Kyk ook:
Die volgende artikel is oorspronklik in Beeld gepubliseer en vertel dat Skuilkrans NG gemeente saam met die Reformerende kerk, ’n gay-kerk, basaar gehou het. Later in 2014 het hulle selfs saam ’n paassangdiens gehou.
*************
Geloof, hoop, liefde en pannekoek, Skat
2011-08-05
Hoekom sou gay mense ’n gay-kerkbasaar wou hou? Wat het dan geword van die homoseksuele teenkultuur – en kan dit gevind word langs ’n tombolatafel in die skadu van ’n kerktoring? LOFTUS MARAIS het op ’n Saterdag gaan uitvind.
Die gays-in-die-kerk-debat was nog altyd vir my onverstaanbaar. Wanneer gay mense veg vir kerklidmaatskap en hulle hul “langtermyn- monogame verhoudings” uitstal as vlekkelose normaliteit, dink ek altyd: Wat het geword van die homoseksuele teenkultuur, die sosiaal-kritiese blik wat gay mense as ’n wins komend uit hul (semi-)rand- figuurskap behoort te beskou?
Die gay individu bevind homself tog veral in ’n posisie van waar hy reeds van jonk af die onderdrukkende, valsverleidelike ratte van die stelsel kan herken vir wat dit is: repressie, verbruikersfamilies, metafisiese vertroostings, ontkenning. En die Afrikaner-gay – moet hy nie weens sy “volk” se geskiedenis juis agterdogtig oor die groep- stelsel wees nie?
Maar dié bepeinsings van die gruwelike hegemoniese monster verbleek toe heeltemal verlede Saterdag toe ek in Pretoria ’n gay-kerkbasaar binnestap. Die kleurryke en goed bygewoonde gedoente het vir my konkrete vorm gegee aan die vrae rondom gay Afrikaners en hul verhouding met hul konserwatiewe verlede.
’n Vriend by wie ek kuier, stel die Saterdagoggend voor ons gaan na die “gay-kerk se basaar”.
Ek sê ja.
Pretoria se manlike gay- kultuur was nog altyd vir my fassinerend. Minder pretensieus en meer gemeensaam as die Kaap s’n, waaraan ek gewoond is, en dit het ’n sterker verbintenis met Afrikaner-kultuur. Byvoorbeeld: die transvestisisme van die Pretoria-fopdossers wat ek al in klubs raakgeloop het, is vry van dramatiese uitspattighede. Korter hare, stylvolle snyerspakkie, skerp grimering. Ek lag altyd en dink hulle lyk soos apartheidsera-sekretaresses of -juffrouens. Is dít die onbewuste idee van “korrekte” vroulikheid wat nog oorstaan uit die dossers se ou-Suid-Afrika-jeug? Of is hulle net subtiel? Of polities ironies?
Die Reformerende Kerk van Pretoria is in 1992 deur ds. André Muller gestig. Hulle “reik in die besonder uit na die gay-gemeenskap, aangesien geeneen van die hoofstroomkerke bereid is om hul gay lidmate onvoorwaardelik te aanvaar nie”, volgens hul webtuiste.
Die eredienste en geleenthede, soos die jaarlikse basaar, vind op die perseel van die Skuilkrans Silverton Gemeente plaas.
Ons stop buite die kerkterrein, net oorkant Uitkyk Vleismark in De Boulevardstraat, en sien ’n paar aantreklike mans die basaarterrein binnestap. “Sjoe,” kom dit van my vriend.
Dis met eerste oogopslag ’n tipiese basaar. ’n Dynserigheid van die braaiery by die kosstalletjies. Harde gesels. Die geskuif van tuinstoele om groot tafels. Maar dan trek ’n mannetjie met ’n lang gestileerde kuif en vingerlose handskoene weg met Lady Gaga se “Born This Way”. Van die verhoog kyk hy uit oor die basaargangers, ’n klein skare onder sambrele, om tafels en toonbanke.
Ons mik vir die biertent, maar kom daar agter ons het die geldkoepons vergeet. “Waar kry jy die koepons?” vra ek my vriend, en iemand langs my antwoord sommer: “Skattie, dié’s ’n kerkbasaar – jy bid en dit daal uit die hemele neer.”
Ons wissel toe ons geld vir koepons by wat genoem is “daai mooi muscle Mary met die Urban-top in die tent daarso”.
Biere in die hand stap ons rond, sien die kerk se banier en hul slagfrases wat “Come over to My place this Sunday” insluit.
Daar is ook ’n stalletjie wat gevatte gay-keppies verkoop, en op een staan: “My daddy is bigger than yours.”
Op pad na die saal stap ons verby mense wat toustaan by ’n plakkaat wat “Montana se kiep-kiep hoenderkerrie” in dik kokipen adverteer. In die saal is skilderye te koop. My vriend trek spreekwoordelik sy neus én rokspante vir die kuns op en vlug weg na die pannekoektafel. Maar voordat ons die saal kon uit, loop ons iemand raak wat hy by ’n aandete in Centurion ontmoet het.
Ons vra wat hy hier maak. Hy antwoord dat hy nie ’n lidmaat van die gemeente is nie, maar dat hy wel al met verskeie van die hooggeplaastes in die kerk uitgegaan het.
Hy wag vir sy kêrel en kyk saam met ons na die mans in die saal. “Oe, daai is my gunsteling; en nie net mooi nie, hy’t ’n groot gastehuis in Waterkloof, en ek het dit van betroubare bronne dis klaar afbetaal.”
Hy lag, sy selfoon lui.
“Verskoon, susters, dis my future–ex, moet antwoord!”
Buite gaan ek na die veerpyltjietafel. Teikens is aangebring op twee vertoonborde – een van Angelina Jolie, en ’n ander van ’n welbedeelde Bone Wear-onderbroekmodel. Daar is aansienlik meer pyltjiegate in die onderbroekmodel se plakkaat as in Angelina s’n. Ek gooi, maar wen niks nie. My vriend bekyk die spul so en sê: “Kwit, dis Sint Sebastiaan.”
Uiteindelik by die pannekoek-tafel. Dis die beste pannekoek wat ek tot nog toe geproe het. Wat maak gay-pannekoek anders? Ek onthou my ouma se verduideliking dat met die verspreiding van die deeg in die pan en met die omdraaigooi “lê dit alles in die beweging van die pols”.
Die mannetjie met die kuif het ophou sing. Mense begin met afwagting rondkyk, want Robbie Klay gaan binnekort die verhoog bestyg. Hy’s die, sal ’n mens sê, “name above the title” van die basaar. Die atmosfeer is dik van afwagting en die reuk van ’n gespitte skaap.
’n Tafel vol “scripture bracelets” trek my aandag. Ek vind natuurlik nie tussen die sierade een met Romeine 1:27-31 daarop nie. Maar dalk is ek nou net hardvogtig.
Robbie Klay begin sing. Met sy liedjie “Ra ta ta” – “bokkie bokkie bokkie met daai rokkie aan, ek sê kom hier kom hier sê my wat’s jou naam” – gaan sit ons by ’n tafel en gesels met gemeentelede. “Ons doen ook die geloofsbelydenis. Ordentlike eredienste, met voorsang en als,” verduidelik een.
’n Gay paartjie begin langarm. Maar tussen Robbie se liedjies word afgekondig dat iemand se Mercedes SLK mense by die syhek vasgeparkeer het. Die persoon moet onmiddellik die kar kom wegtrek. Ai, die moffies en hul SLK’s – “the gay suicide vehicle of choice”, onthou ek ’n wrang opmerking van ’n paar jaar gelede ná die dood van ’n bekende Kaapse sielkundige.
Mense kom na ons tafel met ’n knyperbord en ’n pen. Jy kan inteken op die kerk se e-poslys. My vriend huiwer ’n sekonde.
“Moenie worry nie, jy verbind jou tot niks; jy kan ook net kom vir die window shopping.”
Ons kry nog bier. Eet worsbroodjies. Koop tweedehandse boeke. Staar na die plakkaat vir “skaapbroodjies R25”: ’n skaap in vier rooi hoëhakskoene en ’n blonde pruik.
Toe ons laatmiddag wegry, sukkel ek om sin te maak van die hele ervaring. Wat trek gays na hierdie geleenthede? Of na kerke gegrond op die NG formule? Is dit ’n vorm van nostalgie? Of die sussing van ’n soort regressie? Of kompensasie – “ek verwerp sekere gedeeltes van die geloof, maar leef myself darem dieper in ander in”? Of is ’n basaar maar net ritueel: dit herhaal vir ons wie ons is, van waar ons kom, dat dinge behoue kan bly? Of oorskat ek die erns van die situasie: hier is tog ironie, speelsheid, ’n anderse toe-eiening van tradisie? Was dit ’n camp basaar?
Ek voel ook gay mense se gemeenskapsgevoel word tans bedreig deur ’n verskeidenheid faktore, soos die oppervlakkige omgang van nagklubs en internetafsprake en die selfoonkultuur, asook die normalisering van gayheid wat die “saam-staan-teen”-eenheid in gay geledere aansienlik verminder. Geniet gay mense dalk weer ’n bietjie outydse eenheid by ’n basaar?
Maar wat het mý na die basaar getrek? Goedkoop voyeurisme? Nee. Eerder ’n waardering vir dit wat camp en kitsch is, dit waarmee gespot word, maar wat ook op ’n sekere manier gewaardeer word.
Want ’n mens kan aangaan oor onderdrukking en hegemonie en konserwatisme, en ’n mens kan in onlangse uitgawes van Rapport Pieter Cilliers, Jaybee Roux en Joan Hambidge se verskillende argumente oor Afrikaner-gay-identiteit lees; maar wanneer jy staan tussen wit en swart gay, lesbiese en straight mense wat saam hul asem ophou vir die aankondiging van ’n raffle-prys, dan besef jy: Ag hemel, dalk is basaar hou die eenvoudige antwoord.
Die gemak, maar veral die openhartigheid. Almal saam aan die kuier. Daar is baie te sê vir aanvaarding en gemeensaamheid, vir ’n mengsel van almal en alles, hede en verlede.
Of jy die gedoente nou bywoon vir ironie, ewige waarhede, mooi mans of net die pannekoek.