Kyk ook:
*******
Geloofsbelewenisse staan juis náás mekaar | Die Burger
Die Burger, 9 September 2003
Wilhelm Jordaan
DIE Noord-Transvaalse sinode van die NG Kerk het verlede week besluit om nie ‘n “kategoriese uitspraak” te lewer oor die geboorte van Jesus uit ‘n maagd en sy liggaamlike opstanding nie.
Die sinode het weliswaar opnuut die geloof bevestig dat “Jesus die verlosser en lewende en opgestane Here” is, maar die “toegewing” rondom ‘n kategoriese uitspraak is van groot betekenis.
Juis vir duisende gelowiges wat, soos een . predikant-afgevaardigde gesê het, ernstig worstel omdat hulle die “ortodokse geloofstaal” van die kerk nie presies kan nasê nie.
Moet ons vir sulke mense sê hulle is ongelowiges, het die afgevaardigde gevra?
Want uit baie soorte getuienis – ook op die streeksinode – is dit duidelik baie gelowiges smag na ‘n “bevrydende taal” rondom geloofsake.
Hulle wil nie die kerk verlaat en hul rug op godsdiens keer nie, maar wil ook voel hulle word nie uit die kerklike kudde gestoot weens hul worsteling met kwessies soos Jesus se geboorte uit ‘n maagd en sy liggaamlike opstanding nie.
En dat hulle vrylik daaroor mág praat.
Hopelik sal die sinode se besluit lei tot die soort godsdiensverdraagsaamheid waaroor die Katolieke teoloog Hans Kung op ‘n keer geskryf het:
“The totality of faith consists in the integ- rity of commitment, not in entirely correct propositions. And that commitment can be entire and unreserved even though something false is said at the same time.”
Wie dit aanvaar, is verplig om te vra: Getuig my lewe van die integriteit van toewyding en verbondenheid terwyl ek weet ek kan in die proses mistas?
Aile gelowiges moet aanvaar hulle kan mistas – die wat rebelleer teen ortodoksie en die wat aanvaar daar is ‘n eenmalig ingegewe Godkundigheid wat finaal en korrek is.
Dit is ‘n verdraagsaamheid wat gedra word deur die insig: In ons geloofsbelewenisse staan ons oplaas nie teenoor mekaar nie, maar langs mekaar voor God.
Wanneer gelowiges dit insien, kan hulle nie voortgaan om ongeduldig, meerderwaardig en selfvoldaan te oordeel oor mekaar se “naïewe ortodoksie” of “blinde goedgelowigheid”, of “kettery”, of “intellektualisme” of “dromende mistiek” nie.
Die verpligting is dan op elkeen om ten minste te probeer begryp dat mense wisselende verstaanshorisonne het en God se teenwoordigheid in hul lewe verskillend aanvoel en uitdruk.
Die Apostoliese Geloofsbelydenis (die Twaalf Artikels) kan as voorbeeld van hierdie soort verdraagsaamheid dien:
Vir baie gelowiges het die ortodokse belydenis vreemd geword.
Hoe kan hulle dit dan op Sondae in die erediens nasê?
Baie gelowiges het hieroor ‘n ontwrigtende belewenis van verlies: Dit wat jy eens so maklik geglo en aan vasgehou het, het vir jou vreemd geword. Maar wat het jy in die plek daarvan?
Dié belewenis hoef nie verstaan te word as “afvalligheid” nie.
Veel eerder is dit ‘n aanvoeling van ‘n Goddelike ironie; ‘n geheim wat mens met verwondering laat sê: “Here, ek glo. Help my in my ongeloof.”
Wie dit opreg kan bely, het ‘n sleutel tot ontvouende geloofsvorming.
Want dit kan byvoorbeeld beteken dat jy op ‘n Sondag, saam met baie ander wat dalk nie soos jy glo en dink nie, die Apostoliese Geloofsbelydenis met ‘n dubbele bewussyn kan nasê.
Enersyds: Hierdie belydenis roer my en maak die verlange na God in my wakker. Dit is die geloofspad soos die kerkvaders dit eeue terug gelowig begryp het, en waarlangs ek ook gekom het. Ek sal my altyd hierin verbly as kosbare geloofsgeskiedenis waarsonder ek nie wil wees nie.
Andersyds en terselfdertyd: Ek glo die misterie van God en Christus is ontvouend en dit laat my toe om dit wat vir my vreemd geword het, in te klee en uit te brei met ‘n altyd soekende verwondering; dat ek ander woorde kán en mág vind wat my die warmte en die troos bring van: “Nader, my God by U.”
So byvoorbeeld kan mens die roerende versorgingsbeeld van “God die Vader” histories plaas en steeds ag, én terselfdertyd aanklank vind by ‘n min gebruikte Nederlandse geloofsbelydenis met die strekking: “Ons glo in een enkele geestelike wese wat ons God noem.”
Hierdie soort taal kan as bevrydend beleef word omdat dit die aard van God in die ‘oopheid van die ondersoekende intellek en die skeppende verbeelding plaas – om te begryp dat ons, soos die Nederlandse digter Jaap Zijlstra sê, ons eintlik verspreek as ons hom durf noem.
En dat juis ons versamelde versprekings oor God plek moet maak vir veelsoortige geloofservarings wat naas mekaar staan.
• Prof. Jordaan is buitengewone professor in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria.