Kyk ook:
Die volgende geloofsverklaring is uitgereik na die byeenkoms van Familie van Gereformeerde Gemeentes vanaf 21-22 Julie 2022.
Alle skakels en voetnotas hierin is ingesit deur die webmeester van Glo die Bybel en kom nie voor in die oorspronklike geloofsverklaring nie.
*******
Familie van Gereformeerde Gemeentes
info@fggsa.co.za
fggsa.co.za
FAMILIE VIR GEREFORMEERDE GEMEENTES
GELOOFSVERKLARING
Ons glo met die hart en getuig voor God, teenoor die kerk en die wêreld.
1. Woord – Sola et tota Scriptura
Ons glo en getuig dat die Bybel (Ou- en Nuwe Testament) die Woord van God in mensetaal is (Die hele Skrif is deur God geïnspireer – 2 Tim 3:16) sodat ons Hom kan ken, aanbid, dien, liefhê en gehoorsaam soos in sy Woord geopenbaar. Ons glo en getuig saam met die NGB art 7 dat die Woord “geheel volmaak en in alle opsigte volkome is”, en dat dit “verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat”.
Ons is met hartseer daarvan bewus dat daar sienings oor die Bybel is wat nie in die Kerk tuishoort nie, soos byvoorbeeld dat die Bybel slegs mensewoorde oor God is, dat dit menslike foute bevat[1], dat dit kultuurgebonde is, dat sy boodskap eers ontmitologiseer moet word, dat dit gemeente-teologie in plaas van geopenbaarde waarhede bevat, dat die Ou- en Nuwe Testament teenstrydige leringe bevat, of dat God se openbaring oor Homself volgens heersende kultuurveranderings aangepas en verdraai kan word (bv. dat God as “moeder/haar” verstaan en aangespreek word[2]).
Skrifverwysings: 2 Tim 3:16; 2 Pet 1:20-21
2. Belydenisskrifte
Ons glo en getuig dat die gereformeerde belydenisskrifte soos verwoord in die Formuliere van Eenheid (die Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus en Dordtse Leerreëls) die ware en suiwer leer is omdat dit met die Woord ooreenstem.
Ons verwerp alle leringe wat met die gereformeerde belydenisskrifte in stryd is.
3. Sonde en verlossing
Ons glo en getuig dat ons in sonde ontvang en gebore is en daarom onder die oordeel van God staan[3]. Ons is diep bewus daarvan dat ons vanweë ons sondige aard van nature daartoe geneig is om teen die wet en die wil van God, soos in sy Woord geopenbaar, in opstand te kom.
Ons verheug ons egter oor die evangelie waardeur ons uit genade alleen, deur Christus alleen en deur geloof alleen gered is deur die kragtige werking van die Heilige Gees.
Ons verwerp enige siening wat die dodelike erns van sonde en die gevolge daarvan, asook die gereformeerde verlossingsleer afwater of weerspreek.
Skrifverwysings: Ps 51:7; Hand 15:11; 1 Joh 5:9-13; Joh 11:25-26; Hand 16:30-31
4. Jesus Christus[4]
Ons glo en getuig dat die Here Jesus Christus die Seun van God is, die vervulling van God se verbondsbeloftes. Ons glo en getuig van die werklikheid van sy lering, sy wonderwerke, sy versoeningswerk aan die kruis en sy liggaamlike opstanding uit die dood. Hy is die enigste weg, waarheid en lewe, en niemand kom tot die Vader behalwe deur Hom nie. (Joh 14:6)
Ons verwerp enige gedagte wat die Here Jesus se maagdelike geboorte, sy wonderwerke of sy opstanding uit die dood enigsins vergeestelik, ontken, weerspreek, verdraai of verskraal. Ons verwerp ook die gedagte dat daar verlossing en redding buite Jesus Christus te vinde is.
Skrifverwysings: Mat 3:17; 1 Joh 2:22-23; 1 Kor 15:1-8; Joh 14:6
5. Gehoorsaamheid/Heiligmaking
Ons glo en getuig dat ons wat uit genade gered en deur God regverdig verklaar is, uit dankbaarheid ‘n lewe van gehoorsaamheid aan die Here alleen moet lei. Dit beteken dat ons volgens die eise van sy wet (Tien Gebooie) en ander voorskrifte en praktiese riglyne in sy Woord moet leef. Bewus van ons sondige natuur en te midde van versoekinge, wêreldse standaarde en beginsels, is ons geroep om heilig te leef, want God is heilig (1 Pet 1:15-16). Onder leiding en deur die krag van die Heilige Gees, moet ons daarna streef om eerder aan God se Woord as aan mense gehoorsaam te wees.
Ons treur oor en stry teen ‘n lewe in ooreenstemming met ons natuurlike neigings van vroeër (Ef 4:22), of oor die gedagte dat ons ons vryheid in Christus mag gebruik as ‘n verskoning om sonde te doen. (1 Pet 1:14 en Gal 5:13)
Skrifverwysings: Hand 4:19-20; 1 Joh 1:1-3; 1 Pet 1:15-16; Ef 4:22; 1 Pet 1:14; Gal 5:13; Jud 1:4; 2 Kon 17:24-41
6. Verantwoordelikhede teenoor skepping en medemens
Ons glo en getuig dat God, die Skepper van hemel en aarde én die mens, ons aangestel het as sy verteenwoordigers en beelddraers. As sodanig is ons geroep om verantwoordelikheid te neem vir die onderhouding van en heerskappy oor die skepping, asook die liefdevolle versorging van ons medemens. Gedring deur die Here se liefde, is dit ons roeping om mense se fisieke nood te verlig, maar om óók die geestelike nood aan te spreek deur die bediening van die blye en hoopvolle evangelie van Jesus Christus.
Ons glo dat hulpverlening nie net deur humanistiese en sekulêre oorwegings gemotiveer en as ‘n daad van sosiale geregtigheid moet geskied nie.
Skrifverwysings: Gen 1-3; Jes 58; Mat 22:37-40; Jak 2:14-26
7. Getuienis: Dissipelmaking en Kategese
Ons glo en getuig dat ons geroep is om Jesus Christus se laaste opdrag uit te voer, naamlik om na al die nasies toe te gaan om mense sy dissipels te maak, hulle te doop en te leer om alles te onderhou wat Hy beveel het (Mat 28:19,20). Ons moet hierdie opdrag uitvoer deur die verkondiging en lering van sonde, verlossing en dankbaarheid. Ons moet dit doen in ons getuienis na die wêreld daar buite, maar ons moet dit ook doen in die prediking en kategese in die Here se gemeente.
Ons treur oor die voorkoms van die verkondiging van ‘n verskraalde of verdraaide sonde- en verlossingsleer in die kerk se getuienis na buite, maar ook in die prediking en kategetiese onderrig in die Here se gemeente.
Skrifverwysings: Mat 28:19-20
8. Kerk
Ons glo en getuig dat God uit sy genade vir Hom ‘n heilige, algemene, Christelike kerk uit alle volke, tale en nasies versamel. Dit is ‘n kerk waarin sondaars (die ou mens) in Jesus Christus se Naam tuis kan kom om deur die evangelie aangeraak en nuut gemaak te word, om dan as verlostes (nuwe mense) anders as vroeër te leef (Ef 4:22-24). Daarom glo en getuig ons ook dat die kenmerke van die ware kerk is die suiwer verkondiging van die Woord, die suiwer bediening van die sakramente en die handhawing van die kerklike tug.
Ons sien dit as ‘n dwaling dat die kerk ‘n “ruim huis” moet wees, in dié sin dat leringe en lewenspraktyke wat met die Woord in stryd is “omarm” en selfs geseën moet word. Dit moet inteendeel deur die Woord en tug aangespreek word – tot behoud van die sondaar, die heil van die gemeente en die eer van God.
Skrifverwysings: Ef 4:22-24; Ef 5:8; Gal 1:6-9; 1 Tim 6:20-21; Tit 2:7-8; 1 Kor 11:17-34; Heb 12:4-13
9. Liturgie
Ons getuig van ons diepe dankbaarheid vir die gereformeerde liturgiese erfenis, gebaseer op suiwer Skrifbeginsels. ‘n Liturgie waarin die lees en verkondiging van die Woord sentraal staan, en waarin ook ruimte gemaak word vir die suiwer bediening van die sakramente aan die hand van liturgiese formuliere, aanbidding, gemeentesang, verootmoediging en skuldbelydenis by die aanhoor van die Tien Gebooie en ander Skrifgedeeltes, asook vir genadeverkondiging en belydenis van geloof. Ons treur oor die voorkoms van ‘n liturgie waarin Christus en die suiwer verkondiging van die Woord nie sentraal staan nie.
10. Opleiding, toerusting en die regering van die kerk
In ooreenstemming met NGB art 30, glo ons dat die kerk op ‘n geestelike bestuurswyse regeer moet word. Dit geskied deur:
10.1 Bedienaars van die Woord wat deur behoorlike Skrif- en belydenisgetroue teologiese opleiding toegerus word om dan, getrou aan hulle legitimasie-eed, hulle roeping te vervul.
Ons betreur groeiende aanduidings van teologiese opleiding wat nie Skrif- en belydenisgetrou is nie, asook tendense dat daar bedienaars van die Woord is wat in stryd met hul legitimasie-eed leer en leef, sonder dat daar behoorlike tugondersoeke plaasvind.
10.2 Ouderlinge en diakens wat saam met die herders sorg dra om “die ware godsdiens te onderhou en te sorg dat die ware leer oral versprei, en die oortreders op geestelike wyse gestraf en in toom gehou word.” Om hierdie verantwoordelikheid na te kom, moet ouderlinge en diakens uit die Skrif deeglik opgelei en toegerus word.
Ons betreur die toestand in die kerk dat daar baie gevalle is waar ouderlinge en diakens nie volgens Bybelse vereistes verkies word nie, en ook nie behoorlik toegerus word om hulle ampswerk na behore te kan vervul nie.
10.3 Alle lidmate wat in die amp van gelowige geroep word om as profeet, priester en koning diensbare getuies te wees in die kerk en koninkryk. Hiervoor moet lidmate ook behoorlik toegerus word.
Ons betreur die gebrekkige toerusting wat by lidmate aanleiding gee tot ‘n verskraalde verstaan en uitleef van die amp van gelowige.
Skrifverwysings: Kyk NGB art 30.
11. Vreemde leringe
As volgelinge van Jesus Christus getuig ons teen die vreemde leringe wat neerslag vind in verslae aan en besluite van die Algemene Sinode. Voorbeelde van sulke vreemde leringe is:
11.1 Skrifverstaan:
NGB Art 3-7 gee vir ons kort en kragtig die suiwer gereformeerde Skrifbeskouing. In 2004 het die Algemene Sinode ‘n dubbelsinnige verslag oor Skrifbeskouing en Skrifgesag aanvaar wat bedoel was om die implikasies van die NGB te verduidelik of aan te vul. In effek het dit die NGB nie aangevul nie maar vervang. Sedertdien word hierdie verslag weens die dubbelsinnigheid telkens misbruik as die basis vir regverdiging van nuwe afwykende leringe.
Skrifverwysings: Kyk NGB art 3-7.
11.2 Teologie:
Suiwer gereformeerde teologiese opleiding is noodsaaklik vir die opleiding, toerusting en vorming van studente as voornemende leraars van die kerk. Daarom verwerp ons ondubbelsinnig die huidige teologiese opleiding wat met goedkeuring van die Algemene Sinode openlik verklaar dat hulle wegbeweeg het van ‘n “reformed confessional faculty” na ‘n “ecumenical one” wat nou meer aandag gee aan “black theology, African Christian theology, liberation theology, feminist theology, womans theology, urban theology etc.” (aldus prof Jerry Pillay – dekaan van UP).[5]
11.3 Ekklesiologie:
Die gereformeerde ekklesiologie maak meer en meer plek vir ‘n horisontale missionale ekklesiologie – ‘n mensgerigte sendingbeleid waarin die Bybelse sonde- en verlossingsleer ‘n ondergeskikte rol speel. Met goedkeuring van die Algemene Sinode, word die kerkorde oorgeskryf met hierdie missionale ekklesiologie as uitgangspunt.
11.4 Satan:
Ons aanvaar die Bybel se duidelike getuienis oor die persoonlike aard van die duiwel wat rondloop soos ‘n brullende leeu op soek na wie hy kan verslind. (1 Pet 5:8). Ons getuig teen alle Sinodale besluite wat ruimte wil maak vir die dwaalleer dat Satan slegs ‘n onpersoonlike bose mag of krag is.[6]
Skrifverwysings: Mat 4:1-11; 1 Pet 5:8
11.5 Huwelik:
Ons aanvaar alles wat die Woord ons leer oor die Christelike huwelik as ‘n lewenslange verbintenis deur God tussen een man en een vrou, en as instelling van God wat heilig gehou moet word. Die huwelik is die regte en enigste plek vir seksuele intimiteit en die basis van ‘n gesonde gesinslewe.
Ons beskou dus die Algemene Sinode se besluite wat ruimte maak vir seksuele intimiteit buite die huwelik[7], die kerklike sanksionering van seksuele verhoudings tussen persone van dieselfde geslag[8] en ook vir kerklike seën en bevestiging van ‘n verbintenis tussen persone van dieselfde geslag, as gruwelike minagting en bespotting van die Woord van God.
Skrifverwysings: Gen 1:27; Gen 2:24-25; Gen 1:28a; Rom 1:18-32 (veral vers 26-27)
Slot
Ons is daarvan bewus dat ons as volgelinge van Jesus Christus in die wêreld vreemdelinge en bywoners is (Hebr 11:13; 1 Pet 2:11), en dat ons daarom selfs vyandskap, vervolging en lyding in die gesig staar (Mark 10:30; Kol 1:24). Ons getuig egter dat ons in die verwagting leef dat die Here Jesus in heerlikheid weer sal kom (Hand 1:11). Daarom moet ons mekaar vermaan en teregwys, ondersteun en bemoedig, terwyl ons in geloof, gebed en gehoorsaamheid volhard, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof (Hebr 12:1-3).
Skrifverwysings: Hebr 11:13; 1 Pet 2:11; Mark 10:30; Kol 1:24; Hand 1:11; Eseg 2; Eseg 3:17-21; 2 Pet 3:9;
Hebr 12:1-3
1 September 2022
Anton Knoetze
Namens Kairos Netwerk & FGG
Rig navrae aan: info@fggsa.co.za
Voetnotas
[1] Kyk Die NG Kerk en skrifgesag.
[2] Kyk Die NG Kerk en gendergeregtigheid en Opsomming: God is vrou, “Heilige prisma” tydens legitimasiediens op 29 Maart 2021.
[3] Kyk Hell’s Best Kept Secret.
[5] Kyk UP stel hulle kurrikulum transformasie bekend en Hoe NGK teologiese fakulteite hulself adverteer.
[6] Kyk Die NG Kerk en die duiwel/bose.