Geloof het te doen met hoop dat God ‘iets’ is

Kyk ook:

Die volgende artikel het oorspronklik in Netwerk24 verskyn. ’n Mens voorsien ongelukkig nie dat daar een enkele dosent aan die teologiese fakulteite van die NG Kerk hulle monde sal oopmaak oor Wilhelm Jordaan wat openlik besig is ’n afgodsbeeld in die land op te rig nie. Kyk ook Jan Louw se kommentaar aan die onderkant.

************

Geloof het te doen met hoop dat God ‘iets’ is

Wilhelm Jordaan, Woensdag 15 April 2015 03:30

“DIT IS ’N MISTERIE WAAROOR ONS EINTLIK MOET SWYG, SOOS DIE GRIEKSE WOORD “MYSTERION” TE KENNE GEE”

Gelowiges wat verwonderd is oor die moontlikheid van ’n God eerder as om sekerheid daaroor te konstateer, sê gereeld geloofstaal dra soms swaar aan geykte kerkspraak.

Sulke kerkspraak is dikwels gegrond op die tradisie dat die Bybel letterlik God se onfeilbare Woord is; direk aan mense “ingegee”.

Kerklike leerstellings en geloofs­belydenisse is op dié Woord gegrond en het daarom afgeleide gesag.

So gebeur dit dan dat predikante en teoloë volgens Bybeltekste, soos Gen. 1:26, 27 (God het die mens na sy beeld geskep), redeneer dat die mens sekere eienskappe met God deel. Onlangs dit weer gehoor: “Die mens as beelddraer kan innoverend en kreatief wees. Hoewel soms karig benut, deel ons dit met die Skepper.”

Die probleem daarmee is dat daar eintlik vanuit die aard van die menslike natuur iets letterliks, eerder as metafories, oor God te kenne gegee word.

Mense is byvoorbeeld kreatief en intelligent. Nou word gesê God is kreatief en intelligent – net onmeetlik meer as mense.

Vandaar byvoorbeeld die idee van God as ’n Intelligente Ontwerper van die kosmos. Ons gebruik ons verstaan en aanwending van intelligensie om as’t ware God se “enorme intelligensie” te peil en te loof.

Sulke alte maklike “analoë” tussen ons en God is ’n verskraling van die opvatting oor God as die Gans Andere. Wat wesenlik sê ons weet nie of, hoe en waar God is nie. Die openingsreël van die Nederlandse Geloofsbelydenis verwoord dit met verruklike eenvoud: “Ek glo in een geestelike ­wese wat ons God noem.”

Alles wat ons oor God sê, noem en benoem, is niks meer nie as ’n “kaart” wat ons probeer teken van ’n “gebied” wat onkenbaar buite ons afmetings van tyd en ruimte is. En tog so naby soos asemhaal is.

Dit is ’n misterie waaroor ons eintlik moet swyg, soos die Griekse woord “mysterion” te kenne gee. Maar ons doen dit nie, want die misterie laat ons in verwondering buig.

Soos Sheila Cussons dit doen in haar “Gebed”: “Hoe sal ek U ooit ken?/U is te naby, U is te ver,/U klewe aan my kyker vas,/wykende, ­wyderende ster…dan snap ek die genade –/suiwerder as weet, duideliker as pyn –/van wyk dat ek moet nader,/altyd verder nader…”

Sulke geloofstaal is nie gevestig in ’n bewysbare seker wete dat God ís nie. Geloof het te doen met die hoop dat God “iets” is wat ’n bestaansvorm het; die verlange dat dit wat jy glo, waar is; en ’n heimwee na die teenwoordigheid van hierdie “iets” in jou lewe. Dit ding ook nie mee met wetenskaplike kennis nie, maar bevat die gedagtegang dat alles uit die nagloed van ’n kosmiese ontstaansoomblik ’n plek, skoonheid, orde en bestemdheid het; dat alles wat is, gesnoer is in ’n ontvouende “Geheel” wat met ontroering en in geloof “God” genoem word.

Kommentaar

Jan Louw, 16 April 2015

Wilhelm Jordaan sê: “Geloof het te doen met hoop dat God ‘iets’ is” (15.04).

Dit is vir my vreemd dat Volksblad vir Jordaan so ’n prominente platvorm gee om sy afwykende filosofiese konsepte oor God te propageer. Hy het bv. ’n probleem met ons verstaan dat die mens na die beeld van God geskape is. Hy het ’n probleem met die gedagte dat God ’n Intelligente Ontwerper van die kosmos is. Hy speel met die gedagte dat God saam met die kosmos outvou het.

Jordaan voel God is ’n misterie waaroor ons eintlik moet swyg. Daarom het hy bewondering vir die Nederlandse Geloofsbelydenis se “verruklike eenvoud” wat oor God sê: “Ek glo in een geestelike wese wat ons God noem”. Jordaan verswyg egter die feit dat die Nederlandse Geloofsbelydenis direk daarna voortgaan om te sê: “Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed, en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is”.

Die God wat ons in die Bybel leer ken en in die belydenisskrifte bely is ’n Persoon en nie “iets” nie. Ons aanbid ’n Persoon en nie “iets” nie. Ons sal verantwoording doen van ons lewens aan ’n Persoon en nie aan “iets” nie.

Dit is ook belangrik om te onthou dat die Persoon wat ons God noem ’n wil het. Hy het ’n opdrag gegee dat ons nie ons eie beelde of voorstellings van Hom mag maak nie.

Jan Louw
Reitz

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui