Kyk ook:
- Oor geloof en die wetenskap (Louis Jonker, 2012)
- Opsomming van skokkende NG Kerk-besluite
- The Symbolic and Sacramental Reading of the Bible – Sacral or Sacrilege? (Chris van Wyk, 2015)
Die volgende besluit is geneem tydens die Algemene Sinode van 2015 oor hierdie dokument:
2.4 WETENSKAP EN TEOLOGIE (GELOOF)
1. Die Algemene Sinode (2013) besluit om die dokument oor geloof en die wetenskap (afsonderlike publikasie voor die vergadering) as gespreksdokument binne die NG Kerk te ondersteun en moedig kerkrade en gemeentes aan om daarmee openhartige gesprek oor hierdie aktuele saak in hulle eie konteks te stimuleer.
2. Die Algemene Sinode sal enige kommentaar op hierdie dokument met die oog op ’n verbetering daarvan verwelkom.
Kommentaar en voorstelle kan gestuur word aan die skriba van die Taakspan vir Leerstellige en Aktuele Sake (kommunikasie@kaapkerk.co.za).
3. Die Algemene Sinode ondersteun die druk van ʼn verbeterde weergawe (indien aanvaarbare wysigings ingedien word) en sal ʼn versoek aan Bybel-Media in hierdie verband ondersteun met die oog op beskikbaarstelling aan gemeentes.
Opsomming
Hier volg ’n opsomming van die dokument:
Paragraaf 1: Ons Christelike geloof (665 woorde)
Die eerste paragraaf is baie kort en sê bloot wat ons as Christene glo. Dit praat van die Drie Formuliere van Eenheid en die Vyf solas.
Paragraaf 2: Die (moderne) wetenskap (1552 woorde)
Die tweede paragraaf dek behoorlik die tafel om ’n letterlike verstaan van die Bybel te weerlê. Dit wei uit oor voorbeelde van wat die moderne wetenskap vir die mensdom gebring het. Copernikus en Galileo word ook genoem. Hierdie twee word gewoonlik gebruik as voorbeelde om die Bybel “verkeerd te bewys” en eerder die “wetenskap” te glo.
Edwin Hubbel word ook genoem en daar word aangevoer dat sy bevindinge bygedra het tot ’n beter verstaan van die oerknal.
Selfs Charles Darwin, die vader van evolusie, word genoem.
Daar word selfs verwys na die “prominente filosofiese denkers” Ludwig Feuerbach, Karl Marx en Friedrich Nietzsche. Die dokument maak dit nie duidelik of ’n mens hulle sieninge ernstig moet opneem nie.
Paragraaf 3: Die Bybel (4182 woorde)
In hierdie paragraaf word die gesag van die Bybel verminder sodat dit meer met die wetenskap versoen kan word. Hier volg ’n paar aanhalings uit hierdie paragraaf:
- “In die verhouding tussen “Ons Christelike Geloof” en “die Moderne Wetenskap” neem die Bybel nou as’t ware ʼn tussen-posisie in.”
- “Dit het binne verskillende tradisies as mondelinge oorvertellings begin, selfs lank voor die ontwikkeling van ‘n skriftelike neerslag – dus voordat dit geskrewe dokumente geword het.”
- “Heelwat van die “boeke” van die Bybel is dus lank na die gebeure wat hulle beskryf, neergeskryf.”
- “Ons belydenis dat die Bybel die Woord van God is, val op … onder die kategorie van ons Christelike geloof … Dié belydenis is nie wetenskaplik … toetsbaar nie. Die belydenis dat die Bybel die Woord van God is, kan alleenlik as geloofsoortuiging aanvaar, gerespekteer of verwerp word.”
- “Dit is eers later … dat mense die Bybel letterlik begin verstaan en dit op elke vlak feitelik (histories)-letterlik begin interpreteer het – ʼn manier waarop dit nooit bedoel was om gelees te word nie en verseker ook nie deur die eerste hoorders verstaan is nie. Deur hierdie histories-letterlike interpretasies is ons interpretasie en verstaan van die Bybel uitermate verskraal. Die bedoeling met hierdie letterlike beskouing van die Bybelse teks was om die betroubaarheid en gesag van die Bybel te beklemtoon. Onderliggend hieraan het ʼn meganiese inspirasieleer gefunksioneer…”
- Paragraaf 3.4.1 sê in effek: Mense wie se denke nog nie deur Westerse wetenskapsdenke gevorm is nie glo steeds aan die bestaan van bose en onrein geeste/figure/wesens. Hierdie mense sou die voorwetenskaplike tekste in die Bybel letterlik interpreteer omdat die Bybel EN die belydenisskrifte vir hulle bevryding sou bring van die bose waarin hulle geglo het. Dus glo die skrywers van hierdie dokument nie aan bose en onrein geeste/figure/wesens nie.
- “… ons moet nie die resultate van die moderne wetenskap as vyand van die geloof beskou nie.”
Paragraaf 4: Ou Testament – Gen 1–2 as voorbeeld (in die begin …) (2259 woorde)
Daar word beweer dat navorsing onteenseglik bevind het dat Genesis 1–2 sy huidige vorm as ons Ou Testament gedurende die laat Persiese tyd gekry het. Met ander woorde, dit is vir die eerste keer in ballingskap (~600 vC) geskryf. En Genesis 3 moet ook hierby gelees word, aangesien dit ʼn eenheid met hoofstuk 2 vorm. Weereens hang daar groot vraagtekens oor die sondeval.
Die Judese gemeenskap het in die tyd voor hulle ballingskap nie oor ’n omvattende skeppingsliteratuur beskik nie en daarom is Genesis 1 tot 3 veral deur Egiptiese en Ugaritiese perspektiewe beïnvloed.
Dit is oneerlik en oneerbiedig om vandag Genesis 1 tot 3 letterlik te lees.
“Wat die genre van Genesis 1 betref kan ons dit die beste beskryf as gestruktureerde prosa met mitologiese en etiologiese elemente daarin.”
“Genesis 2 (en 3) is duidelik ’n verhalende teks. … Ook hierin vind ons mitologiese trekke en etiologie.”
“Die Bybel is as geheel ʼn geloofsboek.”
Paragraaf 5: Nuwe Testament – Markus 5:1–21 as voorbeeld (bose geeste in die varke) (3904 woorde)
Dit word bevraagteken of Markus 5:1-21 (Jesus jaag geeste in varke in) werklik gebeur het.
“Teenoor hierdie sterk gode was verhale soos hierdie uit die geskiedenis van die Joods-Christelike wêreld belangrik om mense se geloof in Jesus … te versterk.”
Die bestaan van die duiwel en bose geeste word dus weer bevraagteken.
Paragraaf 6: Belydenisskrifte – Artikel 12 van die NGB as voorbeeld (3075 woorde)
Die Nederlandse geloofsbelydenis word afgemaak as ʼn voorwetenskaplike teks en daarom is Artikel 12, wat handel oor die skepping van alle dinge, nie meer van toepassing in ‘n moderne samelewing nie. ’n Verdere bewys dat die NGB ’n voorwetenskaplike geskrif is, is dat Artikel 4 beweer dat die eerste vyf boeke aan Moses toegedig word en dat Dawid die Psalms geskryf het en Paulus die Hebreërbrief.
In paragraaf 6.3 word daar weereens ‘n streep deur die sondeval getrek.
Hier volg die dokument met sekere dele in geel gemerk.
********
Inhoudsopgawe
LEERSTELLIGE SAKE BYLAAG 3
ONS CHRISTELIKE GELOOF EN DIE WETENSKAP
Inleiding
Ons het hier duidelik met twee sake te doen wat in verband met mekaar staan, of wat ons in verband met mekaar wil beskou. Aan die een kant het ons “Ons Christelike Geloof” en aan die ander kant “die Wetenskap.” Voordat ons saam dink oor hoedat hierdie twee met mekaar in verband staan, sal dit verhelderend wees om eers Christelike Geloof en Wetenskap afsonderlik duideliker te definieer – of te omskryf – anders praat mense maklik by mekaar verby. Dit kan maklik gebeur dat terwyl ons dink, aanvaar, of aanneem dat almal met hierdie begrippe dieselfde verstaan, dit heel dikwels nie so is nie. Wat dan hierdie andersins interessante gesprek onnodig kompliseer.
Die volgende onderwerpe gaan nou hier hanteer word:
- Ons Christelike Geloof.
- Die (moderne) Wetenskap.
- Die Bybel
- Die Ou Testament: Genesis 1–2 as voorbeeld
- Die Nuwe Testament: Markus 5:1–21 as voorbeeld
- Belydenisskrifte: Artikel 12 van die NGB as voorbeeld
Blaai om vir lekker lees!
1 Ons Christelike geloof
1.1 Ons
Die “Ons” is ʼn persoonlike aanduiding. Dit gaan duidelik hier nie om ʼn algemene beskouing of oortuiging van alle mense oor wat hulle glo nie, maar ʼn spesifieke groep mense wat in ʼn spesifieke tyd en plek woon. In hierdie geval is dit NG Kerklidmate wat aan die begin van die 21ste eeu hoofsaaklik in Suidelike Afrika woon – maar natuurlik ook elders in die wêreld, waar ook al ons lidmate hulleself bevind.
1.2 Christelike geloof
Ons “Christelike Geloof” het ʼn bepaalde oorsprong (geskiedenis) en inhoud (tradisie) wat ʼn mens sou kon terugvoer na die heel oudste Christelike geloofsbelydenisse, soos die Apostoliese Geloofsbelydenis (Apostolicum), die geloofsbelydenis van Nicea en Athanasius. Ons verwys na hierdie belydenisse as die ekumeniese geloofsbelydenisse, wat vroeg na die ontstaan van die Christelike geloof (na die tyd van Jesus) geleidelik tot stand gekom het – sommige selfs nog voor die Bybel as geskrif soos ons dit vandag ken, finale beslag gekry het. Dit is ekumenies omdat alle hoofstroom Christelike tradisies (byvoorbeeld die Rooms-Katolieke Kerk, die Protestantse Kerke, Grieks-Ortodokse Kerke) op die een of ander manier hulle Christelike oortuiging hierheen terugvoer.
ʼn Mens sou kon sê dat die Christelike geloof in hierdie geskrifte hulle beskouing oor God baie spesifiek aandui as ’n geloof in ’n Drie-Enige God. Ons Christelike beskouing oor God is dus onderskeidend en baie spesifiek ’n geloof in ’n Drie-Enige God wat sigself as Vader, Seun en Heilige Gees in die geskiedenis bekendstel. Ons word dus daartoe opgeroep om nuwelinge (bekeerlinge tot hierdie geloof) te doop in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees (Matteus 28:19). Hoewel hierdie DrieEnige God vir ons onbegryplik is en dit dus moeilik is om ‘n duidelike konsep/begrip van Hom te hê, is dit ons oortuiging dat Hy Homself aan ons openbaar het as God die Vader, die Skepper van alle dinge; as God die Seun, in Jesus van Nasaret as ons Verlosser; en as God die Heilige Gees, wat in ons as individue, maar veral ook gesamentlik in ons as gemeente/kerk woon – die gemeenskap van die gelowiges.
1.3 Gereformeerde geloof
Ons sou ons beskouing oor God selfs nog meer spesifiek kon beskryf wanneer ons onsself Gereformeerde Christene noem. In die loop van die 16de en 17de eeu het met die Protestantse Beweging (Hervorming) ʼn nuwe groepering van die Christelike Kerk in Europa tot stand gekom. ʼn Deel daarvan het ontwikkel en gegroei in wat uitgeloop het op die aanvaarding van die Drie Formuliere van Enigheid (die Heidelbergse Kategismus, Nederlandse Geloofsbelydenis en Dordtse Leerreëls) by die eerste Gereformeerde sinode in 1618/19 in Dordrecht, Nederland. Teenoor die Rooms-Katolieke Kerk van destyds is met die aanvaarding van hierdie belydenisskrifte klem gelê op die vyf sogenaamde solas, te wete: sola gratia (alleen deur genade), sola fidei (alleen deur geloof), solus Christus (slegs deur Christus), sola scriptura (die Bybel alleen), soli Deo Gloria (aan God alleen die eer). Dit was verstaan as ʼn troos-Evangelie. Ons kan onsself nie red nie. Nie deur ons werke of enige verdienste nie. Alleen God kan dit doen deur ons in Christus Jesus te verlos. Die ellende waaruit ons verlos moet word, was nie eng gesien as slegs persoonlike sonde(s) nie, maar ʼn bevryding uit die ellende (misère) van die lewe self – om dan ʼn dankbare lewe te kan lei tot eer van God. Die diepste troos is dat ons nie aan onsself behoort nie, maar aan ons getroue Verlosser en Saligmaker, Jesus Christus.
As ons dus vandag as Gereformeerde Christene verwys na Ons Christelike Geloof, sou ʼn mens in die beskrywing hierbo iets kon verstaan van die identiteit van ons geloof, ons godsdiens. Ons verstaan ook dat, omdat ons ʼn dinamiese geloofsgemeenskap is wat onsself telkens in ʼn volgende tydvak bevind waarin ons weereens uitdaag word tot ʼn volgende relevante verstaan van ons geloof, die omskrywing daarvan nie staties is nie.
Intussen, egter, as ons praat van “Ons Christelike Geloof” is dit hierdie verstaan van God, skepping en mens wat ons na die tafel bring in ons verhouding tot die wetenskap.
2 Die (moderne) wetenskap
Dit is eie en uniek aan ons spesie (die mens) dat ons na maniere soek om ons omgewing te beheer – om ons lewenskwaliteit te verbeter, om voortdurend tot ʼn nuwe wete te kom van die lewe en die potensiaal wat die lewe op toenemend meer gebiede bied. Ook uniek aan die mens is die vermoë om te verbeel, om esteties en kreatief te dink. Daarom ontdek die mens deur die eeue nuwe dinge; ontwikkel die mens vindingryke vermoëns om van die omgewing ’n beter plek te maak om in te lewe.
Dink maar net aan die ingrypende invloed wat die ontdekking van die maak van vuur teweeg gebring het. Veral die beheer daarvan het op die lewe van mense ‘n groot invloed gehad. Nie net kon hulle toe hulle dieet verander nie, maar hulle kon ook snags aktiwiteite beoefen, selfs in spelonke en in grotte, wat voorheen nie moontlik was nie.
As ʼn mens verder dink aan die ontdekking van die wiel: Dit het gepaard gegaan met revolusionêre gevolge van die beweeglikheid van mense en goedere. Die ontwikkelings van wapens en implemente het die mens telkens in ʼn beter posisie geplaas om sigself te handhaaf in ʼn spesifieke bewoonde omgewing.
