van almal beskikbaar gestel kan word, hoe belydenisse byvoorbeeld Belhar en ander ekumeniese belydenisse prominensie gaan kry, besinning oor sinodale strukture wat nie noodwendig meer in die nuwe konteks dieselfde sal bly nie, die NG Kerk se naam wat moontlik verander moet word as gevolg van hierdie identiteitsverandering.

Diversiteit in liturgie, aanbidding (musiek) en Woordverkondiging sal in ag geneem moet word, die huidige Calvinisties-gereformeerde basis sal net een van verskeie tradisies wees in die nuwe liggaam, maar hoe sal die vermindering of gelyke teologiese speelveld beding word? Wat moet opgeoffer word? Waar ons tans ’n eksklusiewe kerkverband het wat gebaseer is op “sonde, verlossing en dankbaarheid” volgens ons gereformeerde belydenisskrifte, sal ’n ekumeniese liggaam moet verander na ’n relevante, inklusiewe teologie waar die ruim-huis plek sal maak vir almal se sienings, ook rondom versoening, geregtigheid, eenheid, aborsie, genadedood, selfdegeslagverhoudings, saamwoon, die duiwel, ensovoorts – wat dus beteken almal se perspektiewe op Skrifvertolking en Skrifgesag gaan gebalanseer moet word.

My pleidooi is, gee lidmate en leraars deur oop gesprekke genoeg geleentheid om te rou oor tradisies, bates en gebruike wat hulle graag aan wil vasklou, maar doen dit met integriteit vanuit die Skrif as ons basisbron, waar eenheid met dieselfde Skrifgesag verkondig moet word as met ander vasgeloopte tekste.

Kommentaar

Henrietta Klaasing

3 Junie 2022 at 11:07

Skitterende brief van Dubois. Die weldeurdagte vrae wat gevra word en moontlike gevolge wat geskets word, is waarlik “food for thought” vir diegene wat nog nie mooi nagedink het oor wat die radikale transformasie wat die AS se Droom Scenario 2030 waarskynlik inhou nie. Vir Bybelgetroue gelowiges is dit ‘n “Nagmerrie Scenario 2030” waaroor by voorbaat getreur moet word, eerder as ‘n “Droom Scenario 2030”.

Albin Bowler

3 Junie 2022 at 13:40

Ds Du Toit
Verduidelik asb vir my hoe jy kom by die siening dat denominasionele strukture (insl. die NG Kerk) ontbind moet word in die Droomscenario 2030, d.w.s. waar in die strategiese beplanningsdokument word dit aanbeveel of in die vooruitsig gestel?
Ek lees geensins dit in die scenariobeplanning nie, eerder samewerking t.o.v. gemeenskaplike aspekte.

Francois Deyzel

3 Junie 2022 at 16:08

Sowaar Du Bois. Vir n gewone lidmaat is dit n skrikwekkende scenario met ergere moontlikhede. Ek het na n gebeurtenis ,deur die moderator gelei, gekyk waar intersessors van verskillende kerkverbande beurte gekry het om te bid. Is Jesus dan nie ons enigste intersessor nie?

Dubois Du Toit

4 Junie 2022 at 14:02

Albin Bowler, dis juis die punt van die pleidooi in my skrywe – bitter min predikante en lidmate het die verslag in detail bestudeer. Daarom skok die sake waarna ek verwys kerklidmate en leraars, maar ek haal letterlik die verslag aan en vra vrae daaroor, sodat ons almal beter kan verstaan wat die werklike bedoeling van die teks is. Ek doen dus “eksegese” van die droom scenario en dis uiters belangrik dat almal in die NG kerk dit behoort te doen om te verstaan en te kan besluit of jy daarmee wil saamgaan. Gaan lees die verslag by:

3.5.2 DIE MOONTLIKHEID VAN ‘N NUWE LIGGAAM VAN REFORMATORIESE
GELOOFSGEMEENSKAPPE

Dit wil voorkom of die noodsaaklike opgawe en uitdaging tans met die ontluiking van die 21ste eeu is om nie meer te praat oor die transformeer van die kerk en dan te dink aan die verstelling, aanpassing of ad hoc verandering aan en in die denominasies nie. Liewer is dit nodig om te begin praat, dink, droom en luister oor hoe om die bestaande tradisionele patrone en strukture te alterneer. Is ons roeping nie tans om ’n alternatiewe moontlikheid (-hede) van geloofsgemeenskap, verhoudinge en verbintenis aan mekaar te verbeel, te beluister, te sien en te skep nie? Daarom, in plaas daarvan om aan te hou om bestaande denominasionele strukture en orde-patrone te probeer verander en aan te pas, moet ons dit oorweeg om in die toekoms by die radikale punt te kom om dit liewer maar op te skort en te ontbind.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui