- Geloftedag: om te vier of nie (Daniel Louw)
- Waarom nog Geloftedag? (Leopold Scholtz)
- Geloftedag… En Die Slag van Bloedrivier (Peter Hammond)
Die volgende artikel is gekopieer vanaf www.ditsem.net by Geloftedag of Versoeningsdag.
*****************
Geloftedag of Versoeningsdag?
Onder die opskrif “Waarom nog Geloftedag?” vra Leopold Scholtz in die jongste Kerkbode of Geloftedag nog ’n plek het. Dit is ’n artikel wat twee bladsy beslaan, maar aan die einde skryf dr. Scholtz: “Toegegee, bogenoemde is ’n onvolkome antwoord. Ek sal verder nadink en soek”.
Juis in die slot lê die bewys dat dit nie so maklik is om hieroor te skryf nie. Daar is sterk oortuigings en gevoelens na beide kante toe. Aan die een kant is daar die wat Geloftedag as ’n politieke misplaasdheid in die huidige konteks beskou. ’n Paar jaar gelede is ek gevra om ’n erediens te hou en daarna die Geloftediens. Ná die diens is daar vir my ’n briefie in die kollektebord. Dit lees net: “Hou politiek uit die kerk”. En dit nadat my boodskap ’n suiwer Skrifgetroue preek was met die klem op ons taak as Afrikaners om in ons lewenswandel aan die Woord van God gehoorsaam te wees.
Daar is egter ook die ander sterk oortuiging dat Geloftedag deel van ons erfenis is en gevier behoort te word. Ek meen dat hierdie tweede oortuiging eerbiedig behoort te word om die volgende redes.
Allereers is daar die wêreld-erkende beginsel dat alle volke in die wêreld ’n geskiedenis het. Dit is daardie geskiedenis (goed of sleg) wat deel is van die land en sy mense se identiteit. Om dit te vergeet, of te ontken, of te verkleineer is eenvoudig dwaas. Die Slag van Boedrivier het plaasgevind. Wie nie wil hê dat dit herdenk moet word nie, vra dat die verlede vergeet moet word. Beteken dit dat ons nageslag (en ons is amper reeds daar!) niks van hierdie geskiedenis moet weet nie? Moet die geskiedenisboeke herskryf word om polities korrek te wees nie? Dit kán tog nie want dan sou die verlede ’n halwe waarheid en dus ’n leuen wees.
Daar is ’n tweede rede waarom Geloftedag nie so maklik van die tafel gevee moet word nie. In die huidige politieke bedeling het die regerende party hulle helde. Lede van Umkontu we Siswe het pas van die regering eerbewyse ontvang. Standbeelde van Afrikanerhelde word afgebreek of verwyder om vir die helde van die Vryheidstryd plek te maak. Mag net die ANC hulle helde hê en hulle geskiedenis (van die ontstaan van die party tot vandag toe) in herinnering roep maar nie die Afrikaner nie? Sê die Skrif dan nie dat ons vir mekaar moet gun wat ons vir onsself toe-eien nie? Mag net sommige die reg hê om hulle geskiedenis in herinnering te roep?
Ek noem ’n derde rede waarom Geloftedag nie die slegte naam verdien wat dit al hoe meer, selfs onder akademici, verkry nie. Een so ’n akademikus sou na bewering gesê het dat dat ons die swart mense om vergifnis moet vra oor wat by Bloedrivier gebeur het. Is die bedoeling dat die Voortrekkers maar hulle wapens moes neerlê en wag op die Zoeloes om hulle om die lewe te bring? Mag mense, ook in vandag se geweld teen bejaardes en plaasboere en alle ande slagoffers van misdaad nie hulleself verdedig nie? Watter soort menslike logika is dit?
Laat ons egter terugkeer na die beswaar dat die viering van Geloftedag diskriminasie en politiekery is. As Geloftedag gevier word in die gesindheid van haat en vergelding teenoor sekere bevolkingsgroepe, word die hele doel met die viering van Geloftedag verraai. Vir die Voortrekkers het dit om oorlewing gegaan, nie oor rassehaat nie. Daarom moet ons seker maak dat Geloftedag nie gevoelens van rassewrywing aanhelp nie. Ek is dus ten gunste van die viering van Geloftedag vir wie ookal daaraan wil meedoen, maar ek is ook ten gunste van versoening omdat dit ’n Bybelse beginsel is.
As Geloftedag in die gees van versoening en nie in die gees van vergelding nie, gedenk word, kan dit ’n mooi geleentheid wees om verlede en hede tot ’n nuwe toekoms te omskep.