Daar was dus altyd ʼn groei aan inligting en kennis, sodat mens kan sê dat die wetenskap altyd op ʼn manier deel was van die mens se geskiedenis. Niks het egter die wêreld voorberei vir so ʼn ontploffing van kennis en inligting as die ontwikkeling van die moderne wetenskap nie. Sedert die ontdekkings van Copernicus (‘n Poolse priester) en Galileo (vriend van die Pous van destyds) in die 15–16 eeu, met hulle teorieë van ʼn ronde, wentelende aarde om die son, het die moderne wetenskap sy beslag gekry. Dit het onmiddellik weerstand uit kerklike geledere ontlok omdat dit die wêreldbeeld wat van die kerk op grond van die interpretasie van die Bybel uitgedaag het. Aanvanklik is hierdie bevindinge doeltreffend onderdruk deur die kerklike strukture en Galileo se bevindinge is eers in 1632 bekend gemaak. Dit was vreemd om te hoor dat die aarde nie net rond is nie, maar ook om sy eie as draai. Nou “kom die son nie meer op” nie en “gaan nie meer onder” nie. Boonop is die aarde nie die middelpunt van die heelal nie, maar draai in ʼn wentelbaan om die son. Daar is nie meer ’n “bo” en “onder” nie. Plekke soos “die hemel” en “die hel” het uitermate problematies geword.
Hierdie ontwikkeling van kennis (om te weet: wetenskap) was nie net tot die astronomie beperk nie. Vyf jaar ná Galileo sou die Franse denker René Descartes sy bekende frase (cogito ergo sum – “Ek dink, daarom ís ek”) die lig laat sien. Dit het die mens op ’n nuwe pad van selfstandigheid, selfwaarde en selfvertroue geplaas. Descartes het gesê dat dit juis die feit is dat ’n mens kan dink wat jou as mens van alle ander spesies onderskei. Vir hom sou die klem voortaan val op die kognitiewe, die logiese verstaan van dinge. Iets is eers waar en eg as dit logies verstaanbaar is. Hierdie siening sou ontwikkel tot die standpunt dat slegs dít wat ’n mens eksperimenteel kan bewys, seker/vaste kennis is en geglo kan word.
In 1687 verskyn Isaac Newton se indrukwekkende werk, Philosophiae Naturalis Principia Mathematica, wat die basis sou vorm vir moderne fisika. Daarin publiseer Newton sy teorie oor hoe die hemelliggame in ruimte en tyd beweeg en hoe universele swaartekrag hierdie hele stelsel aanmekaar én uitmekaar hou. Met hierdie nuutgevonde kennis van die heelal, sterre- en sonnestelsels, van die invloed van swaartekrag, wat meetbaar ondersteun word deur die moderne fisika en meetkunde, is die denkende mens stadigaan bevry van die voor-Aufklärung denke en wêreldbeeld.
Heelwat later, in 1929, sou Edwin Hubbel weer ʼn volgende fase in die verstaan van die heelal inlei met sy teorie van die uitdyende heelal. Volgens hom het dit logies beteken dat die hemelliggame dus vroeër nader aan mekaar moes gewees het; trouens, dat daar ’n tyd (’n oomblik) lank gelede (ongeveer 20 000 miljoen jaar gelede!) was toe alles op presies dieselfde plek en die digtheid van die heelal oneindig was. Maar nie alleen moes die digtheid van die universum oneindig gewees het nie, dit moes absoluut ongelooflik en oneindig klein gewees het. Dit was die “oomblik” van die sogenaamde oerknal (“big bang”), die begin van die heelal.
Intussen het die ontwikkeling in die filosofie ook die standpunte van die kerk al feller uitgedaag. In 1781 formuleer Immanuel Kant sy bekende onderskeiding tussen Geschichte en Historie waarmee hy wou aantoon dat daar twee “lyne” van denkprosesse is. Die een word deur die “praktiese rede” geken (Geschichte) en het te doen met dinge soos morele standpunte, etiese norme (reg en verkeerd), die vraag na wat fatsoenlik is en wat nie – die dinge wat noodsaaklik is vir die funksionering en behoud van ’n gemeenskap. Die ander “lyn van kennis” (Historie) is kenbaar deur die “suiwer rede”. Hier het ons dan volgens Kant te doen met die egte waarheid. Dit is die waarheid wat ’n mens deur eksperimente en rasionele argumentasie as waar en feitlik kan beskou. Dit was vir hom die enigste betroubare kennis.
Hierdie denkkonstruksie van Kant word deur baie beskou as die geboorte van die moderne filosofie en sou in die jare wat volg die filosofiese basis lê vir die konflik tussen rede en geloof, wetenskap en teologie/kerk.
Nuwe kennis in die veld van die biologie en die mediese wetenskap sou verder druk plaas op “Bybelse waarhede”. So publiseer Charles Darwin in 1859 sy werk The Origins of the Species. Met dié evolusieteorie word die letterlike interpretasie van die Bybelse beskrywing van die skepping van die eerste mense as hoogs onwaarskynlik uitgedaag.
Op mediese gebied ontwikkel Louis Pasteur in 1885 die eerste middel teen bakteriële infeksies en met hierdie ontdekking sou die oorsake, asook die behandeling, van siektes op ’n nuwe (verstaanbare en behandelbare/beheerbare) manier gesien word. Later sou Alexander Fleming se ontdekking van penisillien hiermee saam die behandeling van vele siektes moontlik maak. Van toe af was dit duidelik dat die mensdom nie uitgelewer is aan allerhande bose magte of geeste wat hulle siek maak, en wat dan net op ʼn kontra-manier deur hierdie geesteswêreld aangespreek kan word nie. Sedert daardie tyd was daar nou suksesvolle geneesmiddels wat aangewend kan word om lyding en siekte te beheer. Hermann Dressen se ontdekking van aspirien (1893) maak ’n verdere dramatiese bydrae tot die welslae van die mediese wetenskap om pyn te beheer. En sedert Wilhelm Röntgen se ontdekking van X-strale (1895) kan die liggaam se innerlike toestand wetenskaplik (fisiek en empiries) waargeneem word terwyl die persoon nog lewe.
Intussen het Albert Einstein (1905) se relatiwiteitsteorie opslae in die wetenskaplike wêreld gemaak en ’n wetenskaplike revolusie tot gevolg gehad. Sy relatiwiteitsteorie het mense se destydse denke oor verskynsels soos materie en energie asook tyd en ruimte, heeltemal herskryf. Waar tyd en materie voorheen beskou is as onveranderlike, absolute entiteite, het Einstein se teorie dit gestel dat ook tyd en materie slegs gemeet (bepaal) kan word in verhouding tot hulle beweging en in verhouding tot die een wat die meting doen. Met Einstein breek die ontstaan van die atoomeeu aan.
In die laaste deel van die 19de eeu het daar in Europa op die vlak van filosofiese denke talle prominente denkers (Ludwig Feuerbach; Karl Marx; Friedrich Nietzsche) na vore getree wat onomwonde verklaar het dat die mens van die moderne tyd geen ander keuse het as om op rasionele gronde die kerk en die geloof in God te bevraagteken nie. Dit is geen wonder dat die persepsie ontstaan het dat die moderne wetenskap vyandig staan teenoor godsdiens nie.
Ook op die gebied van die psigologie (byvoorbeeld Sigmund Freud en Carl Jung) word daar teen die einde van die 19de eeu ingrypende teorieë ontwikkel wat verklarings aanbied vir bepaalde menslike gedrag. Voorheen is die oorsaak van menslike gedrag nog dikwels toegedig aan die geesteswêreld – as iets wat onbeheers en onverklaarbaar “oor die mens kom”. Sedert Jung word gedragspatrone egter in so ’n mate verstaan (en juis dáárom soms ook gemanipuleer) dat die psigologie binne die geesteswetenskaplike dissiplines al meer gevestig geraak het as ’n geloofwaardige wetenskap om mee rekening te hou.
Nog dissiplines in die moderne wetenskap wat ons denke onherroeplik verander het, was die argeologie en die historiografie. Ook die literêre wetenskap (letterkunde) wat handel oor die lees en verstaan van tekste en die onderskeiding van literêre soorte (genres) laat ons nuut kyk na antieke tekste en hulle vertalings, maar ook hulle interpretasies/verklarings. Die verdere ontwikkeling van hermeneutiek binne die besinning van die wetenskap is prominent hierin.
[Kommentaar: Hier word nou op baie gevaarlike terrein beweeg. In hierdie paragraaf word gesê dat literêre wetenskap ons dwing om die Bybel anders te verstaan. Moet ons dan ook die filosofiese denke van Ludwig Feuerbach, Karl Marx en Friedrich Nietzsche ernstig opneem? En die psigologie van byvoorbeeld Sigmund Freud en Carl Jung?]
Op die gebied van mikrobiologie het stamselnavorsing en genetika in die laaste tyd oënskynlik aan die mens nuwe mag en beheer oor biologiese prosesse gebied.
Voeg dan hierby die astronomiese ontwikkelinge in die inligtingstegnologie, wat al hierdie kennis – asook ons verbinding aan mekaar en kommunikasie met mekaar oor die hele wêreld te enige tyd oombliklik maak – en mens besef dat ons in ʼn tyd lewe wat onvergelykbaar is met enige vorige tydvak.
As ons dus hier praat van “die Wetenskap” verwys ons na die moderne wetenskap in al sy subdissiplines wat ons totale menswees vandag ingrypend ander inhoud gee as slegs 200 jaar gelede – wat nog van 2000 en meer jaar gelede, as ons oor die Bybelse tydperk praat.[1]
3 Die Bybel
Die verbinding tussen toe en nou
In die verhouding tussen “Ons Christelike Geloof” en “die Moderne Wetenskap” neem die Bybel nou as’t ware ʼn tussen-posisie in. Naas ons Christelike geloof en die moderne wetenskap is dit nou die derde saak waaroor ons helderheid moet kry in ons bespreking van die verhouding tussen geloof en wetenskap.
In rekenaartaal praat ons van ʼn interface: die koppelstuk of stuk toerusting wat twee of meer komponente aan mekaar verbind. Dit is die funksie van die Bybel tussen ons Christelike geloof en die wetenskap. Die Bybel (ook die Heilige Skrif genoem) is ʼn bundel van dokumente met ʼn interessante en gekompliseerde geskiedenis. Dit het binne verskillende tradisies as mondelinge oorvertellings begin, selfs lank voor die ontwikkeling van ‘n skriftelike neerslag – dus voordat dit geskrewe dokumente geword het.
Heelwat van die “boeke” van die Bybel is dus lank na die gebeure wat hulle beskryf, neergeskryf. Byvoorbeeld, die oudste Evangelie, Markus s’n, wat kronologies die naaste aan die lewensverhaal van Jesus geskryf is, is ten minste meer as twee dekades na die kruisiging opgeteken.
[Kommentaar: In terme van ander antieke dokument is hierdie baie naby aan die werklike gebeure. Kyk Wanneer is die Nuwe Testament geskryf?.]
Dit het ook verder deur ewe ingewikkelde wisselwerkende prosesse van kreatiewe resepsie en gebruik ontwikkel. Hierdie Boek(e) is dus ou historiese artifakte wat ontleed, bestudeer en vergelyk kan word met soortgelyke (buite-Bybelse) antieke tekste. Ons doen dit deur gebruik te maak van allerlei kritiese wetenskaplike metodes en tegnieke, om so goed as moontlik die bedoeling en betekenis van die teks te verstaan.
Die wetenskap help ons met die Bybel
Die Bybel vra daarna om histories en literêr gelees en verstaan te word. Met die duiselingwekkende ontwikkeling van die wetenskap in die algemeen, het Bybelwetenskaplikes baie beter “gereedskap” tot hulle beskikking as mense van byvoorbeeld tweehonderd jaar gelede. Ons kan meer van die Bybel weet as hulle omdat die toenemende/versamelde kennis wat steeds astronomies groei, tot ons beskikking is.
[Kommentaar: Dit is ’n baie misleidende stelling. Tot ’n mate weet ons meer as mense van byvoorbeeld 200 jaar gelede: ons het vandag meer ou manuskripte tot ons beskikking as 200 jaar gelede. Dit maak egter geen verskil aan die kern waarhede van die Bybel nie, wat baie goed en duidelik in die Bybel gedokumenteer is. ’n Mens kry egter die idee dat die skrywers van hierdie dokument hierdie gedagte wil ekstrapoleer en wil redeneer dat ons vandag ook meer weet as die skrywers van die Nuwe Testament. Dit is totaal ongeldig: interpretasies oor die Ou Testament in die Nuwe Testament, dra baie meer gewig as ons interpretasies omdat die mense van die Nuwe Testament baie nader aan die ware gebeure was en omdat hulle baie meer inligting tot hulle beskikking gehad het. Wanneer ‘n Nuwe Testamentskrywer vir ons sê dat ‘n sekere gebeurtenis ‘n Ou Testamentiese profesie vervul, kan ons dit nie 2000 jaar later kritiseer nie. Ons is net te ver verwyder van die ware gebeure. Kyk Die Bybelskrywers is altyd reg.]
Een van die historiese dimensies rakende die Skrif, is dat dit die Boek van die kerk is[2]. Dit beteken dat die geloofsgemeenskap en die Boek mekaar wedersyds “gemaak” het. Binne die geloofsgemeenskap word die Skrif as die “oorkonde” (neerslag) van die geloof gelees, uitgelê en verkondig sodat die spore van die oorgelewerde Woord weer kraakvars voor ons lê … en ons inhaal as die komende Woord van God. In ’n definitiewe sin van die (W)woord is Jesus van Nasaret die Woord van God (Hebreërs 1 en Johannes 1). Dis waarvan die Bybelse teks ons in die finale instansie wil oortuig. So is hierdie Woord in Sy koms na ons, die koms van God na ons.
Hierdie band tussen Skrif en Woord is alles behalwe vanselfsprekend – terwyl ons met allerlei wetenskaplike metodes die Skrif kan bemeester, bly die koms van Gods Woord na ons, Sy vrye gawe uit goedheid en guns alleen, wat ons te beurt val in en deur die werking van die Heilige Gees. In hierdie sin verstaan ons dan ook die werking van die Heilige Gees in die ontstaan en verstaan van die Bybel (later meer hieroor).
Dat die Woord van God en die Bybel saamhang, só saamhang dat die kerk dit verwoord in ʼn belydenis dat die Bybel die Woord van God is, beteken dat hierdie beskouing oor die Bybel nie net ’n “rasionele” saak is of kan wees nie, maar wel ʼn belydeniskarakter dra.
Die samehang tussen weet en bely
Uit bogaande weet ons dus dat die woord Bybel verwys na ’n bepaalde versameling antieke geskrifte (so weet ons), waarvan Christene bely dat dit die Woord van God is. Dit is belangrik dat ons sal onthou dat weet en bely twee verskillende kategorieë verteenwoordig. Ons weet dit is antieke dokumente, want ons kan dit vanuit die kategorie van die wetenskap en dan inderdaad vanuit verskillende wetenskaplike dissiplines, soos byvoorbeeld geskiedenis en argeologie aantoon.
Ons belydenis dat die Bybel die Woord van God is, val op sy beurt onder die kategorie van ons Christelike geloof (sien hierbo). Dié belydenis is nie wetenskaplik (in die moderne sin van die woord soos hierbo) toetsbaar nie. Die belydenis dat die Bybel die Woord van God is, kan alleenlik as geloofsoortuiging aanvaar, gerespekteer of verwerp word.
[Kommentaar: Die persepsie wat geskep word is dat ons bloot blindelings glo, baie dieselfde as om in kersvader te glo.]
Wanneer hedendaagse Westerlinge en/of diegene wat die Westerse wetenskap- en wêreldbeskouing daarop nahou, as gelowiges binne die Christelike tradisie die Bybel lees sal dit baat om beide hierdie aspekte (weet en bely) van ons verhouding met die Bybel te erken en onderskeidend te handhaaf.
Die Bybel is meer as die letters en woorde
Hoe sal ons dit regkry om aan beide hierdie aspekte van ons verhouding met die Bybel reg te laat geskied, sodat dit met integriteit kan funksioneer in die verhouding tussen ons geloof en die wetenskap? Die antwoord is om konsekwent en met die nodige eerbied ruimte te maak vir die lees van die Bybel as historiese geskrifte en as ‘n literêre versameling.
Maar, daar is meer aan die teks van die Bybel.
Dit is so: Die Bybel is aan ons oorgelewer as antieke geskrifte. Terwyl ons dit as Woord van God bely, is dit ʼn onbetwisbare feit dat dit uit ʼn tyd lank-lank gelede kom, uit ʼn wêreld dramaties anders as ons s’n vandag. Maar ons lees dit ook literêr, want dit kom in die vorm van taal, van letterkunde, van geskrifte na ons toe.
Nou kom daar ʼn derde aspek by: Ons lees die Bybel as gelowiges ook “sakramenteel“, want ons bely dat dit meer is as die woorde en sinne wat daar staan. Op ’n baie definitiewe manier is dit die Woord van God in en vir ons lewe. En dis hier waar woord “sakramenteel” ons help. Net soos wat die water, brood en wyn in die doop en nagmaal (sakramente) van meer getuig as blote water, brood en wyn, omdat dit iets goddeliks bemiddel, is die Bybel se woorde en sinne vir ons meer as maar net antieke, historiese, literêre konstruksies. Ons kyk in meer besonderhede hierna in die volgende punte:
3.1 Historiese lees van die Bybel:
Ons lees die Bybel histories. Die Bybel het ʼn heel spesifieke historiese, geografiese en sosio-kulturele bedding. Dit het in tyd en oor tyd, tussen mense van bepaalde geografiese gebiede en teen die agtergrond van bepaalde sosio-kulturele agtergronde ontstaan. As ʼn historiese geskrif, is die Bybel as sodanig ʼn literêre werk en getuig dit, wat die Christelike geloof betref, van die waarheid van God.
In sy getuienis oor die Waarheid, is die Bybel kontekstueel en kultureel bepaald. Hierdie terme word ongelukkig en onnodig binne Christelike kringe meestal negatief verstaan. “Kontekstueel” beteken nie dat ons die Bybel maar kan lees en interpreteer soos ons lus het nie. “Kontekstueel” beteken “in verhouding tot/in verband met”. Die Bybel staan in verhouding tot en hou verband met die tyd, plek en omstandighede van die Bybelskrywers.
Wanneer ons sê dat die Bybel “kultureel bepaald” is, bedoel ons daarmee dat die Bybelskrywers in terme van die tale, waardes en mens- en wêreldbeeld van hul kulture praat wanneer hulle oor die lewe en oor
God skryf. Wanneer ons die Bybel lees moet ons sensitief wees vir die verhouding waarin dit staan tot die historiese, geografiese en kulturele omstandighede waarbinne dit ontstaan het.
Om die Bybel histories te lees is om te erken dat die Bybel ’n historiese konteks én ʼn historiese betekenis het. Ons behoort dus nie sommer net enige betekenis daaraan toe te dig nie. Verantwoordelike en verantwoordbare eksegese en hermeneutiek is onontbeerlik vir ʼn eerlike interpretasieproses wat getuig van integriteit; terwyl ons met respek na die teks luister.
Wanneer ons die Bybel histories lees, moet ons altyd onthou dat ons self ook histories bepaald is. In ons lees van die Bybel kan ons nooit aan ons eie historiese en hedendaagse kontekstuele plasing ontsnap nie. Dit geld beide op ʼn individuele sowel as ʼn kollektiewe vlak. Hierdie eie historiese konteks en bepaaldheid sluit onder meer ook my ras, kultuur, geslag, ouderdom, geskooldheid, sosio-ekonomiese posisie, politieke oortuigings, gesondheid en so meer in.
Waarskynlik een van die moeilikste uitdagings vir ons is die feit dat dit onmoontlik vir ons is om al die kennis en inligting wat die wetenskaplike tyd in ons geheue vasgelê het, op te hef wanneer ons na die Bybelse teks gaan en dit lees. In ʼn sekere sin lei die kennis wat ons opgedoen het en steeds opdoen deur die voortgaande navorsing van die multi-dissiplinêre wetenskap ons daartoe om te besef dat ons nooit werklik in staat sal kan wees om onsself volledig in die konteks van hierdie klassieke tekste verplaas nie.
‘n Verantwoordelike lees van die Bybel sal hierdie gegewe altyd erken en verdiskonteer.
3.2 Literêre lees van die Bybel:
Ons lees die Bybel literêr: Die skrywers en mense van die geloofsgemeenskappe waarin die geskrifte ontstaan en uiteindelik tot kanon ontwikkel het, het hulle belewenisse van hulself, hul omgewing, die lewe en God uiteindelik ook in literêre vorme en met behulp van literêre konvensies verpak.
Wanneer ons die Bybel as literêre werke/dokumente lees, dan gee ons erkenning aan die feit dat ons hier met literêre werke uit antieke tye te doen het. Alhoewel hierdie literêre werke verskillend van aard is, maar ook verskil van die tipiese literêre soorte (genres) van ons dag, help ons hedendaagse wetenskaplikeliterêre kennis ons om die Bybelse literêre aard beter te verstaan. Ons herken/identifiseer in die Bybel byvoorbeeld gedigte (Psalms), fabels (Rigters 9), novelles (Rut), voorbeeldvertellings (Jona), geskiedskrywings (Kronieke) en briewe (Efesiërs), om maar enkele voorbeelde te noem.
[Kommentaar: As Rut ‘n novelle is en Jona ‘n voorbeeldvertelling, wat moet ons glo van die geskiedkundigheid van hierdie dele?]
Elkeen van die hierdie literatuursoorte moet verstaan en gelees word binne die spesifieke spelreëls van daardie genre. Gedigte word anders gelees as geskiedenis. Dit gebeur amper outomaties dat mens die verskillende literatuursoorte herken en die toepaslike reëls gebruik. Mens lees eenvoudig nie jou koerant (of ’n nuusberig) op dieselfde wyse as wat jy poësie sal lees nie. Beeldspraak en metafore sou waarskynlik in laasgenoemde geval aan die orde van die dag wees, terwyl ’n mens met beriggewing feite en logika kan verwag.
Hierdie literêre werke in die Bybel maak ook van stylfigure soos byvoorbeeld rym, alliterasie, paradoks, ironie, sarkasme, hiperbole en metafore gebruik. Om die Bybel vanuit ’n literêre perspektief te lees, beteken dus om dit in meer as sy letterlike betekenis te verstaan. So was dit klaarblyklik vroeër. Dit is eers later, toe die historiese konteks van hierdie literêre werke (Bybelboeke) vervaag het, dat mense die Bybel letterlik begin verstaan en dit op elke vlak feitelik (histories)-letterlik begin interpreteer het – ʼn manier waarop dit nooit bedoel was om gelees te word nie en verseker ook nie deur die eerste hoorders verstaan is nie. Deur hierdie histories-letterlike interpretasies is ons interpretasie en verstaan van die Bybel uitermate verskraal.
Die bedoeling met hierdie letterlike beskouing van die Bybelse teks was om die betroubaarheid en gesag van die Bybel te beklemtoon. Onderliggend hieraan het ʼn meganiese inspirasieleer gefunksioneer, naamlik dat elke woord en leesteken in die Bybel oorspronklik direk so deur God in die skrywers ingegee is en daarom as sodanig letterlik verstaan moet word. Ongelukkig het dit net mooi die teenoorgestelde effek. Om die fokus alleen maar op die letterlike en feitelike van die Bybelse tekste te laat val, is om die bedoelinge, betekenisse, waarde en boodskap van die Bybel te verskraal. Om die Bybel letterlik te interpreteer, is om by halwe waarhede uit te kom en selfs vals indrukke of persepsies te vorm.
[Kommentaar: Hier begin die dokument nou sy ware kleure te wys. Hier word weer gesuggereer dat ons vandag in ‘n beter posisie is as die latere Bybelskrywers om die ouer geskrifte te interpreteer. Kyk Die Bybelskrywers is altyd reg.]
3.3 Sakramentele lees van die Bybel:
Ons lees die Bybel “sakramenteel“: ʼn Sakrament is ʼn tydgebonde, fisiese, tasbare bemiddeling van wat as heilig bely word. ʼn Sakrament is onder meer ʼn manier waarop dit wat as goddelik bely word, vir ons mense sigbaar, tasbaar teenwoordig word in die hier en nou. ’n Sakrament kan gesien word as ’n voertuig waardeur God teenwoordig word/is – ’n middel waardeur die Gees beleef word.
Dink in die verband byvoorbeeld aan ons kerk se twee sakramente, te wete die heilige doop en die heilige nagmaal. Met die doop was die water uit die doopvont tog nie letterlik ons sonde af nie. Dit is egter kragtens ons Gereformeerde tradisie onder meer ʼn tasbare simbool van die afwassing van die sonde en ’n bevestiging van ons inlywing in die liggaam van Christus.
Net so bely ons met die nagmaal dat die brood wat ons eet en die wyn wat ons drink die liggaam en bloed van die gekruisigde Jesus en die opgestane Christus is. Daarmee bedoel ons egter geensins dat gelowiges met die nagmaal letterlik vlees en bloed eet en drink nie. Die gebruik van brood en wyn met die nagmaal bevestig aan gelowiges ons deel in die dood en opstanding van ons Here, Jesus Christus.
Ons Gereformeerde verstaan van die doop en die nagmaal kan ons help om ons belydenis van die Bybel as die Woord van God beter te verstaan. Na analogie van die verstaan van ons kerk se twee sakramente, kan ons die Bybel bely as God se hoorbare, leesbare en tasbare woord in ons hier en nou. As sodanig dien die Bybel rigtinggewend (in die mees omvattende sin van die woord) in Christene se lewe.
Met ander woorde: die betekenis van die Bybelse teks is vir ʼn Christen méér as die woorde wat daar staan; méér as die konsepte wat beskryf word; méér as die geskiedenis wat aangebied word; méér as die klaagliedere wat geskryf is; méér as die psalms wat gesing is. Binne die breëre en dieper betekenis van die Christelike geloofsbelydenisse, die geloofstradisie waarbinne ons staan, lees ons die historiese en literêre tekste (van die Bybel) en hoor daarin hoedat God geken en gehoor word as ’n genadige, liefdevolle God, betroubaar in Sy genade oor ons – juis ook in ons konteks vandag.
[Kommentaar: Dus, soos die nagmaal simbolies is, moet sekere dele in die Bybel ook simbolies gelees word. Dit is duidelik dat die voorbereiding getref word om tot die gevolgtrekking te kom om dinge soos Genesis 1-11 slegs simbolies te lees.]
Opsommend
Wat hier aan gebied word is nie ʼn nuwe metode nie, maar is bedoel as ʼn metodologies-inklusiewe leesbenadering. Ons besef dat die benadering wat hier aan die hand gedoen word verder gaan as die leesgebruike wat oor die algemeen in die kerk geld. Die benadering wat hier aangebied word, berus op dekades, indien nie meer as ʼn eeu se navorsing binne die veld van beide antieke tale én Ou- en Nuwe Testamentiese wetenskap. Tog, soos elke ander leesbenadering, het ook hierdie benadering sy beperkinge. Ons is egter vol vertroue dat hierdie leesbenadering wel geskik is om, binne die konteks van die gesprek Ons Christelike geloof en die Wetenskap, die kerk aan ʼn volgende fase van haar reis met die Bybel en ons Christelike geloof in ons tyd kan voorstel.
Deur die Bybel histories, literêr en sakramenteel te lees, kan Christene vandag verantwoordelik, ingelig en met oorgawe as gelowiges lewe.
3.4 Verskillende gebruike/lees van die Bybel in die kerk:
Die kontekste waarbinne en die wyse waarop die teks van die Bybel gelees word en funksioneer, is nie altyd dieselfde nie. Dit word enersyds in (geografiese) plekke en deur mense van kulture gelees waar die Westerse wetenskapsdenke nie die dominante denkwyse is nie. Andersyds word dit op plekke en deur mense gelees wat empiriese (natuur) wetenskaplike modelle verhef tot absolute norm. Verder lê lees/eksegetiese modelle op ’n kontinuum tussen ’n naïewe lees van die teks en ʼn radikale wetenskaplike lees van die teks.
Ter illustrasie van wat hier bedoel word, kan ons verskeie maniere van of benaderings tot die lees en interpretasie van die Bybel onderskei sonder om daarmee voor te gee dat hierdie illustrasie alles omvattend of volledig is.
3.4.1 Voorwetenskaplike lees van die teks: Waar daar byvoorbeeld in die Ooste, Asië, Afrika en Suid-Amerika nog miljoene mense leef wat duidelik hulleself binne ʼn voorwetenskaplike kulturele konteks bevind, is ʼn voorwetenskaplike lees van die teks uiteraard nie net moontlik nie, maar waarskynlik vanselfsprekend. Waar mense se wêreld en lewensbeskouing (nog) nie deur Westerse wetenskapsdenke gevorm is nie, maak dit sin dat hierdie mense, wat hulle byvoorbeeld nog steeds bevind in die bedreiging en aanvegtinge van bose en onreine geeste/figure/wesens, hulleself vereenselwig met die voorwetenskaplike teks van die Bybel en belydenisskrifte – en as sodanig die evangelie as bevrydend daarvan kan beleef.
[Kommentaar: Om hierdie anders te stel: Mense wie se denke nog nie deur Westerse wetenskapsdenke gevorm is nie glo steeds aan die bestaan van bose en onrein geeste/figure/wesens. Hierdie mense sou die voorwetenskaplike tekste in die Bybel letterlik interpreteer omdat die Bybel EN die belydenisskrifte vir hulle bevryding sou bring van die bose waarin hulle geglo het. Dus glo die skrywers van hierdie dokument nie aan bose en onrein geeste/figure/wesens nie.]
3.4.2 ʼn Ongekompliseerde lees van die teks: Dit is moontlik (en vele kan oor alle tye sedert die ontstaan van die Bybelse teks daarvan getuig) dat iemand vir die heel eerste maal, sonder enige kennis van die Christelike leer, sonder om in die tradisie van die Christelike geloof geskool te wees, of as Christen groot te word, op ʼn dag ʼn gedeelte van die Bybel te lese kry en daarin hoor dat God met hom/haar praat op so ’n wyse dat dit die persoon se lewe ingrypend ten goede verander. Dit kan gebeur dat ʼn enkele teks iemand tot bekering kan bring, sonder enige kritiese ingesteldheid ten opsigte van die teks. Op so ʼn wyse kan God die Bybel gebruik om direk tot iemand te praat dat diegene sou getuig dat hulle God as’t ware self met hulle hoor praat het.
3.4.3 ‘n Amptelike voorlesing van die teks: Dit gebeur gereeld dat daar by geleentheid met Skriflesing en gebed geopen word by byvoorbeeld ʼn skoolsamekoms of staatsgeleentheid. Die sinvolheid daarvan word op geen manier bevraagteken nie. Vir so ʼn geleentheid word ʼn bepaalde gedeelte uit die Bybel met groot sorg gekies om God as’t ware toepaslik te laat praat in daardie situasie. Daar is natuurlik groot gevare hieraan verbonde. Dominees word gereeld gevra om dit te doen. Dan word daar gewoon op die hoor-waarde van die teks gereken om ʼn bepaalde boodskap oor te dra. Geen kritiese hantering van die teks word erken nie. Dit is dikwels met Psalms die geval. So ʼn gebruik van die Bybelse teks behoort met groot omsigtigheid gedoen word.
3.4.4 ʼn Meditatiewe gebruik van die teks: Met so ʼn gebruik van die Bybel is dit in besonder die sakramentele lees van die teks wat na die voorgrond skuif. Hier vervul gedeeltes uit die Bybel op ʼn besondere wyse ʼn liturgiese funksie en dan veral soos dit oor eeue heen deur die kerklike tradisies ontwikkel het en in besonder in liturgieë en die kerklike jaar gestalte (ge)kry (het). In meditatiewe en kontemplatiewe momente bemiddel die Bybel op ʼn besondere wyse die goddelike (woord). Hier is nie juis ruimte van kritiese refleksie op die teks nie.
3.4.5 ʼn Homiletiese gebruik van die teks: Met “homileties” word hier na die prediking in ʼn erediens verwys. Skrifgefundeerde prediking vorm ʼn integrale deel van eredienste binne die Gereformeerde kerke. Daar word uit die Bybel gelees, ’n uitleg word voorgehou gegrond op deeglike studie/eksegese en as gesagvol aangebied, en die gemeente behoort op grond van hierdie kerklike gesag (gelegitimeerde predikers) toepaslik te reageer. Hier kan weereens ʼn sakramentele lees van die teks (kyk punt 3.3 hierbo) ter sprake kom, wanneer ons glo dat die Bybel meer as die geskrewe woord(e) op papier word – en in der waarheid as die Woord van God gehoor, geglo en as gesagvol aanvaar word.
3.4.6 ʼn Teologiese gebruik van die teks: Hier funksioneer die teks binne die konteks van die multidissiplinêre vakdissiplines van die wetenskap. Veral as historiese en literêre tekste, maar dan ook juis omdat dit teologie is, word óók die sakramentele aspekte van die teks ondersoek en bestudeer. Hier word kritiese vrae gevra en daar is ʼn doelbewuste poging aan ʼn wye blootstelling aan godsdienstige, filosofiese en ander wetenskaplik beskouings. Ook die eie geloofstradisie kan kritiese ondervraging hier verwag ten einde uiteindelik te help om die bes moontlike lesing en interpretasie van die teks te bekom. Natuurlik speel logika en die rasionele argumentatiewe aanslag hier ʼn prominente rol – soos wat dit moet binne die konteks van die wetenskaplike eeu waarin ons leef.
Die voorafgaande is ’n onderskeidende aanbieding van die gebruike van die teks. In die praktyk is dit nie altyd moontlik om dit so van mekaar te skei nie. Dit kan gebeur dat al hierdie gebruike van die teks by een en dieselfde geleentheid aangebied en/of beleef sal word deur gelowiges op grond van hulle eie ingesteldheid, persoonlikheidstipe, lewensomstandighede en geloofspad – en moet daarom as kategorieë verstaan word wat nie altyd so netjies van mekaar geskei kan word nie.
Ons sal ook eerlik moet erken dat selfs ’n wetenskaplike omgaan met tekste geen waarborg is dat daar in die kerk by ’n eenduidige interpretasie van tekste uitgekom sal word nie. Behalwe die verskillende plekke/geleenthede waar die teks moontlik kan funksioneer, die verskillende maniere van lees van tekste én die verskil ten opsigte van hermeneutiese uitgangspunte, sit ons in die kerk met ’n verdere uitdaging. Dit behels die feit dat daar in die geloofsgemeenskap ook diegene is waar Westerse wetenskaplike denke (bewustelik en/of onbewustelik) reeds ʼn bepalende rol in hulle lewens speel – selfs tot op die punt van ’n emansipering van hulle wêreld en lewensbeskouing. Wanneer hulle wel oor hulle belydenis en geloof dink, is hulle heel gemaklik daarmee om in voorwetenskaplike konstrukte veilig en getroos te voel.
Tog is dit vir ons belangrik dat ons nie ons Christelike geloof en belydenis teenoor die werk van die wetenskap sal opstel nie. Die wetenskap is nie per se teen ons Christelike geloof nie en ons moet nie die resultate van die moderne wetenskap as vyand van die geloof beskou nie. Dit is jammer dat daar somtyds vanuit wetenskaplike hoek ’n aktivistiese aanval op ons Christelike oortuigings is wat hierdie spanning en selfs vyandskap skep. Die teenoorgestelde is ook ongelukkig vanuit kerklike geledere waar, wanneer die wetenskap voorgehou word as die vyand van God en geloof in Hom.
Gesprek met mekaar is dus van uiterste belang vir behoud van beide geloof en wetenskap.
[Kommentaar: ’n Mens kry die idee dat hier alweer voorbrand gemaak word vir die aanvaarding van evolusie en die oerknal. Dit is egter jammer dat die verskil tussen operasionele- en historiese wetenskap feitlik ooit erken word in hierdie gesprekke nie. Operasionele wetenskap gaan oor empiries-waarneembare feite en werklikhede terwyl historiese wetenskap interpretasie vereis. Kyk Operasionele vs historiese wetenskap.]
Indien ons ernstig is met ons belydenis van God as die Skepper van die heelal met al sy wonderbaarlike, komplekse inhoude, moet ons dit ook ernstig opneem dat Hy betrokke is by die ontluikende wetenskap wat ons aan hierdie werklikheid meer en meer blootstel. God is per slot van rekening ook die God van die intellek en kennis. Hier wil ons graag hierdie perspektief duidelik onderstreep.
Wanneer ons nou in die volgende hoofstukke na die Ou Testament, die Nuwe Testament en die Belydenisskrifte gaan kyk om te sien hoedat ons Christelike geloof in verhouding tot die wetenskap funksioneer, sal die uitgangspunt hoofsaaklik berus op ’n teologiese lees van die teks. Dan is ons nie besig met die voorbereiding van ʼn meditatiewe geleentheid of vir ʼn voorlesing by ʼn byeenkoms nie, maar is ons wetenskaplik teologies besig met die bepaling van die betekenis van ’n spesifieke teks uit die Bybel/belydenisskrifte vir ons vandag, deur van verskeie subdissiplines wat ons tyd ons bied gebruik te maak.
In elke geval (Ou Testament, Nuwe Testament en Belydenisskrifte) sal ʼn bepaalde teksgedeelte gebruik word ter illustrasie.
3.5 Oor die Bybel as gesagvol en geïnspireerde woord
In die geskiedenis van ons geloofstradisie het die begrip testimonium spiritus sancti (getuienis deur die Heilige Gees) ʼn baie sentrale rol gespeel as dit by die Bybel, die ontstaan en die interpretasie van hierdie geskrifte, kom.
As belangrike aspek van ʼn organiese inspirasieleer binne die gereformeerde kerkleer, wil dit dui op die aktiewe betrokkenheid van die Gees van God in die ontstaan van die Bybel, maar ook in die funksionering van die Bybelse teks in die kerk. Weliswaar is dit geformuleer teenoor ’n meganiese inspirasieleer, wat sou suggereer dat die skrywers van die Bybelse geskrifte soos willose marionette was deur wie Hy direk gewerk het met die totstandkoming van die Bybel.
Met organiese inspirasie word egter bedoel dat die skrywers binne ʼn bepaalde historiese konteks, onder spesifieke omstandighede, met behoud van hulle persoonlikhede, met ’n spesifieke gehoor in die oog, meegewerk het aan die literêre neerslag van die teks. Deur en in dit alles is God (die Heilige Gees) betrokke om die waarheid van ons Christelike geloof aan gelowiges te kommunikeer. Die inspirasie van die Bybel verwys dus na die beweging van die Gees in die lewens van die mense wat die Bybelse tekste geskryf en saamgestel het. Die fokus is dus nie soseer op woorde wat deur God ingegee sou wees nie, maar op mense, te wete die antieke gemeenskappe en hul skrywers, wat op grond van hulle belewenis van die Gees van God, beweeg is. Daardie selfde Gees leef ook in ons en bring ook ons in beweging – onder meer deur die Bybel. Die inspirasie van die Bybel bevestig onder ander die kontinuïteit tussen ons en die skrywers van die Bybel.
En dit is presies wat bedoel word daarmee dat ons die teks van die Bybel histories, literêr en sakramenteel lees. Die Gees van God is nie met die een wyse van lees meer teenwoordig en werksaam as met die ander nie. Dit is ook waar van ons vyf onderskeidings van die funksionering van die teks: of ons die teks wetenskaplik analiseer en of ons dit meditatief lees, God is teenwoordig in die totaliteit van ons intellektuele en emosionele funksies. Hierdie lees van die Bybel ontken nóg ons belydenis ten opsigte van die gesag van die Bybel nóg ons belydenis ten opsigte van die inspirasie daarvan, inteendeel.
Wanneer ons die Bybel histories, as literatuur en sakramenteel lees, hou ons in gedagte dat ons alleen maar ’n punt op ’n millennia oue interpretasietradisie verteenwoordig. Ons is nie die eerstes wat die Bybel (“korrek”) interpreteer nie en ons is beslis ook die laastes nie. Met die leesbenadering hier aangebied probeer ons erns maak met die winspunte van die meeste eksegetiese (interpretasie) metodes, terwyl ons maar al te bewus bly van interpretatiewe slaggate in ons onderskeie eksegetiese metode(s).
4 Ou Testament – Gen 1–2 as voorbeeld (in die begin …)
4.1 As historiese teks
Die keuse vir Gen 1–2 is belangrik om te verreken. Eintlik behoort ʼn mens hoofstuk 3 ook hierby te lees, aangesien dit ʼn eenheid met hoofstuk 2 vorm, maar vir ons doeleindes bepaal ons onsself by die skeppingsgebeure.
Navorsing uit verskeie wetenskaplike dissiplines wat met mekaar in verband gebring word, het onteenseglik bevind dat Genesis 1–2 sy huidige vorm as ons Ou Testament gedurende die laat Persiese tyd gekry het. Tog blyk dit uit die aard van die teks/geskrif dat die sterkste beïnvloeding vanuit die Babiloniese denkraamwerk kom. Ons moet dit dus teen dié agtergrond lees. Wat beteken dit?
[Kommentaar: Amper die helfte van die dokument (alles tot dusver) is gewei daaraan om die wetenskap op te hemel en hier is die rede: want die wetenskap “het onteenseglik bevind dat Genesis 1–2” eers in ballingskap geskryf (~600 vC) en daarom kan/moet ons glo dat evolusie en die oerknal gebeur het en die Bybel moet aangepas word. Kyk Het God evolusie gebruik om te skep, is Genesis 1-11 in ballingskap geskryf en was die sondvloed werklik ’n globale vloed?]
Om Genesis 1–2 histories te lees, beteken dat ons dit behoort te lees teen die agtergrond van ’n groep mense (ballinge in ’n vreemde land) wat, na die trauma van verlies van geliefdes, weg van hulle kulturele en teologiese raamwerk (koning, stad en tempel) en hulle erfdeel (die land en hulle stukkie grond), poog om hulleself en hul gemeenskap weer op te bou. Hulle het onder die nuwe wêreldheersers (Persië) geleentheid gekry om terug te keer na hulle vaderland met die kans om hulle gemeenskap, maar nie die koningshuis nie, te herstel.
Navorsing het egter ook aangetoon dat hoewel die Judese gemeenskap waarskynlik in die tyd voor hulle ballingskap (in die sogenaamde pre-eksiliese, of voor-ballingskaptyd) nie oor ’n omvattende skeppingsliteratuur (waarin hulle beskouing/geloof in die ontstaan van alles tot uitdrukking kom) beskik het nie, was daar alreeds verwysings na die skepping in hulle liedere en literatuurskat teenwoordig. Dié is op hulle beurt veral deur Egiptiese en Ugaritiese perspektiewe beïnvloed. Ook dit moet in ’n historiese lees van die teks in berekening gebring word.
Om ’n teks met respek te lees, beteken dus dat ek dit teen die historiese agtergrond daarvan sal lees. Daarteenoor, om Genesis 1–2 alleen teen die agtergrond van die (ons) Westerse empiriese wetenskaplike tyd, veral soos dit sedert die Verligting (Aufklärung) ontwikkel het, te lees, is nie alleen ’n teken van disrespek vir die teks nie, maar dit is ook oneerlik. Dit is oneerlik omdat ʼn mens dan twee historiese tye wat letterlik meer as ’n millennium uitmekaar lê, hanteer asof dit dieselfde intellektuele raamwerk en wêreldbeeld deel.
Eweneens, mense van ons (wetenskaplike) tyd, wat hedendaagse kennis uit die wetenskap van byvoorbeeld die fisika, geologie en biologie gebruik om die Bybel en/of geloof as leuen en/of verkeerd en/of vals af te maak, openbaar gebrekkige historiese aanvoeling en (ironies genoeg) gebrekkige kennis van wetenskaplike metodiek en/of epistomologie, sou hulle hulself daaraan skuldig maak. Dieselfde geld vir gelowiges wat die Bybel teenoor die hedendaagse wetenskap opstel en/of verdedig. Beide kampe maak hulleself skuldig aan oneerlikheid deur die effek van historiese afstand te negeer.
Maar, terug by Genesis 1–2: So het dit dan gebeur dat hierdie na-ballingskap Judese gemeenskap hulle hede en verlede deur hierdie invloede vanuit ’n meer universele raamwerk, hulle geloof in die Here (JHWH = Jahwe), die God van hulle voorvaders, as die enigste God erken. Hy is die Here van sy volk, maar ook die God van die hele skepping. Daarom is Hy ook die universele Skepper van hemel en aarde. Hierdie beskouing was in lyn met die na-eksiliese profete, soos byvoorbeeld (Deutero)Jesaja, wat in hierdie terme oor die God van Israel getuig. Die beskrywing van die skepping in Genesis 1–3 soos ons dit vandag het, is die finale produk van hierdie proses as skeppingsgeloof van hierdie gemeenskappe.
[Kommentaar: Vroeër is gesê dat hoofstuk 3, wat die sondeval bespreek, ʼn eenheid met hoofstuk 2 vorm en daarom saam met Gensis 1-2 gelees moet word. Dit beteken dat die sondeval nooit ’n historiese gebeurtenis was nie en dit dus ’n streep daardeur trek. Kyk Sondeval.]
4.2 As literêre teks
Om ’n teks met respek te lees, vra dat ons dit na sy eie literêre aard sal lees. Hetsy dit nou ʼn gedig is, of geskiedenis, of ʼn lied, of watter soort literatuur ookal, elke literatuursoort bied vanuit die aard daarvan sy eie verstaansreëls aan die leser/hoorder. Eintlik gebeur dit sommer outomaties dat ʼn mens ʼn koerant anders (met ander reëls) lees as ʼn brief. Wanneer ons in ʼn gedig lees van die wind wat deur die blare van die bome fluister, weet ons onmiddellik dat ons dit nie fisies/letterlik moet verstaan asof die wind ʼn stem het en lippe wat kan praat nie. Dis ʼn poëtiese teks wat van beeldende taal en/of metafore gebruik maak. As ons egter die koerant oopmaak, verwag ons geredelik dat ons met feitelike beriggewing gekonfronteer sal word. Dan tel elke woord met ʼn letterlike betekenis.
Terug nou by Genesis 1–2: Dit beteken dat ons behoort te bepaal met watter literêre soort (genre) ons in Genesis 1–2 te doen het en dit dan as sodanig lees om in die proses by die betekenis(se) van die teks uit te kom. Maar, hoe weet ’n mens dit? Hoe kan mens agterkom met watter soort literatuur het ons hier te make?
Kom ons probeer die volgende metode: Gaan ʼn mens oorsigtelik met jou oë oor die teks van Genesis 1, dan sien jy dat die benaming wat vir die Skepper gebruik word deurgaans, sonder uitsondering, “God” (Elohim) is. Doen ’n mens dieselfde met Genesis 2, sien mens dat die benaming vir die Skepper deurgaans “Here God” (Jahwe Elohim) is. Dit alreeds behoort vir ons aan te dui dat ons dit moet oorweeg om hier van twee weergawes (uit twee verskillende gemeenskappe, uit twee verskillende tydperke) van die skeppingsgebeure te praat.
Kyk ʼn mens in nog meer detail na hierdie twee weergawes, is dit opvallend dat hier baie duidelike verskille is. In die eerste weergawe word alles in wonder-oomblikke trapsgewys gemaak deurdat die Skepper net elke keer as’t ware ʼn bevel daarvoor gee – en dit gebeur in ses dae.
In die geval van die tweede weergawe is die Skepper aktief besig om die verskillende komponente van die skepping te maak. Hy laat dit reën, omdat dit droog is (in die eerste weergawe is dit nat – baie waters) en dan maak hy ʼn man uit modder en blaas sy asem in die pop in (in die eerste weergawe word die mens as man en vrou aan die einde gemaak). Daarna plant die Skepper ’n tuin vir die mens. Dan sê Hy: dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Toe maak Hy die diere en bring hulle na die mens om daaraan name te gee en dit op te pas. God sien dan (steeds) dat dit nie goed dat die man alleen is nie. Dan maak hy ʼn vrou vir die man uit een van sy ribbes. En so kan ons die verskille uitlig. Die punt is egter: Die Here God (God) is die Skepper in dit alles.
Duidelik het ons dus hier (as genre) met verhale, of stories te doen en moet ʼn mens dit as sodanig lees. Dis dus nie ʼn eksakte wetenskaplike beskrywing van hoe alle dinge tot stand gekom het nie. Dit is wel ʼn tipe van verhalende geloofsbelydenis dat alles deur (die Here) God gemaak is, dat dit goed gemaak was, maar dat die kwaad en die ellende daarin gekom het deurdat die mens die verkeerde keuses gemaak het (Gen 3).
[Kommentaar: Is dit die redes wat aangevoer word dat Genesis 1 nie letterlik gelees moet word nie? Daar is baie kenners wat sê dat dit baie duidelik is dat Genesis bedoel wat daar staan. Kyk wat sê James Barr en Bybelkantlyne: Genesis 1 is nie poësie nie.]
Dit sou dus oneerbiedig wees teenoor die teks om daaraan allerhande wetenskaplike, eksakte vrae te vra soos: waar het die eerste mense se kinders hulle vroue vandaan gekry? Of, hoe kon die eerste drie dae, dae gewees het (met 24 uur elk) as die son en die maan eers die vierde dag geskep is?
[Kommentaar: Daar is goeie antwoorde vir hierdie vrae. Kyk Kain se vrou en Dae sonder ’n son?]
Wanneer hedendaagse natuurwetenskaplikes én/of gelowiges/Bybellesers, bekend met die navorsingsresultate van byvoorbeeld die fisika, geologie of biologie, hierdie getuienis van Israel soos opgeteken in byvoorbeeld Genesis 1–2, of teenoor mekaar stel, of met mekaar probeer versoen, openbaar beide ʼn gebrekkige literêre onderskeidingsvermoë. Beide kampe maak hulleself skuldig aan oneerlikheid deur die invloed van die genre van tekste ten opsigte van die interpretasie daarvan te negeer.
Om Genesis 1 te gebruik om dit wat in ’n biologiehandboek staan as leuens af te maak, is net so absurd as wat dit is om die Bybelse riglyne te volg om van swamme teen jou huis se muur ontslae te raak (Num 14). Om Genesis 2 nou met dieselfde interpretasiemodel as byvoorbeeld Stephen Hawking se Brief History of Time te lees, is so goed mens lees Marieta van der Vyver se novelle Die dinge van ’n kind aan die hand van dieselfde interpretasiemodel as Herman Giliomee se geskiedenisboek Die Afrikaner.
[Kommentaar: En as daar in die biologiehandboek staan dat daar deur die Miller-Urey eksperiment bewys is dat die eerste lewe spontaan kon ontwikkel, dan glo ons eerder die biologiehandboek?]
Om nou nog meer literêr-wetenskaplik te raak: Wat die genre van Genesis 1 betref kan ons dit die beste beskryf as gestruktureerde prosa met mitologiese en etiologiese elemente daarin. Dit is belangrik om te onthou dat “mite” ʼn literêre kategorie en nie gelyk is aan ’n leuen of ’n onwaarheid nie. Mites help mense nog altyd om te praat oor dit wat “voor die geskiedenis van die mens” lê. ’n Etiologie poog om ’n huidige verskynsel vanuit die verre verlede te verklaar.
Genesis 2 (en 3) is op sy beurt duidelik ’n verhalende teks. Eintlik is Genesis 2–3 meer as ’n skeppingsverhaal. Sommige verwys daarna as ʼn “Tuinverhaal”. Dié verhaal vertel nie alleen hoe alles tot stand gekom het nie, maar wil ook die teenwoordigheid van die kwaad en mense se gevoel van verwydering van God verklaar. Ook hierin vind ons mitologiese trekke en etiologie.
In albei gevalle vertel dit van ’n gebeurtenis ver, ver terug in die verlede, nog voor die bestaan van skryfkuns, wat oor en oor vertel is deur die gemeenskappe, van ʼn tyd waarvan daar geen ooggetuies was nie, maar slegs wonderbaarlike voorstellings om uiteindelik hulle geloof in die God van die skepping tot uitdrukking te bring.
[Kommentaar: ’n Mens wonder hoekom die tabletteorie nie eers oorweeg word nie. Dit is die idee dat Moses Genesis saamgestel het uit tablette wat deur Abraham en die ander aartsvaders oorgedra is.]
Verder, indien ons die onderskeie berigte of verhale oor die skepping goed wil verstaan, is dit belangrik dat ons ook sal kennis dra van ander skeppings- of oorsprongsverhale uit die destydse wêreld. In dié verband dink ons aan Egiptiese, Ugaritiese, Mesopotamiese en Persiese literatuur. Baie van die motiewe wat ons in die Bybelse verhale teëkom, word duidelik wanneer ons kennis neem van die inhoud van hierdie literatuur wat uit dieselfde tyd dateer.
[Kommentaar: Vir een of ander rede word sommer aanvaar dat die skrywers van Genesis by ander geleen het en nie anders om nie.]
4.3 As sakramentele teks
Die Bybel is as geheel ʼn geloofsboek. Daarom – en daarby ingeslote al die redes hierbo aangegee – lees ons dit as meer as slegs ’n historiese en literêre teks. Hou hierby rekening met die feit dat ons hier nou doelbewus besig is met ʼn wetenskaplike hantering van die teks en nie ʼn naïewe, op-die-klank-af-lees van die teks nie. Dan is die Bybel vir ons tog meer as die historiese konteks, meer as die literêre aard van die woorde en sinne.
[Kommentaar: Kyk Die Bybel is nie ’n geskiedenis of wetenskapshandboek nie.]
Net soos wat die water met die doop méér beteken wanneer die sakrament bedien word – en die brood en die wyn meer beteken as brood en wyn wanneer die nagmaal bedien word – so is die Bybelse teks ook meer as die somtotaal van sy historiese en literêre betekenisse (kyk 3.1 hierbo waar ons alreeds hiervan gepraat het).
[Kommentaar: Moet ’n mens dan aanvaar dat Die Laaste Avondmaal nie werklik gebeur het nie?]
Alreeds deur die Bybelse tekste in hulle onderskeie historiese beddings en na hulle eie literêre aard te lees, maar dan óók kragtens hulle historiese en literêre afstand ten opsigte van vandag se lesers, bevorder ʼn diep eerlike en respekvolle lees van die Bybel as ʼn versameling tekste van verskillende geloofsgemeenskappe oor millennia heen.
As Christen-gelowiges word/is dit daarom selfs nog meer, juis vanweë ons geloofsverhouding daarmee – en kan ons dit tipeer as ’n sakramentele ervaring. Wanneer ons as gelowiges die Bybel as historiese en literêre teks lees, spreek dit my daar aan waar ek bewus raak van die teenwoordigheid van God wat die Lewe self is. Hierin vind ons die sakramentele aard van die Bybelse teks, omdat dit vir ons meer sê as die woorde wat daar staan, omdat dit vir ons bring by ʼn belydenis van God agter die woorde oor God, selfs God agter die woord “god”. Tot die mate wat dié misterie van die sakramentele betekenis mens oorrompel, vervaag die spanning tussen “geloof en wetenskap”.
Wanneer ’n mens Genesis 1–2 sakramenteel lees dan beweeg dit mens tot die belydenis dat die oorsprong van lewe in JHWH, die God van Israel, lê; dat die skepping/lewe inherent goed is; dat die grens tussen Skepper en skepsel paradoksaal duidelik maar ook vaag is en dat die mens geskep is om die goeie te bly kies.
BESPREKING
(Vir Groepgesprek – teksstudie)
Voorbereiding:
1. Maak fotostate van die teks van Genesis 1–2.
2. Sorg dat elkeen ʼn pen of potlood het.
3. Beklemtoon weer die feit dat ons die teks literêr en histories gaan benader.
4. Onthou ook dat in die ontstaan van die teks, sowel as in die lees en bestudering daarvan, die Gees van God in elke betrokkene “gewerk” het – of aanwesig was/is. Ons benader dus die teks vanuit ʼn geloofshoek, dat dit die Woord van God is.
Die gesprek:
1. Laat die deelnemers hulle oë oor die teks van Genesis 1 en 2 gaan en omkring elke keer die woord vir “die Skepper”.
2. Wat is nou opvallend aan hierdie oefening? (die konsekwente verskil in die naam van “die Skepper”).
3. Bespreek onder mekaar die implikasies hiervan: As daar van Genesis 1:1–2:4 konsekwent dieselfde benaming vir die Skepper is, terwyl die res van hoofstuk twee konsekwent weer anders is, wat sê dit vir ons?
4. Gestel ons sou aanneem (aanvaar) dat hier twee verhale is, laat die groep soveel verskille as moontlik aandui en bespreek die betekenis hiervan onder mekaar (byvoorbeeld die wyse waarop die mens/e gemaak is).
5. Wat is die implikasies vir ons dat die son en maan (en ander hemelliggame) eers op die vierde “dag” gemaak is (hoe was die eerste drie dae wel dae sonder hierdie hemelligame)?
6. Histories en literêr gesproke, wat is die betekenis hiervan?
7. Bespreek onder mekaar: Wat sou die sakramentele (spirituele/teologiese) betekenis van Gen 1–3 vir ons vandag wees?
5 Nuwe Testament – Markus 5:1–21 as voorbeeld (bose geeste in die varke)
5.1 As historiese teks
Die Markus-evangelie word tweede van die vier evangelies aan die begin van die Nuwe Testament geplaas. Evangelie beteken “goeie nuus” of “blye tyding” en is so genoem omdat die verhaal van Jesus vir Christene op goeie nuus gedui het.
Johannes Markus is die waarskynlike skrywer van die Markusgeskrif. Die evangelie is heel moontlik tussen die jare 65 en 69 nC geskryf. Hierdie datering maak dit die enigste evangelie van die vier in die Bybel wat geskryf is voordat die tempel in Jerusalem deur die Romeine vernietig is.
[Kommentaar: Kyk ook Wanneer is die Nuwe Testament geskryf?]
Hoewel die evangelie volgens Markus na alle waarskynlikheid in Rome sy ontstaan gehad het, is die geografiese plasing van die inhoud daarvan in Palestina – dus ʼn terugblik na die geskiedenis van Jesus van Nasaret wie se lewe op aarde bietjie meer as twee dekades tevore met sy kruisdood tot ʼn einde gekom het.
Ons herinner onsself weer daaraan dat ons in hierdie deel van ons hantering van die verhouding tussen ons Christelike geloof en die moderne wetenskap, die Bybelse teks doelbewus met behulp van die wetenskaplike dissiplines wat ons daarmee help, lees. Soos die eerste paragrawe hierbo vir ons vanuit die historiografie en ontleding van die grondteks die teks as historiese teks dateer, speel die ander dissiplines van die wetenskap ook hulle bepaalde rol. Nie alleen help ʼn sensitiwiteit vir die sosio-kulturele omstandighede waarin die teks ontstaan het nie, maar die mediese wetenskap en psigiatrie het in hierdie spesifieke teks ʼn belangrike rol om te speel.
[Kommentaar: Wanneer die resultate van die “wetenskap” onkrities aanvaar word, dan gaan duidelike gevaarligte aan wanneer gesê word dat ons die Bybel vanuit ’n wetenskaplike hoek lees.]
Die inhoud van hierdie gedeelte van die teks gaan oor ʼn man wat tussen grafte gebly het en wat beskou is as iemand met (vir ons vanuit ons kenniswêreld) baie duidelike afwykende gedragspatrone – iemand wat as gevaarlik beskou was en wie se onbeteuelde krag bekend was in die gemeenskap.
Later sal ons die vraag vra of hierdie klem op ʼn wetenskaplike diagnose van hierdie grafbewoner (die Besetene van Gadara soos hy in Bybelse taal bekend geword het) regtig die regte fokus is in die soeke na die eintlike bedoeling van die teks, destyds, maar ook vir ons vandag. Kom ons dink egter ter wille van die argument verder hieroor na:
Indien ʼn mens vanuit die bevindinge van die betrokke dissiplines van die moderne wetenskap na hierdie beskrywing van ʼn persoon kyk, met analise van sy gedragspatrone, sou ʼn diagnose daarvan waarskynlik dui op een of ander psigiatriese toestand. Iemand met ʼn waan, of komplekse psigotiese toestand. Aan die hand van so ʼn diagnose sou mens dan bepaalde behandeling voorskryf wat voorgeskrewe medikasie en/of die opname in ʼn psigiatriese hospitaal vir waarneming en toepaslike behandeling (onder meer chemiese toediening, medikasie en/of terapie) insluit.
In die tyd van Markus was hierdie soort kennis en behandeling egter nog nie beskikbaar nie. Eers met die ontwikkeling van die moderne mediese wetenskap, psigiatrie en verwante dissiplines kan hierdie toestande deur observasie waargeneem en geïdentifiseer word en so ʼn diagnose en behandeling sou dan op ʼn bepaalde prognose (verwagte uitkoms) kan dui.
In die voorwetenskaplike konteks van die Bybelse geskrifte is vreemde, ongewone en selfs onhanteerbare gedragsverskynsels op ander maniere verklaar. Siekte en vreemde gedragspatrone is in die NuweTestamentiese tyd toegedig aan ʼn stryd tussen of met geeste in so ʼn persoon. Daar was goeie geeste (gewoonlik in verband gebring met verskillende gode, selfs engele of God) en slegte/bose geeste (gewoonlik in verband gebring met die duiwel/Satan). Oor die hele historiese spanwydte van die ontstaansgeskiedenis van die Bybelse geskrifte (van ongeveer 1,500 jaar) is daar nie altyd op dieselfde manier hieroor gedink nie.
[Kommentaar: ’n Mens lei dus af dat Jesus nie regtig duiwels uitgedryf het nie. Mense het bloot so gedink omdat hulle voorwetenskaplike mense was.]
In die grootste gedeelte van die Ou Testament, byvoorbeeld, lees ons nooit van bose geeste, bose gode of die duiwel/Satan nie. Die stryd was eerder om Israel se ontrou aan die Here, deur agter “ander gode aan te loop”. Hierdie gode was in sommige gevalle pure illusie, terwyl mense in ander gevalle geglo het dat hulle werklik was. Dit is alom bekend dat die Nuwe Testament ʼn ander siening oor die geesteswêreld het, sterk beïnvloed vanuit die kontak wat die ballinge gehad het gedurende die ballingskaptydperk in Babilonië/Persië. Die punt is egter dat hierdie geestelike stryd (om beheer en besit van die mens) sigself voltrek het binne-in ʼn individu, of groep van individue.
[Kommentaar: Soos in die Algemene Sinode van 2011 en 2013 word die gedagte dat daar nie ’n duiwel is nie, weer gepromoveer.]
Maar eintlik is al hierdie opmerkings en verduidelikings vanuit die moderne wetenskap in ʼn sekere sin minder relevant vir ons verstaan van die bedoeling van hierdie teks, omdat dit (moderne wetenskaplike) vrae wil vra aan ’n teks wat hierdie soort vrae en hierdie benadering nie ondersteun nie. Waaroor gaan dit dan hier?
Die hele eerste helfte van Markus speel af in Galilea in die noorde van Palestina. Die See van Galilea is sentraal. Drie keer gaan Jesus en sy dissipels per boot oor na die ander kant van die See, en een keer te voet. Die “ander kant” was heidense gebied – die mense se kultuur en politiek was anders as die van die Jode. Die Jode het “die ander kant” sover as moontlik vermy, maar Jesus steek hier vreesloos grense van vermyding en verbod oor. Hy betree die land van die Gadaréners (aan die ander kant van die See), wat ook die oostelike grens van die Romeinse ryk was. Baie veterane van die weermag het hulself daar gevestig – hulle het die verowerde land ontvang as betaling vir hul diensplig.
Jesus word met sy aankoms onmiddellik gekonfronteer deur ʼn man met ʼn onrein gees (Iets wat uit sy plek is, is in die destydse wêreld as “onrein/vuil” geklassifiseer. Die teks beduie dat die man ’n “vuil/onrein gees/asem/wind” in hom gehad het. In die eerste eeuse Mediterreense wêreld waarvan die Judeërs en Galdeërs ook deel was, is geglo dat mense wat nie ’n onmiddellike of behoorlike begrafnis ontvang het nie, se gees met hulle dood nie tot rus kom nie. Dink byvoorbeeld aan ’n soldaat wat op ’n slagveld sterf, of iemand wat verdrink. ’n Onrein gees” kon ook met ’n soen op die mond oorgedra word. Alhoewel die Griekse teks praat van “onrein gees”, is dit belangrik om deurgaans die historiese konteks te respekteer. “Onrein” was in die Nuwe Testamentiese wêreldbeeld nie net iets wat vuil was nie. Dit was veel meer as fisiese “vuilheid”. Dit was eerder gelyk aan “boos”). Vir Joodse lesers, soos ook Jesus se volgelinge wat saam met hom gereis het, was hierdie konteks in vele opsigte verskriklik onrein: ’n (heidense) begraafplaas sowel as varke was buite perke volgens die reinheidskode van die Jode (vergelyk Jesaja 65:4). Jesus tree nie net vreesloos in die storm op nie; hy is ook hier vreesloos in die teenwoordigheid van onreinheid.
Markus beskryf die besetenheid as ʼn toestand wat van die man ʼn gevangene maak, ʼn toestand van geïnternaliseerde onderdrukking: hy leef tussen die dooies, hy roep uit en hy doen mee aan selfdestruktiewe gedrag. Die besetene wat deur niemand meer gebind kan word nie, kom nou te staan voor die “sterker een” (sien 1:7) wat verklaar het dat hy die “sterk man sal bind” (3:27). Net soos met die uitdrywing van die demoon in die sinagoge in Kapernaum (Markus 1), protesteer die onrein gees hier met verontwaardiging en vrees: “Wat doen jy hier!” (5:7). Tog is dit opvallend dat Jesus nie met sy Joodse titel aangespreek word nie (“Heilige Een van God”), maar met die Hellenistiese titel “Seun van die allerhoogste God”.
Jesus verhang die bordjies en vra die onrein gees na sý naam, en die antwoord wat hy kry is merkwaardig: “My naam is Legioen, want ons is baie” (“Legioen” beteken letterlik “duisende”). In die wêreld van Markus het hierdie Latynse term sonder uitsondering verwys na ʼn afdeling van Romeinse soldate. Vier van hierdie legioene was in Sirië gestasioneer om die oostelike grens, Palestina inkluis, te beheer. En nou, in die teenwoordigheid van Jesus, smeek die intimiderende militêre mag (Legio/Legioen) – in werklikheid so magtig dat niemand hulle kan tem nie – vir Jesus om hulle asseblief tog nie uit die land uit te verban nie (5:10). Jesus neem Legioen se versoek in ag, verban hom/hulle nie uit die land uit nie, (maar wel uit die man!) deur hulle in die trop varke in te stuur. Wat egter nou gebeur is eintlik skreeusnaaks – die varke storm soos ʼn troep waansinnige soldate gereed vir die oorlog by die krans af en in die see in, hulle eie dood tegemoet.
Uit die aard van die saak was die dorp se inwoners nie opgewonde oor die verlies aan hulle varke nie. Toe hulle ook nog die besetene geklee en rustig en kalm aan Jesus se voete sien sit, was hulle baie verward en onseker. Hulle het Jesus toe gevra om hulle gebied te verlaat omrede hulle bang was hy gaan hulle nog skade berokken.
Jesus en sy dissipels klim in die skuit om weg te vaar, maar die man wil saam. Jesus stuur hom egter terug na sy mense toe. Waar Jesus aan die Israelitiese kant en in Judea mense opdrag gee om stil te bly oor wie hy is, beveel hy hierdie man om in die hele gebied van Dekapolis te gaan vertel wat met hom gebeur het.
5.2 As literêre teks
Dit is opvallend dat Markus, wat gewoonlik kort en op die punt af skryf, hier uitermate omslagtig is met sy vertelling. Om die een of ander rede kies hy om baie deeglik te wees wanneer hy hierdie gebeurtenis boekstaaf. ʼn Mens kan die styl van die teks tipeer as ’n verslaggewerstyl. Die verhaal is vol aksie met vertellings in die teenwoordige tyd. Dit betrek die hoorders in die gebeure om hulle te lei tot identifikasie met verskillende persoonlikhede in die verhaal. Sommige dalk met Jesus se dissipels, of ander met die man met die onrein gees, of met die dorpenaars wat veroordelend toekyk … Uiteindelik gaan dit egter om die versterking van hulle vertroue in Jesus as die vreeslose een, die een wat oor die mag beskik om selfs storms en onrein (bose) geeste te tem en mense te genees.
Ons sien dit juis in die vertelling wat hierdie gedeelte voorafgaan. Dit vertel van die storm op die see wat lewensbedreigend was vir Jesus en diegene saam met hom in die skuit. Die kontras tussen Jesus wat slaap te midde van die storm (hulle moes hom wakker maak) is opvallend. Eers bestraf hy die wind, en dan sê hy vir die see om te bedaar. Op die stilte wat volg lees ons: “Hulle is met groot ontsag vervul en het vir mekaar gesê: “Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?” (Markus 4:35–41). Beide die verhale (die storm op die see en die besetene aan die ander kant van die see) wil die lesers en/of hoorders tot geloof beweeg.
Dit is dus duidelik dat hierdie gebeurtenis nie sommer maar net ʼn vertelling is om van kennis te neem nie. Dit is ʼn vertelling wat verandering in die lesers/hoorders teweeg wil bring. Dit is ʼn teks wat wil konfronteer en oortuig.
Die teks is beskrywend van aard. Met Markus se uitvoerige beskrywing van die voorkoms en gedrag van die besetene (sien historiese teks), wil hy aantoon in watter mate die man ʼn uitgeworpene was. Destyds is iemand as ’n persoon met ’n onrein gees gebrandmerk indien hy enige van die volgende gedragskenmerke geopenbaar het: as ’n mens in ’n graf geslaap het; as ’n mens voortdurend jou klere geskeur het; as ’n mens snags rondgedwaal het; en as ’n mens goed wat jy ontvang, gebreek het. Hierdie man vertoon al hierdie eienskappe.
Die teks is vol van verrassende elemente wat die lesers/hoorders laat wonder. Die eerste is dat Jesus die konvensionele grense tussen Joods en nie-Joods (heidens), asook tussen rein en onrein doelbewus oorsteek. Die volgende verrassingselement is dat die man met die onrein gees heeltemal buite sy aard reageer wanneer Jesus daar aankom. Hy val Jesus nie aan nie, maar val voor hom neer. In plaas daarvan om Jesus uit te daag, onderwerp hy hom aan Jesus en roep uit “Wat het ek met jou te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God?”
Destyds se mense was oortuig dat die wêreld hiërargies gestruktureer is. Heel bo was (G)god, dan die mindere gode, dan allerlei geeste, daarna heilige manne en heel onder die gewone mense. Binne hierdie hiërargiese struktuur weet die “onrein gees” wat in die man is, dat hy in Jesus met sy meerdere te doen het – hy besef dat hy in Jesus met die Allerhoogste self te doen het (Soos vantevore erken die onrein gees Jesus se gesag nog voordat die mense weet wie (Wie) en wat hulle in Jesus het).
Ons kry ook elemente van personifikasie in die teks. Die onrein gees kry ʼn naam en Jesus gaan met hom/hulle in gesprek asof met ʼn persoon. Die gees identifiseer homself dan as Legioen, “want ons is baie”. Die feit dat hy Jesus dadelik antwoord, bevestig dat Jesus meer is as net een van die heilige manne. Destyds was geeste as verhewe bo heilige manne beskou. Heilige manne moes eers allerlei “toertjies” uitvoer om geeste se naam te bekom. Jesus is egter verhewe bo hierdie gees. Die feit dat Jesus net vra en die onrein gees antwoord dadelik, bevestig Jesus se posisie bo die geeste.
Wanneer die gees homself by name “Legioen” noem, sou hierdie naam vir die lesers/hoorders van destyds onmiddellik gelaai wees met betekenis. Hy sê soveel meer as net sy naam. Hy roep die hele militêre konteks van daardie tyd en plek op. Die gemeente in Rome aan wie Markus skryf, sou dadelik in Grieks die verband met die Romeinse soldate in Rome gehoor het. Die Romeinse legioene was voorwaar baie en teen hulle het onder meer die Christene geen verweer gehad nie. Nadat keiser Nero ’n deel van die stad Rome aan die brand gesteek het, het hy die vinger na die navolgers van Jesus gewys. Hulle is gevolglik dikwels gejaag, gevang en moes deel uitmaak van die lewensgevaarlike barbaarse spele en vertonings in die Colosseum. Hier het honderde van hulle gesterf. Onder hierdie skrikwekkende omstandighede hoor gelowiges hoe Legioen in die teenwoordigheid van Jesus reageer.
Ons tel dus hier ʼn baie belangrike subversiewe lyn in die storie op – as’t ware die storie agter die storie, die onderliggende boodskap aan die vertelling. En die leidraad daartoe is in die eerste plek opgesluit in die naam van die onrein gees, “Legioen”. G’n wonder dat die verhaal van hier af verder deurspek is van militêre beelde en taal nie.
Die onrein gees (van nou af kan ons maar met vrymoedigheid praat van “Legioen” – ons ken mos nou die naam van die gees) vra Jesus om hom asseblief nie uit die streek weg te jaag nie, maar eerder in die varke in te stuur. Onrein geeste wou nie rondswerf nie. Hulle wil in mense of diere wees, solank hulle net iewers ’n tuiste kan hê. Anders as die Jode, wat nie met varke geboer het nie (omdat hulle as onrein diere beskou was) het die “mense van die ander kant” waar Jesus en sy dissipels hulle nou bevind, wel met varke geboer. Legioen hoort tuis in onrein diere en daarom laat Jesus toe dat hy/hulle in die varke invaar.
Die sarkasme en humor in die vertelling is aansteeklik: Legioen pleit om in ʼn “trop” varke ingestuur te word – die Griekse woord vir “trop” verwys gewoonlik na ʼn groep soldate. Nou storm die varke (met die legioen binne-in hulle) by die heuwel af soos troepe wat in ʼn geveg in storm (5:13). Die humoristiese is dat Legioen dieselfde oorkom as Farao se weermag – hulle word deur die see ingesluk. In ʼn sekere sin sou mens dalk selfs kon sê deur hul versoek aan Jesus om hulle in die varke in te stuur, ʼn vorm van selfmoord is (al het hulle dit dalk nie eens geweet nie – die ironie word net nog groter)! Die gebeurtenis beeld dus die stryd uit tussen God se heerskappy en die Romeinse ryk – baie duidelik ʼn boodskap aan die Christene in die aangesig van vervolging deur Nero en sy Legioen soldate van die Romeinse ryk.
[Kommentaar: Ek is baie oortuig dat toe Markus verslag gedoen het oor hierdie gebeurtenis, hy nie bedoel het dat dit snaaks moes wees nie. Dit is baie duidelik dat die skrywer van hierdie dokument nie dink dat dit werklik gebeur het nie.]
Dat die dorpelinge ten aanskoue of aanhore van wat gebeur het, vir Jesus vra om hulle omgewing te verlaat, dui op hulle onbegrip oor die gebeurtenis wat homself afgespeel het. Alhoewel hulle nie verstaan het nie, is hulle met groot ontsag vervul toe hulle sien dat die man gesond is. Dié reaksie toon dat hulle aanvoel dat hulle hier met Iemand met bomenslike (en, binne hulle verstaansraamwerk van die geestewêreld, selfs bo-goddelike) mag te doen het.
Soos die vorige verhaal (4:35–41) eindig ook hierdie verhaal met mense se verwondering oor Jesus. Die verhaal lei as’t ware sy lesers/hoorders tot verwondering. Soos in baie ander vertellings in Markus, word die wonder gebruik om te beklemtoon dat Jesus die Messias, die Seun van God is wat heers oor alle dinge. Alle magte is aan Hom onderwerp, die natuur en ook die wêreld van die geeste. Hy is nie alleen vreesloos in die storm op die see nie, maar stap ook vreesloos die land van die “ander mense” binne (waar hulle met varke boer) en openbaar sy mag oor die onreine/bose gees/vuil asem, deur hulle binne die varke te vernietig.
Van die begin af word die lesers dus begelei om te sien wie Jesus is, al verstaan die dissipels en ander mense dit nie. Die vraag is: Sal hulle inderdaad sien? Kan hulle die keuse maak waarvoor die teks hulle stel?
Want dit is wat die teks ten diepste doen – Dit is nie bloot ʼn verslaggewing ter wille van verslaglewering nie. Hierdie verslag, en die manier waarop dit gelewer word, noop die lesers/hoorders om elkeen self ʼn daadwerklike keuse te maak met betrekking tot hulle verstaan van Jesus, en dan ook sekondêr hieraan – hulle verstaan (of gebrek daaraan) van die relatiewe mag van die bose wat in ander sisteme opgesluit lê. Die teks het ʼn baie sterk konfronterende styl.
5.3 As sakramentele teks
Wat is die betekenis van hierdie teks vir ons wat in so ʼn totaal ander tyd en wêreld lewe as in die tyd van Jesus (en Markus)? Wat leer ons hieruit wat meer as die woorde van die beskrywing van hierdie ervaring is?
Ons weet dat hierdie teks sy ontstaan gehad het in die tyd toe die Romeinse ryk allesoorheersend was. Indien ons aanvaar dat die teks sy oorsprong in Rome gehad het, dan kan ons ook aanvaar dat die vroeë Christene, die eerste lesers van hierdie geskrif, ook bekend was met die vele gode van die Romeine en al die mitiese verhale wat met hierdie godsdiens gepaard gegaan het. Ook die Griekse mitologiese wêreldbeeld, waarin daar vele gode soos Zeus, Thor (god van die donder), Neptunis (god van die see/waters) met hulle onderskeie “lewensverhale” was – en wat die Romeine in hulle geloof in die veelgodedom geïntegreer het – was aan hulle bekend. Die skouspelagtige tempels en boukonstruksies van die Romeins-Griekse wêreld was deurspek met simboliek van die veel-godedom van die Hellenistiese tydperk. Die Grieke en Romeine het geglo dat hierdie gode die wel en weë van die mense beïnvloed het.
Teenoor hierdie sterk gode was verhale soos hierdie uit die geskiedenis van die Joods-Christelike wêreld belangrik om mense se geloof in Jesus (en die God van Jesus, met wie Hy volgens sy eie getuienis een was) te versterk.
[Kommentaar: Dus, Jesus het nie werklik geeste in ’n trop varke ingejaag nie. Die doel van hierdie verhaal was bloot om geloof in Jesus te versterk. Dit was die manier waarop voorwetenskaplike skrywers dit gedoen het.]
Die dieper betekenis van hierdie teks, die verhaal van die bose geeste (onrein geeste) wat in die varke ingevaar het, was ʼn duidelike demonstrasie van die mag wat Jesus gehad het (so het hulle geglo) om nie alleen die respek van hierdie (ander) geeste af te dwing nie, maar om hulle dan in die mees veragtelike onrein diere van almal, die varke te laat ingaan – en hulle dan nog boonop die see-in te laat storm, hulle dood tegemoet. Die onmiddellike skriftelike konteks van hierdie vertelling is die uitdaging tot geloof in Jesus wat as Seun van God die mag oor alle magte in die natuur en in mense het. Ook dat Jesus vreesloos heers oor die magte (storm en onreine gees) en hierdeur grense oorsteek na selfs die “mense van die ander kant”.
Hierdie vertelling herinner sterk aan die woorde van Paulus aan die gemeente in Rome: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here” (Romeine 8:38–39).
Dit sou ʼn baie belangrike en bepalende boodskap wees vir die Christene wat alreeds op die mees brutale manier deur Nero gemartel en gedood is, naamlik dat Christus inderdaad kurios (Here) is en nie keiser Nero nie – dat niks wat ons in ons lewe kan ervaar ons ooit die liefde van God kan laat kwytraak nie. Hierin moet die volgelinge van Jesus glo.
Vir ons wat leef in ʼn tyd waarin ons wêreldbeeld in besonder ook deur die heersende (Westerse) wetenskaplike dissiplines geïnformeer word, geld hierdie boodskap van bemoediging en troos steeds. Ook ons weet dat ons geloof in God, die Vader van ons Here Jesus Christus gedra word deur die oortuiging dat niks met ons kan gebeur waarin ons aan die liefde van God vir ons hoef te twyfel nie. En al dink almal binne die Christelike geloofstradisie vandag nie presies dieselfde oor die bose (geeste) nie, is ons dit met mekaar eens dat ons onsself met oorgawe beywer vir die oorwinning van die lig oor die duisternis. Dit gebeur ook in ons elkeen se eie persoonlike lewe, omrede ons glo dat die Bron van lig ons telkens onder nuwe omstandighede met ons is en deur die Heilige Gees verlig.
BESPREKING
(Vir Groepgesprek – teksstudie)
Voorbereiding:
1. Maak fotostate van die teks van Markus 5:1–20 uit die nuwe Direkte vertaling.
2. Sorg dat elkeen ʼn pen of potlood het.
3. Beklemtoon weer die feit dat ons die teks literêr en histories gaan benader.
4. Onthou ook dat in die ontstaan van die teks, sowel as in die lees en bestudering daarvan, die Gees van God in elke betrokkene “gewerk” het – of aanwesig was/is. Ons benader dus die teks vanuit ʼn geloofshoek, dat dit die Woord van God is.
Die gesprek:
1. Laat die deelnemers hulle oë oor die teks van Markus 5 gaan en omkring elke keer die woord “onrein gees(te)” en “legioen”.
2. Teken die gedrag wat die “besetene” getoon het aan, maw maak ’n lysie van die dinge wat oor sy gedrag gesê word.
3. Bespreek onder mekaar hoe ons vandag oor sulke tipe gedrag dink/oordeel. Sou ons dit ook vandag ’n naam/name gee/benoem en indien wel, hoe sou ons dit benoem of watter naam/name sal ons dit gee?
4. Bespreek nou die volgende paragraaf in die teks: “Maar eintlik is al hierdie opmerkings en verduidelikings vanuit die moderne wetenskap in ʼn sekere sin minder relevant vir ons verstaan van die bedoeling van hierdie teks, omdat dit (moderne wetenskaplike) vrae wil vra aan ’n teks wat hierdie soort vrae en hierdie benadering nie ondersteun nie. Waaroor gaan dit dan hier? “
5. Deel met mekaar wat die boodskap in die lig van die historiese en literêre konteks van die gedeelte moontlik vir die mense van destyds kon beteken het – die breër konteks van Jesus wat groter is as “die magte” van die natuur?
7. Bespreek onder mekaar: Wat sou die sakramentele (spirituele/teologiese) betekenis van Markus 5:1–20 vir ons vandag wees, met veral verwysing na die oorsteek van grense?
6 Belydenisskrifte – Artikel 12 van die NGB as voorbeeld
Ons het nou ʼn bepaalde hermeneutiese benadering ten opsigte van die Bybelse teks hanteer. Om nou hierdie leesbenadering ook op die Belydenisskrifte toe te pas, is gekies om Artikel 12 op dieselfde manier aan te bied (kyk ook belangrike opmerking aan einde van hier dokument met verwysing na BYLAAG 4).
Artikel 12, as deel van die Nederlandse Geloofsbelydenis, het in ʼn baie besondere historiese konteks ontstaan – ’n datering wat veral belangrik is vir die onderwerp van Ons Christelike Geloof en die Wetenskap. Dit het ontstaan gedurende die 16de eeu in Wes-Europa (by name Nederland, Frankryk en Engeland). Hierdie geskrif het tot gewelddadige vervolging gelei, as deel van die protes (Protestante) teen die Rooms-Katolieke Kerk. As sodanig verteenwoordig dit deel van die skriftelike neerslag van die Hervormings-gesinde Christene. In sy huidige formaat (as 36 Artikels) is dit uiteindelik by die eerste Gereformeerde Sinode van 1618–1619 in Dordrecht, Nederland saam met die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls as die Drie Formuliere van Eenheid aanvaar.
6.1 As historiese teks
Die geskiedenis van die Nederlandse Geloofsbelydenis is ʼn aangrypende verhaal. Wat hier volg is ʼn kort oorsigtelike weergawe daarvan om ʼn idee te gee van ʼn verhaal van ontdekking en stryd, hoop en vervolging, geseënde bediening en erge marteling – ʼn verhaal van geloof tot die dood toe.
Guido de Bres, die oorspronklike opsteller van die belydenisskrif, is in Bergen in die suide van Nederland in 1522 gebore. Sy ma was ’n toegewyde Rooms-Katolieke Christen. Op 18 kom hy in besit van ʼn Bybel, wat met die lees daarvan, hom bewus maak van die dwalinge in die Rooms-Katolieke Kerk. Hy kom ook in aanraking met die denke van Luther en Calvyn en word diep beïndruk deur die Bybelse leer van volle evangelie van vrye genade.
Jaartalle (datums) is hier van belang. In 1517 (voor De Bres se geboorte al) slaan Luther sy 95 Stellinge teen die leer van die Rooms-Katolieke Kerk op die deure van die kerkgebou in Wittenberg vas. Een van die eerste dinge wat Luther gedoen het, was om die Bybel in Duits te vertaal. Die Bybel was dus alreeds meer geredelik tot beskikking van gewone mense en die protesaksie teen die kerk was in volle gang. Dit is belangrik om te onthou dat diegene wat in daardie tyd teen die Rooms-Katolieke Kerk in protes gekom het (Protestante genoem), nie wou wegbreek van die Kerk nie, maar gehoop het op ʼn hervorming van die RKK. In sy 25ste jaar skaar De Bres hy hom dan openlik by die Hervorming. Dit sou hom die res van sy lewe duur te staan kom.
Kort daarna moes hy vir sy lewe vlug na Engeland toe die vervolging teen die Hervorminggesindes ook in sy tuisdorp, Bergen, losbars. Dit sou die begin wees van ʼn lewe van vlug en wegkruip, maar ook van ʼn geseënde bediening van prediking, met skryf tussendeur. Uiteindelik het hy ook onder Calvyn studeer. In 1552 keer hy terug na sy tuisdorp, trou en begin met ʼn gesin, maar sou voortdurend gedwing word om voor die inkwisisie te vlug. Die meeste van sy geskrifte word in die proses vernietig en uiteindelik bevind hy homself in die tronk waar hy ʼn gewelddadige marteldood in 1567 sterf. Tog is van die mees aangrypende evangeliese troosboodskappe deur hom uit die tronk aan sy vrou en medegelowiges – ook mede gevangenes – geskryf om hulle te bemoedig en as Christengelowiges tot ʼn lewe van blydskap aan te spoor.
Alreeds in 1561 word sy belydenisskrif, wat later (hoewel gewysig) bekend sou staan as die Nederlandse Geloofsbelydenis, deur die gemeente van Antwerpen aanvaar. Dit was in dieselfde jaar, in die nag van 1– 2 November, dat hierdie belydenis in ʼn pakkie oor die muur van die kasteel in Doornik in België, gegooi is, as ʼn daad van hoop dat die vervolging teen die Hervorminggesindes gestaak sou word. Daar was ʼn brief by met ʼn aangrypende pleidooi om hierdie nuwe godsdienstige beweging goedgesind te wees. By die Sinode van Emden in 1571 word hierdie belydenis, na verskeie wysigings daaraan gedoen is, aanvaar – juis ook as ’n uitdrukking van eenheid tussen die Nederlandse en Franse (Hervormde) Kerke.
As sodanig aanvaar die eerste Gereformeerde Sinode in Dordrecht (1618–1619) hierdie belydenis as die Nederlandse Geloofsbelydenis, saam met die Heidelbergse Kategismus en die Dortse Leerreëls, as hulle belydenisgrondslag.
Die Nederlandse geloofsbelydenis is dus gebore uit ʼn geskiedenis van stryd en vervolging – maar het paradoksaal uiteindelik gedien as ʼn instrument van samebinding, vrede, eenheid en versoening tussen die Hervormers van Nederlandse en Franse afkoms.
As historiese teks dateer dit uit die tyd van die ontwaking van die moderne wetenskap. Kopernicus was ook ʼn Rooms-Katolieke priester in Pole. Galileo was ʼn goeie vriend van die destydse pous, maar hulle bevindinge is aanvanklik doeltreffend deur die kerk se strukture onderdruk. Eers in 1632 is Galileo se bevindinge in Nederland gepubliseer.
Maar, ten spyte van die feit dat die teks van die NGB uit dieselfde tydperk as die ontwakende moderne Westerse wetenskap dateer, is dit betekenisvol dat daar geen beïnvloeding was van die opkomende moderne Westerse wetenskap op die belydenisskrifte uit die 16de en 17de eeue van die Hervorming nie. As sodanig is die Nederlandse Geloofsbelydenis (Artikel 12) ʼn voorwetenskaplike teks wat vir ons onderwerp van die verhouding tussen ons Christelike geloof en die wetenskap bepalend is.
‘n Meer duideliker “bewys” dat die opkomende moderne Westerse wetenskap nie die teks van die NGB geïnformeer het nie, is Artikel 4 waar oor die boeke van die Bybel gepraat word en byvoorbeeld die eerste vyf boeke (geskrifte) aan Moses toegedig word. Ook dat Dawid die Psalms geskryf het en Paulus die Hebreërbrief. Selfs in die eerste Afrikaanse vertaling van 1953 word dit nog so aangedui. Navorsing deur literêre dissiplines op die Bybelse teks het intussen aangetoon dat hierdie beskouing oor die skrywers van die Bybelboeke nie akkuraat is nie.
[Kommentaar: Dus, omdat die NGB geskryf is voor die tyd van Kopernicus en Galileo is dit ’n voorwetenskaplike geskrif. Dit is ook opvallend hoe maklik die skrywer(s) van hierdie dokument die moderne navorsing aanvaar bo mense wat baie nader aan die tyd geleef het.]
