Kyk ook: |
Geloofsbond van Hervormde Gemeentes Persverklaring
Dit is met groot kommer en hartseer dat die Geloofsbond van Hervormde Gemeentes (GHG) kennis neem van die NG Kerk se 10-punt besluit in verband met homoseksualiteit (die gay kwessie) soos geneem tydens die afgelope Algemene Sinode en in die pers aangehaal.
Die GHG staan in die Reformatoriese tradisie en kan nie apart of apaties staan wat hierdie besluit betref nie. Die NGK besluit is deel van ʼn poging om die Christelike samelewing te omvorm.
Alhoewel die huwelik tussen een man en een vrou as enigste definisie van die huwelik beskou word, gee die NGK nou ook erkennning aan burgerlike verbintenisse tussen lede van dieselfde geslag en boonop mag hul predikante nou die bevestiging daarvan waarneem!
“Persoonlike geloofsgehoorsaamheid” word gestel teenoor die uitdruklike verbod op homoseksuele dade en verhoudings soos in die Bybel. Die mens word die maatstaf en nie meer die Bybel nie. Die GHG stel dat ’n selibate lewenswyse die enigste wyse is waarop ’n gay persoon gehoorsaam aan God kan lewe. Ons het baie begrip vir die stryd wat ’n persoon met ’n homoseksuele oriëntasie stry, maar dit is ’n stryd wat in die geloof gestry moet word. Dan sal die genade ook nie uitbly nie. Die NG-besluit het nou die vereiste van ’n selibate lewenstyl as vereiste vir die predikantsbevoegdheid geskrap.
Soos tereg gestel deur die huweliksformulier, is ʼn huwelik die verbintenis tussen een man en een vrou voor God en deur God. Buite-egtelike en gay verhoudings mag nie daarmee gelyk gestel word as aanvaarbaar voor God nie. Die Bybels-gefundeerde waarheid word deur die NGK besluit betwis. Hierdeur word nie slegs ʼn poging aangewend om sonde te legitimeer nie, maar die huwelik as Goddelike instelling word daardeur ondergrawe. Die kern van die Christelike samelewing (en daarmee saam gemeenskap van gelowiges) is tog immers gesetel in die Christelike huisgesin. Man en vrou is verenig in die huwelik, soos deur God self ingestel. (Genesis 2:23-24; Matteus 19:4-6) Meer nog – die huwelik word ook in die Skrif as beeld gebruik om die heilige en liefdevolle verhouding tussen Christus en sy kerk aan te dui. (Efesiërs 5, 2 Korintiërs 11:2; Openbaring 19:7)
Wat verder kommer wek, is die gebruik van die tweede artikel van die Nederlandse Geloofsbelydenis waar die NGK nou die algemene openbaring van God in die natuur stel bò die van die besondere openbaring in Gods Woord waarin homoseksuele dade uitdruklik verbied word.
Na die GHG se oordeel het die NGK sinode die pad byster geraak. Dit is nie ons plek om te veroordeel nie. Ons kan slegs beoordeel, getuig en pastoraal vermaan. Ons glo dat ons deur die Woord van God gelei word en ons aanvaar alle gelowiges as deel van ons geloofsgemeenskap ongeag hulle seksuele oriëntasie. Ons is almal immers sondaars, maar sondaars wat onder die kerklike dissipline staan. Ons moet in alle opsigte erns maak met die Woord van God wat sê dat ons moet gaan en nie meer moet sondig nie, waarmee ons ons ookal besig gehou het.
Ons doen dus hiermee ʼn beroep op ons medegelowiges in Christus: Kom tot inkeer, kom terug na Gods Woord. Ons versugting en gebed is dat gehoorsaamheid aan God swaarder sal weeg as die strewe na menslike eensgesindheid.
Ons neem ook met kommer kennis van die amptelike standpunt van die NHKA (by monde van dr Wim Dreyer). Hy het hierdie kern-saak in die openbaar (met spesifieke verwysing na die NHKA se interne amptelike kommunikasie) tot ’n sogenaamde “lewenskwessie” en dus “middelmatige saak” vervlak. NHKA-lidmate moet kennis neem dat sy standpunt verskil van die AKV besluite, maar dat hy tog as Voorsitter van die Kommissie van die AKV reageer het.
Dr Dreyer stel in Blitspos: “Leerkwessies is wesenlike sake soos Jesus se opstanding uit die dood. Lewenskwessies is dinge soos politieke beleid en seksualiteit. Lewenskwessies moet beskou word in die veranderende konteks waarin ons leef.” Konteksgedrewe teologie maak die deur oop vir ander mense om op grond van konteks te eis dat hulle verhoudings goedgekeur word. Volgende op die lys is dalk mense wat egbreuk of veelwywery wil regverdig, dalk mense wat wil saamwoon en die huwelik verwerp, of vele alternatiewe verhoudings tot die huwelik wat mense wil regverdig?
Dr Dreyer se ongelukkige vervlegting van “leer en lewenskwessies” met Johannes Calvyn se onderskeid tussen ”wesenlike sake en middelmatige sake” val op. Dit is teologies en histories onverantwoordelik. Die GHG waarsku lank reeds teen die swak teologie wat in amptelike NHKA-kringe bedryf word. Die onderskeid tussen “leer en lewenskwessies” aan die een kant en ” wesenlike sake en middelmatige sake” aan die ander kant, is tog kategorieë uitmekaar.
Eersgenoemde is tradisioneel die onderskeid wat getref word tussen die twee tafels van die Wet. Beide die eerste tafel (verhouding met God – leerkwessies) en die tweede tafel van die Wet (verhouding met medemens – lewenskwessies) is teologiese kernsake. Vir Calvyn was middelmatige sake met verwysing na plaaslike sake soos byvoorbeeld die sittende of gaande aard van die Nagmaal. Ons verskil wesenlik van dr Dreyer en is oortuig die sogenaamde “lewenskwessie” gay-wees hoort tot dit wat Calvyn as wesenlik beskou het.
Hierdie misleidende teologiese redenasies kan daartoe lei dat die NHKA waarskynlik in 2016 ’n soortgelyke dwaalbesluit kan neem as die NGK in 2015.