Daar word egter nie (meer in ons tyd) oorweging daaraan gegee om hierdie onjuisthede reg te maak nie, omdat die behoud daarvan juis dui op eerbied en respek vir die teks binne sy eie historiese ontstaansgeskiedenis. Dan besef ʼn mens dat dit nie “foute” is nie, nee. Die skrywer(s) van die teks het hulle kennis en konsepte ontleen van die bestaande kennis en beskouinge van daardie betrokke tydvak. Hulle het/kon nog nie met die kennis van die moderne wetenskap skryf nie – omdat dit nog nie bestaan het nie. Hierdie is ʼn baie belangrike insig om aan vas te hou in die vertolking van geskrifte uit die voorwetenskaplike tyd in ons tyd, vir ons tyd.
[Kommentaar: Liberales gebruik hierdie einste benadering om al die kernwaarhede van die Christelike geloof te bevraagteken.]
Teen hierdie agtergrond het die NG Kerk byvoorbeeld oor Artikel 36, wat die ideale verhouding tussen die kerk en die staat uitspel, bepaalde besluite in 2002 geneem om dit te vertolk in ons tyd. ʼn Letterlike verstaan van hierdie artikel, waarin die staat opgeroep word om teen die anti-Christelike magte te stry en die wederdopers teen te staan, kon waarskynlik van toepassing gewees het op die 16de eeuse Europa tydens die geweld wat die Protestantse beweging tot gevolg gehad het. Terwyl in ons Suid-Afrikaanse situasie, waar ons met ʼn moderne, sekulêre, konstitusionele demokrasie te doen het, die kerk in ʼn ander verhouding tot die staat staan – en inderdaad ook teenoor ander groepe wat van die kerk verskil – in ʼn multi-kulturele, multi-godsdienstige land.
[Kommentaar: ’n Mens moet toegee dat dit vandag vreemd is om te hoor dat die staat se opdrag is “om sodoende alle afgodery en valse godsdiens teen te gaan en uit te roei, die ryk van die antichris te vernietig en die koninkryk van Jesus Christus te bevorder”, maar daar is iets te sê teen sekulêre demokrasieë – kyk Om kerk en staat te skei. Verder sê artikel 36 ook dat dit elkeen se plig is “om hom aan die owerhede te onderwerp, belasting te betaal, aan hulle eer en onderdanigheid te bewys”.]
Dat ons in Artikel 12 eweneens te doen het met ʼn voorwetenskaplike teks in die beskrywing van die ontstaan van die skepping en die onderskeie (hemelse) wesens, engele en geeste, moet dus as ’n gegewe vanselfsprekend aanvaar word. Daarom behoort die kerk, soos wat die geval was met Artikel 36 (soos in die vorige paragraaf as voorbeeld verduidelik), dit in ons tyd histories en literêr lees om uiteindelik ook by die bedoeling (boodskap) van die artikel uit te kom.
6.2 As literêre teks
As literêre teks is die Nederlandse Geloofsbelydenis ʼn belydenisskrif. Dit sien ons duidelik met die eerste twee woorde “Ons glo” wat deurgaans die draer is van hierdie genre deur die teks heen. Dit is ʼn baie spesifieke soort teks (genre) met eie karakter en moet as sodanig gelees en verstaan word. Kom ons kyk na Artikel 12:
Artikel 12: Ons glo dat die Vader, toe Hy dit goedgedink het, deur sy Woord, dit wil sê deur sy Seun, die hemel en die aarde en alle skepsels uit niks geskep het. Hy het aan elke skepsel ’n eie wese, gestalte en voorkoms en onderskeie take gegee om sy Skepper te dien. Hy onderhou en regeer hulle almal nou nog deur sy ewige voorsienigheid en oneindige krag om die mens te dien, sodat die mens sy God kan dien; en Hy het ook die engele goed geskep om sy boodskappers te wees en sy uitverkorenes te dien. Sommige van die engele het uit die verhewenheid waarin God hulle geskep het, in die ewige verderf geval, maar die ander het deur die genade van God in hulle oorspronklike toestand volhard en staande gebly. Die duiwels en bose geeste het so ontaard dat hulle vyande van God is sowel as van alles wat goed is. Soos moordenaars loer hulle op die kerk – ook op elke lidmaat – om dit met alle mag in die verderf te stort en om alles deur hulle bedrieëry te verwoes. Daarom staan hulle deur hulle eie boosheid veroordeel tot die ewige verdoemenis en verwag hulle daagliks hulle verskriklike pyniging. Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Sadduseërs, wat ontken dat daar geeste en engele is; ook verwerp ons die dwaling van die Manigeërs, wat sê dat die duiwels hulle oorsprong uit hulleself het en reeds van nature sleg is en nie sleg geword het nie.
Die aard van ʼn geloofsbelydenis is om ʼn bepaalde geloof in God, of ʼn konsepsuele werklikheid, te verwoord, op so ʼn manier dat dit mense van dieselfde oortuiging saambind en ander wat nie daarmee saamstem nie, uitsluit. Alhoewel dit dus op ʼn bepaalde rasionaliteit aanspraak maak en dus ʼn waarheid stel en verdedig – ter wille van oortuiging – is dit nie op dieselfde vlak as ʼn empiriese wetenskaplike teorie waar nie. Juis omdat dit ten diepste oor God gaan – en daarom oor geloof. Dit gaan ten diepste oor die onsienlike dinge. En die Een wat buite ruimte en tyd is.
[Kommentaar: Weereens word operasionele wetenskap sommer met historiese wetenskap vermeng. Let op die definisie van “empiries” volgens die HAT: wat betref of gegrond is op ervaring/proefneming; proefondervindelik. Wanneer daar gewerk word met dinge wat in die verlede gebeur het, kan dit NIE weer waargeneem word nie.]
Wat ons dus hier het, is nie ʼn wetenskaplike (in die moderne Westerse wetenskaplike sin van die woord) teks nie, maar ʼn geloofsbelydenis. Dit wil ook nie allerhande vrae oor die skepping of die ontstaan van buitengewone wesens vanuit ʼn heersende (Westerse) wetenskaplike vertrekpunt behandel en beantwoord nie. As uitdrukking van bepaalde geloofsoortuigings, het die teks van ʼn belydenisskrif wat oor God en die dade van God gaan, ʼn baie spesifieke karakter. Dit is geloofstaal, ja belydenistaal en nie ’n Westerse, wetenskaplike uitspraak nie.
Dit beteken nie dat die belydenisskrifte en die heersende (Westerse) wetenskap absoluut uitsluitend is en nie kreatief op mekaar betrek kan word nie. So hoef die perspektief op engele wat in die Bybel en Artikel 12 veronderstel word nie uitgeskuif/afgewys te word as/na die sfeer van die “onwetenskaplike”, blote fantasie of verbeeldingsvlug(te) nie.
Oor die bestaan van bose geeste en engele is daar duidelik vir die Bybelskrywers en die skrywers van die NGB geen kwessie nie. Ons erken dus dat die NGB bely dat die bose geeste en engele ʼn rol speel in die wêreldgeskiedenis, maar hoe dit presies gebeur, daaroor is daar baie ruimte vir gesprek, verskil en debat. Hulle sien dit as werklikhede en skryf bose gebeure direk toe aan hulle invloed, sonder om die mens se eie skuld of verantwoordelikheid vir keuses te misken.
Teenoor byvoorbeeld die verskrikking en vrees (selfs angs) vir die duiwel en sy hele ryk van bose geeste wat deur die geskiedenis heen en vandag soms nog in sommige se boodskap sentraal staan, wil hierdie artikel dit duidelik maak en bely dat God alles gemaak het. Teenoor die siening dat die bose ʼn oermag is wat los van God bestaan, word die belydenis dat alles uit, deur en tot God is, en dat alle sienlike en onsienlike dinge deur Hom geskape is, ronduit bely. Vir gelowiges is dit ʼn geweldige troos.
Verder, engele is in ons taal nie natuurlike verskynsels wat aan die hand van moderne, Westerse empiriese, wetenskaplike meetinstrumente bestudeer kan word nie, maar eksistensiële figure wat nie gemeet kan word nie. Ons konsepsies van rasionaliteit en realiteit, en van wetenskap word deurlopend bedink met onder meer die gevolg dat daar ten minste in sommige kringe vandag ʼn groter toleransie is vir vorme van ervarings wat nie korrespondeer met die dominante natuurwetenskaplike wyses van kennisverwerwing nie.
[Kommentaar: Dus, omdat engele nie wetenskaplik bewys kan word nie, kan ons nie met sekerheid sê dat hulle wel bestaan nie. Dit is egter waar vir God ook. God kan nie wetenskaplik bewys word nie. Moet ons dus ook tot die gevolgtrekking kom dat Hy nie bestaan nie?]
Net soos wat dit ʼn fout sou wees om vir die teks oor die besetene van Gadara allerhande vrae uit die psigiatrie, mediese wetenskap en verwante dissiplines van die laat-moderne tyd te vra, is dit ʼn onreg wat die teks van die NGB aangedoen word as ʼn mens rasionele en empiriese kategorieë wil aanlê in die vertolking van die inhoud daarvan.
Met ander woorde, om dit eenvoudig en duidelik te stel: die teks van die NGB kan nie as rasionele bewys (in die wetenskaplik sin van die woord) dien vir die bestaan van allerhande geestelike en hemelse wesens nie. Dit is ook nie die bedoeling van die teks om dit te doen nie. Die bedoeling van die teks is om die geloof in die werklikheid en destruktiewe aard van die boosheid op aarde sonder twyfel te bely.
Juis omrede dit ʼn belydenisskrif en nie ʼn wetenskaplike handboek is nie, hoef ons die geskrif nie te herskryf of oor te giet in ons eie 21-eeuse geloofstaal nie. Dit sal die dood van die Belydenisskrifte beteken wat ons voorgangers se lewe gekos het. Dit sal ʼn daad van oneerbiedigheid wees – ʼn gebrek aan respek vir die eeue-oue teks, maar ook ʼn gebrek aan respek vir die opstellers daarvan. Wat ons wel kan en móét doen, is om hierdie teks met verantwoordelikheid te lees – inaggenome al die faktore wat nodig is om die teks binne konteks te verstaan.
En om dan hermeneuties met die teks om te gaan (presies soos wanneer ons Bybeltekste, soos bv Genesis 1–2 of Markus 5 lees), en die vrae te stel: In die lig van waarom die teks destyds geskryf is, en in die lig van wat die teks vir sy eerste hoorders/lesers beteken het, hoe lees ons dit vandag, wat beteken dit vandag vir ons, wat doen dit aan ons, hoe word ons lewens (600 jaar later!) daardeur verander en gerig?
6.3 As sakramentele teks
Soos in die tyd van Guido de Bres Artikel 12 die geloof in God as skepper van alle dinge wil bely, beaam ons hierdie belydenis met oortuiging ook in ons tyd. Net soos wat met Genesis 1–2 nie die bedoeling is om ʼn ooggetuie verslag in die moderne sin van die woord van die ontstaan van die hemel en die aarde weer te gee nie, maar ʼn geloof in die Skepper-god deur wie alle dinge ontstaan het, so wil Artikel 12 dieselfde oortuiging stel en bely. En net soos wat Gen 3 die werklikheid van die ongehoorsaamheid en sonde en die ontstaan van die ellende in die wêreld wil verwoord, wil Artikel 12 dieselfde doen in terme van die kennis en taal van die tyd van die 16de/17de eeu.
[Kommentaar: Let daarop dat daar hiermee weereens ’n streep deur die sondeval getrek word.]
Om dus hierdie artikel as sakramentele teks te lees, beteken om verder te gaan as die beperkinge van taal: daar is meer in die belydenis as maar net die woorde wat daar staan. Agter hierdie belydenis is ʼn geloofsoortuiging wat die beperkinge van woorde en sinne oorstyg en aan ons die seker wete bely van God wat groter as alles is en uiteindelik ook die mag en destruktiewe aard van die bose wil bestry.
Die kerk het vandag steeds die opdrag en verantwoordelikheid om teen alle vorme van boosheid en dit wel in al sy gestaltes in opstand kom en die kwaad daadwerklik aan die kaak stel. Dit is kragtens Artikel 12 ons roeping: Die duiwels en bose geeste het so ontaard dat hulle vyande van God is sowel as van alles wat goed is. Soos moordenaars loer hulle op die kerk – ook op elke lidmaat – om dit met alle mag in die verderf te stort en om alles deur hulle bedrieëry te verwoes.
Hierteenoor is God tot beskikking van die gelowiges wat hierdie oortuigings bely en daarvolgens lewe: Hy onderhou en regeer hulle almal nou nog deur sy ewige voorsienigheid en oneindige krag om die mens te dien, sodat die mens sy God kan dien; en Hy het ook die engele goed geskep om sy boodskappers te wees en sy uitverkorenes te dien.
BESPREKINGSVRAE
Belangrik: Met verwysing na die openingsin van hierdie hoofstuk oor die Belydenisskrifte, word hier ook ʼn ander voorbeeld (wel nie inhoudelik met volle instemming van ATLAS nie) van ʼn vertolking van Artikel 12, as ʼn meer tradsioneel-konvensionele benadering aangebied in BYLAAG 4.Voorbereiding:
1. Maak fotostate van die teks van Artikel 12 van NGB.
2. Sorg dat elkeen ʼn pen of potlood het.
3. Beklemtoon weer die feit dat ons die teks literêr en histories gaan benader.
4. Onthou ook dat in die ontstaan van die teks, sowel as in die lees en bestudering daarvan, die Gees van God in elke betrokkene “gewerk” het – of aanwesig was/is, soos hy vandag ook in ons wat die teks lees en in ons tyd ooreenkomstig sy Woord (wil) lewe teenwoordig is en ons lei. Ons benader dus die teks vanuit ʼn geloofshoek, dat dit die deel is van die kerk se getuienis van haar “ontwyfelbare Christelike geloof”.
Die gesprek:
1. Laat die deelnemers hulle oë oor die teks van Artikel 12 gaan. Maak ʼn lysie van wat die teks onderskeidelik oor God, oor die mens, oor engele en oor die bose sê.
2. Laat die groep kyk of bespreek hoeveel van die dinge wat in hierdie artikel oor engele en die bose gesê word, inderdaad so in die Bybel gevind kan word.
3. Bespreek onderling met mekaar: Wanneer ons met ons hedendaagse (wetenskaplike) kennis rondom ons kyk, hoe help Artikel 12 ons om steeds met vaste oortuiging ons geloof te bely in die God wat: die wêreld geskep het, steeds onderhou en regeer.
4. Deel met mekaar wat die boodskap in die lig van die historiese en literêre konteks van die gedeelte moontlik vir die mense van destyds kon beteken het?
5. Bespreek onder mekaar: Wat sou die sakramentele (spirituele/teologiese) betekenis van Artikel 12 vir ons wat dit as deel van ons belydenisgrondslag aanvaar, vandag wees?
Voetnotas
[1] Wanneer ons vervolgens in hierdie dokument praat van, of verwys na “geloof” en “wetenskap”, moet dit in die konteks van die voorafgaande omskrywing en verduideliking verstaan word.
[2] Dit geld van die OT en die NT. Die NT is in ʼn groot mate die neerslag van die geaktualiseerde herlees van die OT in die lig van die Paasgebeure.